Jy moet jou vyande liefhê

Am I not destroying my enemies when I make friends of them? -Abraham Lincoln, 16de President van die VSA  (1809-1865)

Jy moet jou vyande liefhê

In Matteus 5 kry ons ‘n hele aantal teenstellings. Hulle volg ‘n geykte patroon: Julle het gehoor dat daar gesê is … maar Ek sê vir julle. In Matteus 5:43 – 48 kry ons nog so ‘n teenstelling.

 Kom ons begin voor. Jesus se etiek vloei uit die wet en profete. Hy het nie gekom om die wet en profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry (5:17 – 18). Wat Jesus wel doen is om die wet en profete te verdiep. Maar die middelpunt van sy etiek bly steeds die liefde.

 In 5:43 – 48 kry ons die laaste van Jesus se teenstellings in hierdie hoofstuk. Jesus haal hier ‘n spesifieke Ou Testamentiese teks aan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Levitikus 19:18). Maar dan voeg Hy iets by: en jou vyand moet jy haat. Hierdie kom nie uit die Ou Testament nie, maar is ‘n afleiding wat baie mense gemaak het: as jy jou naaste liefhet, beteken dit dat jy jou vyande moet haat.

 

 

Hoe hanteer Jesus hierdie opdrag om jou naaste lief te hê?

  • Hy verdiep dit: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg. Jesus sê dat my naaste my vyande en diegene wat my vervolg insluit …sjoe.
  • Maar hoekom moet ons ons naaste liefhê? God se voorbeeld: Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en dié wat verkeerd doen. God het almal lief – goeie en slegtes, regverdiges en ongehoorsames. As ons kinders van God wil wees, moet ons dieselfde doen.
  • Dan ondervra Jesus sy luisteraars: As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar so nie? Is dit nie wat ons so dikwels doen nie: ons het lief met voorwaardes. Daar is sekere mense/groepe wat ons uitsluit. Jesus sê dat dit onaanvaarbaar is. Ek moet my naaste liefhê … sonder voorwaardes.
  • Jesus eindig met ‘n stelling wat alles opsom: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. Ons kan hierdie stelling net verstaan as ons die logika van 5:44 – 45 verstaan. God het almal onvoorwaardelik lief. Soos God vir almal omgee, moet ons ook liefhê en omgee.

 

Die eerste keer as jy hierdie gedeelte lees, kom dit as ‘n skok. Om jou vyande lief te hê is tog teenstrydig met ons kultuur en aanvoeling. Maar dit is wat God van sy kinders verwag.