Laat sy Liefde jou Lei: Twyfel jy soms?

Twyfel jy soms?

Dis nie vreemd dat gelowiges – selfs ernstige kinders van God – met tye twyfel nie! Dit mag dalk selfs gebeur dat ons, soos ons meer van God en ander gelowe weet, juis meer wonder oor hoe dinge werk en wat dan nou waarheid is.

Juis omdat ons God met hart én verstand lief het, is dit normaal om soms op intellektuele vlak met vrae en antwoorde oor geloof en God te stoei.

Theo Geyser sê hierop egter dat ons moet onthou dat daar ‘n groot verskil tussen gesonde en ongesonde twyfel is. Ongesonde twyfel is dikwels ‘n verskoning vir ‘n klomp ander dinge en ontstaan meestal uit onkunde of ‘n gebrek aan kennis. Gesonde twyfel daarenteen is ‘n sóéktog: ‘n aanhoudende soeke na antwoorde oor die verskillende idees oor God, oor sy wil en oor die manier hoe Hy in ons lewens werk. Met hierdie soeke is niks verkeerd nie, want dis dikwels ‘n groeiproses waardeur ons van baba-gelowiges tot volwasse geloofsmense groei, en waarmee ons sal aanhou totdat ons eendag van aangesig tot aangesig voor die ewige Waarheid staan.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Milanie Vosloo

Laat sy Liefde jou Lei: Geloof is ‘n geskenk

Laat sy Liefde jou Lei: Geloof is ‘n geskenk – Milanie Vosloo

Geloof is ‘n geskenk

Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor groot praat nie, want ons is God se handewerk. Hy het ons in ‘n verhouding met Jesus Christus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. Efesiёrs 2:9 – 10

God se liefde is vir álle mense. Anders as ons, deel Hy nie net sy liefdevolle goedheid aan “goeie” mense uit nie. Hy wag ook nie eers om te sien of ons gereeld Bybel lees, kerk toe gaan en ons bydraes getrou gee voordat Hy sy genade aan ons skenk nie. Nee, dieselfde son-van-verlossing wat oor getroue gelowige skyn, skyn ook op hulle wat dit die minste verdien. Juis wanneer ons sondes ons geestelik dood maak, kom staan Hy voor ons met arms vol genade-geskenke en sê: “Hier is ‘n gratis Geskenk aan jou. Hier is Ek self – die Een wat jou van die dood gered het. Aanvaar My. En gaan lééf dan in vrede.”

Moet nooit toelaat dat die bose of enige iemand jou aan God se goedheid laat twyfel nie. Moet nooit dink dat jy sy liefde nie werd is of dat jy eers ‘n klomp dinge in jou lewe moet “reg maak” voordat Hy sy genade aan jou gaan gee nie.

 

Gaan leef vandag en elke dag hierna met die seker wete dat Hy – ondanks alles en ten spyte van wie en wat jy is – aan jou sy liefdevolle goedheid gee.

 

Dankie dat ek – so onverdiend – ‘n sitplek langs U in die hemel het, Jesus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: “Here, help my glo!”

“Here, help my glo!”

 

Jy is Myne … Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God …(Jesaja 43:2a,3a) 

Jy ken die verhaal van Daniёl se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego wat, vanweë hul oortuigde geloof in God, in die brandende oond gegooi is. En jy onthou hoe die engel hulle ongedeerd  uit die vlammende oond laat stap het. Maar het jy al raak gelees wat hulle gesê het vóórdat hulle die vuur binnegestap het? In Daniёl 3:17 hoor ons hoe hulle vir koning Nebukadneser sê: “Die God wat ons aanbid, kán ons uit u hand bevry, u Majesteit. En selfs … al red Hy ons nie … sal ons nie u gode vereer nie.” Duidelik het hierdie drie manne se geloof nie gegaan oor wat God vir hulle kan doen nie. Dit het vir hulle gegaan oor die God van hul geloof. Hulle het God vertrou … ongeag die uitkoms van hul gebede en wense.

Ware geloof is nie gebaseer op dit wat God vir ons kan doen nie en in hoe ‘n mate Hy ons gebede beantwoord nie. Veel eerder gaan Bybelse geloof daaroor dat ons blý glo wanneer ons nié God se stem hoor nie, wanneer daar nié genesing is nie, wanneer teenslae jou blý tref … wanneer jy die mens wat jy die liefste het, verloor of wanneer die ergste gebeur.  

 

Ware geloof sê: “Here, help my glo! Want self kan ek nie!”  

 

Ja Here Jesus, kom my geloofswakheid te hulp.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wees ‘n vredemaker!

Wees ‘n vredemaker!

 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.

Vrede is ‘n versamelwoord vir baie dinge soos kalmte, rustigheid, versoening en vreedsaamheid. Maar vrede is ook gelyk aan geluk. Want wanneer iemand in vrede met God, haarself en ander leef, kom woon sielsgeluk en ‘n gevoel van saligheid in haar. Wees daarom elke dag ‘n instrument van vrede:

  • Maak vrede met God. Doen dit deur jouself onvoorwaardelik in sy hande te plaas en te sê: “Here, dankie dat U my 100% vergewe het. Help my om vandag u wil myne te maak en dan daarvolgens te leef.”
  • Maak vrede met jouself deur jou tekortkominge en swakhede as klein struikelblokke te sien omdat jy die groter Jy-prentjie voor oё hou. Die volmaakte jý-mens wat jy in God se oё is nadat die bloed van die Lam oor jou gevloei het.
  • Maak vrede met ander mense. Om in onvrede en met onvergifnis teenoor ander te leef, is energie-dreinerend en aftakelend. Vrede daarenteen maak van jou ‘n gelukkige en tevrede mens.

 

Jakobus 3:18 lees: Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God. Bid dat die Gees jou met soveel liefde sal vul dat jy vandag met sy vrede sal leef: teenoor God, jouself en ander.

 

Vader, ek weet en glo dat ek deur U ‘n gelukkige en vredeliewende mens kan wees.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo