Laat sy Liefde jou Lei: Jou spanmaats het jou nodig

Laat sy Liefde jou Lei: Jou spanmaats het jou nodig – Milanie Vosloo

Jou spanmaats het jóú nodig

Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieё wat knak, en laat julle voete reguit vorentoe hardloop. Dan sal die beseerde voete nie ingee nie, maar eerder gesond word. Hebreёrs 12:12

Hoe meer ons dink dat ons uniek is, hoe meer kom ons agter dat daar ‘n duisend ooreenkomste tussen ons as mense is. Dit maak nie saak hóé vol selfvertroue iemand lyk nie, diep binne in hom/haar lê daar ook maar ‘n stukkie vrees, onsekerheid, twyfel en ‘n paar bondels wegsteek-bagasie.

Met kinders van God is dit niks anders nie. Elkeen van ons ervaar – ongeag die diepte van ons geloof – tye waarin ons ver van God voel, onseker is oor sy liefde is en skaam is oor ons eie sonde-swakheid. Juis daarom het ons as gelowiges mekaar so nodig. Ons kan bloot deur ons eie skanse te laat sak vir ander sê: “Dis okay. Ek verstaan. Ek weet hoe jy voel, want ek het ook al geloofskrisisse en sondeskuld ervaar. Maar … ek is daar vir jou. Ek is daar om na jou te luister, jou moed in te praat of sommer net vir jou te bid.”  

Dalk is daar mense in jou kring wat smag na begrip, na iemand wat sommer net bereid is om hul hart se roep te hoor. En miskien is jý juis die een wat die wêreldse verskil aan jou spanmaat se lewe kan maak.

 

Mag die Gees jou sensiteer om jou geloofsmaats se hande … en harte hoog te hou.

 

Maak my hart oop vir ander se broosheid, Vader.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart

Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart – Milanie Vosloo

Hang skoon wasgoed in jou hart!

Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. Moenie lelike dinge sê nie. Spreuke 4:23 – 24a

Ons steek dikwels dit wat regtig in ons harte is, met vroom woorde weg. So bluf ons mekaar soms met mooi woorde terwyl ons eintlik iets totaal anders dink. En dan, op ‘n dag, stort ons daardie gedagtes in woorde teenoor iemand uit … wat groot en onnodige skade berokken. Die feit is dat ons nie vir baie lank vuil wasgoed van ons hart kan wegsteek nie. Een of ander tyd word ons ware kleure hoor- en sigbaar.

Salomo het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het dat dit wat in ons hart gebeur, die allerbelangrikste basis van wysheid is. Dit is immers dié deel van ons menswees waaruit ons hele lewe vloei. En daar is maar een manier om te sorg dat ons harte suiwer is: ons moet dit elke dag onvoorwaardelik in die hande van die Gees van God plaas. Net Hy kan die vuil wasgoed in ons harte agter die wegsteekplekke uithaal, dit suiwer en dit netjies terug pak in die kas. Net Hy kan die ongenaakbare vlekke wat ons lewens so vervuil, uitwas en in die plek daarvan sy geur van liefde sit.

 

Bid dat die Gees jou ryklik met sy skoonheid sal vul sodat jy ánders oor mense sal dink, die beste van hulle sal glo en kraakvars suiwer in jou liefde sal wees.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo