Martin Luther en die kerk

Man’s first faculty is forgetting – Albert Camus

Martin Luther en die kerk

Een van die strydpunte tydens die Hervorming was die kerk: Wat is die kerk? Die antwoord: Die gemeenskap van die heiliges/gelowiges. Dit lei tot ‘n verdere vraag: Maar hoe kan ‘n arm verwarde persoon weet waar om sulke mense te kry? Luther identifiseer sewe tekens om hierdie mense te help om ‘n ware kerk te identifiseer:

 

  • Hulle besit die ware Woord van God.
  • Hulle bedien die sakrament van die heilige die doop. Dit word korrek onderrig, geglo en bedien volgens Jesus Christus se opdrag.
  • Hulle bedien die sakrament van die heilige nagmaal. Dit word korrek onderrig, geglo en bedien volgens Jesus Christus se opdrag.
  • Deur die korrekte uitoefening van die sleutels. In Matteus 18 lees ons dat as ‘n Christen sondig moet hy tereggewys word. Nadat jy iemand saamgeneem het en nadat jy dit vir die gemeente gesê het en hy nie verander nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel. Jesus sê dat wat die gelowiges op aarde toegesluit het, sal in die hemel toegesluit bly.
  • Deur die inseëning/wyding  en roeping van leraars en die ampte.
  • Die kerk word herken deur gebed, openbare lofprysing en danksegging aan God.
  • Deur die besit van die kruis. Gelowiges verduur vervolging en swaarkry – alle soorte beproewings; alle bose dinge van die duiwel en die wêreld om meer en meer soos hulle Hoof, Jesus Christus, te word.

Mettertyd word daar veral op die eerste drie eineskappe gefokus as die Lutheraanse verstaan van die kerk. [Luther het  On The Councils of the Church geskryf.]




Wat is die kerk? Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

Pray as if everything depended upon God and work as if everything depended upon man. Francis Cardinal Spellman

Wat is die kerk?  Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons kan baie by die vroeë kerk leer. Baie vroeg in die geskiedenis van die kerk hoor heidene die evangelie en glo. Hulle wou by hierdie vergadering van Christene aansluit. Maar hierdie vergadering bestaan veral uit Jode. Nou was die Joodse Christene nie gereed hiervoor nie – Jesus Christus was immers hulle Messias. Mettertyd ontstaan daar gemeentes wat grotendeels uit nie-Jode bestaan. Nou die vraag: Moet jy eers ‘n Jood word voordat jy ‘n Christen kan word?

Dit gaan veral oor wat jy mag eet en die besnydenis. Om hierdie probleem op te los word ‘n groot vergadering in Jerusalem bymekaar geroep (Handelinge 15).

Nadat na al die argumente geluister is, sê Jakobus: Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. Kerke moet dit nie onnodig moeilik maak vir mense wat hulle na God wend nie. Jakobus besef die Jode se gebondenheid aan hulle tradisies – baie van hulle is deur God ingestel en word al ‘n duisend jaar gevolg. Maar hulle kon ook nie hierdie nuwe neiging – heidene wat in God glo – ignoreer nie. Hulle moes ruimte skep hiervoor – aanpas. Daarna formuleer Jakobus die besluit en dan hierdie stelling: Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie. Die vergadering besluit dat deelname aan die kerk tot net twee dinge beperk sal word:  wees versigtig met wat julle eet as julle Joodse broers teenwoordig is en vermy onsedelikheid.

Maar swaartekrag trek die kerk gedurig terug na ‘n godsdiens sonder genade en van wettisisme. Die boodskap is elke keer duidelik: die kerk is vir kerkmense. Kerkleiers moet seker maak dat die kerk steeds ‘n plek bly waar die nuuskieriges, die skeptici, die onoortuigdes en gebrokenes welkom voel – saam met diegene wat toegewy, ingelig en oortuig is. Maar wat bind hierdie twee groepe aan mekaar? Petrus se belydenis: U is die  Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16).`

Die les vir die kerk van vandag is duidelik:  volg Jakobus se raad – raak ontslae van alles wat dit moeilik maak vir mense om na God te draai; verkondig God se waarheid wat mense vry maak; skep gemeenskappe gekenmerk deur genade. Wees ware kerk.

Volgende keer gaan ons kyk na die opdrag van die kerk: Maak dissipels.




Wat is die kerk? Is die kerk regverdig en konsekwent?

It does not matter how great the pressure is, only where the pressure lies. Do not allow the pressure to come between you and the Lord – Hudson Taylor.

Wat is die kerk?  Is die kerk regverdig en konsekwent?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Kerke moet regverdig en konsekwent wees. Klink logies. Maar kyk na Jesus.  Was Hy altyd regverdig en konsekwent soos ons dit verstaan? Hy gee voorkeur behandeling aan drie van sy twaalf dissipels; Hy genees net sommige mense; Hy voed nie elke honger skare nie; Hy stop in die middel van ‘n parade en nooi Homself om by Saggeus te gaan eet – hoekom Saggeus? Kyk na wat gebeur by die bad by Betesda (Johannes 5).

Daar is baie gestremdes – blindes, kreupeles en lammes –  maar Jesus loop na een man toe en genees hom – net vir hom. Jesus sê vir die ryk jongman dat hy van al sy besittings ontslae moet raak as Hy die ewige lewe wil verkry. Vir die misdadiger aan die kruis sê Hy: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43). In Johannes lees ons dat Jesus ‘n man wat blind gebore is, genees. Net twee hoofstukke later laat Hy toe dat Lasarus sterf.

Oppas vir regverdigheid in die kerk. Regverdigheid word dikwels gebruik as ‘n dekmantel vir niks doen nie: As ek dit vir een doen, sal ek dit later vir almal moet doen. Wat sou Jesus hierop sê? “Nee jy kan nie. Ek het dit nie gedoen nie.”

Wat moet ons doen? Doen vir die een persoon wat jy wens jy vir almal sou kon gedoen het. Jy weet almal gaan nie dieselfde behandel word nie. Gemeentes wat altyd konsekwent optree se optrede kom in die pad van hulle bediening. Ons sien mense met werklike behoeftes wat weggewys word omdat die toekenning op daardie spesifieke lynitem uitgeput is.

Wat is die les wat ons moet leer? God se genade is net sigbaar as God se waarheid duidelik is. Volgende keer gaan ons kyk na die vraag: Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?




Wat is die kerk? Vir wie is die kerk?

Compassion can’t be measured in dollars and cents. It does come with a price tag, but the price tag isn’t the amount of money spent, the price tag is love –  J. C. Watts

Wat is die kerk?  Vir wie is die kerk?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Die kerk is tog vir kerkmense – as jy soos ons glo en soos ons optree, is jy welkom om by ons aan te sluit. Ons besluit wat dit beteken om soos ‘n verloste mens op te tree. Ons is teen alles waarvoor kerklos mense is. En dan sing ons: Just as I am, poor, wretched, blind.  Iewers pas dinge nie in nie.

 

In die kerkspektrum kry ons vandag twee uiterstes:

  • In die kerk net vir verloste mense kry ons baie trotse mense. Deursigtigheid en eerlikheid is gevaarlik in so ‘n kerk. Wat kortkom is genade.
  • Die kerk is vir almal maak nie saak hoe jy glo en jou gedra nie. Verdraagsaamheid en aanvaarding is belangrik; jy kies watter dele van die Bybel jy wil aanvaar. Wat kortkom is die waarheid, want hulle glo dat daar nie iets soos die absolute waarheid is nie.

Maar wat is Jesus se benadering: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). Net drie verse later lees ons: God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Jesus het nie gekom om ‘n balans tussen genade en waarheid te bring nie – vol genade en waarheid. Jesus plaas nie sekere voorwaardes op genade nie – vol genade – of op die waarheid nie – vol waarheid.

Dit is maklik om ‘n kerkmodel van net waarheid te ontwikkel. Net so maklik is ‘n model van net genade. Maar Jesus gee nie vir ons  daardie keuse nie – vol genade en waarheid. Om een van hulle te los , beteken ons los wat Jesus gesê het toe Hy sy vergadering gestig het.

Moet kerke regverdig en konsekwent wees? Daarna kyk ons volgende keer.