Laat sy Liefde jou Lei: Om te verdwyn

Laat sy Liefde jou Lei: Om te verdwyn – Milanie Vosloo

“ …Hy moet al hoe minder in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees.” Johannes 3:30

Johannes die Doper was ’n onbaatsugtige mens. Vir hom het dit net om een Mens gegaan: dié Christus op wie se koms hy die wêreld moes voorberei. Hy was as’t ware die onsigbare pasaangeër vir Jesus wat, toe sy werk klaar was, ongemerk van die toneel af verdwyn het.

Tog is dit presies wat ons Vader soms van ons verwag. Om so te leef dat ons ander mense belangrik maak. Meer nog: om só te leef dat ons self verdwyn sodat Hy al hoe meer sigbaar in ons kan word. Dit kan ons alleen regkry as ons daagliks onsself voor die kruis van ons Meester neerlê en toelaat dat sy volmaakte Gees ons vul.

Ja, slegs wanneer ek en jy heeltemal verdwyn, kan God se grootheid in ons sigbaar word. Wanneer ons al hoe minder word en Hy al hoe meer in ons is, is ons eers werklik atlete van die hemelse Olimpiese standaard. Het jy al gekwalifiseer?

Here Jesus, maak die “my” in my min, sodat die “U” in my baie kan word.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Om soms te slow-live

Laat sy Liefde jou Lei: Om soms te slow-live – Milanie Vosloo

Om soms te slow-live

Party dae kry ons berge versit net om die dag daarna te voel of ons niks gedoen het nie. Sommige tye in ons lewe is ons uiters produktief en kry ons ’n duisend dinge gelyktydig gedoen terwyl ons ander kere sommer net in ’n min-doen-fase is. Ja, soms is ons in die vinnige baan van die lewe waarin ons soos ’n rot moet hardloop om op die spinwiel te bly en dan beleef ons ’n seisoen waarin ons weer gewoond moet raak aan slow-living.

Nouja, soms is dit moeilik om jou lewensritme van die tempo in die vinnige baan na die stadiger beweegtyd te verander. Maar soms is dit nodig. Want soms hardloop ons vir te lank te vinnig. En dan … bring iets of iemand ons tot stilstand.

Dit maak nie regtig saak waar jy nou is nie, dit maak wel saak hoe jy die spoedmeter van jou lewe beheer. Dis belangrik om te weet wanneer jy oor die spoedgrens van jou lewe gaan sodat jy rem kan trap. Jy weet mos wat die gevolge van té vinnig-leef is!

Maar dis net so belangrik dat jy tyd maak vir die stadige-leef-fases: vir dié tye wanneer jy sonder druk die lewe in al sy fasette kan geniet. Wanneer jy tyd het vir dié dinge wat werklik saak maak.

Leef jou rotteresies-seisoen met versigtigheid en jou sklipad-fase met waardering. Albei kan vervullend wees.

Here Jesus, leer my om teen die regte spoed rég te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in jou jy-wees

Vervulling in jou jy-wees – Milanie Vosloo

Daar is wonderlike verhale van mense wat ongelooflike dinge kan doen, teenslae op wonderbaarlike wyses oorkom en teen alle logika in, die onmoontlike regkry. Wanneer ons hierdie mense se verhale lees, het ons altyd ’n keuse wat ons daarmee maak:

Ons kan kies of dit ons motiveer om die beste uit onsself te haal of ons kan toelaat dat dit ons aan ons eiewaarde laat twyfel. Of dit ons in ons hoekie van selfbejammering laat sit. Daardie hoekie waar ons vir onsself sê dat ons tog nie in staat is tot hoogtes, prestasies en groot dinge nie.

Nouja, as jy soms in jou hoekie-vir-jammer-kryers gaan sit, is jy presies waar Satan jou wil hê. Want Satan dryf mense na dié plekke waar hulle vertroue in hulself en hul God verloor. Hy weet immers dat die oomblik as ons in ons jammerkry-plek is, hy met ons kan maak net wat hy wil.

Niemand, ook nie God, verwag van jou om dinge te doen wat buite jou talentveld, ondervindingswêreld of vermoëns lê nie. Al wat die Vader van sy kinders verwag is dat elkeen van ons ons unieke talente na die beste van ons vermoëns sal uitleef. En dit maak nie saak of die prestasies wat ons daardeur behaal die koerante se hoofopskrifte behaal nie.

Wanneer ek en jy dit wat ons goed kan doen, góéd doen, leef ons ons doel op aarde uit. En dan sal ons ’n diep gevoel van tevredenheid en vervulling ervaar.

Here, ek wil my beste “ek” wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Jou werk, jou verlengstuk ?

Laat sy Liefde jou Lei: Jou werk, jou verlengstuk ? – Milanie Vosloo

Jou werk, jou verlengstuk?

Wanneer ek en jy in ’n posisie is waar ons ons spesiale talente en gawes as ons dagtaak kan uitleef, is ons bevoorreg. Want dan vind ons rede vir ons bestaan, geniet ons wat ons doen en is ons werk vir ons ’n verlengstuk van onsself. Die kanse is dan ook goed dat ons die spesiale roeping wat God vir ons hier op aarde beplan het, uitleef.

Vra jouself vandag die volgende vrae:

  • Wat is my unieke talente; dié dinge waarin ek goed is?
  • Wat is my natuurlik belangstelling? Vind ek dit in my huidige dagtaak?
  • As ek vandag (oor) kon kies, wat sou ek die heel graagste wou doen?
  • Wat behoort ek te verander of te doen om in staat te wees om dit te doen waarvan ek regtig hou en waarin ek goed is?
  • Wat is my plan van aksie, wat het ek nodig en wat kan ek doen om by daardie doel uit te kom?

Liewe mens, as jy sielsongelukkig is in wat jy doen, is jy verseker nie op die plek waar God jou wil hê nie. Dan het dit tyd geword om aan sy Vader-voete te gaan sit en ernstig met Hom te praat.

Besluit vandag dat jy wel (eendag?) dié werk kan en sal doen waarin jy werklik vervulling sal vind. En doen dan iets daaraan.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo