Laat sy Liefde jou Lei: As Jesus ma sou wees

Laat sy Liefde jou Lei: As Jesus ma sou wees – Milanie Vosloo

As Jesus ma sou wees …

So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde my voetstoeltjie. Jesaja 66:1

As Jesus ma sou wees, sou Hy ook skooltoebroodjies maak, taxi vir sy kinders ry en blomme in hul kamers sit …

As ons Meester ons aardse ma was, sou Hy, lank voor ons geboorte, ons bondeltjie menswees onder sy hart koester. Daarna sou Hy ons met groot ontferming voed, met teerheid sus en met deernis versorg. Hy sou sandkastele en lego-blokkies saam met ons bou, draai-op-roomys vir ons koop en stil-tevrede glimlag vir ons onskuldige kleuterskoolkonserte. Hy sou ook ‘n traan pik wanneer ons die eerste keer agter die skoolbanke inskuif, sy hart vashou as ons die sprong hoёrskool toe maak en hartseer wees as ons uit-die-huis-gaan-tyd aanbreek.

Maar Jesus sou méér wees as ‘n goeie dóén-mamma. Van kleins af sou Hy ons die mooiste Bybelstories vertel en ons leer hoe om met oorgawe te bid. Met elke dagbreek-oggend sou Hy ons aan sy Vader opdra en voor ons skooltoe gaan, sou Hy saam met ons uit die Woord lees. Wanneer ons met die normale lewensdinge stoei, sou Hy leiding gee vanuit die wysheid wat Hy sélf aan sy Vader se voete geleer het. Soms sou Hy met gesag praat. Ander kere … sou sy voorbeeld meer as ‘n duisend woorde sê. En wanneer ons nie by Hom is nie, sou sy gedagtes ons die heeltyd met die hemel verbind.

Gaan leef Jesus se ma-wees eienskappe aan jou kinders en ander uit.

Dankie dat U voelbaar bý my is, Here.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Pa … wat ook Ma is

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Pa … wat ook Ma is – Milanie Vosloo

‘n Pa … wat ook Má is

Kan ‘n ma die baba vergeet wat aan haar bors drink? Kan sy geen medelye hê oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou dit tog moontlik wees. Ék sal jou nie vergeet nie! Jes 49:15

 

Is God by uitstek vir jou net ‘n manlike figuur? Dalk wil Hy jou dan verras met dit wat Hy – bo en behalwe alles wat jy van Hom dink – nog méér is.

Wanneer ons sê dat God soewerein is, beteken dit dat Hy dié Wese met die hoogste gesag in hemel en op aarde is. Ja, groot, heilig en onverklaarbaar en onbeskryflik is Hy. As Vader is Hy jou Versorger, as Seun jou Verlosser en as Gees is Hy jou Leidsman … jou Vertroueling met wie jy ‘n persoonlike verhouding kan hê. Maar God is nog veel meer as dit: Hy is ook Moeder! Hy is die Ma wat ons met sagtheid troos, met haar lewe beskerm, met begrip dissiplineer, met oorleg raadgee; wat áltyd gereed is om te help … en ons ‘n duisend maal vergewe! Die Woord bevestig dit aan ons wanneer ons in Hosea 11:3 lees dat God sê: “Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop; Ek het Hom in my arms gedra …”, en in Jesaja 66:13 dit bevestig deur te sê: “Soos ‘n moeder haar kind troos, so troos Ek julle.”

Lê vandag jou kop teen die hart van jou onsterflike Moeder en ervaar jou God se intense liefde vir jou!

O Here! O liefdevolle Moeder-van-my-hart!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo





Laat sy Liefde jou Lei: God is jou Vader

Laat sy Liefde jou Lei: God is jou Vader – Milanie Vosloo

God is jou Vader

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee? Psalm 8:5

Ons ken die begrip, “Vader” so goed. Elkeen van ons het immers ‘n baie spesifieke beeld van wat Vader vir ons beteken. Vir sommige van ons is dit die liefdevolle mens by wie ons altyd skuiling kan gaan vind, vir ander is dit die versorger en vir party is “Pa” ongelukkig ‘n gesagsfiguur wat gevrees word.

Die feit dat God ons “Vader” genoem word, beteken dat Hy ‘n persoon is. Hy is nie net ‘n koue afgodsbeeld of iets wat ver bo ons verstand is nie. Hy is ‘n lewende Persoon wat in die rol van ‘n volmaak-liefdevolle Pa na sy kinders omsien. Anders as ander pa’s is hierdie Vader egter sondeloos en foutloos. Daarom sal Hy nooit iets doen wat ons sal teleurstel, seermaak of in die verleentheid bring nie. Boonop is hierdie onfeilbare Vader se opvoedingsproses met ons perfek: Hy weet presies wat elkeen van sy kinders op ‘n bepaalde tydstip nodig het en lei ons met ‘n sagte hand op die weg wat Hy weet ons moet gaan. Ons hemelse Pa se liefde vir ons nie afhanklik van ons gehoorsaamheid, prestasies of ons liefde vir Hom nie. Sy liefde vir sy kinders – vir jou – is eenvoudig on-voorwaardelik.

Beleef vandag iets van die liefdevolle Vader wat God vir jóú wil wees wanneer jy hoor hoe Hy vir jou sê: Jý is my geliefde kind!

Dankie dat U mý Vader-God is wat met my groot teerheid teen u bors vashou.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wie is God vir jou?

Laat sy Liefde jou Lei: Wie is God vir jou? – Milanie Vosloo

Wie is God vir jóú?

Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid? Wie mag woon op u heilige berg? Psalm 15:1

Elkeen van ons het ‘n baie spesifieke beeld van God. Wanneer jy aan Hom dink, met Hom praat, soms vir Hom bang is en ander kere na Hom verlang, roep Hy by jou ‘n bepaalde beeld op. Dalk sien jy die Kinderbybel-prentjie van die Man met die baard, lang rok en uitgestrekte arms of die Een vir wie jy maar jou versoeklysies-van-die-dag kan neem. Dit mag wees dat jy Hom as die onaantasbare Heerser sien wat ver bo die aarde op sy magtige troon sit of dalk is Hy vir jou ‘n polisiefiguur vir wie jy eintlik nogal bang is?

Die manier hoe jy God sien sal bepaal hoe jy aan Hom dink, oor Hom voel, met Hom praat en na Hom luister. Dit sal ook ‘n aanduiding wees van die aard en vlak van jou verhouding met Hom. Om God te ken – regtig te kén – lê waarskynlik ver buite ons menslike vermoёns en begrip. Tog laat God toe dat sy skepsels genoeg van Hom weet en verstaan dat ons in ‘n intieme verhouding met Hom kan leef: ‘n verhouding waarin ons Hom leer ken vir die liefdevolle Vader wat Hy régtig is.

Om God te ken en elke dag nader aan Hom te beweeg is ‘n wonderlik verrassende ervaring. Besluit vandag om, sonder enige vooropgestelde idees, toe te laat dat Hy Homself – dit wat Hy in wese is – aan jou openbaar.

Here, ek het U lief. Daarom wil U werklik ken!

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo