Die kruis of Nike se embleem?

When elephants fight, the grass gets trampled – ‘n Spreekwoord uit Afrika.

Die kruis of Nike se embleem?

Paul Louis Metzger sê dat hy die gevoel kry dat ons in die kerk die kruis met Nike se embleem vervang het. As ons aan die Nike simbool dink, dink ons aan “Just do it.” Het ons nie iets hiervan in die kerk ingedra nie? As iemand ‘n probleem het, maak dit reg. Het Jesus gekom om ons reg te maak of om ons te genees. Ons gaan nie iemand met ‘n kitsoplossing – just do it – genees nie.

Nike simboliseer oorwinning. So kan ons trots voel as ons iemand in nood “regmaak.” Maar as ons dit nie regkry nie? Maak ons ons los van hulle en beweeg verder? Die onvermoë om hulle probleme op te los, simboliseer immers mislukking. Soms luister ons na vriende se probleme. Dit klink oorweldigend. Ons groot vrees is dat ons by hulle probleme betrek sal word. Hierdie mense voel dikwels dat die geloofsgemeenskap hulle verwerp het. Nike se “Just do it” skreeu harder as die ware kerk se “Just be it.” “Just be it,” sluit in dat ek van my eie voorkeure afstand doen .

 

Die kerk is nie Nike se hoofkantoor nie.  Die kerk is nie net daar om mense se probleme op te los nie – soms kan ons dit nie doen nie. Die kerk is daar om langs mense te staan in hulle probleme en as dit moontlik is dit reg te maak. Wat word van my as gelowige verwag? Wees die oplossing in plaas van iets anders as oplossing aan te bied. Luister na mense; spandeer tyd aan hulle; bly verbind al maak dit seer en frustreer dit ons. As ek iemand “regmaak” beteken dit nie noodwendig dat ek tyd met hom spandeer nie – ons behou ons professionele afstand en vermy die slaggate in hulle lewens.

Wat ons nodig het, is nie om mense se probleme reg te maak nie, maar om as kerk hulle pyn met hulle te deel.  “A minister is not a doctor whose primary task is to take away pain.  Rather, he deepens the pain to a level where it can be shared” (See Henri J. M. Nouwen, Watter simbool kies ons?




Die kruis staan sentraal in die Christelike geloof

Our heavenly Father never takes anything from his children unless he means to give them something better. —George Muller

 

Die kruis staan sentraal in die Christelike geloof

Die kruis staan sentraal in ons geloof – geen wonder dat dit die simbool van ons geloof is nie. Hoekom staan die kruis sentraal?

  • God het Hom die duidelikste aan ons geopenbaar aan die kruis

Dikwels benader ons die Skrif as God se ensiklopedie. Ek wil weet wat die Bybel oor trots of die huwelik of oor lyding sê. Ek kry ‘n aantal versies en weet wat die Bybel oor daardie onderwerp sê. Dit is ‘n gevaarlike benadering. Ons glo dat die hele Bybel God se openbaring aan ons is, maar die doel en hoogtepunt van die Bybel is die Skepper se verlossing van die skepping. Die kruis staan as die sentrale boodskap van die Bybel. Ons sien God die duidelikste deur die lens van die kruis. Die kruis openbaar sy oppermag, mag, heiligheid, genade, heerlikheid en oorwinning Ons kan nie God bestudeer sonder om ‘n studie van die kruis te maak nie – dit is waar God Hom bekend gemaak het.

 

 

  • Die kruis verpersoonlik God se liefde

In die Bybel word God se liefde dikwels beskryf met direkte verwysing na die kruis. Hier is ‘n paar voorbeelde:

(i)God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het (Johannes 3:16).

(ii)Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

(iii)Die lewe wat ek nou hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20).

(iv)Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het (Efesiërs 5:2)

(v)Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê (1 Johannes 3:16).

God se liefde het nie opgehou nie, maar word voortdurend deur die kruis bewys.

 

  • Die kruis is die manier hoe God sondaars verlos

In die Nuwe Testament gebruik die skrywers ‘n hele aantal beelde van verlossing. Dink maar aan versoening, aanneming, vrykoop, bevryding, ens. Almal van hulle verwys na die sentrale tema van die Bybel: God het gekom om sondaars te verlos. Daar is geen verlossing buite om die kruis nie.

  •  Die kruis is die standaard van wat dit beteken om ‘n Christen te wees

In Matteus 16 kondig Jesus sy dood aan. In vers 24 sê Hy: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.  Vir Jesus word die geloof opgesom in die kruis. ‘n Christen is ‘n volgeling van Christus wat die koste bereken het, sy kruis opgetel het en met sy Verlosser gesterf het.

 Luister hoe word Christene beskryf:

(i)Hulle het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig (Galasiërs 5:24).

(ii)Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood (1 Petrus 2:24)

(iii)Gee julleself aan God as lewende en heilige offers (Romeine 12:1).

Die enigste lewende Christen is een wat gekruisig is.

 Die kruis staan sentraal in God se verlossingswerk. Sondaars moet die kruis as hulle enigste hoop aanvaar.




Die betekenis van die kruis (2)

. —C.H. Spurgeon

Die betekenis van die kruis (2)

Ons gaan nou verder na die betekenis van die kruis kyk.

  • Die kruis bring genesing vir ‘n stukkende en gebroke mensdom.

Hierdie tema is reeds deur die profete hanteer. God word vergelyk met ‘n son van redding met genesing in sy strale (Maleagi 4:2). Jesus se genesende bediening kan as ‘n voortsetting en uitbreiding van hierdie tema gesien word.

Hierdie tema word beklemtoon deur ‘n fokus op die kruis. Die Nuwe Testament sien dit as ‘n vervulling van die “lydende dienaar” tema in Jesaja. Tog het hy ons lyding op hom geneem, ons siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jesaja 54:4 – 5). Augustinus het gesê dat die wêreld soos ‘n hospitaal is – vol gewonde en siek mense wat besig was om te herstel onder die versorging van die goeie geneesheer.

Baie mense dink dat die samelewing – en hulleself – gebroke en gewond is. Hulle voel dat dinge nie reg is nie en dat dit herstel moet word na wat dit behoort te wees. Maar waar kan ons hierdie genesing kry? Hier kan ons ‘n sterk band met die Christelike geloof lê. Ons kan dit doen deur beelde – die bekende beeld van die gewonde, lydende Christus aan die kruis wat vertel van God se solidariteit met diegene wat swaarkry. Dit praat ook van die moontlikheid van vernuwing en herstel. Ons kan dit ook intellektueel doen – Christus tree die vallei van menslike hartseer en pyn binne om dit te verander. Geen wonder in die Nuwe Testament se visie van die nuwe Jerusalem is hartseer en pyn afwesig. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan (Openbaring 21:4).

  • Die kruis demonstreer die liefde van God vir die mensdom.

Die kern van die Christelike geloof is ‘n betroubare God wat ons liefhet. God bewys hierdie liefde deur Jesus se kruisdood: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Aan die kruis word die volle omvang van God se liefde geopenbaar. Baie mense voel hulle het so diep in die sonde vasgeval dat God hulle nie kan liefhê nie. Maar dit is nie wat die Bybel sê nie: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? En dan die gevolgtrekking: Niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Romeine 8:31 – 38).

God is liefde (1 Johannes 4:8). Hy is soos die herder wat een skaap verloor het en die 99 ander skape in die veld los om daardie een skaap te gaan soek (Lukas 15:4 – 7). Dade spreek harder as woorde. God is ‘n dinamiese en lewende God wat optree om die volle omvang van sy liefde vir ons te wys.




Die betekenis van die kruis (1)

. —Corrie Ten Boom

 Die betekenis van die kruis (1)

Wat is die betekenis van die kruis van Christus? Die boodskap van die kruis is so ryk en ingewikkeld dat ons dit baie moeilik in net ‘n paar woorde kan opsom. Tog is daar ‘n paar elemente wat ons kan identifiseer – elkeen is relevant vir sekere groepe mense. Kom ons kyk na vier van hierdie elemente – ons kan nog baie ander byvoeg:

1.Die kruis van Christus is die basis van verlossing van die mens se sonde.

 

Paulus verklaar: Christus het vir ons sondes gesterf (1 Korintiërs 15:3).Wat belangrik is, is wat die feit dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons beteken. Dat Jesus gesterf het, is geskiedenis; dat Hy gesterf het sodat ons sondes vergewe kan word, is die evangelie. Vir Paulus beteken die kruis verlossing, vergifnis en oorwinning oor die dood. Dus: Jesus het gesterf sodat ons kan leef.

Hoe sien mense buite die kerk die verkondiging dat ware vergifnis vir sondes moontlik is? Hoe kan iemand die werklikheid van die evangelie ontdek deur die kruis? Kan ons die idee van vergifnis as brug na God gebruik? Een manier is om op menslike skuld te fokus. Sommige mense het so ‘n diep skuldgevoel oor iets wat hulle gedoen het dat hulle voel dat hulle nie werklik kan leef totdat die probleem opgelos is nie. Maar hoe word dit opgelos? In John Bunyan se klassieke werk, The Pilgrim’s Progress, kan die pelgrim skaars loop onder sy sondelas. Dit dwing hom op sy knieë. Uiteindelik is hy in staat om sy las aan die voet van die kruis neer te lê. Nou kan hy weer normaalweg loop. Dit is hoe baie mense voel: hulle dra swaar aan hulle las/skuld en besef hulle kan nie werklik leef voordat hulle nie vergewe is nie.

Sonde is nie meer ‘n groot probleem nie. Dit is nie iets nuuts nie. In 1945 skryf C. S Lewis reeds dat a sense of sin is almost totally lacking in modern culture. Ons leef in ‘n wêreld waar mense dink dat wat ook al verkeerd is, iemand anders se skuld is. Ons moet sonde weer verduidelik.

2.Die kruis en opstanding van Christus dui op die oorwinning oor sonde en dood.

Christus is uit die dood opgewek en die gelowiges sal eendag in hierdie opstanding deel en vir altyd by Hom wees. Ons hoef dus nie meer die dood te vrees nie. Hierdie groot boodskap van hoop ten spyte van lyding en dood om ons, is belangrik vir alle Christene. Mense in die Weste sukkel om die werklikheid van ons sterflikheid te aanvaar. Jy kan nie van die werklikheid weghardloop nie.

Die kruis stel ons vry van die vrees vir die dood. Dit laat ons toe om die dood met stille en kalm vertroue tegemoet te gaan, want ons weet die angel van die dood is aan die kruis getrek. Deur sy dood het Christus dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig, en om aan hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny was, te bevry (Hebreërs 2:14 – 15). Hierdie verse sê dat ons deur Christus die oorwinning oor die dood behaal het. Dit moet die manier waarop ons dink en lewe verander. Dit is nie meer vir ons nodig om van die werklikheid weg te hardloop nie.

Volgende keer kyk ons verder na die belang van die kruis van Christus vir die mensdom.