Die koninkryk van God (1)

He lay in the crib so that you might stand at the altar – die Heilige Ambrosius

Die koninkryk van God (1)

Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Wat beteken hierdie koninkryk waarna Jesus hier verwys. Kom ons kyk eers na twee aspekte van terminologie:

  • Koninkryk van God teenoor die koninkryk van die hemel wat ons veral in Matteus kry. Vroom Jode het die gebruik van God se Naam vermy en praat eerder van die hemel. Daar is dus geen verskil tussen die twee nie.
  • Koninkryk verwys altyd na ‘n gemeenskap in een of ander vorm. God se koninkryk is dus die gemeenskap waarin sy mense in vrede lewe. Ons moet nooit hierdie sosiale dimensie miskyk nie. Johannes die Doper stuur van sy dissipels na Jesus met die vraag: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? (Lukas 7). Jesus antwoord hulle met: Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. Die koninkryk is die plek waar God se genesing elke mens in sy regte plek sal herstel.

Die inwoners van die koninkryk van God is diegene wat Hom volg en hulle hoop op Hom vestig en deur Hom genees word. Hulle word herstelde beelde wat die heerlikheid van God weerspieël deur Hom en ander mense lief te hê. In sy koninkryk heers daar vrede en almal is welkom aan sy tafel.

Maar wanneer kom hierdie koninkryk? Jesus Christus leer vir ons dat sy koninkryk reeds hier is, maar dat dit nog nie volmaak is nie. Volledige vervulling gaan eers gebeur as Hy weer kom.

Opsomming: Die koninkryk van God is ‘n gemeenskap waarin God se wil gedoen word; waarin mense genees word om die mense wat hulle behoort te wees, te wees; waarin mense ‘n gemeenskap van vrede vorm.

Hoe gaan ons in hierdie koninkryk in? Daarna kyk ons volgende keer.




Die koninkryk van God

Religion that honors God is religion with feet – Mike Slaughter

Die koninkryk van God

In Matteus 25 kry ons ‘n aantal koninkryksprofesieë wat ons sal help om te verstaan hoe ons lewe behoort te wees in hierdie tussenin periode – die periode tussen Jesus se eerste en tweede koms. Die eerste gelykenis van die tien meisies beskryf ons houding in hierdie periode – wees getrou en wakker terwyl ons vir die bruidegom wag.

Gelowiges moet wakker wees, want ons weet nie op watter dag en uur dit sal gebeur nie. Die volgende gelykenis – die gelykenis van die muntstukke – voeg ‘n tweede element by: aktiewe wag. Dit gaan nie net oor wag nie. Volgens Lukas 19:13 gee die eienaar aan hulle ‘n bevel: Dryf handel daarmee totdat ek terugkom. Die eienaar kom eers na ‘n lang tyd terug.

Vandag is daar nog steeds gelowiges wat hulle muntstukke ronddra en so af en toe kyk of hulle nie dalk ‘n silhoeët van Jesus Christus sien nie. Maar Jesus sê: Dryf handel daarmee. Ons wag nie net vir die koninkryk nie – ons word geroep om aktiewe, verantwoordelike rolle in hierdie koninkryk te vervul.

As ons dan bruikbare agente in sy koninkryk wil wees wat moet ons doen?

  • Wees syne. Die gelykenis gaan oor geld, maar dit het ‘n baie wyer toepassing. God het tog baie meer dinge aan ons gegee om verandering in die wêreld teweeg te bring. Hy gee aan ons vaardighede en vermoëns; Hy gee aan ons tyd en energie om by koninkryksaktiwiteite betrokke te wees … ons kan eintlik onbeperk voortgaan. Maar hierdie muntstukke wat hierdie man vir sy slawe gee, was sy eiendom – sy besittings. Alles wat ons besit behoort aan God. Wat ons het, is aan ons toevertrou. Dit is nie ‘n opoffering nie, want daar is dinge wat dien as beloning vir jou harde werk in God se koninkryk. Dink aan die gevoel – ‘n gevoel wat alles oortref – as jy God hoor sê: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!
  • Wees anders. Die eienaar kon die muntstukke uitdeel soos hy wou – dit was syne. Hy gee nie aan elkeen dieselfde nie … net soos God nog steeds doen. Ons dink dit is onregverdig, maar ons is tog nie almal dieselfde nie. Dit was God se besluit dat ons van mekaar sal verskil. Ons is nie altyd daarmee tevrede nie. Maar as koninkryksagente moet ons God dank vir wat Hy vir ons gegee het, want Hy het ‘n doel daarmee. Gebruik wat jy ontvang het. God sal jou nooit in die stryd stuur sonder om jou daarvoor toe te rus nie.
  • Wees getrou. As jy dink die Christelike lewe se vereistes is maar min en maklik, moet jy weer dink. Die eienaar in hierdie gelykenis het teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Hy wil weet wat hulle met die muntstukke gedoen het. Elke gelowige moet God verheerlik deur sy koninkryksagenda uit te voer. Ons sê so graag nog net dit of dat, dan sal ons wegspring. Dit is nie revolusionêr nie – dit is gemaklik. Luister hoe reageer die eienaar as die slaaf sê dat hy die muntstuk begrawe het: Jy is ‘n slegte en lui slaaf!

Ons is koninkryksagente; ons behoort aan Hom; almal van ons het spesifieke gawes ontvang; wees getrou aan Hom.