Watter soort leier moet ons kies?

I have nerver met a man I could despair of after discerning what lies in me apart from the grace of God – Oswald Chambers

 Watter soort leier moet ons kies?

1 Samuel 16 beskryf ‘n oorgangsfase – die agteruitgang van Saul as leier en die opkoms van Dawid. Dit is duidelik dat Saul as leier misluk het. Dit beteken nie dat Dawid die ideale leier is nie. Die Bybel skryf baie openlik oor al sy foute en tekortkominge. 

 

 

Hoe moet ons ‘n leier verkies? Die Here kies self die leier: Onder sy seuns sien Ek vir My ‘n koning (16:2). God se oppermag is hier aan die werk – beide in die keuse en voorbereiding van die leier wat Hy roep. Dawid pas sy pa se skape op totaal onbewus daarvan dat hy in God se leerskool vir leiers is. Dan leer Samuel ‘n belangrike les: Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (16:7). Samuel het na Eliab se voorkoms en buitengewone lengte gekyk en gedink dat hy ‘n geskikte koning sal wees, maar die Here kyk na Dawid.  In Hoofstuk 16 lees ons van ander eienskappe wat Dawid ‘n goeie leier sou maak:

  • Hy was betroubaar – ook as skaapwagter (16:11).
  • Hy het ‘n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ‘n goeie voorkoms (16:12).
  • Hy was ‘n vaardige musikant (16:18).
  • Hy is ‘n dapper man en goeie vegter
  • Hy kan sy woord goed doen (16:18).
  • Die Here is by hom (16:18).
  • Saul het baie van hom gehou: Laat Dawid tog vir my werk ek hou van hom –  hy inspireer liefde in ander mense (16:22).
  • Hy was gewillig om ander leiers te dien en het nie net op sy eie agenda gefokus nie (16:21).

 Kyk ons ooit na hierdie eienskappe as ons leiers moet aanstel.




Die kerk: Die regte soort leiers

It is my ambition to say in ten sentences what others say in a whole book – Friedrich Nietzsche

 

Die kerk: Die regte soort leiers

Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar vrywillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toewyding; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Petrus 5:2 – 3).

Hieruit kan ons aflei dat die persoon wat ambisieus is om te lei, gediskwalifiseer is. Die kerk is nie die plek vir die opsweper of kleinlike godsdienstige diktator nie.

Die ware leier  het geen begeerte om baas te speel oor God se kudde nie. Nee, hy is nederig, bereid vir selfopoffering en net so bereid om te volg as wat hy is om te lei – veral as die Gees dit vir hom duidelik maak dat daar ‘n wyser en begaafder man beskikbaar is.

Daar is nie ‘n tekort aan leiers in die kerk nie, maar wel ‘n tekort aan die regte soort leiers. Die verkeerde soort leiers is waarskynlik nog erger as geen leiers nie. Dit is beter om stil te staan as om ‘n blinde man oor die afgrond te volg. Die geskiedenis wys dat die kerk vooruitgegaan het as daar sterk leiers was. Die skape gaan nie verder as die herder nie.

Here, gee aan my die hart van ‘n dienaar sodat ek die regte soort leier mag wees. U vra nederige dienaars. Maak my u dienaar vandag. Ek bid in die Naam van Jesus. Amen




Genesing vir ‘n gewonde leier

A hungry man is not a free man. -Adlai Stevenson, staatsman (1900-1965)

Genesing vir ‘n gewonde leier

Baie gemeentes word deur gewonde leiers gelei – mense wat nie werklik ander mense kan liefhê nie, wat nie kwesbaar kan wees nie, wat nie op die toekoms kan fokus nie, as gevolg van verwerping en seerkry in die verlede. Volgens Rick Warren is daar genesing vir sulke leiers.

 

Daar is baie dinge wat mense kan wond – beloftes wat verbreek word, mense wat vir jou gejok het of konflik met mede-leiers waarin harde woorde geval het. Miskien is jy gewond omdat jy misverstaan of nie gewaardeer is nie. Daar is baie dinge wat ons kan wond, maar God sê dat ons van hierdie dinge ontslae moet raak. Lees net Psalm 109.

Interne wonde is altyd erger as eksterne wonde. Emosionele wonde neem langer as fisiese wonde om te genees. Hoekom? Want ons dink weer en weer oor hulle. Warren sê dat mense wat ons in die verlede seergemaak het dit nie meer kan doen nie, tensy ons hulle toelaat om dit te doen. Dit beteken dat iemand uit die verlede steeds vandag ons lewens beheer.

Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende (Psalm 37:8). Ontsteltenis en bitterheid gebeur as jy vasklou aan jou seerkry in die verlede. Moenie toelaat dat jou gedagtes gedurig na die seerkry van die verlede terugkeer nie. Jy kan nie die toekoms met vertroue tegemoet gaan as jy gedurig aan die verlede terugdink nie. Jy kan nie met jou bediening voortgaan as jy gedurig  aan die verlede terugdink en dit herleef nie.

Maklik gesê, maar hoe los ons die verlede? Die enigste manier om van jou wonde ontslae te raak, is vergifnis. Daar is geen ander teenmiddel vir jou pyn en seerkry nie.