Is verstaan van die kultuur belangrik?

The band is rockin’, arms are swayin’, and you’re about to come on screen in high definition with such stunning visual clarity that even people in the nosebleed seats can see your perfect smile. Is this a rock concert? A beer commercial? Or just a typical Sunday morning? These days, it could be any of the above – Mercer Schuchardt

 

Is verstaan van die kultuur belangrik?

Ons hoor so dikwels dat as ons die Bybel wil verstaan, moet ons die kultuur van destyds verstaan. Is dit so? Kom ons kyk na  die reiniging van die tempel in Matteus 21:12 – 13. As ons hierdie verhaal werklik wil verstaan, moet ons iets van die kultuur weet.

 

  • Die tempel was die belangrikste plek op aarde vir die Jode – die heiligste plek in die heelal; die hart van die Joodse aanbidding; die kroonjuweel van Judaïsme. As Jesus, wat geen gesag op die tempelterrein gehad het nie, instap en die plek begin skoonmaak, hanteer Hy die hart van die Judaïsme. Nog nooit vantevore het iemand so iets gedoen nie.
  • Die sienings van die Messias by daardie mense – wat het hulle van die Messias verwag?  Hy was die verwagte Joodse koning wat Israel sou herstel en die Romeine sou uitdryf. Toe Jesus Jerusalem ingery het, vra die mense: Wie is hierdie man? (Matteus 21:10). Sommige sien Hom as ‘n koning en ander as ‘n profeet. Jesus het nie aan hulle verwagting van ‘n Messias voldoen nie.
  • Die Sanhedrin. Dit was die amptelike Joodse hof. Hulle gesag het hulle van die Romeinse owerheid gekry. Hulle is as ‘t ware deur die Romeine gekoöpteer. Messias-figure veroorsaak ‘n politieke krisis. Die tempel was die setel van die Sanhedrin se mag. Geen wonder dat die godsdiensowerhede later in die hoofstuk Jesus se gesag bevraagteken nie: En wie het u hierdie gesag gegee?  Wat hulle dink is: Ons het nie vir U die gesag gegee nie en dit is ons tempel.

 

Onmiddellik verstaan ons hierdie verhaal beter.




Die kultuur in die gemeente

The more light that is given, the harder the human heart must become to reject it. —Erwin Lutzer

 

Die kultuur in die gemeente

Kerkleiers moet verantwoordelikheid vir die kultuur in hulle gemeente aanvaar. Strategie en struktuur is belangrik, maar kultuur is belangriker. Culture eats strategy for breakfast (Peter Drucker). In ‘n gemeentekultuur gesentreer op die evangelie is daar harmonie tussen teologie, filosofie en praktyk.

Teologie is hoe die gemeente oor God dink. Bedieningsfilosofie is hoe die gemeente oor bediening dink. Praktyk is wat die gemeente doen.

 

Teologie is die fondament van die gemeentehuis. Dit is nie uniek nie – dit is die woord van God en die evangelie van Jesus. Dit word ontvang en nie ontwikkel nie. Enige poging om die fondament aan te pas, maak die evangelie kragteloos en nutteloos. Geliefdes,ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas 3); Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus (1 Korintiërs 3:11). In Efesiërs 2:19 – 21 lees ons dat die kerk ‘n gebou is ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

 

Bedieningsfilosofie is die huis wat jy op die fondament gebou het. Dit moet in die evangelie geanker wees. Dit word bepaal deur die konteks waarin God jou geplaas het en die passie wat Hy in jou geplaas het. As die gemeente ‘n teologie gesentreer op Christus het, maar die evangelie dryf nie die filosofie nie, verwar dit mense – hulle weet nie hoe die evangelie in hulle lewens toepassing kry nie; daar is geen praktiese implikasies nie. As jou teologie geen impak op jou bediening het nie, is jou teologie waardeloos.

 

Bedieningspraktyk in ‘n gemeente met teenstrydige filosofieë ly aan ‘n persoonlikheidsafwyking. Hierdie verwarring is duidelik sigbaar in die praktyk. Gemeentes moet hulle praktyk ferm verbind aan hulle teologie en filosofie. Nou is jou kalender vol programme, maar sonder enige sin. Die gemeente se praktyk word grootliks deur die konteks bepaal. Jy het dus ‘n groot mate van vryheid solank as die teologiese fondament en die bedieningsfilosofie solied is. Praktyk is belangrik, maar dit is nie die beginpunt nie.

 

Die sinergie tussen teologie, filosofie en praktyk is belangrik, maar die harmonie word deur leiers gebou. In die Ou Testament het God profete, priesters en konings gebruik. Konings gee sterk leierskap; profete pas die waarhede toe; priesters offer. Hierdie is maar net ‘n skadubeeld van die volmaakte Profeet, Priester en Koning – Jesus Christus. Hy is die volmaakte profeet wat sy mense na God rig deur sy wysheid en onderrig; Hy is die volmaakte Koning wat sy koninkryk kom vestig het en sy gesag oor demone, die natuur en siekte bewys het; Hy is die volmaakte Priester wat in liefde en deernis sy kinders versorg en genees.

 

Jesus is die Leier van die kerk, maar Hy gee gawes en gesag aan diegene wat Hy as leiers van die kerk geroep het.

 

 




Betrokke by die kultuur

Direct your whole mind to the pursuit of those things which the Lord requires of you. — Johannes Calvyn

 

Betrokke by die kultuur

As kerke die roeping van Jesus Christus – maak dissipels van al die nasies – wil uitvoer, moet hulle betrokke raak by die kultuur. Die kerk kan nie sy werk in ‘n lugleegte buite die kulturele milieu waarin mense woon, uitvoer nie.

 

 

Paulus se ondervinding in Atene (Handelinge 17) wys vir ons hoe om mense in ‘n spesifieke kultuur te benader. Paulus is in Atene, nie as gevolg van sorgvuldige beplanning nie, maar omdat hy in Tessalonika en Berea teenstand teen sy bediening ondervind het. God druk hom na ‘n unieke plek om die evangelie daar te verkondig – Atene, die wêreldstad. Hier is drie dinge van belang as ons let op Paulus se bediening soos hy by die kultuur betrokke raak.

1.Paulus word deur die verlorenheid en afgodery van die mense aangespoor

In Atene was daar mense wat geskep is om God se heerlikheid te ken en te weerspieël. Hulle het God verwerp en daarop aangedring om  afgode wat hulle self gemaak het, te aanbid. Paulus raak betrokke by die kultuur, want hy het God lief en ook mense gemaak na God se beeld. Vir hom was dit ‘n noodsaaklike aspek van die uitvoer van die roeping van die kerk.

2.Paulus fokus op die oorkoepelende verhaal van God wat sy hoogtepunt in die werk van Jesus bereik

In Atene doen Paulus wat hy altyd doen: hy verkondig Jesus Christus as Here. Hy gaan eers na die sinagoge waar die Skrif beskikbaar was – om te lees en uit te lê. Hy het nie ‘n totaal nuwe benadering gevolg om betrokke te raak by die mense in hierdie wêreldstad nie. Hy gaan eenvoudig voort om sy roeping te vervul – hy verkondig die gekruisigde Christus. Toe die Ateners hierdie boodskap hoor, word hulle nuuskierig – hulle kon nie glo wat Paulus verkondig nie. Hulle staan verwonderd.

3.Paulus wys die Ateners hoe hulle kultuur en lewens verbind is met en tog nie verbind is aan die waarheid van God nie.

Hy kon dit doen, want hy het genoeg van die godsdiens en wêreldsiening van die Ateners verstaan om te beklemtoon dat hulle verlossing nodig het. Hy bring vir hulle die goeie nuus.

 Betrokkenheid by die kultuur beteken nie die onkritiese aanvaarding van alle dinge in die kultuur nie. Dit beteken wel dat ons die wêreld van die mense wat in ‘n spesifieke kultuur woon, betree. Ons verstaan hulle wêreld, maar ons verstaan ook hoe die evangelie hulle gebrokenheid en vervreemding van God kan hanteer. Om by die kultuur betrokke te raak, is nie die doel van ons bediening nie. Dit is wel ‘n noodsaaklike element as ons getrou die evangelie wil verkondig. Dit beteken ons ken die waardes en afgode – en wat hulle glo en nie glo nie – van die mense. Ons weet hoe, waar en wat hulle aanbid. Ons werk dus om duidelik aan hulle te wys dat Jesus oor al hierdie dinge oppermagtig is. Dit beteken ons fokus op die roeping wat God vir die kerk gegee het.