Wat is die kerk? Wat is die kerk?

Good works do not make a good man, but a good man does good works – Martin Luther.

Wat is die kerk?  Wat is die kerk?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

In Matteus 16 vra Jesus vir sy dissipels: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? Die dissipels sê vir Jesus wat hulle gehoor het: Johannes die Doper, Elia, Jeremia, een van die profete. Toe wou Hy by die dissipels weet wie hulle sê Hy is. Petrus antwoord dat Hy die Christus, die Seun van die lewende God is. Jesus antwoord: Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.

 

Die Griekse woord wat hier met kerk vertaal word, is ekklesian.  Die hoeksteen/fondament van hierdie nuwe entiteit – die kerk – is die geloof dat Jesus die Christus  die Seun van die lewende God is. Twee millennia later is dit steeds die faktor wat die kerk verenig.

Daar is egter iets anders in hierdie gesprek wat ook van groot belang is. Ekklesian word hier met kerk vertaal. Die oorspronklike betekenis was ‘n vergadering of ‘n byeenkoms – burgers wat vir ‘n doel bymekaar geroep is. Dit verwys nie na ‘n spesifieke plek of spesifieke vergadering nie. Die woord verwys dus na ‘n byeenkoms van mense verenig deur ‘n gemeenskaplike identiteit en doel.

Hoekom vertaal die Bybel nie ekklesian met vergadering/byeenkoms nie? Voor Konstantyn was die aanbidding van Christene redelik informeel. Hulle het in huise bymekaar gekom, saam geëet, gesing, die Skrifte gelees, ‘n bespreking gehad en nagmaal gebruik. Later begin hierdie aanbidding elemente van die keiserlike protokol insluit: weelderige klere, kore en dramatiese vertonings. Aanbidding word formeel en hiërargies –  die gemeente word toeskouers. Daar word geboue opgerig waar die gemeente dan formeel bymekaar sou kom. Kerk word ‘n plek. Die Germaanse kulture begin die woord kirika – kerk – gebruik. En daarna word die woord algemeen gebruik. Jy kan die deure van die kerk sluit, maar nie deure van die ekklesian van Jesus nie.

 

Ons kry nou ‘n dramatiese verskuiwing in klem en rigting. Die kerk is nie meer ‘n beweging gebou op die verstaan van wie Jesus is nie – die kerk word nou ‘n plek. Wie die kerkgebou beheer, beheer die kerk en ook die Skrifte – en dus die mense. Die beweging  word nou ‘n instelling wat na binne fokus, hiërargies is en vol rituele – beslis nie die oorspronklike bedoeling nie.

Wat beteken dit alles? Kerkleiers en lidmate moet ‘n paar ernstige vrae begin vra:

  • Vergader ons of beweeg ons?
  • Maak ons ‘n meetbare verskil in ons plaaslike gemeenskap of hou ons net eredienste?
  • Is ons om ‘n roeping georganiseer of om ou bedieningsmodel  wat ons van die vorige geslag geërf het?
  • Allokeer ons hulpbronne asof Jesus die hoop van die wêreld is of dryf die kultuur van die gemeente die begrotingsbesluite?
  • Is ons ekklesian of is ons tevrede om Kerk te wees?

Nou kom ons by die tweede belangrike vraag: Vir wie is die kerk? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Wanneer is ‘n byeenkoms die “kerk”?

I can say from experience that 95% of knowing the will of God consists in being prepared to do it before you know what it is. —Donald Barnhouse

 Wanneer is ‘n byeenkoms die “kerk”?

As ek en my vriende bymekaarkom om koffie te drink, is dit kerk? As ek en vyf ander bymekaarkom en die Bybel lees, is dit kerk? As ek na ‘n preek luister en ‘n paar liedere sing, is dit kerk? Wanneer word ‘n byeenkoms ‘n kerk?

 

 Die Hervormers het geglo dat as die Woord gepreek word, die sakramente bedien word en as die kerk se dissipline die mense wat so bymekaar is, vorm, dan is dit kerk. Hier is baie min oor gemeentelike lewe. Die fokus is eintlik op wat die leraars doen en die gesag wat hulle uitoefen.

 Ron Heine (Classical Christian Doctrine) vind vyf aspekte in die vroeë kerk:

  • Geloof as vertroue in God maar ook as die inhoud van wat Christene glo. Hier verwys hy ook na die belydenisse in die Nuwe Testament. Die belangrikste hiervan is1 Korintiërs 15:3 – 5.
  • Die Heilige Gees – lewend, inwonend en ‘n werklikheid.
  • ‘n Besondere en aanvaarbare manier van lewe.
  • Die bediening van pastore, leermeesters, ens.
  • Die sakramente – die doop en die nagmaal.

 Daarna verwys hy ook  na die vier eienskappe wat ons in die Belydenis van Nicea kry: eenheid, heilig, algemeen en apostolies.

 Ek stem saam, maar ons moet nooit die waarde van daardie kleiner, informele byeenkomste onderskat nie.




Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Today, and it breaks my heart to say it, finding a homeless person who has died of cold, is not news. Today, the news is scandals, that is news, but the many children who don’t have food – that’s not news. This is grave. We can’t rest easy while things are this way.” Pous Fransiskus

Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Een van die oudste klooster in die wêreld is Sint Katharina. Dit is deur keiser Justinianus gebou om die monnike aan die voet van Sinai-berg te beskerm. Die mure is van graniet en tussen 8 en 35 meter hoog. Tot in die laaste eeu was daar net een ingang – ‘n klein deur ongeveer nege meter bokant die grond. Jy het toegang verkry met ‘n stelsel van katrolle en toue. Die klooster bevat baie antieke ikone en skatte, maar was tot betreklik onlangs ontoeganklik vir buitestanders.

 

Trevin Wax vra ‘n baie interessante vraag: Word ons kerke nie mettertyd soos hierdie klooster nie – ‘n versterkte organisasie sonder deure nie? ‘n Organisasie wat fokus op sy eie oorlewing en nie op sy spesifieke roeping nie. Die neiging is om te vergader met mense net soos ons. Ons sit spieëls om die evangelie – alles weerkaats na binne – in plaas daarvan dat ons groot vensters maak.

Die kerk is tog veronderstel om ‘n kolonie van die hemelse koninkryk te wees. Maar so dikwels verander ons die koninkrykskolonie in ‘n buiteklub. Ons fokus is die gemak en behoud van ons lidmate. Die groot opdrag om na die gemeenskap uit te reik, het in die proses verlore geraak.

Mense sê dat ‘n gemeente of ‘n oorlogskip of ‘n plesierboot is. Albei seil, maar hulle doel verskil radikaal. Die oorlogskip is daar vir ander – dit penetreer die vyand se gebied en veg daar. Die plesierboot is daar vir die gemak van sy passasiers. Luukse en gemak is die kernwaardes.

Het ons die gesindheid van ‘n plesierboot  word die kruis en opstanding van Christus gereduseer tot ‘n boodskap van persoonlike gemak. Ons eredienste vermaak ons. In plaas daarvan dat ons byeenkomste as basis dien vanwaar individuele Christene oor die wêreld versprei om die evangelie uit te dra,  bou ons mure om ons kerke om ons te beskerm teen die bose wêreld daar buite.

Die belangrikste waarde van gelowiges met ‘n plesierboot gesindheid is selfbehoud – hoe kan ons onsself beskerm teen mense wat van ons verskil. Persoonlike en kulturele voorkeure word absolute beginsels. As almal net meer soos ons sal wees, sou die wêreld ‘n beter plek gewees het!

Met ‘n oorlogsboot mentaliteit gaan dit nie oor selfbehoud nie, maar oor selfopoffering. Die geloofsgemeenskap bestaan nie vir homself nie, maar vir ander.




Die kerk moet groei

The Holy Spirit illuminates the minds of people, makes us yearn for God, and takes spiritual truth and makes it understandable to us.” Billy Graham

Die kerk moet groei

Almal wil graag sien dat die kerk groei. Ons word almal bemoedig as ons ‘n gemeente sien wat die liefde van God uitleef en die goeie nuus van Jesus Christus doeltreffend kommunikeer – veral in ‘n neutrale of vyandige kultuur. Maar almal van ons is bekommerd as ons sien ‘n gemeente sukkel om te kommunikeer met mense wat nog ver van God af is.

 

Luister wat sê Jesus van die lewe van ‘n Christen: Julle moet in My bly en Ek in julle.  ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie (Johannes 15:4). Ons probleem is dat ons te haastig is – ons wil vrugte dra sonder om eers diep wortels neer te lê.

Sonder diep wortels is daar die gevaar dat ons sommer weggewaai op weggespoel  kan word – of verskroei as dit droog word. Dit beklemtoon dat ons kragtige waardes moet hê. Die sterkste wortelstelsel is sekerlik die Bybel. Dit is ‘n fontein vir die lewe en vir genesing; in tye van nood is dit waar ons gaan krag kry.

Uit hierdie kernwaarde – absolute vertroue op die Bybel – is daar sekere uitdagings wat na vore kom:

  • Bestudeer voortdurend die Bybel – moet nooit dink dat jy nou genoeg weet nie.
  • Luister na die geskiedenis van die kerk en die mense wat God gebruik het om die Bybelse waarhede vir ons te leer – en dit oor twintig eeue.
  • Laat die Bybel die middelpunt van elke preek wees.
  • Kyk na die Nuwe Testament vir die oorspronklike model van bediening – Jesus en sy apostels.
  • Gehoorsaam wat jy in die Bybel lees; laat dit jou gesindheid en dit wat jy glo verander.

Natuurlik moet ons ons kommunikasie aanpas by die tyd waarin ons leef, maar een ding mag ons nooit vergeet nie: Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).