Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (1)

. —R.C. Sproul

Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Ons het reeds kortliks gekyk na wat die koninkryk van God is. Nou gaan ons na enkele historiese perspektiewe kyk.

En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom (Matteus 24:14).

For what other end do we propose to ourselves than to attain the kingdom of which there is no end (Augustinus. The City of God)

Die koninkryk van God is woorde wat mense vir eeue al vasgevang het. Baie glo dit is Jesus se sentrale boodskap. Die probleem is dat binne die Christelike tradisie daar verskille is oor die betekenis. Terselfdertyd is daar ‘n besef dat die verstaan van wat die koninkryk van God beteken, implikasies vir die res van ons teologie inhou.

 

 

Vir eeue oorheers die werk van Augustinus ons denke van die koninkryk. Dit het steeds ‘n groot invloed. Augustinus verkies die woord stad – Daar word groot dinge van jou gesê, stad van God (Psalm 87:3). Hiermee bedoel hy nie ‘n geografiese plek nie. Sy siening van die koninkryk is toekomstig – dit kom na die lewe verby is. Die stad van die mens gaan verby en net die stad van God bly bestaan.

 

Martin Luther praat van die twee koninkryke – die koninkryk van God en dié van die wêreld. Alle mense is burgers van een van die koninkryke. Burgers van die koninkryk van God is die ware gelowiges. Christus het juis na die wêreld gekom dat Hy God se koninkryk kon begin en vestig in die wêreld. Soos Augustinus glo Luther dat die uiteindelike verwesentliking van die koninkryk van God  nie van hierdie wêreld sal wees nie.

 

In die tydperk 1880 – 1920 het die koninkryk van God baie aandag geniet.  Uit hierdie tydperk  is daar vier dinge wat ons kan aflei:

  • Die groot klem wat op die eindtyd geplaas word. Profesie en die koninkryk van God was onderwerpe wat die aandag van die mense vasgevang het.
  • Eskatologie (= die leer van die laaste dinge/eindtyd) raak ander gebiede van die teologie. My siening van eskatologie het implikasies vir hoe ek die persoon van Jesus Christus, die evangelie en die aard en roeping van die kerk sien. My siening van die koninkryk van God is nie ‘n geïsoleerde stukkie teologie nie.
  • Daar is breë verskille tussen die verskillende  Christelike tradisies.
  • Eskatologie is breed en raak aan alle aspekte van my interpretasie van die Bybel en my siening van die eindtyd.

 

George Eldon Ladd  kom met die alreeds/nog nie konstruk na vore – die koninkryk is beide huidig (alreeds) en toekomstig (nog nie). Ons moenie kies tussen kommer vir die samelewing en kommer vir die koninkryk nie. In ons kommer oor die samelewing is ons bekommerd oor sy einde en bestemming – die koninkryk van God. Dissipelskap is om te leer in die “alreeds” in die lig van en beheer deur die “nog nie.”

 Mense verskil egter steeds oor wat alreeds en wat nog nie is nie. Mense soos Brian McLaren verloor die “nog nie” in hulle ywer om die alreeds raak te sien. In die volgende blog gaan ons na enkele aspekte van God se koninkryk in vandag se lewe kyk




Die koninkryk van God: Wat is dit? (2)

. —Sinclair Ferguson

Die koninkryk van God: Wat is dit? (2)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

In die vorige blog het ons gesien dat Jesus tydens sy bediening op aarde baie aandag aan die koninkryk van God gegee het. Ons het ook gesien dat daar verskillende sienings is van wat die koninkryk van God beteken.  ‘n Goeie begrip van die koninkryk is onontbeerlik vir die korrekte verstaan van Christus en die verlossing wat Hy bewerk het. Dit is nie so maklik nie, want Jesus se stellings oor die koninkryk is oënskynlik teenstrydig.

 

 

  • Is die koninkryk huidig of toekomstig?

Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Matteus 12:28) –  huidig.

Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink (Matteus 26:29) – toekomstig.

 

  • Gaan die koninkryk oor verlossing of oordeel?

Dan sal die koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit (Matteus 25:34) – verlossing.

Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeie en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matteus 13:47 – 50) – oordeel

 

  • Beteken die koninkryk dat God heers of is dit ‘n plek waar Hy heers?

Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie (Lukas 1:31 – 33) God heers

Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. Net soos my Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ‘n koninkryk aan julle, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer (Lukas 22:28 – 30) – ‘n plek.

 

Hierdie is vals keuses. Jesus sien dat daar baie fasette aan die koninkryk is: dit is huidig en toekomstig; dit sluit beide verlossing en oordeel in; die sluit beide heerskappy en ‘n plek in.

 

Volgende keer kyk ons na enkele historiese perspektiewe van die koninkryk.




Die koninkryk van God: Wat is dit? (1)

Manners are a sensitive awareness of the feelings of others. If you have that awareness, you have good manners, no matter what fork you use. –Emily Post (1872-1960)

Die koninkryk van God: Wat is dit? (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God van Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Is dit belangrik dat ek weet wat die koninkryk van God is? Ja, want dwarsdeur sy bediening beklemtoon Jesus die koninkryk. Matteus som dit so op: Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak (4:23).

Sowat halfpad deur sy bediening  moet Jesus Homself verdedig teen die aanklag dat Hy bose geeste met die hulp van Beëlsebul uitdryf: Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk inderdaad tot by julle gekom (Lukas 11:20). Aan die einde van sy bediening staan Hy voor Pilatus. Toe Pilatus wou weet wat Jesus dan verkeerd gedoen het, antwoord Jesus hom: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie … As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie (Johannes 18:36). Aan die begin, middel en einde van sy bediening praat Jesus oor die koninkryk van God.

 

Een van die probleme is dat daar verskillende sienings van die koninkryk van God is. As Jesus van die koninkryk praat, beklemtoon Hy God se optrede. Daarom het die koninkryk ‘n oorkoepelende woord geword vir mense om op verskillende maniere hierdie optrede van God te verstaan.  Hierdie verskillende  sienings van die koninkryk van God het elkeen elemente van die waarheid, maar  dra nie noodwendig die volle boodskap van die koninkryk van God oor nie. Die gevoel is dat die koninkryk dikwels op ‘n baie vae manier gebruik word.

 

Een van die groot probleme in ons verstaan van die koninkryk van God is dat Jesus oënskynlik teenstrydige stellings oor die koninkryk maak. Daarna kyk ons in die volgende blog.

 




Die Koninkryk van God (2)

Unlike His first coming, Jesus’ second coming will be with power and splendour. The Bible states that everyone wil see Him, and everyone will appear before Him in judgement. Simply put, He will confront every personand pronounce his or her destiny –  C. S. Lewis

Die Koninkryk van God (2)

In die vorige blog het ons gekyk na wat die koninkryk van God is. Maar hoe kom ons in daardie koninkryk? Die antwoord is tweërlei, maar dit is twee kante van dieselfde muntstuk.

  • Etiek

Hier kry ons ‘n paar uitsprake wat vir ons verwar:

 

  • Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus 7:21).
  • Die grootste in die koninkryk is die kindertjies.

Soos die dissipels kan ons met reg vra maar wie kan dan gered word? In Markus 1:15 is daar twee woorde waaraan ons aandag moet gee:

  • Bekeer julle. Dit beteken ‘draai weg van die sonde en na God toe.’ ‘n Baie goeie beskrywing kry ons in die gelykenis van die verlore seun: Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen  God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners (Lukas 15:18 – 19). Hier sien ons bekering in aksie: die seun sien sy eie mislukkings; hy besef hy het misluk; hy bely sy sonde; hy vra vir en vertrou op sy pa se genade; hy los sy vorige lewe en keer terug huis toe.
  • Glo. As ek iemand glo, beteken dit dat ek hom vertrou. On in Jesus Christus te glo, beteken dat ek van Hom moet leer, maar ook dat ek op Hom vertrou en dat Hy in my woon – en dat ek daarop reageer

My leefwyse word nou deur die soeke na geregtigheid, vergifnis en my deernis teenoor armes gedemonstreer.

  • Liefde

Die koninkryk van God beteken dat daar ‘n persoonlike verhouding tussen God en myself is. Liefde is die belangrikste gebod van almal – liefde vir God en liefde vir my medemens: Ek gee vir julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).