Laat sy liefde jou lei: Bid met ‘n verwagting!

Laat sy liefde jou lei: Bid met ‘n verwagting! – Milanie Vosloo

Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy gevra het nie. Jakobus 1:5

Geloof, sê Charles H Spurgeon, is die boodskapper-engel tussen die siel en Jesus op sy troon. Geloof is die telegrafiese draad wat aarde en hemel koppel en waarop God se engele van liefde so vinnig kan vlieg dat Hy soms antwoord voor ons roep en kan hoor terwyl ons nog besig is om te vra.

 

God is lewensgetrou. Meer nog is Hy tot die dóód toe getrou. Daarom kan ons met oorgawe aanvaar dat Hy elke enkele belofte en ooreenkoms met ons sal nakom. Veral ook dié wat bevestig dat Hy ons gebede sal beantwoord. Die vraag is egter of ons óns deel nakom. Want wanneer God sê dat Hy ons gebede sal beantwoord, vra Hy ook van ons ‘n paar dinge: Hy vra dat ons Hom sal gehoorsaam, dat ons ons versoeke voor sy troon sal bring en dat ons Hom daarna … sal vertrou. Jakobus 1:6-7 sê duidelik: Maar as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

 

God antwoord getroue, gehoorsame en gelowige kinders áltyd!

 

Here, ek luister vandag met verwagting en afwagting na u stem!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Liefde wat nie onderskei nie

Laat sy liefde jou lei: Liefde wat nie onderskei nie – Milanie Vosloo

“…Want dis presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal op aarde, of hulle goed of sleg is. Lukas 6:36a

“Dis maklik om oulike mense lief te hê. Hulle van wie ons hou of hulle wat self in oorvloed gee. Maar, Here, dis vrek moeilik om soos U lief te hê: te gee waar daar niks is, te glimlag in ‘n frons, vas te hou in ‘n wegstoot. Dis bitter moeilik om onvoorwaardelik lief te hê! Here, aanvaar my as een van u graad-eentjies en leer my geduldig die ABC van gratis liefde.” So skryf ek in my gebedeboek, Heeltyd by God.*

 

Hoe waar is die nie? Dis so natuurlik om liefde met wederliefde te beantwoord, om omgee te wys aan hulle wat dankbaar is en uit te reik na dié wat vir ons omgee. Wanneer ons egter die Woord lees, is dit duidelik dat ons Vader méér van ons verwag. Hy vra van ons iets van die onvoorwaardelike liefde wat sy Seun aan die kruis geopenbaar het toe Hy sy lewe vir dié mense gegee het wat Hom verwerp het. Hy vra van ons om liefde te gee sonder om beloning terug te verwag – Hy vra soms “moeilike liefde”.

 

Bid dat die Gees jou vandag sal help om liefde te gee daar waar dit vir jou onmoontlik voel. Jy sal verbaas wees watter verskil dit aan jóú lewe maak!

 

Vader, uit myself kan ek nie lief hê soos U nie. Deur U, kán ek! Werk in my asseblief.

 

* Heeltyd by God uitgegee deur Lux Verbi.BM 2003

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Om sommer net te bid

Laat sy liefde jou lei: Om sommer net te bid – Milanie Vosloo

Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees. Judas vers 20

Dis so maklik om gebed as ‘n versoekskrif by die hemel in te dien en dan te verwag dat God onmiddellik daarop moet reageer. Dit terwyl gebed soveel meer as net ‘n vraag- en antwoordsessie is. Gebed is om God se teenwoordigheid in jou hart te hóór. En jy hoor Hom wanneer jy:

 

  • Hom opsoek omdat jy sommer net behoefte daaraan het om by Hom te wees;
  • onder alle omstandighede bewus bly van sy teenwoordigheid;
  • spontaan jou leefwêreld met Hom deel en Hom inlaat in jou daaglikse doen en late;
  • jy groot en belangrike sake, maar veral ook klein nietighede met verwagting voor sy voete lê; en 
  • jy Hom, soms sonder ‘n spesifieke rede, sprakeloos dank en eer … net omdat Hy God is.

 

Wanneer jy in jou daaglikse lewenswandel so saam met God dink en doen, sal jy Hom op eienaardige en verrassende wyses hoor en sien. Meer as dit sal jy beleef dat jou hart, siel en denke verander. Ja, dat liefde permanent in jou hart gegraveer word!

 

Leer die gawe aan om heeldag jou gedagtes op God te fokus. Jy sal ervaar dat jy later so gebedsfiks word dat jy  toe-oё én oop-oё sommer net met Hom kan praat.

 

Alomteenwoordige God, ek wil vandag, nee, élke dag, permanent bý U wees. 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde

Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde – Milanie Vosloo

Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Romeine 13:8

 

Hoe graag sou ons nie almal skuldvry wou wees nie! Dink net wat ’n verligting dit sal wees as een of ander weldoener vandag al jou skuld betaal en jou boonop ’n paar miljoen gee vir enige toekomstige uitgawes en skuld. Meer nog: dink net wat ‘n heerlikheid dit sal wees as iemand al dié dinge waaroor jy so skuldig voel, eenvoudig uit jou lewe kon wegneem!

Nouja, ons dierbare Vader is nie ‘n aardse filantroop wat sakke vol geld aan almal uitdeel nie. Tog bied Hy ons soveel meer: Hy gee aan ons skuldvrye siele! Sy liefde wis eenvoudig al die dinge waaraan ons hart so swaar dra, uit. Die bloed van sy Seun haal ons uit die rooi van ons lewens en gee aan ons ‘n spierwit bladsy van vrede.

 

God gee hierdie vergifnisliefde gratis, maar vra daarmee saam dat ons, uit dankbaarheid teenoor Hom, self ook hemelse weldoeners sal wees. Hy vra hard en duidelik dat ons aan diegene wat iets aan ons skuld, ook die skoon bladsy van onvoorwaardelike vergifnis sal gee.

 

Deel jy die liefdesmiljoene wat God jou gee, ruimskoots aan ander uit? Gaan spreek vandag almal wat jou iets “skuld”, vry!

 

Genade-God, ek wil uit dankbaarheid oor my skuldvrye status u vergifnisliefde aan almal om my uitdeel. Help my om vrygewig in my liefde te wees asseblief?    

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo