Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (3)

—C.H. Spurgeon

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (3)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Menswaardigheid

In die koninkryk van God word dit van my vereis om, as ek my naaste liefhet, hom te sien as gemaak na die beeld van God.. Maar wat beteken dit om na die beeld van God gemaak te wees?

 

  • Mense is vry om besluite te neem in samewerking met en in harmonie met God.
  • Geestelik is ons gemaak vir ‘n lewenslange proses van verandering om God beter te leer ken en lief te hê – en ons naaste.
  • Elke mens is toegerus met ‘n koninklike waardigheid. Die mens beoefen sy status deur oor die skepping te heers en dit te ontwikkel.
  • Dit sluit in praktiese rede en praktiese kreatiwiteit. Dit stel mense in staat om te ontwikkel en sy gawes te gebruik.

 

Om enige mense te behandel asof hy nie hierdie eienskappe het nie, is onregverdig en ondermyn menswaardigheid. Liefde in die koninkryk van God weier om enige mens as minder as die beeld van God te sien. Menswaardigheid is die basis vir ware gemeenskap.

 

Eensgesindheid en Gemeenskap

As die koninkryk van God liefde vir God en die naaste vereis en as elke mens na die beeld van God gemaak is, dan moet mense, per definisie, in eensgesindheid saamleef. Ons is aan mekaar verbind en van mekaar afhanklik. In die koninkryk is daar nie “ons” en “hulle” nie – die verskille tussen mense wat maak dat ek sekere mense sien as anders as ek, val weg. Daarom moet ons vir mekaar sorg. Ongelukkig het die ongelykhede as gevolg van korrupsie, uitbuiting en onderdrukking ‘n negatiewe uitwerking.

 

Hierdie eensgesindheid veroorsaak dat globale probleme (soos die handel in mense) almal se probleem is. Eensgesindheid vereis toewyding vir die goed van almal. As ek mense reg liefhet vir die onthalwe van die koninkryk is ek bereid om ander te dien in plaas daarvan dat ek ander tot my voordeel gebruik. Ek is dankbaar vir die bydrae van almal.

 

Om God en ander lief te hê en die waardigheid van alle mense te erken, beteken dat ek eensgesind met die armes en onderdruktes moet wees. Ek kan nie die behoeftes van die armes ignoreer nie. Ek moet myself gedurig afvra hoe ek diegene wat werklik benadeel is, moet liefhê en help.

 

 




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

 —Anthony Thiselton

 Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (1)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012. Is die koninkryk nog vir ons van belang vandag?

Mense begin meer en meer dink oor die verband tussen ortodoksie (wat Christene glo) en ortopraksie (hoe Christene lewe). Ongelukkig is daar dikwels spanning tussen die twee. Sekere geloofsgemeenskappe beklemtoon die een meer as die ander – en sê dan die ander groep is nie ware Christene nie.

 

Die Bybel is baie duidelik – ons moet mense van geloof en die praktyk wees. Paulus bemoedig vir Timoteus: Let goed op jou lewe en jou leer (1 Timoteus 4:16). Jakobus sê: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie (Jakobus 2:14). Hier is gelyktydige oproepe  om te glo en te doen. Ongelukkig is dit nie moontlik om altyd te weet wat die beste is nie.

Kom ons kyk na ‘n paar beginsels wat ons in die regte rigting kan lei in ‘n wêreld gekompliseer deur die teenwoordigheid van sonde, afgode, pyn, onderdrukking, globalisering en ‘n hele aantal ander sake. Die basiese vraag wat ons moet antwoord is: Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

Liefde

Die primêre kenmerk van die koninkryk van God is liefde. Die heerskappy van die Drie-eenheid vereis ‘n lewe van liefde. Die persoon en werk van Jesus Christus maak ware liefde moontlik. Hy gee ook vir ons die model oor hoe liefde in die praktyk lyk. Om sy volgelinge te help om dit verstaan, som Hy dit op – die grootste gebod is liefde vir God en jou naaste. Burgers van God se koninkryk is mense wat liefde beoefen. Maar om God lief te hê, is makliker gesê as gedoen. Liefde vir God beteken dat ek onwrikbaar toegewy is om die dinge wat God liefhet ook lief te hê.

 

As ek my naaste reg liefhet, beteken dit dat ek dit soek wat vir hom voordelig is. Om my naaste soos myself lief te hê, beteken dat ek my beste belange najaag. My beste belange moet egter ooreenstem met God se beste belange vir die wêreld. My beste belange mag nooit die waardigheid van ander ondermyn nie.

Die liefde waarvan ons praat, is ‘n gehoorsame liefde wat aan God se gesag  onderdanig is; ‘n liefde wat deur sy onderrig gerig word; ‘n liefde wat vasbeslote is om sy wil te gehoorsaam. Jesus stel dit baie duidelik: As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer (Johannes 14:15). Dit is ‘n liefde gekenmerk deur dankbaarheid omdat God ons eerste liefgehad het.

As Jesus praat van die verband tussen liefde en gehoorsaamheid herinner Hy sy dissipels dat die Heilige Gees hulle sal bystaan, vertroos en raadgee: Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak gee om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid (Johannes 14:16 – 17). Hoe ek in die koninkryk van God lewe is totaal afhanklik van die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is die waarborg dat die doelwitte van die koninkryk bereik sal word.

Liefde is die fondament, oriëntering en toepassing van geloof in die praktyk. Liefde is die eerste beginsel in die koninkryk van God en dit bepaal al die ander beginsels. Ongelukkig vertel liefde alleen nie altyd vir ons wat die beste praktyk onder alle omstandighede is nie. Daarvoor het ons die ander beginsels nodig.

 




Ons leef in twee koninkryke

Wisdom is the reward you get for a lifetime of listening when you’d rather have been talking – Aristoteles

Ons leef in twee koninkryke

Hoe kan Christene tegelykertyd in ‘n wêreldse en Goddelike koninkryk leef? Wat beteken dit as ek sê dat ek ‘n burger van God se koninkryk is? Wat gebeur as hierdie twee koninkryke bots? In Romeine 13 lê Paulus ‘n stel beginsels neer: Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom aangestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. ‘n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerhede lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie.

 As twee aardse koninkryke bots lei dit dikwels tot oorlog. Maar in die Bybel leer ons baie van die koninkryk van God en die verhouding van hierdie koninkryk met aardse koninkryke. Soms bots hulle. Die sentrale punt in Jesus se prediking was dat die koninkryk van God gekom het: Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur (Lukas 4:43).

 

 Die Ou Testament, veral die boeke van die profete, leer vir ons duidelik dat iewers in die toekoms ‘n dag sal kom wanneer die koninkryk van God ‘n nuwe tydperk sal inlei. In die Ou Testament word die geskiedenis van die heelal in twee tydperke verdeel: die huidige en die tydperk wat nog sal kom.

 In Jesus se tyd het mense steeds vooruit gekyk  na hierdie tydperk wat nog moet kom. Ons kyk ook vooruit na die tyd wanneer God alles weer nuut gaan maak. Maar Jesus het ‘n dramatiese aanpassing aan hierdie siening gemaak: Hy leer dat die koninkryk van God reeds gekom het. Die werklikheid is dat Christene reeds in die koninkryk van God leef.  Dit dit beteken dat ons lewens radikaal verander het.




Die Ons Vader-gebed: Laat u koninkryk kom

J. Oswald Sanders

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

Die koninkryk van God kry ons reeds in die Ou Testament. Dit word reeds vir die ryk van Dawid gebruik. Dit verwys eerstens na God se koninklike heerskappy oor Israel, maar toenemend na God se heerskappy oor alle nasies.

Op ‘n stadium is geglo dat God se koninklike heerskappy duidelik sal word uit die heerskappy van die konings van Israel (2 Samuel 7:12 – 16). Later is geglo dat God oor die wêreld uit die tempel sal heers (Esegiël 40 – 43). Ander het geglo dat God se koninkryk ‘n toekomstige entiteit is. Dan sal die huidige bedeling totaal omgekeer word – Israel is bo en al sy vyande onder hom. Die koninkryk van God beteken dus die herstelde koninkryk van Israel – die onderdrukte word die onderdrukker.

Jesus verwerp alle pogings om ‘n politieke koninkryk te vestig. Tog begin Hy sy aardse bediening met: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom (Markus 1:15). Matteus 13, die strukturele middelpunt van die boek, bevat nie minder as ses gelykenisse oor die koninkryk van God nie. Dit onderstreep die belang van God se koninkryk in Jesus se bediening. Die klem val op die nabyheid van die koninkryk – in werklikheid is dit reeds hier. Die koninkryk het aangekom met Jesus se persoon en bediening.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: as ons geregtigheid ignoreer gaan die koninkryk by ons verby: Nie elkeen wat vir My sê: Here! Here! sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader (Matteus 7:21).

Die versoek: Laat u koninkryk kom, is ook ‘n gebed vir die finale en volledige manifestasie van God se koninkryk. Die uiteindelike koninkryk van God moet nog kom. Maar as ons bid, wy ons ons toe aan die verwagting van die koninkryk. Ons het die versekering dat die koms van die koninkryk nie gedwarsboom kan word nie. God kan alle hindernisse oorwin. As ons dus bid: Laat u koninkryk kom, word ons opgeroep om te werk vir die koms van hierdie koninkryk.