Laat sy liefde jou lei: Volg Hom … ook in die mis

Laat sy liefde jou lei: Volg Hom … ook in die mis – Milanie Vosloo

 

Wonder jy ook soms, wanneer jy na ander Christene se verhale luister, waarom jy nie ook so ‘n direkte verbinding met God het soos hulle nie? Ons sou mos almal soms ‘n selfoonoproep van die Vaderhuis wou wees!

As jy soms sukkel om die Here se stem en sy wil vir jou lewe werklik te hoor, sal jy dalk vrede vind in die woorde van John Eldredge – ’n wêreldbekende kerkleier – wanneer hy sê: “Ek hoor hoogstens twintig dae van die jaar God se stem duidelik. Die ander 346 dae is God se wil vir my soos ’n digte mis waardeur ek moet worstel.”

Ons dierbare Here gee nie altyd klinkklare antwoorde en uitgespelde oplossings aan sy kinders nie. Hy gee aan ons wysheid, die Woord, die sagte influistering van die Heilige Gees en ons eie gesonde insig en oordeel. Wanneer ons egter in eerbied en ontsag sáám met God wandel, sál Hy vir ons op sy manier wél die regte pad wys. Op hierdie pad sal jy instinktief weet waar Hy is en Hom dan blindelings te volg.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Die Here vra gehoorsaamheid

Laat sy liefde jou lei: Die Here vra gehoorsaamheid – Milanie Vosloo

“Ek sal Jerusalem maak tot ‘n bouval. Dit sal ‘n plek wees waar die jakkalse graag sal lê.” Jeremia 9:11

Die Skrif is propvol gelaai met beloftes van God se goedheid. En dis uiteraard vir ons altyd lekker om te lees hoe ons Vader ons liefhet en wil seёn. Maar die Woord is ook deurspek met ernstige oproepe tot gehoorsaamheid juis omdat ons liefdevolle Vader wéét wat die gevolge van ongehoorsaamheid is. Daarom is sy riglyne vir ‘n gelukkige lewe, sy waarskuwings en sy uitsprake teen sonde net so dringend soos sy beloftes van trou.

 

Natuurlik het ons Vader baie begrip en deernis met ons menslike swakhede en gee Hy sy vergifnis in oormaat aan ons. Maar daar is ook ‘n punt waar God sê: “Hoekom hou Jerusalem aan om My te bedrieg? Hoekom weier hulle om terug te kom? … Ek sal hulle oeste wegneem … Wat Ek vir hulle gegee het, sal Ek weer terugneem.” (Jeremia 8:5b, 13a,c)

Dis skrikwekkend om te besef dat God só ernstig is oor gehoorsaamheid dat Hy selfs sy goedheid van ons kan weerhou juis omdat Hy ons wil terughê by Hom. Ja, die Here kan oornag ons lewe in ‘n bouval verander!

Waar staan jy vandag? Met jou hand en hart suiwer gerig op jou Leidsman? Of iewers op ‘n plek waar Hy dalk vir jou vra: “Kom terug na My, my kind!”

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: Kom terug na Hom toe!

Laat sy liefde jou lei: Kom terug na Hom toe! – Milanie Vosloo

Kom nou terug na jou God toe. Tree op met liefde en regverdigheid, en lewe voortdurend met ‘n vaste vertroue in jou God. Hosea 12:7

Ons almal loop soms weg van God af. Ons doen sonde wat ons laat skuldig voel of ons dwaal bloot weg van Hom omdat ander dinge vir ons belangriker geraak het.

 

Die boek Hosea vertel die verhaal van Efraim wat presies ook dit gedoen het. Hulle het ooreenkomste met vreemde volke gesluit, op hul eie krag staatgemaak en boonop agter ander afgode aangeloop. Hosea was daar om vir die volk te vertel dat hul wegloop-van-God-af-truuks hulle in ernstige moeilikheid gaan bring en dat Hy sy seёn van hulle gaan weerhou. Daarom vra Hy hulle om om te draai en terug te kom na die God toe wat hulle so liefhet sodat hulle weer met vertroue en vreugde kan lewe.

Waar is jy op die oomblik? Naby aan God? Aanbid jy Hom met jou hele hart en probeer jy om binne sy wil te leef? Of is jy op in ‘n wegloop-tydperk waarin jy dink jy kan min of meer sonder Hom oor die weg kom?

Miskien roep God jou ook vandag terug na Hom toe met dié woorde: “Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte gered. Jy het geen ander God as Ek nie, want daar is geen ander redder nie. Dis Ek wat jou in die woestyn, in daardie dor land, versorg het.” (Hosea 13:4)

Here, hier is ek, u wegloopkind wat terug wil kom.

 

 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy liefde jou lei: “Ek kan nie bid nie!”

Laat sy liefde jou lei: “Ek kan nie bid nie!” – Milanie Vosloo

Die Gees van God help ons ook nog boonop met ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Romeine 8:26

 

Daar’s tye wat ons eenvoudig nie kan bid nie. Dis asof daar ‘n groot muur tussen ons en God is en ons wil uitroep: “Here, ek kan nie met U praat nie! Woorde wil nie vorm uit my seer nie. My gedagtes spring soos popcorn in ‘n mikro rond. Miskien … wíl ek nie bid nie? … O Gees, bid asseblief vir my …”*

Die oomblik as jy so jou afhanklikheid verklaar, kan jy weet: Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. (Rom 8:27) Hoor jy dit? En besef jy dat die liefdevolle Gees van God jou hart verstaan en dat Hy in sulke tye vir jou bid? Jy hoef dus nooit te wanhoop wanneer jy nie kan bid nie. Jy kan in sulke tye maar net stil word in die teenwoordigheid van God, jou gedagtes vrylik laat vloei en toelaat dat die Gees jou gedagtes vir jou vorm.

Heilige Gees, ek kan nie bid nie. Sal U dit asseblief vandag vir my doen?

*Uit: In Gesprek met God, Milanie Vosloo Uitgegee deur Lux Verbi BM

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo