Laat sy Liefde jou Lei: Probeer anders voel

Laat sy Liefde jou Lei: Probeer anders voel – Milanie Vosloo

Probeer ánders voel

Sing vir die Here ‘n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Hy het verlossing bewerk met sy krag en Goddelike mag … Breek uit in sang, sing van vreugde! Psalm 98:1,4

Soms het ons rede om in sak en as te sit en kla. Ander kere is ons geneig om met ’n groot gesnyde wit brood onder die arm ons lot te bekla teenoor almal wat wil luister (en selfs dié wat regtig nie lus is om te luister nie!). Dis die kere wanneer ons soos klein babatjies oor alles huil. Die geringste wind, hongerte, ongemak of nattigheidjie maak ons “ê-erig”!

As jy vandag so voel, kan jy dalk ‘n stuk bevryding ontvang deur die volgende te doen:

  • Onthou ‘n slag wat jy wél het. Wanneer jy wegkyk van jou verliese en raaksien wat jy oor het, sal jy besef hoeveel onverdiende genade en seёn daar steeds in jou lewe is.
  • Vergeet so bietjie van jouself. Ja, soms neem ons onsself, ons eie belang en emosies hopeloos te ernstig op!;
  • Kyk weg van jou eie klein wêreldjie en sien raak dat daar duisende ander is wat veel groter behoeftes, nood en lyding het.
  • Bid die volgende: “Here, maak my vry van hierdie klaagster-sindroom en help my om ’n ondanks-alles-vreugde-mens te wees”.

Bid vandag dat die Vader al die onnodige kla-onkruid uit jou hart sal spit en in die plek daarvan dankbaarheidsblomme sal plant.

Vergewe my my onnodige negatiwiteit, Vader en help my om weer ánders te dink, ánders te voel en ánders te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milamie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Jy is geregtig op vrede

Laat sy Liefde jou Lei: Jy is geregtig op vrede- Milanie Vosloo

Jy’s geregtig op vreugde!

My vyande, julle moenie julle verlekker nie! Ek het geval, maar ek sal weer opstaan. Al sit ek nou in duisternis die Here is ‘n lig vir my. Miga7:8

Depressie kan ’n duisend oorsake hê. Of geen! Want soms bekruip hierdie beklemmende gevoel ons op die mees ongevraagde tye. Soms met rede. Ander kere voel ons teen die planke sonder enige spesifieke oorsaak.

Die feit is: Depressie kom nie van God af nie. Die laaste ding wat ons Vader wil hê is dat ons morbied en swaarmoedig sal wees. Depressie kom eenvoudig van Satan af. Hy is die een wat mense se vreugde en passie vir die lewe steel sodat hulle sinloos en moedeloos voel.

As jy ’n erger graad van depressie beleef en al ’n geruime tyd daarmee stoei, is dit belangrik dat jy sal onthou dat God jou ook in jou donker uur met teerheid toevou, maar dat Hy ook weer wil sien dat jy die lig sal sien. Daarom moet jy werk daarvan maak. Dalk kan ’n geestelike leier of berader jou help. Soms kan dit selfs nodig wees dat jou mediese dokter medikasie moet voorskryf. Ander kere is dit dalk moontlik dat jy dit saam met die Gees van God en aan die hand van ’n getroue vriend/in, kan oorwin.

Moet nooit die vreugde wat Satan by jou gesteel het, aan hom oorgee nie. Eis jou blydskap en passie vir die lewe terug in die Naam van jou Vreugdekoning: jou Verlosser.

God-van-vreugde, verdryf asseblief die donker in my lewe met u lig … met U self.

 

Skrywer: Milanie Vosloo





Laat sy Liefde jou Lei: Hardloop struikelvry in die liefde

Laat sy Liefde jou Lei: Hardloop struikelvry in die liefde – Milanie Vosloo

Hardloop struikelvry in die liefde

“ … Om My te volg is nie altyd maklik nie.” Markus 8:34B

Die lewe is nie ’n oefenlopie nie! Ons is nie net hier vir een van vele oefensessies voordat ons eendag aan die finale wedloop gaan deelneem nie. Ons is rééds besig met ons laaste – en enigste – wedloop van die lewe. En die manier hoe ons hier en nou hardloop gaan bepaal watter kroon ons eendag ontvang.

Die vereistes vir ons lewenswedlope is tegelykertyd eenvoudig en maklik en soms baie moeilik en ingewikkeld. Die eenvoud lê in die feit dat daar maar net een allesomvattende strewe, naamlik die liefde, is. Ons weet mos al dat die mate waartoe ons die Vader, onsself en ander liefhet, die enigste maatstaf vir die hemelse kroon gaan wees. Maar dis juis wat die deelname aan die lewenswedloop so moeilik maak. Want om elke dag met passie en entoesiasme almal rondom ons met onvoorwaardelike liefde te bederf, is geen maklike taak nie. Die hekkies van selfsug en die versperrings van gerief staan heel dikwels vierkantig in ons pad en keer op keer struikel ons oor een van ons sondes en menslike swakhede op pad wenpaal toe.

Om voluit in die liefde te leef, beteken dat ons elke dag … dwarsdeur die elke uur … in afhanklikheid van ons Vader sal leef. Dat ons keer op keer sal sê: Here, maak my leeg van myself en vol, propvol, met u liefde.

Vader-God, uit myself kan ek nie met oorgawe liefhê nie. Mét U, kan ek! Help my asseblief.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wat bêre jy op hul onthou rakke?

Laat sy Liefde jou Lei: Wat bêre jy op hul onthou rakke? – Milanie Vosloo

Wat bêre jy op hul onthou-rakke?

Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Ja, leef ‘n lewe van liefde. Efesiёrs 5:1 – 2a

Indien jy vandag te sterwe sou kom, wat sou jy nalaat? Vergeet vir ’n oomblik van die besittings wat jy in jou testament bemaak het en vra jouself: Watter hártsdinge los ek hier agter? Waarvoor sal ander jou méns onthou? Sal hulle aan jou dink as iemand wat ‘n positiewe verskil in hul lewens gemaak het omdat jy aan hulle gewys het hoe God se liefde lyk?

Hoe sal die mense naby aan jou – jou man, kinders, familie, vriende en kollegas – oor jou menswees-nalatenskap voel? Sou hulle dit wat jy is en doen, op hul “mooi herinnerings-rakke” bêre? Sou hulle wil onthou hoe goed jy hulle laat vóél het? Hoe jy hulle opgebeur en positief beïnvloed het? … Of nié?

Hierdie tipe vrae laat ’n mens soms ongemaklik en skuldig voel. Want nie een van ons is engeltjies nie. Ons is almal maar te geneig om uit selfsug dinge te sê en te doen wat ander liewer wil vergeet. Ja, sonder die inwoning van die Gees van God is nie een van ons hoegenaamd in staat om verskilmaakliefde in die harte van ander te laat nie.

Kom ons kniel en vra die Vader om ons elke oggend óór te maak: Om ons hart en siel propvol te maak van sy soort liefde: dié liefde wat ander sal wil onthou.

O Vader, ek wil graag ‘n goeie-onthou-mens wees. Laat u liefde in my leef, asseblief.

 

Skrywer: Milanie Vosloo