Leef uit jou Doop: 1.2 ‘n Nuwe Tyd

Leef uit jou Doop: ‘n Nuwe Tyd – Adrio König

1.2 ’n Nuwe tyd

Maar Goddank, ons leef in ’n nuwe tyd met nuwe verhoudings. Hoe het dit gekom? Die Pinksterkerke het al hoe meer aanvaarbaar geword, en ’n deel van die NG Kerk het ’n vernuwing ondergaan. Nuwe tye vra nuwe benaderings

 

Dit sal beter wees om van nou af net na die NG Kerk te verwys, aangesien die vernuwing nie so sterk in die ander twee “Afrikaanse kerke” na vore gekom het nie. Maar ek het nie twyfel dat die houdings ook dáár sagter geword het nie.

 

Die groot Pinksterkerke het geleidelik sosiaal en kerklik-teologies aanvaarbaarder geword. Hulle teologiese opleiding het akademies op ’n hoër vlak gekom, hulle eredienste en kerkorganisasie het “kerkliker” geword, en hulle het ryker geword. (En of ’n mens nou daarvan hou of nie, geld het vir die Afrikaanse gemeenskap baie waarde gehad, en dit het ook nou nog nie verander nie.) Met respek gesê, die pastore wat ek vandag ken, ry nie meer met fietse nie. Hierdie “verkerkliking” van die AGS is waarskynlik selfs die hoofrede waarom die Pinkster Protestante Kerk van hulle weggebreek het om

die “ou AGS” voort te sit.

Die opkoms van die Charismatiese beweging sedert die vroeë sestigerjare het die toneel in baie opsigte nog verder verander. Saam met hulle het die Pinksterkerke toegang tot die radio gekry. Die Charismate het selfs hulle eie radio- en TV-dienste. Veral in die tagtigerjare het daar toenadering tussen die NG Kerk aan die een kant, en die AGS en sekere Charismatiese leiers aan die ander kant gekom. Dit het gebeur onder die inisiatief van sekere kerkleiers soos Johan Heyns en Isak Burger, maar ook deur die vernuwing in die NG Kerk self.

Hierdie vernuwing was eintlik ’n oplewing van die ou Evangeliese tradisie in die NG Kerk wat ons ken uit: Andrew Murray, Pinksterbidure, Halleluja-liedere, CSV, sendingywer. Gedurende die sestiger- en sewentigerjare is dit doelbewus deur die NG kerkleiding doodgewurg. Maar in die tagtigerjare het dit geleidelik al sterker geword en vorm dit vandag die grootste gemeentes in die NG Kerk, en bruis van entoesiasme. Dit word soms ’n Charismatiese beweging in die NG Kerk genoem, maar dis maar net ’n misverstand. Daar is inderdaad beperkte Pinkster- en Charismatiese invloede in die beweging soos

die “Praise and Worship”-liedereskat en die orkes. Maar dít op sigself maak nog nie ’n beweging Charismaties nie.

Die liedereskat is intussen met algemene gospel-liedere aangevul. En byna vanselfsprekend het daar toenadering tussen leiers in hierdie vernuwing en Charismatiese leiers ontwikkel, soos Dirkie van der Spuy en Ed Roebert.

En die doop? Net soos die Pinksterkerke het die grootste deel van die Charismatiese beweging die kinderdoop verwerp. Maar as die Pinksterkerke die NG lidmate by die duisende gewerf het, het die Charismatiese beweging dit met tienduisende gedoen. En dit het invloedryke figure in die samelewing ingesluit. Dit het skielik “respektabel” geword om Charismaties te wees – en dus ook om oorgedoop te word.

Intussen het die fel reaksie teen die oordoop in die NG Kerk versag. Die Algemene Sinode het in die negentigerjare die skerp optrede teen “oorgedoopte” lidmate vervang met ’n baie sagter benadering. In plaas daarvan dat hulle hulle sonde moes bely om weer aanvaarbaar te word, is

oorgedoopte lidmate nou amptelik net beskou as lidmate wat ekstra aandag van die kerkraad moes kry om hulle te help om te besef dat hulle tweede doop onnodig was.

In die vernuwing in die NG Kerk het dit beteken dat daar prakties geen onderskeid gemaak word tussen oorgedoopte en “gewone” lidmate nie. Trouens daar loop geloofwaardige stories rond van vernuwings-predikante wat eenvoudig hulle lidmate wat ’n tweede doop wil hê, aangeraai het om daarvoor na ’n “aanvaarbare” pastoor te gaan.

Intussen gaan al meer stemme in die NG Kerk op dat daar op een of ander manier voorsiening gemaak moet word vir ’n tweede doop. En hierdie stemme sal waarskynlik al sterker word (hoofstuk 8).

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: 1.1 ‘n Donker Doopgeskiedenis

Leef uit jou Doop: ‘n Donker Doopgeskiedenis – Adrio König

1.1 ’n Donker doopgeskiedenis

Dis lekker om al ’n taamlike lang stuk van jou lewe agter die rug te hê. Jy kan al terugkyk en sien hoe dinge verander het. Natuurlik nie altyd ten goede nie, maar soms tog wel! En kerke se huidige houding oor die doop is regtig een van die ligpunte na donker dekades.

Die middel van die vorige eeu was donker tye tussen die sogenaamde “Afrikaanse kerke” en die Pinksterkerke. Die Pinksterkerke is “sektes” genoem, en die Afrikaanse kerke is “dwaalkerke” genoem. Die Pinksterkerke was “krokodille”: Alles wat hulle in die hande gekry het, het hulle water toe gesleep. Maar die Afrikaanse kerke was dooie kerke, witgepleisterde grafte.

 

Die doop was die groot twisappel. Die Afrikaanse kerke het ernstige probleme oor die doop gehad, en die Pinksterkerke het “dankbaar” daarvan gebruik gemaak. Die Afrikaanse kerke het omtrent net kinderdoop gehad, en ook selde oor die betekenis van die doop gepreek. Dit het gewoonlik oor die opvoeding van die kinders gegaan.  Wanneer lidmate dan by Pinkster inloer en ’n sterk boodskap oor die doop hoor, en veral dat daar niks van die kinderdoop in die Bybel staan nie, en dat die doop in die Nuwe Testament uitsluitlik aan gelowiges bedien is, was daar moeilikheid. Talle van hierdie lidmate het hulle dan by die Pinksterkerke laat doop. Die kerkraad het dan skerp teen hulle opgetree en sondebelydenis van hulle geëis. Dit het nie lank gevat voor hulle vertroue in hul eie kerk en predikant verloor het en by Pinkster ingeskakel het nie. Terwyl hulle eie gemeente hulle dan van “oordoop” beskuldig het, het die Pinksterkerk hulle verseker dit is maar net die gewone Bybelse doop wat hulle nou eers ontvang het, omdat “kinderbesprinkeling” niks met ware doop te doen sou hê nie. Hierop het die Afrikaanse kerke met venyn gereageer. Hulle het die Pinksterkerke so swart moontlik geskilder.

Die Pinksterkerke het op hulle beurt weer skerp hierop gereageer. Hulle het die Afrikaanse kerke as valse kerke beskryf wat die gelowiges vervolg soos die Katolieke Kerk dit in die tyd van die Kerkhervorming gedoen het. So het die verhoudings al slegter geword. Intussen het die Charismatiese beweging ontwikkel en voor die einde van die vorige eeu ’n reuse-aandeel in hierdie stryd gekry.

Dit is skokkend om sommige van die doopboeke te lees wat in daardie tyd geskryf is. Van beide kante is met grofgeskut geskiet. Daar was een beskuldiging wat regtig tot die uiterste oorgegaan het: die sonde teen die Heilige Gees, die sogenaamde onvergeeflike sonde. En die beskuldiging het van beide kante gekom.

In die Afrikaanse kerke is só geredeneer: As jy jou laat oordoop, verwerp jy jou eerste doop (gewoonlik die kinderdoop). Maar dit was jou inlywing in die genade-verbond. Jy verwerp dus die genade! En dit is tog die sonde teen die Heilige Gees. In die Pinksterkerke was die redenasie net andersom. As jy die kinderdoop aanvaar, glo jy dit het in die plek van die besnydenis gekom. Maar die besnydenis was deel van die Ou Testament, die ou verbond. As jy nog aan die ou verbond vashou, verwerp jy die nuwe verbond, die verbond wat Jesus gebring het. Dit beteken jy verwerp sy werk en betekenis. En dis tog die sonde teen die Heilige Gees.

Die Afrikaanse kerke se predikante was invloedryke mense in die samelewing. Hulle het op al die belangrike kommissies gedien. En natuurlik het baie van hulle “gesorg vir hulle mense”. Die Pinksterpastore was onbelangrik in die samelewing. Die gemeentetjies was meestal klein en arm. Die saaltjie waar hulle kerk gehou het, was gewoonlik in die onderdorp, met baie min fasiliteite. Ek onthou hoe die pastoor in my geboortedorp met ’n fiets gery het. Daarom het hulle lidmate ook nie die beste kanse in die samelewing gekry nie. Dit alles het natuurlik die swak verhouding net vererger.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: Inleiding

Leef uit jou Doop: Inleiding – Adrio König

Leef uit jou doop

Hier is ’n totaal ander aanpak as die vorige eeu se getwis oor die doop. Dit was ’n donker tyd toe gelowiges mekaar as vyande gesien en behandel het omdat hulle oor die doop verskil het. Goddank lyk dit my dié tyd is nou (omtrent?) verby.

Die doop het een van die rykste boodskappe in die hele Bybel. As jy die een verrassing na die ander op die lyf wil loop, lees net hoofstuk 2 van hierdie boekie.

Dit beteken ongelukkig ook dat die boodskap en die betekenis van die doop een van die mees verwaarloosde onderwerpe in ons Christelike geloof is. Die kerke het dekades lank so gestry oor die reg of verkeerd van die  kinderdoop, dat hulle vergeet het om te kyk na die heerlike betekenis van die doop in die Nuwe Testament.

Leef uit jou doop is ’n oproep om terug te keer na die tyd toe die doop mense se steunpilaar was.  Daar word van Martin Luther vertel dat hy in ’n vlaag van moedeloosheid geboë oor sy lessenaar gesit het onder die las van twyfel, en dat hy toe met ’n stukkie kryt op sy lessenaar geskryf het: Baptismus sum – Ek is gedoop.

Sal dit jou ook uit ’n noodsituasie optel? Nee? Lees dan wat jou doop in werklikheid vir jou kan

beteken. Want Leef uit jou doop is eintlik: Leef uit die genade wat God in jou doop aan jou gegee het op grond van wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König