Laat sy Liefde jou Lei: Ons is deel van mekaar

Laat sy Liefde jou Lei: Ons is deel van mekaar – Milanie Vosloo

Ons is déél van mekaar!

Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid. Terwyl jy jou versoeke rig, smeek God se onverdiende goedheid daaroor af en dank Hom. 1 Timoteus 2:1

Ons is nie gemaak om van vergeet te word nie. Ons wil almal op ‘n manier deur mense raakgesien, raakgehoor en raak-liefgehê word. Juis daarom is dit ons liewe Vader se wil dat ons van geboorte af tuis sal voel by ons eie “behoort-aan-iemand-kring”: by ouers wat ons koester, familie wat ons met liefde toevou en mense wat hand aan hand saam met ons loop. Klein-klein begin ons al die waarde van maats besef en soos ons ouer word, is dit vriendinne, ‘n lewensmaat, kollegas en ander kosbare hartsmense wat tot ons lewensvreugde bydra.

 

Wanneer ons Skepper ons nou régtig bederf, gee Hy aan ons ook wonderlike sielsgenote: Mense wat ons diepste wese verstaan en ons, ondanks alles, onvoorwaardelik aanvaar en liefhet. Dan natuurlik weet die Vader ook dat ons ander geesgenoot-engele nodig het om saam met ons deel te neem aan die wedloop van geloof. Van die vroegste tye van die kerk se geskiedenis was dit juis die verbintenis tussen opregte geloofsgenote wat ‘n verskil aan hul eie en anders se lewens gemaak het. Ook jy het opregte geloofsmaats bitter nodig. En ook jy kan ander geloofsvriende met jou ondersteuning, liefde, begrip, aanmoediging en gebede verryk.

 

Bid elke dag dat jou liefde ander in die binnekring van God se genade sal ontvang!

 

Dankie vir die onbreekbare band waarmee u bloed ons as gelowiges aan mekaar bind, Vader.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

 

Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Liefde het nie ‘n ego nie

Laat sy Liefde jou Lei: Liefde het nie ‘n ego nie – Milanie Vosloo

Liefde het nie ‘n ego nie!

Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer. Matteus 23:12

Mense is darem maar so bekommerd oor wat “die mense” van hulle dink. Daarom sal ons altyd alles in ons vermoё doen om ons eie beeld so goed en suiwer as moontlik aan ander voor te stel. Ons eie ego’s speel meestal ‘n groot rol in die manier hoe ons dink, optree en leef. 

 

Jesus was destyds min geskeel oor wat mense van Hom gedink het. Alles wat Hy gesê en gedoen het, was totaal gestroop van enige vorm van eie-eer-soeke. Hy het ons geleer dat ware liefde ego-vry is. Daarom het Hy – die Koning van die heelal – sonder enige selfvoldaanheid, oormatige trots en selfsug geleef. Prostitute, melaatses, tollenaars en nederige visvangers was sy vriende terwyl Hy Homself tuis gemaak het tussen gewone randmense. Wanneer die Fariseёrs ewe vroom hul kommer uitspreek oor die feit dat Hy saam met “immorele karakters” eet, antwoord Hy hulle sonder skroom: “Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Deernis is vir My baie belangriker as offerandes. ’Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.” (Matteus 9:13)

 

Kom ons bid elke dag dat ons Meester ons sal bevry van enige vorm van selfbeheptheid en dat Hy in die plek daarvan vir ons ‘n onselfsugtige, nederige en diensbare hart sal gee.

 

Ewige God, al wat vir my belangrik is, is wat U van my dink!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

 

Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: God werk op wonderbaarlike maniere!

Laat sy Liefde jou Lei: God werk op wonderbaarlike maniere! – Milanie Vosloo

God werk op wonderbaarlike maniere!

Daarna het die Here in ‘n visioen aan Abram verskyn en vir Hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.” Genesis 15:1

 

Hoe groot is ons God! En hoe ongelooflik dat Hy ons – brose kruike – op wonderbaarlike maniere in sy diens gebruik! Omdat Hy die soewereine en almagtige God is, kan Hy mos enige iets op enige manier laat gebeur. God het ons nie nodig nie, maar tog kies Hy om óns – gebroke instrumente – in sy diens te gebruik. Deur ons werk Hy in die harte van ander mense; met ons talente maak Hy ‘n verskil in lewens en deur ons woorde en dade laat Hy wonderwerke gebeur.

Maria was ‘n gewone jong en onervare vrou toe die Here haar genader het om in sy diens te staan. En toe Hy haar roep, het sy gekies om haar eie drome agter God se wil in te skuif. Sonder skroom antwoord sy: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê.” Lukas 1:38 Hierna verander Maria se lewe radikaal en word sy onomkeerbaar ‘n geseёnde vrou genoem..

Ons Here wil jou ook vandag – soos elke dag van jou lewe – iewers op ‘n unieke manier inspan om sy waarhede aan ander oor te dra, sy genade met hulle te deel en sy liefde spontaan uit te leef. Sal jy doen wat Hy vra?

Ek gló met my hele hart dat U in hierdie dag kragdadig deur my gaan werk, Skepper-God.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

 

 

 

Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: Onderneem jou eie reis

Laat sy Liefde jou Lei: Onderneem jou eie reis – Milanie Vosloo

My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.1 Korintiёrs 2:4 – 5

 

 

Waarom glo jy? Glo jy dalk omdat dit die “regte ding is om te doen”, jy van kindsbeen af geleer het dat dit ‘n goeie gewoonte is of bloot omdat so baie ander dit doen. En ás jy glo, wát glo jy? Laat jy toe dat elke nuwe siening, geloofsvraag, opinie of nuwe dogma jou geloofsbootjie beïnvloed? Of glo jy, ongeag al die strominge om jou, dat Christus jóú persoonlike Verlosser en Saligmaker is?

 

Miskien het jy eens op ‘n tyd met kinderlike onvoorwaardelikheid geglo, maar het jy iewers langs die pad ontnugtering ervaar toe jy besef het dat God se kinders nie noodwendig altyd op stille waters vaar nie. God se wens vir jou is egter dat jy tot die volwasse-geloofsfase sal groei waar jy bewus is van die tekortkominge van geloof, maar waar jy – ongeag dit – wéér gekies het om absoluut kinderlik en eenvoudig te gló. So ‘n deurleefde geloof sal jy net hê as jy voortdurend in ‘n diep en innige verhouding met jou Here leef.

 

Bid elke dag dat die Gees aan jou die volwassenheid sal gee om weer en weer soos ‘n kind in jóú Vader te glo!

 

Verlosser-God, ek wil – ongeag alles – elke dag meer en meer in U glo!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

 

 

Milanie Vosloo