Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe?

Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe? – Coen Slabber

Hierdie is ʼn kernsaak in die debat oor aborsie, stamselnavorsing, kloning en baie ander etiese probleme waarvoor ons vandag staan. Kan ons bepaal wanneer lewe begin? Sommige sê dat ons hier met ʼn onsinnige speletjie besig is. Ons kan lewe op ʼn reguit lyn (kontinuum) plaas wat strek van die eiersel deur die embrio en baba tot by die volwassene. Om nou iewers op hierdie lyn  ʼn kruis te gaan trek en te sê dit is waar lewe begin, is arbitrêr en nie wetenskaplik nie. Geen wonder dat as ons vra wanneer lewe begin ons ʼn verskeidenheid antwoorde kry nie. Dit strek vanaf bevrugting tot waar die baba asemhaal met ʼn klomp moontlikhede tussen in. Mense wat sê dat lewe begin sodra die baba asemhaal, haal Genesis 2:7 aan waar ons lees dat die Here God lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het. Beteken dit dat voor die eerste asemteug die baba nie ʼn lewende wese is nie?

 

Hoe nou gemaak? Daar is duidelik geen eenstemmigheid oor wanneer lewe begin nie. Hoe moet ons hierdie vraag vanuit ʼn wetenskaplike hoek benader? Om te bepaal wanneer lewe begin, moet die wetenskaplike twee sentrale vrae beantwoord:

(a)          Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

(b)          Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

 

I.             Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

Wetenskaplikes gebruik twee eenvoudige kriteria om te bepaal of selle onderskeibaar van mekaar is:

(a)          Hulle samestelling verskil; en

(b)          Die gedrag van die selle verskil.

Wat gebeur by bevrugting? Die saad- en eiersel kom langs mekaar te lê en die membrane tussen die twee verdwyn en ons kry ʼn enkele sel (die sigoot). Hierdie sigoot bevat komponente van beide sy samestellende selle. Hierdie is dus ʼn unieke sel met ʼn unieke samestelling wat verskil van die eier- en saadsel. Om net een voorbeeld te noem: die eier- en saadsel het elk 23 chromosome, maar die sigoot het 23 paar chromosome – soos ʼn normale volwassene.

 

Die doel van die saad- en eiersel is om mekaar te vind en saam te smelt. Nou kry ons die sigoot met ʼn nuwe ontwikkelingspad. Sy ontwikkelingspad – verdeling en ontwikkeling – lei tot ʼn embrio en uiteindelik ʼn baba.

 

Nie alleen is hierdie sigoot se ontwikkelingspad anders nie, maar ook sy genetiese samestelling verskil. Ons het hier ʼn sel wat duidelik onderskeibaar is van die eier- en saadsel.

[ʼn Embrio is die organisme wat ontstaan na die eier- en die saadsel saamgesmelt het tot ongeveer agt weke na bevrugting. Daarna praat ons van ʼn fetus.]

 

II.            Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

Ons het gesien dat ʼn nuwe sel – die sigoot – gevorm word, maar is dit die begin van ʼn nuwe menslike organisme? Het ons nie maar net ʼn nuwe sel wat verdeel en ʼn klomp selle vorm nie? Hoe definieer ons ʼn organisme?

(a)          ʼn Organisme is ʼn ingewikkelde struktuur bestaande uit elemente wat van mekaar afhanklik is. Hierdie elemente se eienskappe word bepaal deur hulle funksie in die totale organisme. [Soos in die volwasse mens. So byvoorbeeld is die niere se funksie, onder andere, afhanklik van die bloedsirkulasie. Wat die nier doen, word bepaal deur die hele liggaam. Die niere is nie ʼn eiland nie – hulle werk nie in isolasie nie.]

(b)          ‘n Organisme is saamgestel om die aktiwiteite van die lewe uit te voer deur organe wat verskil in funksie, maar interafhanklik is.

 

Is die menslike sigoot ʼn menslike organisme? Die gedrag en strukture van die volwasse mens is nie daar nie – embrio’s lyk nie en tree nie op soos volwasse mense nie. Die sigoot tree egter op soos ʼn volledige geheel. Al die dele van die sigoot tree in ʼn georkestreerde wyse op om na die volwasse toestand te ontwikkel. Die sigoot tree onmiddellik op om ʼn program van ontwikkeling te inisieer wat, as dit nie deur siekte of ʼn eksterne ingreep onderbreek word nie, sal lei tot ʼn mens.

 

Gevolgtrekking

Wat ek hier beskryf het,  is ʼn vereenvoudiging van ʼn baie ingewikkelde proses. Tog kan ons sekere afleidings maak:

(a)          Bevrugting vind plaas sodra die eier- en saadsel saamsmelt. ʼn Nuwe, unieke sel met ʼn eiesoortige ontwikkelingspad word gevorm.

(b)          Hierdie nuwe sel het die potensiaal om te ontwikkel tot ʼn volwasse mens.

 

Wetenskaplik moet ons aanvaar dat lewe begin sodra die eier- en saadsel saamgesmelt het – dit wil sê, by bevrugting. Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na ʼn paar bio-etiese dilemmas. Ons gaan begin by aborsie.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




God se wil vir ons lewe (Wet van God)

God se wil vir ons lewe (Wet van God)

By die Berg Sinaï het God met die Israeliete ʼn ooreenkoms (verbond) gemaak.

Hy het vir hulle gesê Hy sal vir hulle ʼn God wees maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Soos met elke ooreenkoms is daar bepalings wat nagekom moet word. Daarom het God vir die Israeliete Tien Opdragte (Gebooie) gegee wat hulle getrou moes nakom (Eksodus 20). Wat in die Tien Gebooie (ook bekend as die Wet) gestaan het, was God se wil vir sy volk. Die gebooie is algemeen, soos eer jou vader en moeder, wat eintlik respek vir alle mense ouer as jy insluit, of dat jy net een God mag dien.

Toe Jesus die Tien Gebooie moes saamvat het Hy dit in terme van liefde gedoen. Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het en jy moet jou naaste net so liefhê soos jouself (Matteus 22:37-40). Dit gaan dus nie oor die reëls nie, maar oor die gesindheid. Jy wil die dinge doen wat die Here gelukkig maak, omdat jy Hom liefhet.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God gee vir ons ʼn nuwe lewe (wedergeboorte)

God gee vir ons ʼn nuwe lewe (wedergeboorte)

As jy in Jesus glo, gee God vir jou ʼn nuwe lewe saam met Hom, ʼn ewige lewe (Johannes 3:16).

Om die waarheid te sê, jy word in God se familie gebore (Johannes 1:12-13; Johannes 3:1-8; 1 Petrus 1:3, 23). Dit word wedergeboorte genoem, of iemand wat vir ʼn tweede keer gebore word, hierdie keer geestelik. So verduidelik Johannes wat met ʼn mens gebeur as jy gered word. Jy kry ʼn tweede geestelike, ewige lewe wat deur God vir jou gegee word. Ja, jy word geestelik of van bo gebore. Nou kan en moet jy geestelik vir God leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ons? Vir wat? Prediker sê dat al die dinge waarmee ons onsself so besig hou, ja, die soek na eer, geld, plesier en wat nog alles, maar net ʼn gejaag na wind is.

As jy dink jy het dit gevang en jy maak jou hand oop, is daar niks in nie. Die dinge is alles verganklik. Dit hou nie. Jy dink dat as jy hoofseun kan word of miskien baie geld kan hê, gaan jy gelukkig wees, maar dit is ʼn gejaag na wind. As jy die een ding het, wil jy alweer die ander ook hê. Geluk lê nie in aardse dinge nie, want dit is te veranderlik en te verganklik. Boonop is die lewe ook nie regverdig nie. Al is jy die beste Christen, dinge gaan tog maar verkeerd loop. Daar is ʼn tyd vir alles, vir die goeie en die slegte (Prediker 3). Jesus het self nogal oor die sin van die lewe gepraat toe Hy gevra het: wat help dit jou dat jy alles in die lewe bereik, maar as jy in die hemel kom, het jy niks nie? (Matteus 16:24-26).

Jy moet liewer vir jou rykdom bymekaar maak in die hemel by God, want dit is permanent. Dit vergaan nie. Dit is moeilik om jou kop so te verander dat jy soos die Bybel dink. Dit beteken dat dit waaroor almal om jou so mal is, soos geld, modes, “in wees” en so aan, vir jou nie so belangrik moet wees nie, want dit hou nie. Dit is nie permanent nie. Nee, jy moet soos God leer dink. Jy moet die dinge wat vir God belangrik is probeer doen. Om goed te doen vir ander, om ʼn verskil rondom jou te maak deur lief te hê, deur ander te help… moet vir jou belangrik word. Dit is dinge wat nou niks sigbare voordeel vir jou bring nie, maar wat jou bankrekening in die hemel laat oorloop. En daardie bankrekening sal nooit tot niet gaan nie.

Die Bybelse boodskap moedig jou aan om die sin van jou lewe nie in tydelike dinge wat net ʼn rukkie hou, te soek nie. Nee, soek dinge wat regtig iets werd is en vir altyd gaan hou. Die dinge is God se dinge. Soek eers sy Koninkryk; ja, vind Hom eers in jou lewe… dan sal jy uitvind wat jou lewe regtig die moeite werd kan maak.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy