Geld wat stom is, makie altyd reguit wat krom is nie. – Johann Voges

Lukas 16 19 – 31

‘OralOor’Kinders

Johann Voges 2021

Here, ek vergeet so maklik van al U ‘anderste’ kinders

dink altyd net aan die ou biekie wie ek ken of van hou

Oral op dese aarde versprei bly U ‘verskillende’ kinders

oppie platteland, innie wye vlak en ‘watter ookal’ gebou

ook daai wat in agterstrate bly, U ‘saamklonter’ kinders

en dies wat somma waar hul is ʼn eie ‘plakker’krot bou

Makie saak wie ons is of wa’ ons bly, u ‘oraloor’ kinders

elk sukkel om te wys hoe om U lief te hê en te vertrou

Ons probeer elkeen vir U gesê kry in ons eie ‘hart’taal

oor wat ons kommer, bangmaak en wat ons nodig het

ʼn onduidelike pratery vir mekaar in elk se eie war’taal’

U ken ons behoeftes en sien die swaarkry wat ons het

hulle s’n is vir U net so belangrik as die wat ek ophaal

Soms help U wa’ hul is en annerdag weer in my opset

nie dat ons saamstem oor hoe U elkeen se vra verhaal

Here, dankie hoe U vir elke ‘oral’kind sorg al kla ons net

Ek besef hoe beknop en erg benoud is my klein leefplek

ek vergeet hoe groot issie wêreld wa’in U sorg en liefhet

Ek praat maklik van ‘ons’ en ‘hulle’ sonder enige respek

Here, help my u ‘oral’kinders liefhê soos wat U my liefhet

hulle ook die onverskoonbare te kan vergewe oppie plek

soos wat U vir my die onvergeeflike lankal vergewe het

Here, mag da’ in my vir u ‘oral’kinders ook deernis wees

hul as ewe mense aanvaar hoe naby of ver hul ookal is

Dat ek vir elkeen ook ʼn onverwagse naaste kan wees

oral waar ons mekaar se raakloop- of ‘verby’lopers is

Mag u liefde ons tartende klaarkom makliker laat wees

U sorg vir my, my nabymense en wie vreemdelinge is

Dis gek dat die wie ek nie ken vreemdelinge sou wees

seker maar ook hoe hul voel hoe vreemd ek vir hulle is

Niemand is vanselfsprekend altyd gewillig om oral te wil help nie

            Sommer so met die intrapslag in hierdie Jesus storie oor die rykman en Lasarus in Lukas 16 struikel ʼn mens maklik oor al die verskillende en uiteenlopende goeters wat hier gesê word wat nie juis sin maak nie. Die enigste onverwagse opmerking, is dat die ryk man vers 20 – 21 en Abraham vers 24e.v. albei ewe onwillig is om mense wat sukkel te wil help. Dit pas glad nie by die Abraham prentjie, wat juis in die Joodse tradisie gerespekteer word, as dié beste voorbeeld van hoe gasvryheid en gewilligheid om ander te help behoort te lyk nie Genesis 13:5e.v., 14:20e.v. en 18:1 – 8.

            Heel vroeg in die kerkgeskiedenis bladsye is hierdie storie hoofsaaklik allegories verstaan, wat Jesus se vertel daarvan eintlik nog meer verduister. Die ou kerkvader Augustinus 354 – 430nC het gesê die ryk man verwys na die Jode en Lasarus na die heidene; die vyf broers na die vyf wetboeke en Lasarus se swere na gelowiges se belydenis. Gregorius die Grote 540 – 604nC het hieraan min of meer dieselfde betekenis gegee met so ʼn eie kinkel daarby. Vir hom verteenwoordig die ryk man die Jode, wat die wet misbruik het om hulleself te bevoordeel en te verryk ten koste van alle ander mense, terwyl Lasarus die heidene simboliseer, wat nie skaam was om hul sondes te bely nie (Lasarus se baie wonde en sere). Die krummels wat van die ryk man (die Jood) se tafel val, verteenwoordig die Joodse wet en die aflek van Lasarus se sere dui op genesing; dis die belydenis van sondes aan die heilige dokters (die pousdom). Omdat die heidene se sondes vergewe is, sal hulle hemel toe gaan, en die Jode sal ewige pyniging op hulle lippe ontvang (dors hê) as gevolg van die wet wat hulle baie goed geken het, maar verkies het om nie te doen nie.

            In die tyd van die hervorming het Luther 1483 – 1546 hierdie Jesus storie verstaan as ʼn waarskuwing dat christen-wees meer is as om net uit die moeilikheid te bly en dat dit eerder gaan oor hoe belangrik dit is dat jy ook hulpvaardig en goed vir ander mense moet wees. Vir Luther is hierdie gelykenis ook ʼn verbod om dooies te wil raadpleeg en dat ons eerder na antwoorde in die Bybel moet loop soek op enige vrae wat ons ookal daaroor mag hê. Calvyn 1509 – 1564 het enige vorm van allegorisering van Jesus se stories probeer vermy en altyd na ʼn sentrale tema daarin gesoek. Volgens hom verwys Jesus in Lukas 16 na wat met elkeen gebeur wat armes om hulle verwaarloos terwyl hulle hul verlustig in hulleself en eie plesier. Hy het ook gesê dat die betekenis van ‘Abraham se boesem’ ‘n metafoor is wat wys op die feit dat God se kinders vreemdelinge en pelgrims in die wêreld is, maar as hulle die geloof van hul vader Abraham volg, sal hulle ʼn geseënde rus beërwe die dag as hulle te sterwe kom. Dis daai sogenaamde ‘rus in vrede’ waarna ons steeds tot vandag toe nog verwys wanneer iemand te sterwe kom.

            Die eerste histories-kritiese verstaan van hierdie storie was toe verklaarders begin sê het dat dit uit twee losstaande dele bestaan, tw. vers 19 – 26 (die opponerende en heel verskillende lewens van die ryk mense en die arm Lasarusse in hierdie wêreld) en vers 27 – 31 (die algehele en permanente ommekeer van die lotgevalle van die ryk man en Lasarus in die hiernamaals). Sedertdien is baie verklaarders van mening dat die sentrale gedagte van Jesus se storie juis in die tweede deel van die gelykenis gesoek moet word. Dat Jesus juis hiermee wou waarsku teen die gevare wat voortspruit uit die liefde vir rykdom en hoe belangrik dit is om eerder vir die armes te sorg.

            As ʼn mens so deur die kerkgeskiedenis bladsye blaai oor hoe almal dié storie probeer verstaan het, is al wat tot op hierdie stadium daaroor duidelik is: “dat dit nie in hier gaan oor die hiernamaals en dan waarborg wat jou daaruit of daarin gaan laat kom nie”.

Die eintlike storie agter Jesus se storie

            In byna alle interpretasies van hierdie gelykenis is daar ʼn fokus op die ‘teenoorgesteldes’ wat daarin voorkom. Die eerste drie verse van die gelykenis stel die eerste twee karakters bekend: een binne-in die hek (die een aan wie die poort behoort) en een buite daardie poort. Die man binne die poort het geen naam nie, word beskryf as ryk, trek pers en fyn linne aan en smul elke dag weelderig (vrolik) aan die oorvloed kos tot sy beskikking. Die persoon buite die poort het ‘n naam – Lasarus – en word beskryf as arm, is oortrek met sere en het glad niks om te eet nie. ‘Lasarus’, beteken ‘God help’, (dis ‘n verkorte vorm van die naam Eliëser (of Eleasar), die naam van Abraham se slaaf Genesis 15:2). Die ryk man het kos en vriende in oorvloed, terwyl Lasarus honger is (verlang daarna om gevoed te word al is dit dan ook maar net van dit wat van die ryk man se tafel geval het) en hy het net honde vir geselskap. Die ryk man het die vermoë om te gee; Lasarus kan net bedel, vir sover hy dit wel nog kan doen. Aangesien die poort aan die ryk man behoort, kan hy daardeur gaan, terwyl Lasarus dit nie kan doen nie. Hierdie verskille tussen die ryk man en Lasarus word dan saamgevat in die woorde van Abraham aan die rykman in die hierna­maals: “Dink so ’n bietjie terug. Daar op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry” Lukas 16:25a.

            Dan sterf beide die ryk man en Lasarus in die storie Lukas 16:22. ʼn Algehele ommekeer van hul vorige onderskeie lotgevalle vind dan hier plaas. Lasarus word deur die engele weggevoer na Abraham, waar hy vertroos word (aan Abraham se boesem), terwyl die ryk man begrawe word en hom in ‘n plek van pyniging en angs bevind. Lasarus lewe nou in oorvloed (water) en is in staat om te gee; terwyl die ryk man smag na ‘n blote druppel water. Net soos Lasarus voor sy dood begeer het om gevoed te word deur die krummels wat van die tafel van die ryk man geval het. Die situasies van die ryk man en Lasarus het dus drasties verander: Lasarus is nou ‘binne’, en die ryk man is ‘buite’. Tussen hulle is ‘n kloof wat nie oorgesteek kan word nie. In die woorde van Abraham in die storie: “Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie. Weet jy, dis nou te laat om iets daaraan te doenLukas 16:25b.

            Dis duidelik dat die verstaan van Jesus se storie nie gaan oor teenoorgesteldes daarin nie, maar wel wat die een ooreenkoms daarin is tenspyte van al die verskille. Daar is baie verskille, maar net een ooreenkoms – hoewel die lotgevalle van die ryk man en Lasarus drasties verander, het een ding dieselfde gebly: diegene wat die vermoë het om te help, help nie. Beide die ryk man vers 20 – 21  en Abraham vers 24e.v. is onwillig om die een te help wat hul hulp nodig het.

            Die ryk man, hoewel hy in pyniging is en dors het, is nie bekommerd nie … want, volgens hom, is Abraham ook sy vader en, in ooreenstemming met wat bekend is van Abraham se gasvryheid, verwag hy dat Abraham hom ook sal help. Hy is nou die een wat in nood is, en net soos in die geval van Lasarus, word daar gunstig deur Abraham gekyk na diegene wat in nood is … so glo hy vanuit sy Joodse tradisie. Daarom dat hy hier vir water vra. Maar dan die verrassing in Jesus se gelykenis. Abraham is nie bereid om te help nie. Abraham bied nie eers een druppel water aan om van Lasarus se vinger af te lek nie. Dit lyk nou amper asof Lasarus, wie se sere die honde gelek het, beter daaraan toe was as die rykman waar hy nou hier aan die anderkant is. Dit is inderdaad ‘n ironie of teenstelling wat nie rêrig sin maak nie – Abraham wat veronderstel is om altyd gasvry te wees teenoor alle mense, weier om die ryk man te help. Die ondenkbare gebeur: Abraham toon geen gasvryheid nie. Dan die groot en laaste skok … die hek tussen hulle kan nie oopgemaak word nie. Niks kan hier deurgegee word nie … dis vir altyd gesluit.

            Dis juis in hierdie ‘onverwagse’ waarin die sentrale gedagte, van hierdie storie wat Jesus vertel het, gesoek moet word. Jesus wou met sy storie sê: “Wanneer enige beskermheer, wat in sy oorvloed van alles te mag hê, nie deur die poort na die armes toe gaan nie, word ‘n same­lewing geskep waarin ‘n kloof so groot tussen ryk (die elite) en arm (die boerestand) ontstaan dat dit nie oorgesteek kan word nie. Die wêrelde van die stedelike elite en die boerestand kan so ver van mekaar wegdryf dat die gaping tussen hulle uiteindelik nie meer oorbrug kan word nie”. Net so ondenkbaar as wat dit vir Abraham is om nie te doen wat hy kan nie, so is dit ondenkbaar vir diegene wat kan help om dit nie te doen nie. Abraham, synde die voorbeeld van gasvryheid, het geen rede om sy rug op die ryk man te draai nie. Dieselfde geld vir die ryk man … niks het hom in die pad gestaan om Lasarus te help nie, hy kon as hy wou.

            Wat is die probleem of gevaar waarna Jesus hier verwys wat tussen mense kan gebeur die dag as hulle so vervreemd van mekaar geraak het dat niemand meer bereid is om na mekaar uit te reik nie as gevolg van die onoorkombaarhede tussen hulle?

Jesus se storie in ons tyd.

            Ek het hierdie storie[1] van ʼn Jodin raakgelees, wat besluit het om op haar manier ʼn verskil te probeer maak aan die pyn wat daar by mense is as gevolg van hulle oor en weer wanpersepsies van mekaar. Sy gaan bied toe haar dienste aan by die “Facing History and Ourselves’ organisasie wat poog om as deel van skoolkinders se leerplan te probeer help met hoe ʼn mens enige vooroordele teenoor ander mense uitgeroei kan kry. Sy het as gids opgetree waar skoolgroepe die ‘Anne Frank in the world’ foto-uitstallings kom besigtig het. Daarin word uitgebeeld hoe Anne Frank tydens die Holocoaust in die tweede wêreldoorlog oorleef het (‘holocoast’ is die algemene benaming vir die uitwissingspogings van Jode deur die Nazi’s tydens die tweede wêreld oorlog). Om ʼn groep tiener skoolmeisies te laat ervaar waaroor die uitstalling eintlik gaan, het dié Jodin-gids die meisiesgroep verdeel in kinders met blou oë en die met ander kleur oë. Sy het toe die blou-oog kinders saam met haar geneem terwyl sy die ander oogkleur dogters gelos het om daar op hul eie rond te staan. ʼn Entjie verder het sy omgedraai en teruggeloop na die ander oogkleur kinders en gevra hoe hulle voel oor wat pas gebeur het? Een van die dogters waag dit toe om te sê hoe onregverdig en vernederend hierdie verdeling van hulle groep was. Wat die toergids die dogters hiermee wou laat ervaar het, was die vernedering wat die Jode in die tweede wêreldoorlog moes ervaar het oor hulle komvandaan. Niemand het geweet wie Jode was of nie omdat hulle soos enige ander mens gelyk het. Daarom het die Nazi’s al die Jode verplig om ʼn groot geel ster aan hul klere vas te werk sodat hulle deur almal uitgeken kon word. Een van die kinders in die groep sê toe dat sy nog nooit ʼn Jood ontmoet het om te kan weet hoe hulle lyk nie, waarop die gids antwoord: “nou kan jy sê jy het, want ek is een”. Al die dogters het verleë daar rondgestaan oor hulle eie vooroordele oor mense wat hulle nie ken nie.

            Hierdie storie is maar net een van vele van hoe ‘xenofobie’ (vreemdelinge vrees of haat) tussen mense lyk. Dis nie net iets wat tydens die tweede wêreldoorlog gebeur het nie, maar tot hede vandag toe nog steeds oral tussen mense gebeur. Dis daai neiging onder mense om ander mense, wat anders as hulle is, te vrees en uiteindelik te haat of te probeer vermy of agteraf te probeer slegmaak.

            Dis waarteen hierdie preekstorie van Jesus in Lukas 16 waarsku: ‘oppas dat daai kloof tussen jou en ander mense so groot raak as gevolg van julle vooroordele teenoor mekaar dat niemand meer weet of kans sien hoe om oor daai vooroordele na mekaar toe uit te reik nie’. Anders gesê: ‘die koninkryk van God word juis sigbaar waar mense mekaar kan aanvaar en liefhê en bereid is om ʼn onverwagse naaste vir mekaar te wees ongeag die verskille of andersheid wat daar tussen hulle ookal mag wees. Wat kan ek wat Lasarus is (die ene wat deur God gehelp is) doen om ʼn verskil te maak aan die onklaarkomstigheid, om watter rede ookal, van die mense om my elke dag?

            In hierdie storie wat vertel word deur ene Andrew Harvey in sy boek ‘The hope, a guide to sacred activism[2] word vertel hoe mense ook van xenofobie genees kan raak. Hy vertel daarin van hierdie ou swart vrou, toe al byna blind, wat voor die waarheids-en-versoeningskommissie verskyn het saam met ʼn  wit man, meneer van de Broek, wat daar bely het hoe hy haar man en seun voor haar gemartel en doodgemaak het. Een van die kommissie lede vra toe vir haar: “hoe dink jy sal ons reg kan laat geskied aan jou wat jou familie op hierdie aaklige manier verloor het”? Die ou vrou antwoord toe: “ek wil drie dinge laat sien gebeur. Die eerste is iemand moet my vat na daar waar hul my man aan die brand gesteek het … ek wil sy as loop bymekaarmaak en hom ordentlik gaan begrawe. Die tweede ding wat ek vra … my man en seun was die enigste familie wat ek gehad het, daarom wil ek meneer van de Broek as my seun aanneem. Hy moet tweemaal ʼn maand vir my by my huis kom kuier sodat ek met hom die liefde kan deel wat daar nog in my oorgebly het. Die derde ding wat ek wil vra, is dat iemand my nou moet kom help om na meneer van de Broek toe te kan loop sodat ek my arms om hom kan sit en hom vashou sodat hy kan weet dat ek hom vergewe het”. Hulle kom help haar toe om by meneer van de Broek uit te kom. Oppad soontoe staan al daai hofsaal se mense op en begin ‘amazing grace’ te sing. Van de Boek, oorweldig oor wat hy hoor en sien, val net daar flou neer. Harvey sê daar het iets die dag in daai hofsaal gebeur wat van de Broek nooit gedink het ooit met hom sou gebeur nie. Dit was oor die stupidste fout wat hy ooit in sy lewe kon gemaak het, en dit as gevolg van sy xenofobie. Dat ʼn ou swart vrou hom ʼn stuk onvoorwaardelike liefde wou gee wat hy nie kon verdien nie. En toe neem sy hom boonop nog as haar eie familie ook aan. So het ʼn onsigbare weerligstraal van liefde hom in daai hofsaal onderstebo geslaan toe hy aan sy lyf ervaar het hoe rêrige genade en onverdiende vergifnis voel ten spyte van daai amper onoorkombare xenofobiese kloof tussen mense.             Piet Naude[3] vertel dat met ’n besoek aan vriende op ’n plaas in die Wes-Kaap hulle eendag ’n ietwat gehawende vreemdeling in die woonkamer aantref. ‘Is hy dalk ’n oom of ’n neef? Of nuwe aangetroude familie?’ wou hulle van die gasvrou weet. “Nee, dis sommer ʼn padloper. Ons hou altyd die stoepkamer oop vir vreemdelinge.” Om ander mense so te kan aanvaar en ontvang, is die hart van gasvryheid


[1] Die Groot Stories-boek. Estelle Steenkamp (red) 2008. Lux Verbi. Bl 401 – 404

[2] The hope: a guide to sacred activism. Andrew Harvey. 2009. Hay House INC

[3] Stories vir die lewe – omnibus ʼn Boek oor lewenswaardes. Piet Naude. 2003. Lux Verbi. Bl 32.

Skrywer: Dr Johann Voges

ʼn hoofstuk aanhaling uit: Jesus se preekstories.. Johann Voges 2023. Groep 7 drukkers




Ongehoorsame kinders – Hermie van Zyl

Vraag:

Joos vra: Waar staan dit in die Bybel dat in die laaste dae die kinders ongehoorsaam sal wees en die ouers gehoorsaam?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Oor die eerste deel van die vraag (ongehoorsame kinders), is daar nie twyfel nie. Ons lees in 2 Timoteus 3:2 dat in die laaste dae mense ongehoorsaam aan hulle ouers sal wees. Dieselfde gedagte kom ook in Romeine 1:30 voor, hoewel dit hier nie aan die laaste dae gekoppel word nie. Hier gaan dit eerder oor die algemene verdorwenheid van die mens wat in sy opstand teen God die ware God verruil vir afgode en dan die gevolge daarvan dra: God gee hulle oor aan hulle verdraaide opvattings en onsedelike gedrag, wat dan onder andere uitmond in ongehoorsaamheid aan ouers.

Die tweede deel van die vraag (gehoorsame ouers) kom nie in die Bybel voor nie. Dit is waarskynlik sommer ’n opmerking wat in die volksmond ontstaan het om op ’n ietwat skertsende manier die omgekeerde orde van dinge in die sogenaamde laaste dae voor te stel: niks is soos wat dit behoort te wees nie; alles word op sy kop gekeer; in stede daarvan dat kinders aan hulle ouers gehoorsaam is, is dit nou eerder ouers wat onderdanig is aan hulle kinders.

In 2 Timoteus 3 kom die tipering van mense wat aan hulle ouers ongehoorsaam is, in ’n uitgebreide sondelys voor. Ons moet dus nie die ongehoorsaamheid aan ouers uit verband ruk nie, maar dit saamlees met die ander ondeugde en sondes wat daar genoem word. Hierdie sondelyste kom dikwels in die Nuwe Testament voor, byvoorbeeld Romeine 1:29-32, 1 Korintiërs 6:9-10, Galasiërs 5:19-21, Efesiërs 5:3-5, 1 Timoteus 1:9-10, om maar net enkeles te noem. Dis lyste wat deurgaans die algemene verdorwenheid van die mens beskryf, die tipiese houding en gedrag van mense wat hulle nie steur aan God se wil nie. Dit word dan opgestel teenoor die gedrag wat van Christene verwag kan word, as mense wat deur die Gees van God vervul is. Vergelyk in hierdie verband Galasiërs 5:22-23, waar die vrug van die Gees gelys word.

Die koppeling van die sondelys in 2 Timoteus 3:2-9 aan die “laaste dae” moet dus nie oorbeklemtoon word nie. Dis skandelike gedrag wat nog altyd by mense voorgekom het. Daarom dat hierdie lyste in verskillende kontekste van die Nuwe Testament genoem word, en nie net wanneer van die laaste dae sprake is nie. Telkens word daar ’n spieël opgehang van die ware aard van die mens sonder Christus, sonder die Gees van God: opstandig, gerig op die self, haters van ander, ongebreidelde wellus. Waarom die sondelys in 2 Timoteus 3 wel aan die laaste dae gekoppel word, is bloot om te sê dat namate die einde naderkom, dit wat nog altyd aan allerlei remminge onderworpe was, as ’t ware tot uitbarsting sal kom. Die sweer bars dan oop; die damwal breek; die ware aard van die mens sonder God breek dan in al sy felheid deur. Niemand weet egter wanneer hierdie finale manifestasie van boosheid sal aanbreek nie. Daarom dat ons “laaste dae” baie wyd moet definieer: ons leef immers sedert die koms van Christus in die laaste dae (vgl Heb 1:1-2). En soos wat die tyd voortgaan en die evangelie van Christus oor die wêreld sy loop neem, so sal die weerstand van die bose ook oplaai en manifesteer. Maar dis nie vir ons om die tyd van die einde te probeer bereken aan die hand van allerlei tekens nie. Die “tekens van die tyd” was nog altyd met ons. Ons roeping is om, wanneer ons hierdie “tekens” waarneem, navolgers van Jesus te wees en deur ons lewe tekens van sy koninkryk op te rig. Die uitwerk van God se Raad kan ons met geruste harte in sy Hand laat.

’n Laaste gedagte: Dis nie duidelik waarom onder andere ongehoorsaamheid aan ouers as sondige verskynsel van die laaste dae genoem word nie. Waarskynlik omdat daarin die oersonde van die mens verwoord word, naamlik opstand teen God se gesag. Wanneer God se gesag verwerp word, kom menslike vorme van gesag (bv die ouerhuis) ook aan die beurt, en vandaar tree al die ander vorme van die omverwerping van gesag wat die samelewingsorde bedreig, na vore. Uiteindelik is dit ’n totale goeie orde wat dreig om in duie te stort, wat vir die antieke gelowige teken was van die laaste dae, die einde van die wêreld. Maar, weer eens, die bedoeling van hierdie “tekens” is nie om berekenings te probeer maak van wanneer die einde sal aanbreek nie, maar om gelowiges voortdurend op te skerp tot ’n toegewyde lewe aan God en die naaste. Dan kan die bruidegom maar enige tyd kom; ons is gereed, soos die verstandige meisies van die gelykenis in Matteus 25:1-13.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Kindertjies inseën – Francois Malan

‘n Leser vra:
Goeie more ek vertrou dit gaan goed. Ek het n vraag wat by my opgekom het…As n man en vrou saam bly en n kind het…kan hulle die kind saam inseën by die kerk? Die ouers is nie getroud en leef ook nie vir die Here nie.

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Die inseëning van ’n kind geskied veral in Baptiste kerke wat hulle lidmate na belydenis van hulle geloof in die Here Jesus groot doop. Ander kerke doop die kindertjies van gelowige ouers as die sigbare teken van die verbond wat God met die ouers en hulle kinders gemaak het. In Handelinge 2:38-39 sê Petrus: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.’  

Die inseëning geskied deur ouers wat lidmate van die kerk is en bereid is om voor die Here te belowe dat hulle die kind sal grootmaak om te glo in die Here Jesus as die Seun van God.

Jesus Christus is die Lam van God (God se Offerlam) wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:12). Daarom het Hy aan die kruis gesterf om al ons sonde op Hom te neem en ons daarvan vry te spreek en so ons verhouding met God reg te maak. Aan elkeen wat in Hom glo het Hy die reg gee om kind van God te word (Johannes 1:12).

As ’n kind ingeseën sou word deur ouers wat nie vir die Here leef nie, is die inseëning van geen waarde nie en is dit eintlik ’n bygelowige bespotting. Die doel van die inseëning is om die kind vir sy lewe lank aan die Here toe te wy en uitdrukking te gee aan die ouers se verantwoordelikheid voor die Here om die kind vir die Here groot te maak.  

As die kind groter word en ten spyte van sy ouers se ongeloof in die Here Jesus begin glo en self besluit om vir die Here te leef, kan hy of sy self na enige kerk toe gaan om geleer en gedoop te word as volle lidmaat wat in daardie kerk die Here saam met ander gelowiges wil aanbid.

In Mattheus 28:19-20 het Jesus vir sy dissipels gesê: Gaan en maak dissipels (leerlinge en volgelinge) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. 

Is die gawe van ’n kindjie nie juis die Here se oproep aan die ouers om vir die Here te begin lewe, en saam met gelowiges by ’n kerk aan te sluit om die Here gereeld te loof en te dank nie; en hulle kind daar te laat doop of inseën nie?

Moet ouers wat nie getroud is nie, nie dit begin oorweeg om te trou en so meer vastigheid aan die kind en sy ontwikkeling te bied nie? As hulle eers vir die Here begin lewe, sal hulle sien hoe dit moontlik word om in liefde as getroudes saam te lewe.

Efesiërs 5:21 sê: ‘Wees ondergeskik aan mekaar uit ontsag vir Christus.’ Filippense 2:3-5 sê: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was.’ So kan ’n hegte liefde tussen man en vrou groei, met wedersydse trou aan mekaar as getroudes.

Skrywer:  Prof Francois Malan 




Kinders en die Bybel – Hermie van Zyl

Rina vra:

Hoe leer mens jou kinders om die Bybel reg te verstaan? Is daar enige boeke of aanlyn- of aflaaibare dagstukke/Bybelstudie wat mens kan doen met hulle om bv die doop, paasfees, ens, reg te verstaan en die ware betekenis te begryp?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller sê ongelukkig nie hoe oud die kinders is waaroor navraag gedoen word nie. Verder is dit ook nie heeltemal duidelik of gesoek word na hulpmiddels wat die teks/verhaal van die Bybel verstaanbaarder vir kinders maak en of dit eerder gaan oor leefstyl of leerstellige kwessies nie (daar word wel verwys na die doop, paasfees, ens). Ek kan dus net in die algemeen probeer leiding gee oor hoe mens jou kinders aan die Bybel en sy inhoud blootstel.

Eerstens is daar die sogenaamde Kinderbybels vir jonger kinders – óf om vir hulle voor te lees óf wat hulle self kan lees. Ek weet daar is baie vir en teen Kinderbybels te sê. As ‘n vertrekpunt dink ek moet mens uiteindelik jou kind by die “regte” Bybel self uitbring, maar daar mag tog ‘n vroeë stadium wees waar mens jou kind vertroud wil maak met die inhoud van die Bybel sonder om dit te moeilik te maak. Ek self het met die Kinderbybel grootgeword en het niks negatief – sover ek weet – daarvan oorgehou nie. Inteendeel, dit het juis by my ‘n nuuskierigheid gewek om met die “groot” Bybel (soos ek dit destyds genoem het) besig te raak. Ek onthou hoe ek dikwels dieselfde verhaal wat ek in die Kinderbybel raakgeloop het, ook in die Bybel gaan lees het om met mekaar te vergelyk. Maar vir lank het die Kinderbybel en die “groot” Bybel ‘n parallelle bestaan in my kinderlewe gehad. Geleidelik het die behoefte aan die Kinderbybel weliswaar verdwyn. Mens moet dus jou kind van kleins af bewus maak daarvan dat die Kinderbybel eintlik net ‘n tussenstadium is totdat hulle oud genoeg is om self die Bybel te hanteer. In jou kerk se eredienste, kategese/Sondagskool en by die huisgodsdiens word jou kind in elk geval voortdurend aan die Bybel self blootgestel. Oor watter Kinderbybel die beste is, wil ek my nie graag uitlaat nie. Daar is talle op die mark. Maak gerus ‘n draai by ‘n goeie Christelike boekwinkel soos Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) of Lux Verbi en vra wat hulle sal aanbeveel. Iets in dieselfde trant: Die Bybelgenootskap van SA (BSA) het ‘n Bybelgeletterdheidsprogram vir die heel jong kind waar kinders leer lees en spel aan die hand van Bybelverhale. Dis regtig ‘n opwindende program, opgestel deur professionele opvoedkundiges. Die materiaal is gratis aflaaibaar van die BSA se webwerf (http://www.bybel.co.za/home/). Besoek dit gerus.

Tweedens, iets wat baie help om kinders se algemene Bybelkennis te bevorder, is Bybelkenniseksamens, veral vir die ouer kinders. Ek het self hieraan as kind deelgeneem en dit het my baie gehelp om die Bybel op ‘n sistematiese manier deur te werk. Dit lê sommer vroeg ‘n goeie algemene Bybelkennis by die kind vas. Ek weet dat baie kerke nog steeds hierdie praktyk het. Hulle hou selfs “kompetisies” in en tussen gemeentes. Vind uit of daar in julle kerkopset so-iets is en, indien wel, moedig jou kinders aan om hieraan deel te neem. Ek weet kinders is oor die algemeen nie “mal” hieroor nie, want dis nog ‘n ding waarvoor hulle moet leer, maar uiteindelik is dit tog die moeite werd as dit oor basiese Bybelkennis gaan. Want so leer jou kind ten minste om die Bybel self behoorlik te lees vir antwoorde. Die BSA se webblad (kyk bo) het ook ‘n Bybelvasvra-afdeling waar jy self jou Bybelkennis kan toets (of doen dit saam as gesin!).

Derdens, daar is baie hulpmiddels (elektronies en in druk) vandag beskikbaar om veral kinders te help om die Bybel sistematies deur te lees. ‘n Mens sou byvoorbeeld by die boekwinkels van CUM kon gaan inloer wat hulle alles beskikbaar het. Hierdie hulpmiddels lê op verskillende vlakke – van gewone leeshulpmiddels om die betrokke Bybelgedeelte met begrip te lees tot meer interpreterende hulpmiddels (kommentare) wat bepaalde Bybelboeke se betekenis vir die leser uitlê. ‘n Goeie voorbeeld van lg is CUM se Bybellennium wat ‘n kommentaar is op die hele Bybel. Dit is weliswaar vir volwassenes bedoel, maar gevorderde hoërskoolkinders sal dit goed kan baasraak. Iets wat kleiner kinders dalk makliker sal vind, is Dave Strehler se “Ontdekkingsreis deur die Bybel vir kinders”. Om die Bybel so sistematies te lees aan die hand van ‘n hulpmiddel is iets wat julle as gesin kan saamdoen. Dit sou vir my die eerste prys wees – om nie net jou kind self die Bybel/hulpmiddel te laat lees nie, maar dit as gesin saam met hulle te doen. Maar onthou, dit moet vir hulle lekker wees om dit saam met julle te doen. Moet dit nie ‘n stresvolle geleentheid maak waar die kinders voel dat hulle “gekatkiseer” gaan word oor die Bybel of moeilike vrae moet beantwoord nie. Hulle kry gou die gevoel dat die een “afsteek” of afgespeel word teen die ander, en dit wil mens nie hê nie. Elkeen moet op sy/haar eie manier saam met pa en ma God se hartstaal aan hulle leer ken. Maar hierdie saamlees-ervaring kan ‘n wonderlike groeigeleentheid wees vir kinders (én ouers). Die BSA se webblad (kyk bo) het ook ‘n afdeling vir hulpmiddels waar mens allerlei leesstof kan aflaai oor interessante onderwerpe, bv Hoe om die Bybel te lees; Troos uit die Woord; Saam met God by die werk; ‘n Bybelleesrooster; Wat dit beteken om kind van God te wees; Plante, diere en beroepe in die Bybel; ens.

Vierdens, daar is natuurlik ook die kwessie van watter vertaling van die Bybel mens aan jou kind wil deurgee. (Ek laat vir doeleindes van hierdie skrywe die Engelse vertalings weg.) Die aangewese een is seker die 1983-Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Dit bly nog maar die standaard, en word ook deur die meeste Afrikaanse kerke as hulle amptelike vertaling gebruik. Uiteraard is daar nog die sogenaamde “ou” vertaling ook (die 1933/1953 een), hoewel sy woordgebruik en sinskonstruksies al ietwat verouderd is en bietjie vreemd op die oor val. Veral kinders vind dit moeilik om te verstaan. Aan die ander kant van die spektrum is ‘n vertaling wat baie lekker lees vanweë sy vryer vertaalmetode, die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) van CUM. ‘n Mens kan hom met vrymoedigheid gebruik. Die Boodskap (ook uit CUM se stal) is ‘n nóg vryer vertaal as die NLV en is ‘n lekker leeservaring. Dan is daar ook Die Bybel vir Almal van die Bybelgenootskap van SA. Dit het eenvoudige sinskonstruksies met omskrywings van moeilike begrippe. Dit behoort ook goed af te gaan by jonger kinders. (Let wel, dis die volledige Bybel en nie ‘n Kinderbybel nie.) En laastens is daar ook die Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap wat tans in wording is. ‘n Proefuitgawe wat die Nuwe Testament en Psalms bevat, het reeds verskyn en is by die Bybelgenootskap beskikbaar (R40). Hierdie vertaling probeer die oorspronklike idioom van die Bybel goed vasvang en verwoord, maar dan in vandag se Afrikaans. Ek voorspel dat hy baie gewild gaan word in die toekoms.

Vyfdens, as dit gaan oor meer algemene hulpmiddels, afgestem op leerstellige of leefstylkwessies, of dagstukkies (met of sonder Bybelse raad oor allerlei sake), is onderstaande webwerwe almal aan te bevole (sommige is reeds hierbo genoem). Hulle het spesiale afdelings vir kinders en tieners/jeug. Daar kan mens na hartelus rondblaai en kyk wat alles beskikbaar is om jou kind van hulp te wees om nie net die Bybel self te lees nie, maar ook met lewensvrae vanuit die Bybel hulp te kry:

Lux Verbi: http://luxverbi.co.za/?language=afrikaans

Bybelmedia: http://www.bybelmedia.org.za

Christelike Uitgewersmaatskappy: http://www.cumuitgewers.co.za

Bybelgenootskap van SA: http://www.bybel.co.za/home/

Ten slotte, daar is nie ‘n vreeslike reg of verkeerd in hoe mens jou kind aan die Bybel (en daarmee aan die Woord van God) bekendstel nie. Moedig jou kind aan om self die Bybel te lees, maar doen dit ook as gesin. En onthou, uiteindelik gaan dit nie oor blote Bybellees of Bybelkennis nie (uiteraard is dit nie onbelangrik nie), maar oor hoe die Bybel se inhoud jou lewe verander. Dít is wat mens uiteindelik in jou kind se lewe wil bereik. En daarvoor is ‘n lewe as Christengelowige saam met jou kind onontbeerlik. Dis die beste geskenk wat ‘n mens hulle kan gee.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl