Laat sy Liefde jou Lei: Die Duif se stem …

Laat sy Liefde jou Lei: Die Duif se stem … Milanie Vosloo

‘n Week later het hy nog ‘n keer die duif uitgelaat, maar hierdie keer het dit nie na hom toe teruggekom nie. Genesis 8:12

Dit was ‘n gewone, vaal duif wat ‘n waterskeidingsrol in Noag se lewe gespeel het. Noag moes weet wanneer dit veilig is om die ark te verlaat en stuur daarom drie maal ‘n duif op die verkenningstog uit. Die eerste keer moes die duif omdraai omdat hy nêrens staanplek op die watermassas kon kry nie. Die tweede keer kom hy terug met ‘n olyfblaartakkie … vol hoop. ‘n Week later verander hierdie hoop in ‘n vaste fondament toe hy uiteindelik sy wêreldse tuiste tussen die takke van die bome vind. Toe weet Noag dat die tyd amper reg is om die deure van die ark oop te maak.

Die goddelike Duif – die Gees van God – praat vandag steeds  met ons:

  • Soms sê Hy: “Wees geduldig. Wag en wéét: Op die régte tyd sal jy antwoorde en ‘n uitkoms kry.”
  • Ander kere fluister Hy: “Ek wil jou seёn met die olyftakkies van die lewe. Vind rus op die plek waar jy nóú is, want dis waar jou vreugde vandag lê.”
  • En dan is daar dié kere wat die Gees aan jou die groen lig gee om iets te doen. Wanneer Hy sê: “Gaan nou en doen wat ek vra. Die tyd is reg. Jou bevryding is hier.”

Wat dink jy sê die Heilige Gees vandag vir jou?

Praat met my, Here. Ek luister. En ek sal doen.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Leef binne sy goedgesindheid

Laat sy Liefde jou Lei: Leef binne sy goedgesindheid – Milanie Vosloo

Maar die Here was Noag goedgesind. Genesis 6:8

Wonder jy soms of jy God reg hoor? Ja, om ons Vader te gehoorsaam, is nie altyd maklik nie. Want soms vra Hy van ons dinge wat vir ons menslike verstandjies glad nie sin maak nie. Ander kere weer klink die taak wat Hy op ons skouers lê, vir ons hopeloos te groot en eenvoudig onmoontlik.

Ek is seker Noag was ook in groot vertwyfeling oor die Here se vreemde opdrag om ‘n reuse boot op kurkdroё grond te bou. Om nog boonop die verantwoordelikheid te neem om elke spesie van die diereryk op die ark te laai, kon hom maklik in vertwyfeling gelaat het. Tóg lees ons in Genesis 6:22 dat Noag presies gemaak het soos God hom beveel het. En die uiteinde? Die mensdom word uitgewis terwyl hy en sy gesin wonderbaarlik gespaar word.

Miskien het die Vader ook al vreemde opdragte aan jou gegee. Dalk is jy juis nou in ‘n fase waarin jy wonder wat God se wil oor ‘n bepaalde situasie is. Weet dan, jou Vader verstaan sy kinders se menslike vertwyfeling, maar Hy weet ook soveel meer: Hy weet presies wat vir ons, ander en sy koninkryk die heel beste is.

Bid dat die Gees jou hart wawyd oop sal maak vir sy stem, vra dat jy rég sal hoor en smeek Hom veral om jou onwrikbaar gehoorsaam te maak. Só leef jy binne God se wonderlike goedgesindheid en seёn.

Here, help my om te doen … selfs wanneer ek nie verstaan nie.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Soms is God spyt!

Laat sy Liefde jou Lei: Soms is God spyt! – Milanie Vosloo

Die Here het die omvang van die boosheid van die mensdom raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was. Die Here was spyt dat Hy die mens gemaak het. Dit het Hom diep bedroef. Genesis 6:5*

‘n Mens kan bykans nie glo dat God ook spyt kan wees nie. Tog lees ons dit in geen onduidelik taal nie: “Die Here was spyt dat Hy die mens gemaak het.” Duidelik het God ander verwagtinge van die hoogtepunt van sy skepping gehad. Sy handewerk was immers in alle opsigte góéd! As God destyds al so bedroef was oor die sonde van die mensdom was, hoe seer moet sy hart nie vandag wees oor al die onreg, pyn en stukkendheid van híérdie eeu nie? En tóg … bly Hy geduldig met sy kinders. Ten spyte van ons gebrokenheid, wil Hy steeds die bereid om die mensdom ‘n kans te gee om hulle te bekeer. En soos destyds met Noag, is Hy, ondanks ons sonde, altyd gewillig om dié wat Hom opreg liefhet, te seёn.

Kom ons kniel vandag weer voor ons Vader en dank Hom vir sy geduld met ons en dan loof ons Hom vir sy voortgesette genade en oneindige goedheid in ons lewens.

Mag jy elke dag só leef dat God oor jou sal glimlag. Onthou vandag Psalm 84:12b: Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie.

Genade-God, vergewe my vir al die kere wat ek U bedroef en help my om u werklik te gehoorsaam.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: “Skep moed!”, sê Hy

Laat sy Liefde jou Lei: “Skep moed!”, sê Hy – Milanie Vosloo

“ … Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die magtige Here, bevestig dit!” Haggai 2:9b

Miskien wonder jy met tye of God werklik uit die vervallendheid van jou lewe ‘n tempel van heiligheid kan skep. Ja, soms is ons so skaam oor ons eie lewens dat ons twyfel of God ons enigsins nog as sy beelddraer-kinders wil beskou. Wat nog daarvan om in en deur ons te leef?

Sulke tye moet ons ons maar net weer ernstig op die duisende beloftes van God se Woord beroep. Soos in die volk Israel se tyd toe die tempel ‘n murasie van afgebreekte mure was en God gesê het: “Maar skep moed … Skep moed en doen die werk, want Ek is by julle, sê die magtige Here. My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie.” (Haggai 2:4a, 5) Verder moedig God sy mense aan deur te sê dat die toekomstige roem van sy tempel selfs groter in die verlede gaan wees.

Hoor jy dit? Hoor jy hoe God in sy liefde vir jou sê dat ook jý moed kan skep? Dat jy moet onthou dat Hy uit enige situasie wonderwerke kan laat gebeur?

God se beloftes van trou aan jou sal nooit verdwyn nie. Daarom kan jy – ongeag alles – altyd moed hê in dié wete dat Hy enige iets met en deur jou kan doen!

Dankie getroue Vader, dat U uit my níks-wees-mens iets hemels-groot kan skep!


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo