Behoort aan ‘n kultus – Francois Malan

‘n Leser vra:

‘n Lidmaat worstel met familie wat aan ‘n “kultus” behoort. Hoe weet mens?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord kultus word gebruik vir die verskillende maniere en gebruike om God mee te dien. So het Israel van die Ou Testament spesifieke maniere gehad om God te dien, bv. met offerandes, gebede, leringe, sang, ens. So het die verskillende kerke en gemeentes elkeen sy eie manier van aanbidding. Sommige kultusse is selfs teen God en teen alle godsdiens, of hulle het hulle eie god. Ander kultusse gaan aan asof daar geen God is nie.

Maar die woord ‘kultus’ word veral gebruik om kerke of groepe of organisasies aan te dui wat aanspraak daarop maak dat hulle leringe en praktyke bybels is en dat hulle die bybelse christendom verteenwoordig, maar wat in werklikheid onbybels is en hulle lewenswyse nie christelik van aard is nie.

Kultusse het gewoonlik ‘n godsdienstige verering en toewyding aan ‘n spesifieke leierspersoon of aan ‘n spesifieke soort godsdienstige aanbidding, wat afwyk van die evangeliese godsdienstige tradisie in die gemeenskap. Daarby doen sulke groepe alles in hulle vermoë om mense wat by hulle aankom by hulle te hou met groepsdruk en dreiging van ongeluk as hulle weggaan van hulle af.

Hoe weet mens? Dit gaan gewoonlik oor die groep se siening oor God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees en die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees.. En ten tweede wyk hulle dikwels af van sekere Bybelse aanwysings van hoe ‘n christen moet leef.

Dikwels word mense wat eensaam is, getrek deur die groep se hegte verbondenheid; sommige mense in depressie vind heling in die opwek van emosies in die groep; siekes word oortuig dat die kultus se leier genesende krag het; dit is veral mense wat ‘n geestelike behoefte het na godsdienstige belewings wat na groepe soek waar hulle behoefte bevredig kan word. Party verlaat die kerk omdat hulle met die predikant of pastoor bots of nie gelukkig is met hulle leiers of prediking soos hulle dit wil hê nie.

Dié mense het dikwels ‘n behoefte aan ‘n toenadering tot die onsigbare, die heilige. Maar daarmee gaan dit eintlik om hulleself, oor hulle belewenisse van die Onsigbare, die beveiliging van hulle lewe, hulle welvaart, hulle voorspoed en hulle sekerheid, terwyl hulle nie bewus is van die diepe kloof tussen God en mens deur die sonde nie, veral die sonde om self soos God te wil wees soos Eva wat so kennis wou kry om soos God te wees (Genesis 3:5-6), of hulle probeer om die kloof te oorbrug met godsdienstige handelinge (vgl. Jesaja 1:12-17). Dit word ‘n poging om God te manipuleer vir hulle voordeel. Daarmee word die skepping en die skepsel/mens vergoddelik en God verwêreldlik.

Dit is so anders as om in alle omstandighede met vreugde uit die Here se genade te leef, uit sy vergifnis van ons sonde, wat Jesus aan die kruis vir ons bewerk het, deur as God die sonde van die wêreld op Hom te neem (Johannes 1:29); Hy verlos ons van ons self deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons te lei en in staat te stel om God se liefde uit te leef en selfs ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48; Galasiërs 5:22-23).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die argument kom nêrens nie

He that is down needs fear no fall, He that is low, no pride. —John Bunyan

Die argument kom nêrens nie

Kultusse bevorder nie onafhanklike denke en dialoog nie – stem saam met die leier en alles is reg. Die Christelike geloof, daarenteen,  moedig mense aan om te dink en die waarheid vir hulleself uit te vind. Jesus se onderrig was kenmerkend logies: Hy het na die OT as bron van gesag verwys; Hy het verkeerde motiewe bevraagteken; hy het argumente weerlê; Hy het teenstrydighede in die Fariseërs se toepassings uitgewys.

As gevolg hiervan kry ons sekere Christene wat van uitgebreide besprekings hou. Dit lei dikwels tot verskille. Is daar nie dalk ‘n stadium om te besluit dat verdere bespreking/argumentering nutteloos is nie? Onder watter omstandighede is dit beter om die bespreking te termineer en ooreen te kom om van mekaar te verskil? [Ons praat van teologiese argumente.]

  1. 1.As julle nie saamstem dat die Skrif die basiese gesag is nie. Ons moet ten minste volgens dieselfde reëls speel. Paulus kon met die Jode in Tessalonika debatteer, wat beide party het die gesag van die Skrif erken – hy het op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer (Handelinge 17:2). Hy beveel ook hierdie gesindheid aan: hulle was oortuig dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God (1 Tessalonisense 2:13).
  2. 2.As julle uitleggingsmetodiek verskil. Hermeneutiek is die kuns en wetenskap van interpretasie van die Skrif. As een party ‘n letterlike, histories-grammatikale stel reëls gebruik om die Bybel te verstaan en die ander party vertrou op ondervinding en tradisie as bevestiging van die waarheid, sal beide partye gefrustreerd wees. Nou word die dialoog ‘n gestryery oor woorde. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Jesus se bespreking met die Sadduseërs oor die opstanding uit die dood. Hulle ken die OT, maar Jesus sê vir hulle: Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie (Matteus 22:29).
  3. 3.As die persoon nie wil verstaan nie. As mense van jou verskil, maar jy kan sien dat hulle werklik probeer om jou standpunt te begryp, gaan jy voort met die bespreking. Dit vereis wysheid om te weet of die persoon se vrae werklik ingestel is om jou standpunt te verstaan. Daar is ander persone waar dit duidelik is dat hulle net wag dat jy klaar praat sodat hulle kan antwoord en vir jou wys waar jy verkeerd is. Paulus het dit besef: Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Vertel hulle van die Here se goedheid. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof eintlik gaan nie. Verduidelik alles weer ‘n slag goed vir hulle. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry (1 Tessalonisense 5:14 – Die Boodskap).
  4. 4.As die bespreking voortdurend ontspoor. So dikwels dwaal die bespreking af en irrelevante syspore word gevolg. So ‘n persoon wil nie die probleem oplos nie – hy sit voortdurend nuwe onderwerpe op die tafel. Jy vorder niks nie. Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie,want dit is nutteloos en sinloos (Titus 3:9).

Oppas vir tydmors met nuttelose strydvrae met twissieke mense – dit is gewoonlik ‘n doodloopstraat.