‘n Nuwe Kategismus: Vraag 40

Humor is not a mood but a way at looking at the world – Ludwig Wittgenstein

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 40

Vraag:

Wat moet ons bid?

Antwoord:

Die hele Woord van God lei en inspireer ons in wat ons moet bid. Dit sluit in die gebed wat Jesus vir ons geleer het.

 

Skrifgedeelte:

14Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. 15Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. 16Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan. 17So sal Christus deel van julle hele lewe word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewe sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel sal julle lewe die vastigheid kry wat julle nodig het.

18Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is.  Maar ek bid tog dat julle so ’n ietsie daarvan sal snap. 19Mag God julle lewe met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewe is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.

20God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. 21Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees. (Efesiërs 3:14 – 21 – Die Boodskap).

 Kommentaar:

Groot is die wins wat ons uit die Skrif kan kry. Dit is voldoende vir elke behoefte.  Paulus het dit beklemtoon toe hy gesê het: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Die Goddelike woorde is inderdaad ‘n skat wat elke vorm van heling bevat – of dit is om sinlose trots te oorwin …of om op die liefde vir rykdom te trap of om blydskap te kweek of om geduld te verkry. In die Woord kry ons in oorvloed die maniere om dit te doen.

Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrissostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore. Hy kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie kommentaar kom uit:  “Homily 37: On John” in The Fathers of the Church: Commentary on Saint John the Apostle and Evangelist: Homilies 1–47 by John Chrysostom, vertaal deur Sister Thomas Aquinas Goggin (The Catholic University of America Press, 1957), 359.

 

Verdere leesstof:

Die afsluiting van  “The Humanness of Scripture” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 Gebed:

Genadige en heilige Vader! Ons is onwaardig om in u heilige teenwoordigheid te verskyn – beide as gevolg van die sondes van ons natuur en die sondes van ons lewens, selfs in daardie tyd toe ons ‘n mate van kennis van u geseënde waarheid gehad het. Ons het U heilige waarheid nie bely soos ons moes nie. Ons het dikwels teen die lig wat U in ons harte deur u Woord en Gees aangesteek het, baie sondes gedoen. Maar U in Jesus Christus is ‘n genadige Vader vir ons… U liefde en genade is oorvloedig. In Hom kom ons na U en pleit vir ‘n ware insig in ons eie sake sonder om ons eie siele te mislei en van daar lei ons na ware nederigheid. In Christus praat vrede vir ons en sê deur u Heilige Gees dat U ons verlossing is. En vir ‘n duidelike bewys dat ons u guns geniet, laat die geseënde werk van die Heilige Gees ons beter laat verstaan, ons oordeel verhelder, ons foute ontdek, ons liefde aanblaas en ons maak op so ‘n manier dat U vreugde en plesier in ons sal vind. Omdat U bepaal het dat u Woord ‘n lamp vir ons pad sal wees en dat dit ons optrede sal lei en ‘n kragtige manier sal wees om ons meer en meer uit die aantrekkingskrag van die sonde en Satan te trek na u geseënde vryheid, pleit ons dat U u woord vir hierdie en ander doeleindes sal seën Ons pleit dat ons uit u woord u heilige wil sal leer en dat ons dan sal werk om ons lewens daarvolgens in te rig.  Mag U verheerlik word daardeur. Om Jesus, U enigste Seun en ons Verlosser, se ontwil. Amen

 Hierdie gebed is deur Richard Sibbes (1577 – 1635), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskrywe. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the Heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’ Inn in Londen en Hoof van Catherine Hall in Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax.

 

Hierdie gebed kom uit:  “The Author’s Prayer Before his Sermon” in The Complete Works of Richard Sibbes, Volume 7 (Edinburgh: James Nichol, 1864), 337.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 39

Everyman is made to reach out beyond his grasp – Oswald Chambers

 

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 39

Vraag:

Met watter gesindheid moet ons bid?

Antwoord:

Met liefde, volharding en dankbaarheid; in nederige onderwerping aan God se wil, wetende dat Hy om Christus se ontwil altyd ons gebede hoor. [Onderstreepte gedeelte is antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

Kommentaar:

Voordat jy bid, vra jou siel hierdie vrae: Hoekom, my siel, is jy hier? Is dit nie om met die Here in gebed te praat nie? Is Hy teenwoordig, sal Hy jou hoor? Is Hy genadig, sal Hy jou help? Is jou saak klein; gaan dit nie oor die welstand van jou siel nie? Watter woorde sal jy gebruik om Hom tot deernis te dryf? Om jou voorbereiding te voltooi, onthou dat  jy net stof en as is, en Hy is die groot God, Vader van ons Here Jesus Christus wat Homself met lig beklee; dat jy ‘n sondaar is en Hy die heilige God; dat jy maar net ‘n arm kruipende wurm is, en Hy die almagtige Skepper.  In al ons gebede moet ons nie vergeet om die Here vir al sy seëninge te dank nie. As jy bid, laat eerder jou hart sonder woorde wees as jou woorde sonder hart. Gebed sal ‘n mens laat ophou sondig of sonde sal ‘n mens laat ophou bid.

 

Hierdie kommentaar kom van John Bunyan (1628 – 1688).  Hy was bekend as die blikslaer (tinker) van Elstow. Hy kom dramaties tot bekering en word ‘n Puriteinse prediker. Soos sy gewildheid toegeneem het word hy die teiken van skinderstories en laster. Uiteindelik word hy in die tronk gegooi. Tydens sy tyd in die tronk begin hy sy bekende werk,  The Pilgrim’s Progress. Dit word vir die eerste keer in1678 gedruk.

 

Verdere Leesstof:

 “Omniscience” en “Sovereignty” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Die gebed wat alle gebede voorafgaan is: “Mag dit die ware ek wees wat praat. Mag dit die ware U wees met wie ek praat.”

 

Hierdie kommentaar is deur C. S. Lewis geskryf. Hy was lektor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Oxford en professor van Engels aan die Universiteit van Cambridge. Hy skryf literêre kritiek, kinderliteratuur, fantasieliteratuur, sowel as teologie. Sy bekendste werke is Mere Christianity, The Srewtape Letters en The Chronicles of Narnia. Hy was ‘n lidmaat van die Anglikaanse Kerk. Sy bekering was deur sy vriend en kollega aan Oxford, J. R. R. Tolkien beïnvloed

Uit  Letters to Malcolm: Chiefly on Prayer (Orlando: Harcourt, 1964), 82.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 38

It is almost as presumptuous to think you can do nothing as to think you can do everything. —Phillips Brooks

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 38

Vraag:

Wat is gebed?

Antwoord:

Gebed  is om ons harte in lof, belydenis van sonde, smeking en danksegging voor God uit te stort. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug (Psalm 62:9).

Kommentaar:

Die vyande van ons siel is diepgewortel, subtiel en magtig,  en ons geestelike raamwerk veranderlik – daarom is dit noodsaaklik dat ons gedurig hieraan herinner moet word. Wat is meer raadsaam, wat is meer noodsaaklik vir jou as om omsigtig te loop; om waaksaam te wees en te bid anders sal jy in die versoeking val. Kennis van jou eie swakheid en onvoldoendenheid mag nie jou denke oorheers of jou optrede bepaal nie.  Die bedorwenheid van jou natuur is ‘n vyand wat altyd naby aan jou is, altyd in jou in hierdie wêreld is. Dit versterk elke versoeking van buite. Daarom moet jy jou hart met groot toewyding bewaar. Waak met toewyding oor al die neigings van jou hart. Maak seker van hulle oorsprong en waarheen hulle neig voordat jy iets daaromtrent doen … Hierdie oorweging moet verseker dat elke kind van God sy knie gereeld, nederig en met ywer  in smeking buig, Jy moet as ‘t ware by die genadetroon leef. Jy moenie van die genadetroon weggaan voor die gevaar verby is nie. Hoe meer ons van die krag van ons vyande sien en van die gevaar waarin ons verkeer, hoe meer sal ons onsself oefen is ernstige gebed – kan jy as Christen ongeërg en onverskillig wees as die wêreld, die begeertes en die duiwel jou onversetlike vyande is wat nie moeg word nie?

 

Hierdie kommentaar is deur Abraham Booth 1734 – 1806) geskryf. Hy was ‘n Engelse Baptiste leraar wat as pastor van Prescot Street Church in Whitechapel, Londen, vir 35 jaar gedien het. Hy was ook die stigter van wat vandag as Regents Park College vir die opleiding van predikante in Oxford bekend staan.  Sy bekendste werk was The Reign of Grace(waaruit hierdie aanhaling kom).

Uit:The Reign of Grace in “The Reign of Grace” in Booth’s Select Works (London: Chidley, 1839), 187–188.

 

Verdere leesstof:

“Prayer” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Laat ons daagliks bid: “Here, vergroot my geloof.” Laat ons dan nie twyfel dat as God ‘n ding sê, daardie ding vervul sal word nie.

 

Hierdie gebed is deur  John Charles Ryle (1816 – 1900) geskryf.  Hy was die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool, Sy aanstelling as biskop was op aanbeveling van  die eerste minister, Benjamin Disraeli. Hy was ‘n skrywer en leraar, maar ook ‘n atleet wat vir Oxford Universiteit geroei en krieket gespeel het. Hy was ook verantwoordelik vir die bou van veertig kerke.

Hierdie gebed kom uit  Luke by J. C. Ryle, reeks redakteur Alister E. McGrath (Wheaton: Crossway, 1997), 24.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 37

The Christian faith begins not with a big DO but with a big DONE – Wachtman Nee

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 37

Vraag:

Hoe help die Heilige Gees ons?

Antwoord:

Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde, vertroos ons, gee aan ons geestelike gawes en die begeerte om God te gehoorsaam; Hy stel ons in staat om te bid en God se woord te verstaan. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

Skrifgedeelte:

Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges (Efesiërs 6:17 – 18).

 

 Kommentaar:

Die Heilige Gees wat in ons woon gee leiding en rigting. Fundamenteel verlig Hy ons denke, gee vir ons oë, verstand, skyn in ons, verplaas ons van duisternis na die wonderbaarlike lig waardeur ons ons weg kan sien, ons pad kan ken en die dinge van God kan onderskei. Hy gee ‘n nuwe lewe en insig waardeur ons, in die algemeen, geestelike dinge kan verstaan, onderskei en ontvang. Meer word verlang vir die ontvang, aanvaarding van ‘n besondere waarheid en om dit wat daarteenoor staan te verwerp. Dit is ook die werk van die Gees wat in ons woon … Hy gee aan elke waarheid ‘n nuwe heerlikheid; hy maak dit begeerlik vir die siel. Krag sowel as lig kom deur die uitstorting van sy Gees in ons. Krag vir die ontvangs en beoefening van al sy genadige ontdekkings vir ons – van sy Gees kry ons ook ondersteuning. Ons harte is gereed om te sink en misluk onder ons beproewinge; ‘n klein dingetjie sal dit laat gebeur; liggaam en hart en alles in ons is gereed om te misluk. Die Gees help en genees die die ongesteldheid wat gereed is om ons te laat misluk. Hoe dikwels as ons laste te swaar is, het die Heilige Gees in sy krag ons laste gedra en ons ondersteun. Hy is die Gees van genade; Hy is die Gees van heiligheid; Hy is die Gees van vreugde en vertroosting; Hy is die hoë en heilige Een wat tot in ewigheid daar is en wat gekies het om in my te woon.

 

Hierdie kommentaar  is deur John Owen (1616–1683), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskryf.  Hy gaan na Oxford Universiteit toe hy slegs 12 jaar oud was; hy kry sy M.A. graad toe hy slegs 19 jaar oud was. Later word hy as Vise-Kanselier van Oxford aangestel. Hy preek in die Parlement die dag na Koning Charles I se teregstelling. Hy vervul die taak sonder om na die gebeurtenis te verwys. Hy het baie boeke geskryf insluitend geskiedkundige verhandelings en verskeie boeke oor die Heilige Gees.

Hierdie kommentaar  kom uit  “The Indwelling of the Spirit” in “The Doctrine of the Saints’ Perseverance Explained and Confirmed” in The Works of John Owen, geredigeer deur William Goold, Volume XI (New York: Robert Carter & Brothers, 1853), 343 – 361.

 

Verdere leesstof:

 “Paraclete” en “Inward Witness” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

O Heilige Gees, liefde van God, wat van die almagtige Vader en sy geseënde Seun, kom; kragtige advokaat en liefdevolle Vertrooster, gee u genade en daal in my hart neer; verlig die donker hoekies van hierdie verwaarloosde woning en versprei daar U strale. Woon in daardie siel wat na u tempel verlang; lei daardie dorre grond wat met onkruid en distels oorgroei en verlore is omdat dit verwaarloos is, nat. Maak dit vrugbaar met u dou uit die hemel. O, as dit U vreugde sal verskaf om na my te kom, Vertrooster van siele wat rou – U magtige krag in nood en hulp in tye van nood. Kom U uitroeier van alle inwendige besoedeling en geneser van geestelike wonde en siektes. Kom, o Sterke vir die swakkes, en U wat almal wat val weer optel. Kom, U wat die trotse neerbuig en leermeester van die swakkes en nederiges is. Kom, U helper van die armes, en verfrisser van hulle wat flou is. Kom, Heilige Gees in oorvloedige genade en maak my gereed om U te ontvang; buig U neer na my ongesteldhede, dat my swakheid nie deur u grootheid geïgnoreer sal word nie. Al waarvoor ek by  U, Vader, my enigste Verlosser, pleit wat in eenheid met die Seun en Heilige Gees leef en regeer – as een God, die wêreld vir ewig regeer.

 

Hierdie gebed  is deur Augustinus  (354 – 430), die Biskop van Hippo in Noord-Afrika, geskryf.  Hy was ‘n teoloog en filosoof. Beide die Katolieke en Anglikaanse Kerk beskou hom as ‘n heilige. Hy skryf oor sy bekering in sy Confessions, sy bekendste boek. Hy was ‘n produktiewe skrywer en het geskryf in Latyn.  Baie van sy werke het behoue gebly – honderde titels. Dit sluit in apologetiese werke, werke oor Christelike leerstellings en kommentare en meer as 350 preke wat behoue gebly het.

Uit  Pious Breathings: Being the Meditations of St Augustine, his Treatise of the Love of God, Soliloquies and Manual, vertaal deur Geo. Stanhope (London: J. Nunn & Co., 1818), 29–31.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.