Laat sy Liefde jou Lei: Ek het God gevra …

Laat sy Liefde jou Lei: Ek het God gevra … – Mlilanie Vosloo

Ek het God gevra …

God wil hê dat alle volke op aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal. Handelinge 17:27

Vir baie jare het ek geworstel met die sinvolheid van mý lewe. Toe ek jonk was het ek geglo dit lê in ’n perfekte lyfie en skoonheid. In my twintigs het ek God gevra om aan my sukses, rykdom en geluk te gee. Na my kinders se geboortes, het my gebede meestal om hul beskerming en geluk gedraai terwyl ek al hoe meer vir wysheid begin bid het. Namate ek ouer geword het, het die kwessie van gesondheid ’n groot deel van my gebede uitgemaak … Ja, ons menslike gesprekke met God gaan mos maar heel dikwels oor onsself, die mense vir wie ons lief is en ons beskerming en voorspoed hier op aarde.

Natuurlik luister God na al ons mens-gebede en die detail van ons lewens. Tog dink ek dat God wil hê dat ons geloof en gebede ook sal groei tot vaste spys-voedsel. Ek dink Hy wil baie graag hê dat ons meer sal vra: Here, laat u wil deur my lewe geskied. Neem my menswees, heilig dit en laat ek dan sigbaar en hoorbaar u beelddraer wees.

Mag ek en jy die genade ontvang om tot God te bid vir die klein dingetjies, maar mag ons ook die onderskeidingsvermoё hê om vir dié dinge te bid wat werklik ‘n ewigheidsverskil maak.

Here Jesus, dankie dat my hele menswees ‘n kragtige instrument in u hande is.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Kinderlike Passie

Laat sy Liefde jou Lei: Kinderlike Passie – Milanie Vosloo

Kinderlike passie

Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy so wil … Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom.’” Handelinge 17:28a en 29a

Jou Skepper het meer in jou gesit as wat jy ooit kan droom of ooit in jou leeftyd kan uitleef. Miskien het jy al ’n groot deel van jou menskwaliteite uitgebou en kan jy met oortuiging sê dat jy jou goddelike potensiaal met passie leef. Hopenlik het jy ook in die afgelope paar dae opnuut motivering gevind in jouself, jou talente en vermoёns. Dalk het jy ook weer besef dat, soos John C Maxwell gesê het, God se koninkryk ongetwyfeld bevorder word deur mense met ‘n bietjie talent wat klein dingetjies vir ‘n groot God doen.

 

Ons kan almal sinvol en betekenisvol leef wanneer ons Gees van God toelaat om deur ons te werk en wanneer ons Hom vra om God se wil deur ons te laat werk. Kom ons bid daarom elke dag die volgende gebed: Dierbare Skepper, dat U in my eindelose moontlikhede geplaas het en dat U boonop aan my die toerusting gee om dit uit te leef. Vergewe my vir al die kere wanneer ek bang of lui terugdeins vir die uitdagings van die lewe. Maak u wil aan my bekend en help my om dit elke dag met die entoesiasme van ’n kind aan te pak en uit te voer.

Ja, Here, help my om dit wat reeds in my is, ten volle te ontwikkel.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hoe dink Hy oor jou?

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe dink Hy oor jou? – Milanie Vosloo

Hoe dink Hý oor jou?

Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Jesaja 55:8a

Niemand van ons is verniet op hierdie aarde nie. Ook nie jy nie. Toe God besluit het om jou in jou moeder se skoot te plaas, het Hy oor jou gedroom .. gesien hoe jy as mens ontwikkel, met passie leef en ‘n ware dissipel vir Hom is.

Nou mag jy sê: Waar is dié ongelooflike “ek” wat God gemaak het vandag? Voldoen ek aan sy reuse verwagtinge? Leef ek al die goed en mooi wat Hy in my geplaas het met passie en waardering uit? Of het ek mettertyd myself begin sus met “gewoon-wees”. Met woorde soos “Ek is maar so-so”, “Ek het tog nie juis talente nie” of “Ander mense is soveel meer besonders as ek.”? As dit jou gedagtegang is, moet jy weet: Jy dink nie soos God dink nie. En jy gebruik waarskynlik nie die wonderlike talente en gawes wat Hy in jou geplaas het nie. En dan … staan jy die kans om dit te verloor.

Onthou: jy hoef nooit geïntimideerd te voel oor die gawes en talente van ander nie. Die mens wat jy is en dit wat God in jou geplaas het, maak van jou die beste jý. Jy moet dit net met oorgawe gaan lééf!

Meester-mensmaker, help my om u droom vir my lewe, te volg!

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Jy het wonderlike Talente!

Laat sy Liefde jou Lei: Jy het wonderlike Talente! – Milanie Vosloo

Jy hét wonderlike talente!

Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor ek dit gestuur het. Jesaja 55:11

Ons is almal karakter in God se Storie-van-die-lewe. Nou maak dit regtig nie saak hoe lank jou karakter hier op aarde is nie, wat wél saak maak, is wat die kwaliteit van jou lewe is terwyl jy nog besig is om aan jou storielyn skryf.

Vra jouself vandag die vraag: Waar en hoe pas ek in in die verhaal van God in? Is ek regtig die mens wat Hy beplan het ek sal wees en is my gedeelte van sy Storie eg, waar en goed?

Dit wat jy is en die talente wat jy ontvang het, is nie toevallig nie. God het presies geweet wat Hy vir jou met jou spesifieke persoonlikheid moes gee. Dis waarom jy is wat jy is en kan doen wat jy doen! En dis waarom jy op jou manier so ‘n groot deel uitmaak van sy groot Raadsplan. Wanneer jy dus jou talente en gawes met passie uitleef, maak jy van ‘n dood gewone mensstorie ’n uitmuntende verhaal. ‘n Mens-verhaal waaroor God stil glimlag.

In jou is daar eindelose potensiaal wat ontsluit kan word. Wanneer jy jou volle menswees uitleef, ontwikkel en tot eer van God aanwend, sal jou lewe méér as net sin maak: dit sal ewigheidswaarde inhou!

Meester, wys my hoe ek, dit wat ek is en het, nog beter kan leef.

 

Skrywer: Milanie Vosloo