Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (3)

The most dangerous dissensions in the world have often sprung from rather trifling beginnings. — Huldrych Zwingli

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (3)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Vandag kyk ons na die derde en vierde waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

3.Beproewing in die huidige en vergoeding in die toekoms

In Matteus 5:1 – 12 beskryf Jesus diegene wat werklik gelukkig is. Hy beskryf die identiteit van ‘n dissipel gevolg deur die beloofde voordeel. Die hele gedeelte druis in teen ons intuïsie. Luister net: Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Hoe kan dit ‘n seëning wees? Die antwoord lê in die voortsetting van God se heerskappy: Want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (5:3); en weer dieselfde in 5:10. In hierdie seënuitsprake bevestig Jesus ‘n toekomstige stand van sake – huidige moeilike omstandighede word in ‘n ander, gunstiger lig geplaas. Aan hulle behoort die koninkryk (teenwoordige tyd) oor iets wat God in die toekoms gaan doen om hulle huidige swaarkry die moeite werd te maak. Daar is dus beide ‘n huidige en toekomstige dimensie aan die koninkryk wat Jesus verkondig.

Later beklemtoon Jesus hierdie punt in ‘n gesprek met mense wat Hom nie goedgesind was nie: Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (12:28). Jesus sê dat die koninkryk van God tot by hulle gekom het – nou reeds. Daar is egter ook ‘n toekomstige dimensie wat alle mense sal beïnvloed – goed of sleg.

 

  1. 4.Dissipels van die koninkryk moet ander beïnvloed en in die openbaar getuig

Nadat Hy sy dissipels verseker het van vertroosting in die toekoms (die seënuitsprake), bespreek Hy die doel van hulle huidige swaarkry.

  • Julle is die sout vir die aarde (5:13). Jesus het iets spesiaal na persoonlike verhoudings en sosiale situasies gebring. Sy dissipels moet dit ook doen as gevolg van hulle verhouding met Hom.
  • Julle is die lig vir die wêreld (5:14). Dissipels moet dien as bakens vir die lewe en boodskap van Jesus. Jesus volg dit op met ‘n opdrag: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader  wat in die hemel is verheerlik (5:16).

Sout en lig vir die wêreld word noodsaaklikhede en doelwitte vir Jesus se volgelinge.

Volgende keer kyk ons verder na sekere waarnemings in die Matteus-evangelie




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (2)

Jesus is far too important a figure to be left only to the theologians and the church.” ~Jaroslav Pelikan

 Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (2)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Ons kyk nou ons tweede waarneming oor die koninkryk in die Matteus-evangelie.

 

  1. 2.Koninkryk is van die begin af die sentrale motief in die prediking van Johannes die Doper en Jesus.

Die eerste aangetekende woord van Johannes die Doper se prediking is: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (3:2). Jode het nooit die Naam van God gebruik nie, maar ander woorde soos hemel –  hulle wou nie die Naam van God goedkoop gemaak het nie. Die koninkryk van God en die koninkryk van die hemel is dieselfde. Johannes, soos Jesaja voorspel het, is die voorganger van die Here: Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

 Koninkryk is ook waar Jesus se prediking begin: Van toe af het Jesus begin preek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (4:17). Die  belang van die koninkryk in Jesus se bediening gaan voort: Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak (4:23). Hier lees ons van die evangelie van die koninkryk. Wat is die verband tussen evangelie en koninkryk?

  • Evangelie beteken goeie nuus. Jesus gebruik dit konsekwent deur sy bediening. Maande na die begin van sy openbare bediening sê Hy weer: Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak (9:35). Toe Jesus se aardse bediening sy einde nader kyk Hy na die toekoms en sê: En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom (24:14). Jesus verbind hierdie goeie nuus nie net met die nasies en die hele wêreld nie, maar ook met individue. Nadat die vrou in Betanië sy voete gesalf het, sê Hy: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar (26:13).
  • Dit verkondig koninkrykstydings. Dit verkondig dat die heerskappy van die God van Abraham, Isak en Jakob nou op ‘n nuwe manier vir ‘n nuwe doel teenwoordig is. Diegene wat siek en hartseer is, word herstel.
  • Dit word onlosmaaklik aan Jesus as koning verbind. Wat die koninkrykstaal nog belangriker maak, is dit wat dit aandui – Jesus is die koning.

Volgende keer gaan ons na ‘n derde waarneming in die Matteus-evangelie kyk: beproewing in die huidige en vergoeding in die toekoms




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (1)

. —C.H. Spurgeon

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Matteus (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 In Matteus word van die Ou Testamentiese beloftes oor die koninkryk vervul. Kom ons kyk na enkele waarnemings:

 

1.Koninklike verwysings dien as raamwerk vir die hele evangelie

 

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham – so begin die evangelie. Hier is twee koninklike weerklanke:

  • Die seun van Dawid. Die huis en troon van Dawid vorm die raamwerk vir die vervulling van die profetiese beloftes.
  • Jesus Christus.  Christus beteken Messias of koning.  Die woord christos (Christus) hou verband met die seremonie om ‘n koning te salf vir sy amp. Dit verwys ook na God se goedkeuring. Na die geslagsregister lees ons: Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus (1:18) – weer ‘n verwysing na Jesus as koning.

 Goddelike ingryping en teenwoordigheid is onmiddellik duidelik. Maria word swanger … wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees (1:20). Jesus word dus reeds in die eerste hoofstuk van Matteus as draer van God se koninkryk geïdentifiseer. Gepas dat Jesus se laaste woorde aan sy dissipels in hierdie evangelie is: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde (28:18). Natuurlik is dit so: Jesus is die koning gestuur deur God om sy heerskappy oor en in hierdie wêreld uit te brei. Jesus is ‘n koninklike figuur in Matteus – van begin tot die einde.

 ‘n Tweede waarneming is hierdie evangelie is dat koninkryk die sentrale motief in die prediking van Johannes die Doper en Jesus is. Daarna kyk ons volgende keer.




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament

“Christianity teaches that, contra fatalism, suffering is overwhelming; contra Buddhism, suffering is real; contra karma, suffering is often unfair; but contra secularism, suffering is meaningful. There is a purpose to it, and if faced rightly, it can drive us like a nail deep into the love of God and into more stability and spiritual power than you can imagine.”  – Tim Keller

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 Ons sien duidelik die spanning tussen die alreeds/nog nie struktuur. Die twee tydperke en koninkryke oorvleuel – een is besig om te vervaag en die ander groei geleidelik: Die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds (1 Johannes 2:8); Die nag is byna verby; dit is amper dag (Romeine 13:12).

 

 Die fondament vir God se koninkryk word in die Ou Testament gelê. Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy (koninkryk) strek oor alles en almal (Psalm 103:19). God se koninkryk was en is soewerein oor alle koninkryke. Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U? nie ’ (Daniël 4:35). Hy is nie ‘n plaaslik god wat oor ‘n stukkie land regeer nie – sy koninkryk geld vir elke persoon op aarde en elke vierkante sentimeter van die land. God maak sy koninklike status, karakter en heerskappy deur mense wat Hy uitgekies het, bekend. Hulle het dit neergeskryf – nie alleen vir hulle gebruik nie, maar vir die gebruik van toekomstige geslagte – ook vir ons.

 Veral in die Matteus-evangelie is daar baie verwysings na die koninkryk van God. Om ‘n algemene gevoel te kry van die koninkryk van God gaan ons net na hierdie evangelie kyk. Ons gaan na verskeie aspekte van die koninkryk kyk:

  • Koninkrykverwysings dien as raamwerk vir die hele evangelie.
  • Die koninkryk is die sentrale motief in die prediking van Johannes die Doper en Jesus Christus.
  • die koninkryk behels onder andere beproewing in die huidige en vergoeding in die toekoms.
  • Dissipels van die koninkryk moet ander beïnvloed en in die openbaar getuig.
  • Die koninkryk staan sentraal in Jesus se bergrede.
  • Koninkryksetiek mag konvensionele wysheid weerspreek.
  • Jesus se gelykenisse oor die koninkryk.