Daar is konflik in die gemeente

 

Courage may be the most important of all virtues,because without it one cannot practise any other virtue with consistence –  Maya Angelou

Daar is konflik in die gemeente

Daar is konflik in die gemeente – wat doen ons nou? In gemeentes is daar dikwels mense met botsende agendas. Hoe hanteer ons hierdie konflik?

  • Fokus op die noodsaaklike doelwitte. Jy kan so ontsteld word dat jy skoon vergeet wat jy eintlik wil bereik. Hoe lyk “wen”? As die konflik verby is en jy het “gewen,” hoe sal dinge dan lyk?
  • Moenie baklei oor dinge wat nie saak maak nie – fokus op aktiwiteiete op ‘n hoër vlak.
  • Verstaan ander se sienings met empatie. Dit help as jy ander mense se doelwitte verstaan – jy moet na die wêreld deur hulle oë kyk. Moenie sommer aanvaar hulle bedoel kwaad nie.
  • Hou jou vriende naby jou; hou jou vyande nog nader aan jou. Dit is moeilik, want ons verkies aangename interaksie en wil ongemak vermy. Daarom verkies ons om diegene van wie ons verskil te vermy. Jy sal nooit weet wat ander dink of doen as jy nie by hulle betrokke is nie.
  • Gebruik humor om ongemaklike situasies te ontlont.

Konflik is onvermydelik. As jy egter hierdie eenvoudige riglyne riglyne in gedagte hou, sal jy konflik produktiewer kan gebruik.




Konflikbestuur

Konflikbestuur – Kobus Kok

Nico vra:

Ek soek raad uit God se woord om mense te help wat hul grootword proses en hul ouerhuise en opvoeding bly kritiseer asook die tekortkominge bly uitwys? Tog op ‘n punt is elk van ons verantwoordelik vir ons eie dade en sal verwyte ons grootword proses verder verhinder, dan nie??

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Paulus as kreatiewe ruimteskepper in tye van konflik: Uitdagings en voorwaardes vir konflikbestuur 

Inleiding 

Daar is dikwels spanning tussen ouers en jongmense, veral as die jongmense hulle eie dinge wil begin doen en wil wegbreek van die manier van doen wat hulle ouers op hulle wil afdruk. Ouers voel dat hulle die verantwoordelikheid het om hulle kinders te vorm om gesonde mense in die samelewing te wees. Kinders voel dikwels dat iemand anders se manier van doen op hulle afgeforseer word. Hierdie tipe spanning is iets wat die meeste huisgesinne een of ander tyd mee in aanraking kom. Konflik is nie lekker nie, en spanning in die huis beïnvloed mens se hele lewe.

Wat leer ons in die Bybel oor spanning en verskille en hoe om dit te hanteer?

Spanning in die eerste gemeentes?!

Ons dink dikwels dat daar nie spanning en konflik in die vroeë Christelike gemeenskappe was nie. Ons dink dat hulle immers vol van die Gees was en dat hulle amper nog die voetstappe van Jesus kon hoor.

Hierdie beeld is egter nie heeltemal waar nie. Die vroeë kerk het baie spanning en konflik gehad en selfs baie verskil oor etiese kwessies. Ons navorsing wys dat Korinte ‘n hoogs gestratifiseerde plek was met groot verskille tussen armes en rykes. Korinte het ook baie ‘nuwe geld’ gehad en daar was geweldig baie kompetisie vir eer. Die meeste rykes in Korinte was handelaars wat met die hervestiging van Korinte hulself daar gevestig het. Korinte was ‘n belangrike hawestad en strategies geposisioneer by ‘n belangrike handelsroete. In hierdie konteks van pluraliteit was daar baie verskillende tipes mense uit verskillende kontekste met verskillende behoeftes. Ons sien dit die duidelikste as ons die antieke skrywer Strabo se werke lees en hy vir ons vertel hoe Korinte in sy tyd daarna uitgesien het.

In 1 Korintiërs 1:10 lees ons dat Paulus ‘n beroep op die gemeente doen om eensgesind te wees en dat hulle nie moet toelaat dat verdeeldheid hulle uitmekaar skeur nie. Prof. Margaret Mitchell het in ‘n bekende studie aangetoon dat die hele brief se bedoeling is om eensgesindheid te bewerk teen die agtergrond van konflik in die gemeente. Paulus gebruik die Griekse woord skisma wat in die antieke tyd gebruik was om skeurings mee te beskryf. Die gemeente het in verskillende ‘clicks’ verdeel. Sommige het meer van Paulus gehou en ander het weer meer van Apollos gehou. Daar was ook diegene wat hulself as die sogenaamde ‘sterk’ gelowiges gesien het teenoor die ander wat deur hulle as ‘swak’ gelowiges bestempel is. In groepe wat nog aan die beginstadium van ontwikkeling en groepsdinamika is, kom stereotipering en onderliggende groepsvorming dikwels voor. Dit het ook in die jong gemeente van Paulus gebeur. Sommige van die gelowiges was finansieel welaf en invloedryk. Dit was hierdie mense wat hulself gesien het as die ‘sterk’ gelowiges wat die geleentheid gehad het om uitgenooi te wees na tempelfeeste en wat aan die wêreldse etes deelgeneem het. Die ‘sterk’ gelowiges het besef dat die eet van vleis wat aan afgode geoffer is niks aan hulle saligheid kan doen nie omdat gode nie regtig bestaan nie. Die ‘swak’ gelowiges, wat of Jode was of mense wat voorheen aan die heidense praktyke deelgeneem het en vir wie die ‘krag’ daarvan nog ‘n skynbare realiteit kon gewees het, was weer van mening dat die eet van afgodsvleis mens geestelik negatief kan beïnvloed (1 Kor 8). Die twee groepe het so van mekaar begin verskil dat dit in ‘n skisma of skeuring ontaard het wat die fundamentele eenheid van die gemeente bedreig het.

Daar was ook ander probleme, naamlik dat sommige vrouens oënskynlik doelbewus die gebruiklike hoofbedekkings nie meer gedra het tydens die eredienste nie. Sommige mense in die gemeente het gedink dat dit verkeerd is en wou by Paulus raad vra oor die saak. Ons dink dikwels dat Paulus die enigste een is wat eties kon dink. Prof. Michael Wolter is egter van mening dat die vroue wat doelbewus die hoofbedekking laat vaar het eintlik die etiese implikasie van Paulus se prediking goed gesnap het en dit eties tot uitdrukking gebring het. Paulus het immers in 1 Korintiërs 12:13 en Galasiërs 3:28 en Kolossense 3:11 duidelik gesê dat daar geen verskil tussen man en vrou, slaaf en vry, Jood en Heiden is nie. Indien almal dan in Christus gelyk is, hoekom sou dit nodig wees dat vrouens dan nog die simbool van onderdanigheid en manlike meerderwaardigheid moet dra? Wolter is dus van mening dat die vroue heeltemal korrek in die konteks van hulle tyd eties die boodskap van Paulus hulle eie gemaak het. Die optrede van die vroue het ongelukkig tot konflik en verdeeldheid in die gemeente gelei (1 Kor 11). Paulus as leier los dan die konflik op deur ‘n baie interessante strategie aan te wend.

In sy oplossing van die konflik oor die eet van offervleis maak Paulus ‘n vindingryke strategiese plan. Hy herinner die gemeente deurgaans aan hulle fundamentele eenheid in Christus. Hulle is een in geloof en gelykwaardig in Christus. Maar, die gemeente is groep om die eenheid ten alle koste te beskerm. Indien die ‘swakkes’ in die geloof afvallig sal word omdat die ‘sterkes’ vleis eet wat aan afgode geoffer is, dan bedreig dit die fundamentele eenheid van die geloofsgemeenskap en die hart van die evangelie. Vir Paulus is die hart van die evangelie juis sigbaar in die manier waarop Christus gegee is ter wille van ons, en sodat ons ‘n lewe in oorvloed kan hê en redding kan ontvang. Jesus het homself leeggemaak en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem (Phil 2:5-10). Paulus sê dat dieselfde gesindheid van selfopofferende liefde in die geloofsgemeenskap moet wees. Die ‘sterk’ gelowiges moet daarom eerder hulle eie behoeftes neerlê en nie afgodsvleis eet nie ter wille van die eenheid van die geloofsgemeenskap en ter wille van die geestelike welstand van die ‘swakkes’ in die geloof.

Net so moet die vroue wat die implikasie van Paulus se bevrydende boodskap van eenheid tussen alle mense begryp waarskynlik heel goed begryp het, ook sensitief wees vir diegene wat nog nie daardie skuif in die kulturele gebruike kan maak nie. Hierdie vrouens kan deur hulle gedrag die eenheid van die kerk skade doen en die verkeerde indruk skep. Daarom beveel Paulus aan dat hulle eerder die hoofbedekkings dra in die publieke ruimte van die kerkbyeenkomste en so ‘n opbouende getuienis na buite gee.

Paulus self is ‘n voorbeeld daarin dat hy ter wille van die evangelie vir die Jode soos ‘n Jood geword het, vir die onder die wet soos een onder die wet en vir die wat nie onder die Joodse wettiese gebruike is nie, soos hulle te word (1 Kor 9:19-23). Hoekom? Omdat hy mense se unieke behoeftes in ag neem en aanvaar dat diversiteit en verskille ‘n wesenlike realiteit van die geloofsgemeenskap sal wees. Paulus skep ruimte en lê die klem daarop dat mense en groepe nie uitsluitlik op hulle eie behoeftes moet fokus nie. Mense moet ook nie hulle manier van doen afdruk op ander mense nie. By Paulus leer ons die volgende belangrike les: Paulus fokus op prinsipiële ekklesiologiese eenheid, deelname, etiese resiprositeit, diversiteit, vryheid, kosiderasie en sensitiwiteit vir ander, respek en selfopofferende liefde.

Mag ons in die kerk en in ons huise ruimte skep vir mekaar en mekaar se verskille. Mag ons egter ook onthou dat elkeeen van ons rekenskap sal moet gee oor ons dade en die verantwoordelikheid het om ons lewe volgens God se wil in te rig (1 Joh 1:9; Gal 6:9). Sommige van ons moet leer om meer ruimte te skep vir ander mense se manier van doen. Ander van ons moet leer om ter wille van ander ons vryheid op te gee en eerder te doen wat ander, soos ons ouers van ons verwag. Hier is daar net een sleutel en dit is selfopofferende liefdesdiens en “other-regard”, dit is ware geestelike wysheid volgens Paulus. Mag ons daarom so lief wees vir mekaar dat ons in mekaar se skoene sal klim en mekaar se harte sal raaksien en so mekaar weer in eenheid en vrede ontdek.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok