Die regverdige spruit (1)

. —C.H. Spurgeon

Die regverdige spruit  (1)

Conrad Mbewe het onlangs na aanleiding van Jeremia 23:1 – 8 ‘n artikel oor leierskap geskryf. Hier is enkele belangrike idees uit hierdie artikel.

Leierskap is belangrik – ook onder God se mense. Toe die Israeliete vir Samuel verwerp het, sê God vir hom dat dit eintlik God is wat hulle verwerp het. Soms het Israel leiers/konings gehad wat hulle in sonde – soos afgodery – gelei het. In Maleagi 2 lees ons dat selfs priesters nie ag geslaan het op God se bevele nie. Hulle het die altaar van die Here met minagting behandel deur blinde, siek en lam diere te offer. Maar ons kan ook aan leierskap in ‘n positiewe sin dink. Herlewing in Israel begin dikwels by die koning – soos Josia. Die koning lei dan die volk om hulle sonde aan God te erken.

 

 

Hoe dink Jeremia oor leierskap? Hy het met al die volke om Israel gepraat en nou praat hy met Israel self. Hy beklemtoon aan hulle die noodsaak van volhardende, goddelike leierskap – leierskap wat vrugte dra. Hierdie soort leierskap lei tot seën van die volk en tot eer van God.

Kom ons kyk na Jeremia 23:1 – 8. [Ek gebruik Die Boodskap.]

God se aanklag

Mislukking van leierskap is vir God ‘n ernstige saak, want dit het ‘n vernietigende effek op die mense wat Hy liefhet. Daarom begin hy met ‘n snydende veroordeling:

1Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers van my mense. Hulle het nie mooi gekyk na die mense wat hulle moes versorg nie. Hulle was soos herders wat hulle skape verwaarloos het. Hulle het die mense uitmekaar laat spat en laat afdwaal. 2Die Here, wat die God van Israel is, sê vir hierdie leiers wat na die volk moet kyk: Julle het my mense soos skape uitmekaar laat gaan. Julle was onverantwoordelik. Julle het hulle nie opgepas nie. Daarom sal Ek julle straf vir al die skade wat julle hulle aangedoen het.

 

In die Ou Testament word daar dikwels na die konings van Israel as herders verwys. As ons verse 9 – 14 lees, sien ons dat hier na konings maar ook na profete en priesters verwys word: Profeet en priester is albei godloos. Elke vlak van leierskap moet herskep word volgens die boodskap wat God op Jeremia se hart gedruk het.

 

Dit was ‘n verskriklike tyd in Israel se geskiedenis. Leiers wat veronderstel was om ander te lei, is onregverdig en doen self sonde. Dit bring die toorn van God oor sy mense. Maar nou lees ons in vers 3 dat God self sy mense verdryf het. Die skuld word egter op die leiers geplaas, want hulle was nie goddelike leiers nie. Hulle het ‘n slegte voorbeeld vir die volk gestel en daarom word die hele volk veroordeel.

 

En vandag? Hoeveel kerkleiers is daar nie wie se lewens, selfs in die oë van die wêreld, ‘n skandaal is nie? Hulle lei selfs hulle gemeentes om ‘n verkeerde lewenswyse na te volg. Kan vandag se leiers soos Samuel sê dat as die volk teen hulle in opstand kom hulle in werklikheid teen God in opstand kom? Leiers is rolmodelle – in jou lewe moet mense kan sien hoe ‘n goddelike lewe lyk. Leiers moet hulle rol ernstig opneem – as hulle nie bereid is om die prys van leierskap te betaal nie, moet hulle bedank voor God hulle en die gemeente oordeel.




Leierskap is nie vir sissies nie

If you read history you will find that the Christians who did most for the present world were just those who did most for the next. —C.S. Lewis

Leierskap is nie vir sissies nie

Ondervinding is die beste leermeester vir leiers. Daar is ‘n paar dinge wat ‘n mens graag vooraf sou wou geweet het voordat jy oor hulle gestruikel het. Art Perry identifiseer tien sulke dinge:

  • Hierdie werk sou maklik gewees het as dit nie vir die mense was nie. Mense is al wat ons het.  Jy moet daarvan hou om met ander te werk en hulle te help as jy ‘n leier wil wees.
  • Dit is maklik om te veel tyd met die verkeerde mense te spandeer. Spandeer jou tyd met diegene wat ‘n hoë potensiaal het.  Moenie al jou tyd spandeer aan die oppas van swak presteerders nie.
  • Neem stadig in diens; bevorder vinnig; ontslaan regverdig en vinnig. As jy ‘n swak keuse gemaak het – en almal doen dit op een of ander stadium – stel dit vinnig reg.
  • Mense verander nie fundamenteel nie. Jy kan nie ‘n persoon se kernwaardes of gedrag of dit wat hy glo, verander nie. Jy mag dalk tydelike verandering kry, maar volhoubare verandering moet vanuit die persoon self kom.
  • Terugvoer is die kragtigste instrument tot jou beskikking. Leiers moet hulle terugvoervaardighede verbeter.
  • Besef dat almal in jou span jou dophou en oordeel. As dit wat jy doen, verskil van dit wat jy sê, verloor jy jou geloofwaardigheid. Geloofwaardigheid is die sleutel tot suksesvolle leierskap. Jy moet hard werk om dit te kry. As jy dit verloor het, sal jy dit onwaarskynlik weer terugwen.
  • Duidelike verwagtings gepaard met aanspreeklikheid = hoë prestasie.  ‘n Leier moet duidelike, uitdagende verwagtings stel en aanspreeklikheid van die span bevorder..
  • Gee aandag aan ‘n persoon … stel belang in hulle werk en aktiwiteite. Dit wys jy respekteer hulle. Jy is nooit te besig om te stop, te luister en te praat nie.
  • Te veel leiers praat as hulle moet luister.. As jy praat, kommunikeer jy nie werklik nie – jy maak ‘n geraas.
  • Vrae is kragtiger as opdragte. Vaardige leiers gebruik vrae soos ‘n chirurg ‘n skalpel hanteer.

‘n Mens leer uit ondervinding veral as jy foute maak. So ‘n paar riglyne verhoed dat jy te veel tyd spandeer om uit jou foute te leer.