Kan iemand sonder ‘’n kroontjie in die hemel ingaan? – Francois Malan

Leser vra:

Goeie more, iemand het my nou gevra waar dit in die bybel staan dat iemand sonder n kroontjie nie in die hemel kan ingaan nie.

Antwoord:

Prof Fancois Malan antwoord:

Nee, dit staan nêrens in die Bybel nie. Die Bybel ken net een voorwaarde om in die hemel in te gaan: dit is om te glo in Jesus Christus as die Seun van God wat vir jou sonde gesterf het om van jou ’n kind van God te maak. Hy het die straf op al ons sonde gedra en ons verhouding met God reggemaak.

In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper vir die mense toe Jesus na Hom toe kom ‘Kyk! Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’

Johannes 1:12 sê: ‘Aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.’

In Galasiërs 3:26-29 sê Paulus: ‘Julle is immers almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ’n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte (van God) erfgename (van die ewige lewe).

Johannes 3:16 sê: ‘Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Kroontjies op die kop

Kroontjies op die kop – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Staan daar in die Bybel, dat as jy nie ‘n kroontjie in jou hare het nie, dan is jy nie ‘n mens nie maar wel ‘n dier? Diere het mos ook ‘n kroontjie op hulle hare

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Is mense wat nie kroontjies op hulle koppe het nie eintlik diere?

Ek het ook al hierdie bog-mite gehoor. Hiervolgens is mense wat nie ‘n kroontjie het nie eintlik diere – iets wat myns insiens op geen wyse met die Bybelse boodskap verbind kan word nie. Diegene wat Bybelse tekste aanhaal om hierdie punt te illustreer openbaar eerder hulle swak eksegese en swak Bybelse uitleg. Dit is gewoon onsin! Myns insiens moet ons eerder fokus op tekste in die Bybel wat dit duidelik stel dat God as Skepper die mens na Sy beeld geskep het (vgl. Gen 1:26) en dat ons geroep is Hom te verteenwoordig. Die uitdaging in die tyd waarin ons leef is om die gemeenskaplike tussen mense te soek en nie die verskille nie. In Johannes 4 restoureer Jesus ‘n Samaritaanse vrou. Samaritane was in die antieke tyd meer as onrein – hulle was so sleg soos honde in die oë van die Jode. ‘n Jood mag nie eens aan ‘n Samaritaan geraak het nie, want dan sou die Jood onrein word en sondig. Jesus kom keer hierdie verwronge, degraderende mensbeeld van die Jode heeltemal om as hy die Samaritaanse vrou se hart aanraak en die Jode wys dat hulle ook liefde aan alle mense moet wys soos wat God aan hulle liefde bewys het. Jesus praat met onrein tollenaars, spandeer tyd saam met die gemarginaliseerdes en reik uit na die wat ander graag verstoot (Lukas 15). Diegene wat nie soos Jesus leef nie en sosiale grense tussen mense versterk en sommige mense tot diere reduseer beweeg reglynig in teen die boodskap van Jesus en die hart van God (Lukas 17).

 

Skrywer: Dr Kobus Kok