Verkoop van Kerk – Jan van der Watt

‘n Leser vra:
Tydens ‘n onlangse gemeentevergadering, is daar gestem oor of ons ons kerk gebou aan Moslems moet verkoop, vir R10 000 000.00 of nie. Dit sal ons finansies versterk, maar ons gemeente in twee skeur. Ons verstaan die konsep van geboue en dat die Kerk binne ons as persoon leef, sentiment en geskiedenis, hoe God die grond in die gemeente se besit gebring het, en hoe Hy voorsien het, maak alles net vir ons ‘n bitter pil om te sluk.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is inderdaad ‘n emosionele kwessie, nie alleen omdat mens geheg raak aan wat joune is nie, maar ook omdat daar soveel simboliek en geestelike herinneringe aan ‘n kerkgebou gekoppel kan word. Dink maar aan die pragtige maar baie ou Hagia Sophia in Istanbul wat byna 1500 jaar gelede deur die Bisantynse Christene as kerk gebou is. Toe Konstantinopel in Moslem hande geval het, is die gebou in die jare daarna as moskee gebruik. In die 20e eeu was dit ‘n museum (om konflik tussen Christene en Moslems te verhoed), maar is onlangs weer as Moskee ingewy. Stryd oor ‘n gebou kan dus eeue duur. Die vraag is of dit nodig is.

In die Protestantse tradisie is ‘n kerkgebou maar net ‘n gebou, niks meer nie. (Dit is ietwat anders in die Katolieke en Ortodokse tradisies). Die Protestante bely dat mense die tempels van God is in wie die Heilige Gees woon. Waar twee of drie bymekaar is (waar ook al), daar is die kerk. Die vraesteller sien dit ook so.

Wat nou bykom is tradisies, emosionele binding, herinneringe en so meer. Dit kan nie geïgnoreer word as onbelangrik nie, maar bied nie werklik ‘n godsdienstige rede waarom die kerk nie verkoop mag word nie. Dit lê meer op die vlak van praktiese en pragmatiese oorwegings en nie op die vlak van godsdienstige beginsels nie.

Oor die pragmatiese en praktiese oorwegings (bv. die geskiedenis, emosies, tradisie ens.) kan ons nie sinvol kommentaar lewer nie. Dit moet met liefde, onderlinge respek en ‘n oop gemoed onder die betrokkenes uitgepraat word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Jesus het nooit gesê ons moet kerkgeboue vol maak nie.

 

You may be singing ‘Holy, holy, holy,’ but if you aren’t thinking about God while singing it, you are not worshiping. —Donald Whitney

 

Jesus het nooit gesê ons moet kerkgeboue vol maak nie.

Om kerk toe te gaan was nog nooit die punt nie. Ons sien vandag dikwels dat mense op Facebook skryf dat hulle verlang na die ou dae toe kerkgeboue elke Sondag vol was. ‘n Mens kan dit verstaan, maar daar is probleme om na die goeie ou dae te verlang:

  • Die goeie ou dae was nie werklik so goed nie. Ons het ‘n selektiewe geheue en onthou net die goeie dinge.
  • Om na die verlede te verlang, beteken jy verloor. Jy kan tog nie daarheen teruggaan nie Eer die verlede, leef in die hede en beplan vir die toekoms.
  • Is vol kerke ‘n teken van herlewing of geestelike ontwaking? Kerkgebou moet leeg word; lidmate moet uit in die gemeenskap wees om daar te dien en die woord te verkondig.

 

Ons wêreld het nie groter of voller kerke nodig nie. Wat ons nodig het is veranderde lewens, families,stede en lande. Dit kan jy nie regkry as jy in kerkgeboue vasgekluister sit nie. Jesus en sy dissipels het nooit kerkbywoning beklemtoon nie. Wat hulle wel beklemtoon het, was dat gelowiges die kerk moet wees – hulle moet in die wêreld uitgaan.

 

Kerk gaan nie oor ‘n gebou vol maak nie, maar oor die gemeenskap met die goeie nuus van Jesus se liefde te vul. Kerk beteken uitgaan en nie net intrek nie. Natuurlik is dit wonderlik as die kerkgebou vol entoesiastiese gelowiges wat God aanbid, is. Maar dit kan nooit die doel wees nie. ‘n Vol kerk is ‘n instrument wat God gebruik om die wêreld te bereik – nooit dié doel nie.

 

Miskien moet ons die gesondheid van ons gemeentes meet deur hoe ons ons kerkgeboue leegmaak en nie net vol maak nie.