Hoe om ware geluk te vind in 2010

Hoe om ware geluk te vind in 2010 – Kobus Kok

Without love people die (prinses Diana)

Die wêreld is vol ongelukkigheid. Mense skarrel elke dag rond om te oorleef. Miskien het jy dit ook al beleef dat mense eintlik net gefokus is op hulself en hulle eie klein wêreldjie. In hierdie oorlewingstryd gryp mens uit desperaatheid na enige vorm van genot of iets wat bietjie vreugde en opwinding kan verskaf net om lewendig te kan voel.

Ongelukkig sal mens egter vinnig agterkom dat die meeste van die dinge waarna mense so gryp nie regtig werk nie. Mens bly maar leeg en onvervuld. Inteendeel, baie van die gegrypery na dinge wat sogenaamde vreugde bring kom steel eintlik van die ware menswees wat God beplan het.

 

Die vraag is natuurlik hoe ons dit regkry om jaar vir jaar en dekade vir dekade die Punt te mis? Hoe gebeur dit dat die Lewe en die sin van die lewe ons telkens ontglip en ons onsself uitvang dat ons die Punt van die lewe,  die lewe in Christus, eintlik heeltemal mis?

 

In die Bybelse tyd was dinge nie veel anders nie. Vreugde, geluk en blydskap was ook ʼn begeerte vir mense van daardie tyd. Daarom is dit ook nie vreemd om te sien dat Paulus ook oor blydskap en vreugde praat nie. In Filemon :7 skryf Paulus vir Filemon dat die liefde wat Filemon aan hom bewys het hom groot vreugde verskaf het. Mens lees dit dikwels sommer so vinnig asof dit nie belangrik is nie. Maar dink vir n oomblik mooi oor hierdie konsep:

Liefde bring vreugde.

Iemand het n ruk gelede vir my ʼn internet boodskap gestuur, en in die attachment was n kaartjie wat prinses Diana in haar eie handskrif op n stadium geskryf het. Daarin sê sy: Without love, people die. Dit is n belangrike herinnering dat indien ʼn mens liefdeloos deur hierdie wêreld beweeg, dan gaan iets van ʼn mens in die proses dood. Indien mens nie ware liefde en omgee van mense ervaar nie, dan gaan daar n stuk sin en betekenis in die lewe verlore. Sonder die ervaring van liefde en omgee sal die ervaring van lewensvreugde ook telkens uitbly. Die ironie is dat ons dit eintlik weet, maar dikwels diegene is wat wag dat ander mense vir ons liefde sal wys en vir ons sal omgee. Baie mense wag vir jare en jare vir ander om vir hulle liefde en omgee te wys en leef dan in verwyt vir die liefde wat hulle nie ontvang het van ander mense nie. Hulle sal dan graag vertel hoe min liefde hulle van hulle ouers ontvang het en hoe min liefde hulle van hulle lewensmaats of kinders ontvang het en hoe niemand regtig daar was vir hulle toe hulle dit die nodigste gehad het nie of hulle keer op keer teleurstel.

 

Hierdie vorm van self-gefokusde wag-op-liefde-van-ander-mense is eintlik n doodloopstraat. Miskien is die vraag nie hoeveel liefde ons van ander mense ontvang het nie, maar hoeveel liefde ons verniet weggegee het. Met ander woorde, hoeveel vreugde het ons vir die mense rondom ons verskaf deur die liefde en omgee wat ons vir hulle gegee het? Dit is die Punt (vgl. 1 Korintiërs 13; ; Efesiërs 5:2; Filippense 1:9).

 

Mag 2010 die jaar wees waar ons nie in die eerste plek wag vir ander om liefde en omgee vir ons te wys nie, maar die jaar waarin ons liefde en omgee vir ander wys en ʼn bron van vreugde vir ander sal wees!

 

Daar is eintlik net een manier om dit te kan regkry. In ons verhouding met God moet ons vol word van Sy liefde, wat alleen in mens groei indien mens baie tyd by sy voete spandeer. Indien ʼn mens ʼn gewoonte maak om elke dag by God se voete te sit en te fokus op die wonderlike gawes wat Hy so ryklik op mens se lewe uitgestort het, dan vloei jou lewensbeker oor van vreugde en geluk. Ons vergeet dikwels watter wonderlike dinge God vir ons gedoen het en hoe geseënd ons eintlik is. Dankbaarheid is die vlam van die lewe! Onthou Paulus se woorde in Filippense 4:4:  verbly jou in die Here; vind dus jou blydskap en vreugde in Hom en laat dit oorvloei deur jou liefde en omgee vir ander in die jaar wat kom. Hoe meer liefde en omgee jy weggee aan ander, hoe voller word jou lewe en hoe meer vreugde en sinvolheid sal jy beleef. Probeer dit en jy sal sien dit is so.

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Liefde vir medegelowiges en ander

Liefde vir medegelowiges en ander – Jan van der Watt

Francois Conradie vra:

Wat sê die Bybel : is (moet) liefde vir medegelowiges anders as liefde vir ander mense?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ja en nee, omdat liefde ‘n verhouding aandui waarin ‘n mens met ander staan. Alle verhoudings is nie dieselfde nie – byvoorbeeld, die verhouding (en liefde) tussen man en vrou is anders as die verhouding (liefde) tussen, sê maar, vriend en vriend.

Om dit te verstaan moet ons besef wat liefde in die Bybelse tyd was. Dit was nie ‘n vreeslike emosionele storie nie (hoewel die emosie nie ontbreek het nie). Liefde het twee hoofbestanddele gehad: a) lojaliteit en b) verantwoordelikheid. Jy moes lojaal wees teenoor dié wat jy liefhet, wat beteken dat al hou jy miskien nie van hulle nie, jy tog nog jouself ‘tot hulle beskikking moet stel’ as hulle jou nodig het. Dan moet jy jou verantwoordelikheid teenoor hulle nakom en die verantwoordelikheid word deur jou gesinshoof of die groep waarin jy beweeg gedefinieer. Vir Christene is God in Jesus die manier waarop ons dus ons verantwoordelikhede kan bepaal. Wat sê Jesus? sou ‘n basiese vraag wees as dit by liefde en verantwoordelikheid kom.

Kom ons kyk nou na die vraag: is liefde teenoor medegelowiges anders as teenoor ander mense? Nee, in die sin dat ek teenoor almal wat God oor my pad stuur (gelowige en ongelowige) sy liefde moet toon – met ander woorde, ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle en moet dit lojaal nakom. En nou die ‘nee’, dit is nie dieselfde nie: Die verantwoordelikhede wat ek teenoor my medegelowiges het, is anders as die wat ek teenoor nie-gelowiges het. Teenoor nie-gelowiges is my verantwoordelikheid om hulle aan God te probeer bekend stel sodat hulle ook sy genade kan leer ken en sy kinders kan word. Teenoor gelowiges moet ek God se versorging, nabyheid ens. uitdruk, juis omdat hulle God reeds ken.

Ek het dus teenoor almal ‘n verantwoordelikheid en moet dit voor God in lojaliteit uitleef: maar hoe ek dit gaan doen, verskil van gelowige vs. ongelowige. Daarom moet ek albei liefhê, maar die aard van my optrede (liefde) en die uitleef van die verhouding met die ander persoon verskil.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Romeine 9:10 – 18

Romeine 9:10 – 18 – Gys Loubser

Marguerite van Niekerk  vra:

Kan julle asseblief vir my verduidelik wat Romeine 9 vers 10 tot 18 beteken. Baie dankie vir die diens.

Dr Gys Loubser antwoord:

Hierdie is een van daardie tekste wat ons nooit so kan verklaar dat ons nie nog vrae het nie.  Die rede daarvoor is hoofsaaklik dat Paulus hier skryf oor dinge wat só uitsluitlik op God se vlak lê, dat ons nooit binne ons logika, wat deur tyd en ruimte bepaal word, finale bevredigende antwoorde kan voorsien nie.  Wat ons wel kan doen, is om ten minste te probeer verstaan wat Paulus binne die konteks van ons teks en sy tyd wou oordra.

Kom ons kyk eers na die konteks in Romeine. In Rom. 1-8 het Paulus baie sterk beklemtoon dat God ten spyte van sy verkiesing van Abraham en sy beloftes aan hom en sy nageslag, sou wou hê dat alle mense gered word.  Hy wou juis al die nasies deur middel van Abraham seën.  Deur Abraham wou Hy as’t ware by almal uitkom (Romeine 4:9-12).  Hy beklemtoon ook dat God regtig niemand iets geskuld het nie.  Almal het gesondig (Romeine 3:9-18).  Hy red mense net uit genade en nie omdat hulle genoeg goeie goed gedoen het om gered te word nie.  Maar natuurlik, as mense nie gered wil wees nie, as hulle die beloftes nie wil aanvaar nie, sal dit nie hulle deel word nie.  Hier vra ons alreeds binne ons logika hoekom God hulle nie maar dwing nie.  Hy is tog ʼn God van liefde en wil tog hê almal moet gered word, en Hy weet mos dis die beste vir hulle. Nee, dis nou maar van God – waarskynlik oor Hy liefde is – Hy dwing nie sy liefde op iemand af nie.  Hy kan jou ook nie dwing om Hom terug lief te hê nie, want dan is dit nie meer liefde nie.  God het die belofte aan Abraham in vervulling laat gaan in Jesus Christus en redding is nou deur Hom (Romeine 5 – 8).

Nou kom ons by Romeine 9:1-5.  Paulus is besorg dat sy volksgenote – die fisiese nageslag van Abraham – nie in Jesus glo soos mens sou verwag nie, maar Hom verwerp.  Sy vraag wat hy in Romeine 9:6-18 probeer beantwoord, is: wat nou van God se beloftes aan Israel?  Het Hy dit teruggetrek, en as Hy dit teruggetrek het, is dit nie onregverdig van Hom nie?  Belofte maak tog skuld!  Hy kom dan tot die volgende konklusies:

§  Selfs binne die fisiese volk Israel was daar oor die geslagte mense wat nie die Here gedien het nie en sy beloftes verwerp het.  Ware kinders van Abraham het nog altyd net ʼn deel van die fisiese volk uitgemaak.  Só verteenwoordig Isak die ware volk, terwyl Ismael nie deel daarvan is nie (Romeine 9:6-9).

§  God is vry om te kies soos Hy wil.  Die mens se prestasies of disprestasies is nie in die eerste plek wat deurslag gee nie.  Wat agter alles lê, die inisiatief wat die deurslag gee, is God se liefde wat jou uitkies. Jakob en Esau is ʼn besondere voorbeeld hiervan, want hulle was ʼn tweeling met dieselfde geleenthede en al twee ewe min verdienstelik (Romeine. 9:10-13).

§  God is nie onregverdig nie.  In sy vryheid mag Hy Hom ontferm oor wie Hy wil en barmhartig wees oor wie Hy wil (Romeine 9:15-16).

Dit is die hoofsaak in hierdie gedeelte, nl. dat alles van God se inisiatief en barmhartigheid afhang en nie van ons goeie werke nie.  En as God mense in Abraham se bloedlyn red, is dit sy saak soveel as wat dit sy saak is as Hy mense buite daardie bloedlyn red.

Wat Romeine 9:10 ev. betref, moet ons net op die volgende let.  Paulus haal direk uit Maleagi 1:2-3 aan.  Die woorde wat hier met liefde en haat vertaal word, is eintlik in ons moderne konteks nie die beste nie, omdat ons ʼn emotiewe waarde daaraan heg.  Dis vir ons begrippe wat emosie insluit.  Onthou, God is nie ʼn mens nie.  Hoe Hy voel, kan ons nie regtig bepaal nie.  Wat belangriker is as gevoelswaarde, is dat sy liefde vir die ware Israel meer te doen het met sy uitkies van hulle om hulle met sy beloftes te begunstig sonder dat hulle ʼn positiewe bydrae gemaak het.  As daar staan dat Hy Esau gehaat het, moet ons nie menslike emosie en doelgerigte slegte intensie daarin lees nie.  Sy uitverkiesende liefde vir Jakob was nie gegrond op Jakob se goeie dade nie.  Sy getuigskrif lyk maar sleg.  Net so was sy nie-verkiesing van Esau ook nie gegrond op Esau se dade nie.  Hy het Esau basies oorgelaat aan sy eie wil om God se beloftes te geringskat.

Daar is nog ʼn element wat ons in ag moet neem.  Die ouens het destyds in terme van groepe gedink.  Jy was nooit ʼn individu nie, maar altyd deel van ʼn groep.  Jou familie was jou mees basiese groep.  Net so het die familie dan ook ʼn naam gehad om hoog te hou.  Hulle het probeer om te glo en te leef soos hulle aartsvader geglo en geleef het.  Hulle is ook gedefinieer by ander aan hulle oorspronklike aartsvader.  Maar ook hy was nie ʼn individu op sy eie nie.  Hy was ook een met sy nageslag.  Dit gaan hier dus nie net oor Jakob nie, maar ook oor sy nageslag wat saam met God geloop het en sy beloftes geglo het.  Dit gaan ook nie net om Esau nie, maar om sy nageslag, die Edomiete (Maleagi 1:3), wat die Here nie gedien het nie.  Verder was groepe geneig om ander uit te sluit.  God is egter anders en sluit die oninsluitbare in sy vryheid in, en het ook die reg om die wat van nature ingesluit sou wees, uit te sluit.  Hy is God en werk volgens sy eie orde.

Maar, terug na ons hele Skrifgedeelte, die belofte is selfs vir die heidene beskikbaar.  Op een of ander onverstaanbare manier is ons keuses en God se uitverkiesing nie los van mekaar te make nie. 

 

Outeur: Dr Gys Loubser




Aanbidding

Aanbidding

God se verhaal met mense is eintlik ʼn liefdesverhaal. In Johannes 3:16 staan daar dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy unieke Seun gestuur het sodat ons gered kan word.

Maar dit is nie ʼn verhouding waarin die twee partye gelyk is nie. God is baie groter as ons as mense en ons moet dit erken. Ons moet God erken vir wie Hy is. Die manier waarop ons ons liefde vir Hom kan teruggee, is om Hom te eer en groot te maak. Dit is presies wat aanbidding is. Dit is om jouself op God se skoot te sit en Hom net te bewonder… om te erken dat Hy groot en almagtig is; wonderlik en onbeskryflik; liefdevol, teer en genadig. Om God so te erken en dit vir Hom uit die diepte van jou hart te sê, is regtig aanbidding. Aanbidding is nie net vir God belangrik nie, maar beteken ook vir jou baie. Deur aanbidding ontdek jy ook jouself. As jy op God se skoot sit, besef jy jy is maar bitter klein en totaal afhanklik van God. Aanbidding is om vir God te sê wie Hy vir jou is, maar dit help jou sommer ook om te besef wie jy eintlik is… ʼn stukkie klei in die hande van die groot Pottebakker.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy