Laat sy Liefde jou Lei: Ons wêreld versus sý wêreld

Laat sy Liefde jou Lei: Ons wêreld versus sý wêreld – Milanie Vosloo

Ons wêreld versus sý wêreld

“Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ‘n ruïne is? Die magtige Here sê: Dink ‘n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!” Haggai 1:4-5 

Die lewe het ‘n manier om ons weg van God af te skeur. Ons is eenvoudig so besig met ons daaglikse roetines, ons werk, huishoudings en die instandhouding van ons aardse lewens dat ons siele dikwels ‘n verwaarloosde ruïne is.

Daardie allerbelangrikste deel van ons menswees lê met tye soos ‘n vervalle huis wat nie meer bly-baar is nie! En wanneer dit gebeur, loop daar ‘n klomp ander dinge in ons lewens ook verkeerd. Verhoudings gaan van spoor af, ons emosies hardloop met ons weg en dinge voel eenvoudig nie lekker nie.

 

Die genade van God is egter dat Hy uit enige afgetakelde siel weer ‘n wonderlike nuwe tuiste kan bou. Hy kan van ruïne-mense weer tempels van aanbidding maak. Ja, Hy kan elke deel van jou wat stukkend en verwaarloos is, weer splinternuut skep. Al wat jy hoef te doen, is om jouself maar net daagliks oor te gee in die hande van die lewende God terwyl jy bid: “Here, vergewe my dat ek toegelaat het dat die wêreld my tyd en my lewe saam met U steel. Lei my terug en herbou U sélf weer elke muur van my siel.”

God se ewigheidswêreld gaan vir altyd hou. Kom ons bou daarom daagliks aan dit wat werklik saak maak: aan die mure van ons siele.

Ek wil ‘n geheiligde tempel van U wees, Here. Bou daagliks aan my asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Om sy woorde in te drink

Om sy woorde in te drink – Milanie Vosloo

Stuur u lig en u waarheid; laat dit my lei. Psalm 43:3a

Hoe meer ‘n mens die Woord van God lees, sy waarhede in jou lewe toepas en die wonders van sy Skrif jou eie maak, hoe meer wil mens nóg oor God weet. Hoe nader ons aan sy heerlikheid kom, hoe lekkerder en heilsamer word dit.

Daarom is dit so belangrik dat ons, wanneer ons sy Skrif en die menslike interpretasies daarvan lees, werklik die boodskap aan onsself sal toe-eien. Pas gerus elke keer wanneer jy die Woord lees, die volgende riglyne toe:

 

  • Vra: Wat sê God vir mý hier? Wat vra God regtig vir my?
  • Besluit dan in jou hart: Ek wíl Hom gehoorsaam. Ek wil doen wat Hy vra juis omdat ek as Christen so behoort te lewe.
  • Bid daarna dat God jou sal help om sy opdragte en riglyne te volg. Vra as’t ware: “Here, maak my hele menswees bruikbaar in u diens.”
  • Eien dan die Skrifwaarhede vir jouself toe: Sê en glo dat jy, deur die krag van sy Gees, reeds ‘n oorwinnaar is en reeds leef soos Hy jou vra. Eien ook God se beloftes van trou, hoop en troos vir jouself toe in dié wete dat Hy getrou is aan sy woord.

God praat in hierdie moderne eeu steeds met sy kinders deur sy onveranderlike waarhede. Drink dit elke dag in, maak dit jou eie en gaan leef dan in sy wonderlike lig. Meer as dit: wees jý die lig.

 

Here, laat u waarheid en u liefde vandag kragtig deur my leef asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

Skrywer: MIlanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Sy wonderlike Woord

Laat sy Liefde jou Lei: Sy wonderlike Woord – Milanie Vosloo

Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord (wat julle by ons gehoor het) aangeneem het. Julle het dit aanvaar, nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo. 1 Tessalonisense 2:13

Die feit dat jy die Bybelkennis-website gereeld lees, vertel ‘n klomp positiewe dinge oor jou. Dit sê dat jy ‘n liefde vir jou Vader het, dat dit jou begeerte is om Hom beter te leer ken, dat jy graag meer kennis oor God en sy Woord wil opdoen en dat jy werklik erns daarmee maak om iets van sy liefde uit te leef. Dis ook my begeerte dat jy deur die woorde hierin en die Skrif self versterk, bemoedig en geseёn sal word en sal beleef hoe jy nader aan jou Here groei.

Die Bybel is aan ons gegee sodat ons meer informasie oor ons God en sy groot heerlikheid kan kry. Maar sy Woord is by uitstek ook daar sodat ons ons lewens daardeur kan transformeer. Ons Here wil hê dat sy waarhede, wysheid en liefde ons lewens sal verander, dit sal herskep en sal omskep om waarlik die sout van die aarde te wees.

Bid daarom elke dag dat die Skrif vir jou meer as informasie sal wees; dat dit vir jou ‘n aansporing tot radikale geestelike transformasie sal wees. Ja, bid dat dit wat op jou ore val in jou hart ‘n tuiste sal vind en in jou lewe vergestalting sal kry.

Laat die Woord my lei in alles wat ek doen en is, Here. Ja, laat ek daardeur lig bring aan ‘n donker wêreld.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hou aan skyn, medegelowige

Laat sy Liefde jou Lei: Hou aan skyn, medegelowige – Milanie Vosloo

Hou aan skyn, medegelowige!

Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie. 1 Korintiërs 15:58c

Hierdie ou wêreld het ‘n manier om ons batterye pap te maak. Die kanse is soms goed dat ons, nog voor ons ons voete by die huis uitgesit het, alreeds deur een of ander vorm van negatiwiteit aangeval is. Misverstande, bekommernis, slegte nuus, dinge wat ons ontstel … lê en wag dikwels vir ons by ons by die voetenend van die bed.

Dis sulke dae wanneer ons wonder hoe op aarde ons tog God se lig kan wees. Hoe kan ons sy heerlikheid uitstraal as ons nie eens in staat is om één dag in vrede en liefde te leef nie? Waarom kies Hy nie maar ander engele om Hom hier op aarde te verheerlik nie? Wesens wat onaangetas deur die swakheid en sondigheid van die wêreld kan opereer?

Die waarheid is: God wil nie hemelliggame gebruik om sy verteenwoordigers hier op aarde te wees nie. Hy het ons gewone sterflinge uitgekies om die hoof van hierdie skepping te wees en sy ewige lig uit te straal.

Moenie toelaat dat die wêreld en sy dinge jou moeg en moedeloos maak nie. Jou God – die Een van die Lig – is in jou. Daarom is jy in staat om, ongeag alles, wél sy lig op aarde te wees. Probeer vandag maar net wéér! Deur Hom kán jy.

Here, maak my asseblief elke dag óór. Maak my só nuut dat U lig en waarheid werklik deur my kan skyn.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo