Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede!

Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede! – Milanie Vosloo

“Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike familie.” Matteus 12:50

 

God se opdragte is nooit goedkoop nie. Dan sou almal mos doen wat Hy vra. Nee, ons Here vra dikwels juis die effens moeiliker dinge van ons. Soms selfs die oёnskynlik onmoontlike. Want ons God weet waartoe ons in staat is wanneer ons dit sáám met Hom doen.

 

Die heerlikheid van gehoorsaamheid lê dikwels nie in die uitkoms nie, maar in die blote wéte dat jy getrou aan sy stem was. Want gehoorsaamheid bring ongekende vrede in die harte van God se kinders. Dit maak jou vry van jouself, van wêreldse bande, van aardse goed en van skuldgevoelens. Oombliklike gehoorsaamheid, sê Rick Warren, gaan jou meer van God leer as ‘n leeftyd van Bybelstudie. Jy sal sommige bevele trouens nooit verstaan as jy hulle nie eers gehoorsaam nie.

 

Onthou vandag, jy kan nooit ‘n fout maak as jy aan God gehoorsaam is nie, want wanneer jy doen wat Hy vra, sê wat Hy van jou verwag en leef soos wat Hy hou voorskryf, sal dit altyd tot jou beswil en tot sy eer en verheerliking wees.

 

Gehoorsaamheid aan God laat jou tevrede voel selfs al moes jy opoffer; dit gee aan jou rus selfs al werk jy baie hard en dit plaas ‘n stuk dankbaarheid in jou hart selfs al het jy nie alles wat jou hart begeer nie.

 

Heilige Gees, leer my om u stem nie net te hoor nie, maar sonder aarseling te doen wat U vra.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: ”Selfs al sou …”

Laat sy liefde jou lei: “Selfs al sou …” – Milanie Vosloo

Selfs al sou die vyeboom nie bot nie … sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos! Habakuk 3:17a, 18b

 

Elkeen van ons het ons eie vyeboom-lewens. Daar’s tye wanneer dit fantasties met ons gaan en die takke van ons harte swaar hang aan al die oes wat ons oplewer. En dan is daar dié fases wanneer dit voel of ons vrug-arm is: tye waarin dit voel of niks wil uitwerk nie, ons aan onsself, ander en die lewe twyfel of ons sommer net ongemotiveerd en moedeloos voel. Ander kere weer beleef ons droёtak-tye wanneer dit voel of ons maar sommer net nóg ‘n boom is wat iewers ongesiens geplant is? Natuurlik is daar dié stadiums wanneer die storms van die lewe ons wortelstelsel ernstig wil uitruk en ons wonder waar ons hulp vandaan gaan kom.

 

Sulke dae is dit goed om weer te lees hoe innig Habakuk ook geworstel het en hoe Hy geleer het om God te vertrou … ten spyte van … Hy het gekíés om selfs in dié tye toe sy toekoms bleek en hooploos gelyk het, onvoorwaardelik te bly glo. Hy het besluit om ‘n “nogtans-gelowige” te wees: Om ten spyte van ‘n misoes-periodes steeds in die Here se genade te jubel.

 

Bid vandag dat jy altyd die vermoё sal hê om te juig oor die feit dat jy ‘n verloste is wat, ondanks alles, ondersteun word deur jou getroue Vader.

 

Saam met Habakuk getuig ek: U, die Here, is my krag.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Wat verwag jou Vader van jou?

Laat sy liefde jou lei: Wat verwag jou Vader van jou? – Milanie Vosloo

“… Laat hulle wat spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp dat Ek die Here is wat reg en regverdig is, wie se liefde onfeilbaar is, want dit is die dinge wat My bly maak. Ek, die Here, het dit gesê!” Jeremia 9:24

 

Dis maklik om van God te vergeet! Verál wanneer dit met ons baie goed gaan, ons min bekommernisse het en ons buitengewone voorspoed geniet. Dan kan ons gou onder die illusie leef dat ons prestasies, suksesse en rykdom uit onsself is … en dat ons God nie regtig só nodig het nie.

Voorspoed het mos ‘n manier om ons gou van ons kinderlike en afhanklike geloof te stroop. En wanneer dit gebeur het, is ons presies waar Satan ons wil hê. Wanneer ons op ons eie missie is en ons hand uit God s’n laat gly het, kan die bose met ons maak net wat hy wil. Iets wat tragiese gevolge kan hê!

 

Liewe medegelowige, wanneer dit met jou goed gaan, jy gelukkig is en op alle terreine van jou lewe die goeie geniet, beleef jy ‘n wonderlike fase van jou lewe. Geníét dit! Want dis God se geskenk van goedheid aan jou! Maar weet ook, dat niks wat jy is of het, daar sou wees sonder die genade van jou Vader nie.

 

God verwag van ons dat ons in slegte én goeie tye Hom met dieselfde passie sal aanbid. Dis wanneer ons dubbele seёn ervaar!

 

Dankie Here vir u onuitspreeklike genade en seёn-op-seёn in my lewe! Dankie!

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Jy = sy spesiaal geweefde mens!

Laat sy liefde jou lei: Jy = sy spesiaal geweefde mens! – Milanie Vosloo

Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, hete God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons n nuwe lewe gegee. Ons kon weer oor begin. Efesiërs 2:4

 

Wat ’n voorreg dat ons Skepper vir elkeen van ons ’n unieke patroon gebruik het toe Hy ons gemaak het en dat Hy ons volgens daardie spesiale patroon stekie vir stekie aanmekaar geweef. Daarna het Hy ons met verwagting in hierdie wêreld neergesit sodat ons iets van sy grootheid en liefde teenoor mekaar kon leef.

 

As ons met soveel sorg gemaak is, waar het dinge dan verkeerd geloop? Wanneer het die perfekte gemaakte mens se steke losgetrek? En waarom hang daar nou dikwels net toiings aan aan ons harte? Omdat die gebrokenheid van hierdie stukkende wêreld ’n manier het God se patroonmense uit mekaar te skeur! Ongehoorsaamheid, skuldgevoelens, seerkry, verwerping, bekommernis en ’n duisend ander dinge is alles instrumente in die hand van Satan wat hy inspan om van ons uitgetorringende mense te maak: Mense wat skeefgetrek en losgeskeur  is … en daarom ongelukkig is. Maar, dank Vader, dat ons nie so hoef te bly nie! Dat die genade van God elkeen van ons weer … en weer oorweef.

 

Liewe mede-toiingmens, kom ons kniel maar net elke dag in groot dankbaarheid voor ons gróót Ontwerper-van-lewe in die wete dat elkeen van ons, ondanks alles, sy kosbare kunswerk bly.

 

Here Jesus, neem my losgeskeurde menswees en maak my heeltemal oor. Ja, maak my nuut in my liefde vir U. myself en ander.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo