Jesus se kruisiging

Jesus se kruisiging – Francois Malan

Martie vra:

Ek weet dat JESUS gekruisig is aan ‘n houtkruis. Gister vertel iemand vir my of ek weet dat JESUS se arms bo SY kop vasgeslaan is en so is HY gekruisig. Ek glo dit natuurlik nie, want die bord “koning van die Jode” is bokant sy kop vasgeslaan. Hoekom sou kerkmense nou met so ‘n ding na vore kom? of is ek verkeerd?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Die Romeine het verskillende maniere van kruisiging gehad. Die eenvoudigste (crux simplex) was slegs ‘n paal met die hande bokant die kop met een spyker vasgeslaan met nog ruimte bokant die hande. Die Jehova Witnesses sê dat dit die manier is waarop Jesus gekruisig is, en dat keiser Konstantyn (312-24 n.C.) die kruis met ‘n dwarsbalk en ‘n stukkie van die regoppaal wat bokant uitsteek, ingevoer het as beeld vir Christus se kruisiging. Dié soort kruisiging (crux emissa) was egter reeds in Jesus se tyd gebruik, en geskrifte van 100 n.C. verwys daarna as die kruis waaraan Jesus gesterf het. ‘n Ander kruis het soos ‘n T gelyk het (crux commissa). Dit was ook algemeen gebruik, en party skrywers teen die jaar 100 n.C. verwys ook daarna as Jesus se kruis. Daar was ook kruise in ‘n X-vorm of selfs ‘n Y-vorm.

 

Die Griekse woord stauros is gebruik vir ‘n regop paal, en is ook gebruik vir ‘n paal wat bo skerp gemaak is en waarop veroordeeldes ingedruk is van hulle fondament af; die woord is gebruik vir ‘n regoppaal met ‘n dwarspaal waaraan veroordeeldes vasgespyker is of met rieme aan vasgemaak is. Die Latynse vertaling daarvan met die woord crux ‘kruis’ veronderstel na ‘n kruis met ‘n dwarsbalk en is van voor Christus se tyd gebruik..

 

In die tyd van Jesus was kruisging ‘n baie algemene straf vir opstandelinge teen die regering en veral vir slawe. Met die slawe-opstand van 73-71 v.C. is 6,000 slawe langs die hoofweg na Rome gekruisig. Met die Romeinse inname van Jerusalem in 70 n.C. het die Romeine 500 Jode per dag gekruisig. Dit was beskou as die ergste straf wat opgelê kan word, waar die veroordeelde eers geslaan is tot hy neerslaan, en heeltemal kaal uitgetrek in die openbaar opgehang is tot hy sterf. 

 

Markus 15:26 sê net: Die opskrif van die aanklag teen Hom is geskryf: die koning van die Jode.

Matteus 27:37 sê: Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring wat lui: Hy is Jesus, die koning van die Jode. 

Lukas 23:38: Bokant Hom was daar ‘n opskrif: Hy is die koning van die Jode.

Johannes 19:19 brei daarop uit: Pilatus het ook ‘n kennisgewing laat skryf, en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: Jesus die Nasarener, die koning van die Jode.

 

In Handelinge 5:30; 10:39; 13:29 word die Griekse woord xulon (‘hout’ soos in 1 Kor 3:12; Openb. 18:12; 22:2,14,19; ‘boom’ soos in Openb 2:7 ) figuurlik gebruik vir die ‘houtkruis’ waaraan hulle Jesus gehang het. 

In Galasiërs 3:13 word xulon ook gebruik met verwysing na die vloek op elkeen wat aan ‘n hout hang, in Deutr.21:23.

 

Maar 1 Petrus 2:24 verwys na iets baie meer verskrikliks as die pyn en vernedering van die kruisdood van Christus, dat Hy self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het. Johannes 1:29 sê: Jesus is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Matteus 27:46 en Markus 15:32 vertel van Jesus se woord aan die kruis: My God, my God, waarom het U my verlaat.

            Die straf van God vir die sondes van die hele wêreld, van die skepping tot aan die einde van die wêreld, was op Jesus, die Seun van God wat mens geword het om ons sondes op Hom te neem en daarvoor versoening te doen. Dit kon Hy alleen doen omdat Hy God is, dat Hy en die Vader en die Gees saam besluit het dat Hy dit sal doen uit liefde vir die mensdom. Die Vader het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Sy dood aan die kruis is die toppunt van Jesus se liefdesoffer vir ons (vgl. Johannes 12:32-33: As Ek van die aarde af verhoog word, sal ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf). Lukas 23:34 vertel dat toe hulle Jesus gekruisig het, Hy nog gebid het: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. So lyk sy liefde vir sy vyande, om hulle met sy liefde te wen, om in Hom te glo as die Een wat hulle sonde vergewe.

            Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom (Johannes 3:36).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus? – Francois Malan

Vraag:

In Jesaja 53: 12  word gesê : Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes en met magtiges sal Hy die buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie  gedra en vir die oortreders gebid het. (OAV)

Die feit dat baie gebruik word en nie almal nie gee aanleiding tot die volgende vraag:

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

 

God het ‘n verbond met Abraham gemaak te dien effekte dat hy die vader van baie nasies sou word. Hy het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken en hy was ‘’n vriend” van God. Uit Abraham ontstaan die Jode as die uitverkore volk. Na verloop van 430 jaar kom Moses op die toneel en hy ontvang die Tien Gebooie wat spesifiek bedoel was om die Jode te rig. Toe Christus kom maak die Jode  Hom dood. Van die Jode wat hierna tot bekering gekom het, sê Paulus in Gal 2: 15 dat hulle, wat van nature Jode was en nie sondaars uit die heidene nie, in Christus Jesus moes glo sodat hulle geregverdig kon word uit die geloof in Jesus Christus. Dus nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig kan word nie.

 

Vanaf Abraham tot en met die steniging van Stefanus was die heidene nooit in die prentjie nie. Van die verbond met Abraham weet hulle niks, ook nie van die wet nie en ook nie van komende Messias nie. Die verkondiging van die evangelie aan die heidene was ‘n verborgenheid Ef 3: 1 tot 6, en Paulus was bestem om dit aan hulle te bring. Inderdaad was die heidene se stand soos aangedui in Ef  2: 12, naamlik sonder Christus,vervreemd van die burgerskap van Israel, vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

 

Die Jode daarenteen het hulle eie pad geloop totdat hulle Jesus laat kruisig het tot op die steniging van Stefanus op welke tydstip die verbond met God verbreek is en is die evangelie aan die heidene verkondig. Die eerste heiden wat tot bekering kom is die hofdienaar van Ethiopië (Hand 8) en andere daarna.  Die vereiste vir hulle was  slegs dat hulle in Jesus Christus moes glo soos Abraham gedoen het om deel van die geestelike Israel te wees.            

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:                                                                                                      

 

Johannes 3:16 sê: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes 1:1-18 sê dat Jesus Christus self God is, die naaste aan die Vader, dat Hy mens geword het. (Dit alles sodat God self vir die sonde van die wêreld sterf aan die kruis). Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

 

Vir die heidene wat Christus aangeneem het skryf Paulus in Galasiërs 3:28: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

 

Jou vraag: Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Alle mense, Jode met die wet van God en heidene sonder die wet van God, almal van die Ou Testamentiese tyd en almal daarna, almal is onder die mag van die sonde en die hele wêreld is strafwaardig voor God (Romeine 3:9-20). Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus…God spreek elkeen vry wat in Jesus glo (Rom. 3:21-26). Vryspraak is eintlik om die verhouding met God reg te stel. Deur in Christus te glo, word ons saam met die Seun van God aangeneem as kinders van God deurdat die Gees van God, die Gees van Christus wat in ons kom woon om ons aan Christus te verbind (Rom.8:9-17).  

 

Vanaf Abraham af was die heidene altyd in die prentjie! Met die roeping van Abraham het die Here reeds gesê: ‘…in jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (Genesis 12:1-3). In sy optrede in Egipte en Gerar was Abraham geen seën vir die heidene nie (Gen. 12:10-20; 20:1-18 maar na hy vir Abimeleg gebid het, het die Here vir Abimeleg gesond gemaak). Dit was God se doel met sy verbond met Abraham dat hy en sy nageslag vir die wêreld ‘n lig sou wees. Vgl. Abraham se optrede teenoor Melgisedek, die koning van Jerusalem (Gen.14:18-20).

 

Vgl. bv. Tamar Gen 38, Ragab Jos 2:1,3; 6:17,23,25, Rut wat aldrie in die geslagslys van Jesus opgeneem is in Mat 1:3-5.   

 

Die hofdienaar van Etiopië is ook nie die eerste heiden wat tot bekering gekom het nie. Kyk maar gedurende Jesus se bediening na die Samaritane Jn 4, die offisier in Kapernaum Mat 8:10-12, die Griekse vrou van Mark 7:24-30, die offisier wat vir Jesus gekruisig het Mark 15:39. Vgl. ook die stad van die Samaritane wat Filippus se getuienis aangeneem het voordat hy die hofdienaar ontmoet het Hand.8:4-8.

 

Dat God se verbond met Israel eers met die steniging van Stefanus beëindig is, het ook geen grond nie. Reeds in Jeremia 11:10 kla die Here dat Israel en Juda die verbond wat Hy met hulle vaders gemaak het, verbreek het. En toe Jesus na sy eie mense toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het (Jood of Griek, ens.), dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Jn 1:11-12; vgl. Rom 10:12-13).

 

Jesaja 53:12 sê ‘baie’. In Hebreeus is dit die meervoud van ‘baie’ (rabim) wat ‘n menigte aandui. Daarom gaan dit nie om uitsluiting van party nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die kruisiging van Jesus

Die kruisiging van Jesus – Jan van der Watt

Jan vra:

Met die afgelope Paasnaweek en die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus val my oog op Matth 27:51 waar hy sê die aarde het gebewe en die rotse het geskeur en verder Matth 28: 2: En daar kom ‘n groot aardbewing want die engel van die Here het uit die hemel neergedaal en die steen van die opening weggerol en darop gaan sit. Moet mens hierdie glo? So ‘n groot aardbewing en rotse wat skeur klink ‘n bietjie oordrewe om ‘n enkele klip weg te rol. Dit klink vir my maar redelik rof of het die skrywer bietjie aangedik?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Matt 27:51-53 lees ons: ‘En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn‘. Die verse het al baie geleerdes aan die wonder gehad, veral wat die mense geword het wat uit die grafte opgestaan het. Die besondere gebeure is egter deur die Ou Testamentiese profesiee voorspel (bv. Jes 24:19; 29:6; Jer 10:10; Sag 14:4); selfs dat die dooies sou opstaan as God weer na sy mense toe kom, wat inderdaad met Jesus se koms gebeur het (Jes 26:19). Die aardbewing en rotse wat skeur is tekens daarvan dat God op daardie oomblik teenwoordig en aan die werk onder sy mense is. Mense het immers verwag dat as God betrokke is, daar dinge gaan gebeur wat mense nie kan doen nie. Al die dinge wat gebeur het, sou as bewys dien dat God in sy krag teenwoordig is – die Ou Testament het immers die soort dinge voorspel. Niemand kan meer twyfel dat Jesus werklik die Een is deur wie God op hierdie aarde optree nie.

As ons egter by die vraag kom of die dinge regtig gebeur het, kan ons dit eintlik nie na enige kant toe bewys nie – dit kan nie bewys word dat dit nie gebeur het nie, ook nie dat dit gebeur het nie. Ons het geen video-opnames of foto’s nie. Al wat ons kan doen is om te glo dat die getuienis van die evangeliste waar is; en geloof is nog nie historiese bewys nie. Dit beteken egter nie dat ons aan die boodskap dat Jesus die gestuurde van God was hoef te twyfel nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis?

Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis? – Jan van der Watt

As jy enigiemand sou vra of Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker is, sal jy amper ‘n 100% “ja” antwoord kry. Het jy geweet dat ons dit nêrens presies so in die Bybel lees nie?

In Matteus en Markus lees ons glad nie van spykers of merke in die hande en voete van Jesus nie. In Lukas lees ons ook nie van spykers en spykermerke in Jesus se hande en voete nie. Ons lees wel dat Jesus vir sy dissipels sy hande en voete “wys”. Wat Hy presies “wys” word nie gesê nie. Kom ons by die Johannesevangelie lees ons wel dat Jesus na die merke in sy hande en sy sy verwys. Hieruit sien ons dat spykers gebruik is. Tog noem Johannes weer glad nie die voete van Jesus nie.

Ons ideë van Jesus se hande en voete wat aan die kruis vasgeslaan is, kom dus van ‘n kombinasie van die feite uit Lukas (Jesus wys sy hande en voete) met die verwysing in Johannes na die spykermerke in die hande van Jesus (sonder verwysing na die voete).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt