Die Evangelie volgens Lukas: Die koninkryk van God en die kindertjies (Luk 18:15-17) – Francois Malan

Lukas verkort Markus 10:13-16. Die optrede van Jesus en die verhaal van die ryk jongman sluit aan by die gelykenis van die tollenaar en Fariseër en by Jesus se woord oor wie in die koninkryk van God ingaan, wie aangeneem en wie agtergelaat sal word, ’elkeen wat homself verhoog sal verneder word, maar hy wat homself verneder sal verhoog word.’ 

 18:15 Ouers bring hulle klein kindertjies na Jesus toe. Lukas gebruik die woord brefos wat na ’n baba verwys, in plaas van Markus 10:13 en Matt 19:13 se  paidion kind. Babas, wat nog geen verdienste deur goeie werke kon versamel nie maar heeltemal afhanklik is, word na Jesus toe gebring om hulle te seēn. In Luk 6:19 probeer die skare om aan Jesus te raak, omdat daar krag van Hom uitgaan om te genees, soos die vrou met bloedvloeiing wat die soom van sy bokleed aangeraak het (8:44). So bring die ouers hulle kinders na Jesus om ’n aandeel te kry aan die seën van sy aanraking  (haptomai stewig aanraak, vashou; Matt 19:13: sy hande op hulle te lê en vir hulle bid).

 Die dissipels berispe egter die mense wat hulle babas na Jesus toe bring. Soos die godsdienstige leiers, glo die dissipels skynbaar dat babas nog te onbelangrik is, nog geen verdienste uit goeie werke kan aanbied nie, en nog nie ryp is vir onderrig nie. Dié siening van die Fariseërs het Jesus juis met die gelykenis van die tollenaar en die Fariseër afgewys. Deur Jesus se aanvaarding van kinders in sy koninkryk het die kerk voortgegaan om seuns en meisies van gelowiges te doop, soos manlike babas in die ou bedeling besny is as God se teken dat Hy hulle in sy genadeverbond insluit (vgl. Gen 17:10-14; Hand 16:15, 31-34; 1 Kor 1:16; 7:14; Kol 2:11-12).

 18:16 Vir Jesus behoort juis húlle aan Hom wat niks het om aan te bied nie, en hulle sonder voorbehoud aan Hom oorgee, soos die babas in sy arms. Daarom roep Hy die babas na Hom toe (proskaleō) deur te sê: ‘Laat die kinders na My toe kom, en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle.’ Daarmee verseker Jesus ouers wat hulle kinders, selfs babas, in geloof na Jesus toe bring, dat hulle reeds aan God se gesin behoort as deel van sy koninkryk. Kinders behoort natuurlike modelle van dissipelskap te wees, hulle totale afhanklikheid, vertroue en vermoë om sonder verleentheid gretig te aanvaar wat aan hulle gegee word, wat met vreugde presente ontvang. Nie slegs babas nie, maar elke mens wat hom nederig en sonder voorbehoud aan Jesus oorgee en toevertrou, kan deel word van sy koninkryk en die vreugde daarvan smaak. Dit is die manier om in die koninkryk van God te kom, soos die tollenaar wat sê: ‘O God, wees my arme sondaar genadig.’

 18:17 In hierdie negatiewe stelling word die positiewe stelling oor ingaan in die koninkryk van God beklemtoon en word dit ook met ’n sterk versekering ingelei ‘Amen (voorwaar), Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Dit beteken dat jy nie ’n burger van God se koninkryk sal word sonder ’n kinderlike vertroue in die genadige God nie, wat jou uit liefde ontvang as jy deur geloof aan sy Seun behoort. So sal die Fariseër met al sy goeie dade nie aangeneem word nie, terwyl die sondige tollenaar se saak reggestel is omdat Hy hom op God se genade gewerp het.




Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die weduwee en die regter (Luk 18:1-8) – Francois Malan

Na aanleiding van die vrae oor die koms van God se koningsheerskappy, sluit Lukas die gesprek oor die koms van die Seun van die Mens af met twee gelykenisse om dit te verduidelik. Soos Jesus se gebedsonderrig in Lukas 11:1-4 verduidelik word met die twee gelykenisse van die man wat in die nag brood by sy vriend gaan vra, en ’n pa wat nie vir sy kind ’n slang sal gee nie (Luk 11:5-13), volg die gelykenisse van die weduwee en die regter en die tollenaar en Fariseër op sy onderrig oor die die koms van die Seun van die Mens. Die eerste gaan oor aanneming van Jesus se volgelinge, en die tweede oor die voorwaardes vir aanneming deur God. Lukas vul graag ’n woord oor mans aan met ’n Jesuswoord oor vroue. Die twee gelykenisse kom slegs in Lukas voor. Dit is gelykenisse van kontras. God is so heeltemal anders as die onregverdige regter, en reageer lynreg teenoor die verwagting van die Fariseër. 

 18:1  Die ‘hulle’ verwys na dieselfde groep van sy dissipels as in 17:22. Om gereed te wees vir die dag van die Here

is dit noodsaaklik dat hulle voordurend bid (pantote, altyd, te alle tye, by elke geleentheid) om nie moed te verloor nie, nie hulle motivering te verloor nie (sommige rabbi’s het bepaal dat ’n mens slegs driemaal per dag, soos Daniël, behoort te bid en nie die Here vermoei nie; ander rabbi’s het gewens ’n mens kan deur die dag bid om sodoende niks te verloor nie).  In 17:22 het Jesus al voorspel dat daar ’n tyd kom wanneer hulle sal begeer om één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar dit nie sal sien nie, ’n uitsien daarna dat die Here alles sal regmaak, al die verkeerde waarin hulle en ons moet lewe. Daarom is dit nodig om voortdurend te bid om nie moed te verloor nie.

 18:2 Die onregverdige regter het geen ontsag vir God nie en steur hom aan geen mens se opinie nie. Hy is goddeloos en selfsugtig, terwyl die Here regters juis aanstel om die reg en God se wet te handhaaf, en dat hulle geringes en die armes uit die mag van die goddeloses moet red (vgl. die Here se aanklag teen en opdrag aan regters in Ps 82:1-7; vgl. ook Eks 23:6; Deutr. 16:18-20; Jes 10:1-2). Die onregverdige regter is die teenbeeld van die Here, die regverdige Regter. ’n Christen behoort ook net die teenoorgestelde van hierdie regter te wees (2 Kor 8:21).

 18:3  In die Ou Testament is ‘n weduwee die beeld van ’n persoon wat ’n helper nodig het om aan haar reg te verskaf (Eks 22:22-24; Jes 1:17,23; Jer 7:6; Jak 1:27). Hierdie weduwee kom soek haar reg by die regter. Die imperfektum van die werkwoord (êrcheto) dui aan dat sy aangehou het om na hom toe te kom met haar versoek om reg. Sy het ’n saak met ’n opponent (’n antidikos kan ’n teenstander wees wat gedurig vyandig teenoor jou is, of iemand wat jou aankla).

 18:4-5 Na ’n geruime tyd het die regter ook ’n gesprek met homself (soos die verlore seun, 15:17) waarin hy aan homself erken dat hy geen ontsag vir God het om rekenskap te gee van sy regterlike funksie nie, en hom nie aan enige mens se opinie oor hom en sy uitsprake steur nie. Toe kry hy tog redes waarom hy sy werk om reg te spreek terugkry om aan die weduwee reg te laat geskied. ‘Omdat sy vir my moeite gee (kopos, moeite, moeilikheid, ’n omstandigheid wat pla), sal ek tog aan haar reg laat geskied.’  Dit gaan oor homself, oor sy omstandighede. Sy maak dit vir hom moeilik met haar aanhoudende geneul. ‘Sodat sy nie aanhou kom en op die ou end my gedaan maak met haar aanhoudende geneul nie (hupōpiazō gedaan maak, is die figuurlike gebruik van die letterlike ‘blou-oog slaan ’). Die ‘my’ aan die einde van die Griekse sin, dra klem. Dit gaan oor ‘my,’ nie oor wat God vereis of wat die mense van hom dink nie. Soos die onregverdige bestuurder word die onregverdige regter gedryf deur sy gemak en selfsugtigheid (Luk16:8; in albei gevalle gebruik Lukas die woord adikia, ‘onreg, dit wat nie reg is nie,’  vgl. Luk 13:27).

 18:6-7 Lynreg teenoor die onregverdige regter en onregverdige bestuurder staan God as die regverdige Regter oor sy hele skepping. ‘Sal God dan nie reg laat geskied (ekdikêsis, dit waarvoor die weduwee gepleit het, 8:5) aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie?’ Die Griekse sin suggereer ’n sterk positiewe antwoord op die retoriese vraag van Jesus. Sy uitverkorenes is dié mense wat deel is van sy koninkryk en onder sy koningskap lewe, deur sy uitnodiging na sy feesmaal aan te neem (Luk 14:15,21-23). Die mense wat soos die weduwee dag en nag na God roep, beleef die slegte omstandighede van Luk 17:22 sodat hulle verlang na die koms van die Seun van die Mens.

 ‘Sal Hy hulle lank laat wag?’ (makrothumei kan ook vertaal word as ‘en sal Hy lankmoedig oor hulle wees?’ waar ‘hulle’ na sy geduld met die ongelowiges of teenstanders kan verwys; vgl. 2 Petr 3:9). Dit kan ook soos hierbo vertaal word: ‘en sal Hy stadig wees om hulle te help? waar ‘hulle’ na die uitverkorenes verwys, dat Hy stadig is om aan hulle reg te verskaf deur die koms van die Seun van die Mens op die oordeelsdag. Luk 17:24 verwys na die oordeelsdag. In die huidige bedeling verwys die lank laat wag na die voorreg van sy uitverkorenes om saam met Hom te ly en saam met Hom verheerlik te word (Rom 8:17); ons word uitverkies om saam met Christus te ly!

 18:8 Jesus verseker die dissipels dat God spoedig (en tachei met spoed) aan sy uitverkorenes reg sal laat geskied. Hoewel dit nie altyd dadelik sal blyk nie, is God ’n Regter vir weduwees (Ps 68:8) wat hulle nie in die steek sal laat nie. Dit gaan oor die koms van ons Vader se koningskap in die wêreld, waarvoor ons moet bid (Luk 11:2). Dat die Seun van die Mens kom, is gewis. Die vraag wat Jesus egter het, bly ’n ope vraag: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind? Sal sy mense onder die toenemende druk van die samelewing nog vertroue in Hom hê en Hom bely (Rom 10:10)? In Markus 13:13 sê Hy: Wie volhard tot die einde toe, sal verlos word, vgl. 2 Tim 4:8. Jesus wil sy volgelinge bewus maak dat Hy hulle in geen noodsituasie sal los nie, dat Hy self die pad van lyding moet loop (Luk 17:22), en dat hulle altyd moet bid en nie moed verloor nie (Luk 18:1), soos die weduwee (Luk 18:3). Wanneer dit God se tyd is, wat niemand voor die tyd weet nie, dan is daar nie meer sprake van uitstel nie, dan oordeel God onmiddellik en sal Hy reg laat geskied aan sy uitverkorenes (Luk 18:7; 17:26-37).

 Die grondgedagte van die gelykenis is die ‘uitgestelde wederkoms’ (Lukas, ’n tweede geslag Christen, het met die vraag te doen waarmee 2 Petrus 3:8-13 ook sit). Maar wat is die stand van gebed 2000 jaar na Jesus se opstanding?




Die Evangelie volgens Lukas: Die koninkryk van God (Luk 17:20-37) – Francois Malan

17:20 Die Fariseërs het Jesus op ’n keer gevra wanneer die koninkryk van God kom, want hulle het die genesing van ’n melaatse beskou as ’n opwekking uit die dood deur die Messias-koning wat hulle so dringend verwag. Jesus gee hulle egter ’n verbluffende antwoord: ‘Die koninkryk van God kom nie op so ’n wyse dat dit fyn dopgehou kan word nie (paratērēseōs, fyn dopgehou kan word nie/nie met duidelik waarneembare tekens nie).’ Die koninkryk kom nie met tekens wat uit die hemel afgelees kan word nie.  

 17:21 Net so min as wat die koms van die Here se koninkryk aan ’n tyd of ’n teken gebind is, so min is dit lokaal vas te pen. Daar is nie ’n gebied op aarde waar dit vervul word nie. Daar is twee redes hiervoor: die eerste rede word in vers 21 gegee en die tweede in vers 24. (1) ‘want die koninkryk van God is in julle midde (entos humōn).’ Jesus is die koning van God se koninkryk en Hy is nou in hulle midde as die verlossende en oordelende Koning (Luk 11:20). Vir dié wat in Hom glo is Hy hulle Verlosser, en Hy is die Regter vir dié wat Hom en sy verlossing verwerp (vgl. Joh 3:36).

 17:22 Vir sy dissipels, sy volgelinge, sê Jesus dat daar vir hulle ’n tyd van verdrukking voorlê waarin hulle sal verlang na die tyd toe Jesus self by hulle was en sal verlang dat Hy weer sal kom. ‘Julle sal begeer om een van die dae te sien’ -daarmee word die swaar verdrukking en die dringendheid van hulle verlange uitgedruk. Die Seun van die Mens verwys na Daniël 7:14 se voorspelling van die seun van die mens (menslike wese) aan wie God die ewige heerskappy, eer en koningskap gee sodat al die volke, nasies en taalgroepe Hom sal dien.

 17:23 Verleiers sal in die tyd van verdrukking en smart die gelowiges mislei met allerhande voorspellings oor die tyd of plek van Jesus se verskyning, of hulle sal na ’n ander sogenaamde messias as die goddelike Messias verwys wat sou gekom het. Jesus waarsku teen alarmmakers wat die gelowiges mislei met hulle oorredende woorde: ‘Kyk hier’ of kyk daar.’ Jesus sê: ’Moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie.’

 17:24 ‘Want (tweede rede) die Seun van die Mens sal op sy dag verskyn soos ’n onverwagte weerligstraal wat die hemel van eenkant tot die anderkant verlig. Hy sal so skielik en universeel vir almal sigbaar wees dat daar geen tyd sal wees vir profesieë of beskrywings daarvan nie.

 17:25 Maar die ewige seun van die mens van Daniël 7:13-14 is ook die lydende Kneg van die Here van Jesaja 53, wat eers baie moet ly en deur hierdie geslag verwerp word, soos in Luk 9:22 deur Jesus voorspel is en in Luk 9:31 deur Moses en Elia bevestig is. Hy moet die pad van lyding loop omdat dit deur God so bepaal is en in die Skrifte oor Hom geskryf is  (Luk 24:26-27).

 17:26-27 Die dae van Noag word vergelyk met die dae van die Seun van die Mens, wat met sy aanstaande lyding vervul word. Die geslag wat hulle sonder God in hulle daaglikse beroep versink, lewe vir die bevrediging van hulle elementêre behoeftes soos honger, dors, en trou. Vir so ’n geslag het die sondvloed as ’n fatale verrassing gekom. Die wagtende en voorbereide Noag word gered, en die onvoorbereides wat nie ag geslaan het op Noag, die boodskapper van geregtigheid nie (2 Petr 2:5), kom om (Gen 7:20-23). So het dit ook gegaan met die genooide gaste na die fees, wat verskonings aanbied oor grond, osse, huwelik (Luk 14:18-20).

 17:28-29 Soos in Noag se dae, was dit ook in die dae van Lot. Mense het ook met hulle daaglikse lewe voortgegaan, met eet, drink, koop, verkoop, plant, bou, sonder om te let op die lewe van die regverdige Lot (2 Petr 2:6-8); totdat Lot uit Sodom vertrek het, en God vuur en swawel laat reën het om almal te vernietig (Gen 23:24-25). Die katastrofe met die sondvloed en die vuur word langs mekaar gestel as onvoorsiene en onverwagse gebeure.

 17:30 Die vergelyking tussen Noag en Lot met die dag waarop die Seun van die Mens geopenbaar gaan word, beklemtoon die verrassende oordeel wat onverwags kom, en die skeiding tussen mense, met slegs enkeles wat gered word. Die Fariseërs het gevra wanneer die koninkryk van God sal kom, en Jesus het gewaarsku dat daar nie duidelik sigbare tekens vooraf sal wees nie (17:20). Oor die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges word verder uitgebrei in die volgende verse. Op die onverwagte dag van die groot wêreldoordeel sal die Seun van die Mens aan alle mense geopenbaar word in die heerlikheid van die voltooide koninkryk van God.

 17:31-32 Die persoon  wat op die oordeelsdag nog so aan sy besittings verknog is, kan sy verlossing verspeel. Moenie van die dak af die huis in hardloop om iets te gaan haal nie, of van die land af terugdraai huistoe nie (Luk 9:62). In plaas daarvan dat jy jou vir die komende koninkryk vry hou van jou besittings, is jy dan met sy koms verbonde aan wat vergaan. Lot se vrou het op hulle vlug uit Sodom haar redding op die laaste oomblik verspeel (Gen 19:26). Die gelowiges word  gewaarsku teen wêreldsgesindheid en verknogtheid aan jou aardse besittings, en word aangemoedig om te lewe met ’n verlangende uitsien na en gereedheid vir die koms van jou Heer. In Markus 9:14-16, Matteus 24:15-18 en Lukas 21:20-22 word, na aanleiding van Daniël 9:27; 11:31; 12:11, dieselfde waarskuwing gegee ten opsigte van die inname van Jerusalem (wat in 70-72 n.C. geskied het).

 17:33  Wie probeer om homself/sy eie lewe te red (peripoieomai om te red of te beveilig), sal dit verloor, maar wie dit verloor, sal dit aan die lewe hou/bewaar om te bly lewe (zōiogoneō). In die oomlik wanneer jy jou aardse lewe moet prysgee om jou ewige bestemming in te gaan, moet jy nie daarvoor terugdeins nie. Dieselfde woord is in Luk 9:24 gebruik vir die gelowige se alledaagse lewe in diens van sy medemens: ‘wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Die persoon wat volheid van lewe soek in aardse goed, gaan nie vreugde vind nie. Wie egter onselfsugtig homself offer vir Christus se eer in sy diens van mense, sal die ware lewe in sy volheid geniet al lyk dit vir die wêreld of hy sy lewe weggooi.

 17:34-35 Die dag van die Seun van die Mens is die oomblik van die groot skeiding tussen mense, tussen wie aan Hom behoort en wie nie. Dit gaan om die mense se persoonlike band met Jesus. In die nouste huis- en arbeidsgemeenskap, van man en vrou in daardie nag saam in die bed, en twee vroue voor sonop by een meul om die brood van die dag te kan bak, kom die skeiding tussen die ongelowige en die een wat vir Jesus volg (Matt 24:40 voeg by, die skeiding tussen twee mans wat saam op die land werk. Dit is in die 6e eeuse manuskrip uit Matteus hier ingevoeg as vers 36). Die Jesusvolgeling sal deur Jesus saamgeneem word (paralêmfthêsetai) en die ongelowige agtergelaat word (afethêsetai  agterlaat, verwerp word), agtergelaat vir die oordeel.

  17:37 Die geskokte hoorders vra vir Jesus waar verwerpte mense agtergelaat gaan word. Jesus antwoord met ’n harde spreekwoord: ‘Waar die liggaam/karkas lê (sōma word gebruik vir die lewende of dooie liggaam van mens en dier; Matt 24:28 het ptōma wat verwys na ’n dooie liggaam van ’n mens, ’n lyk, of na ’n dier se karkas), daar sal die aasvoëls ook vergader.’ Die gedagte is dat orals waar mense ookal op die dag van die Seun van die Mens is, kan sommiges saamgeneem en sommige agtergelaat word. Die oordeel van God strek oor die ganse wêreld, ‘nie hier of daar nie’ (vgl. 17:23). Waar ook al die ‘geestelik dooies’ gevind word, sal daar onvermydelik geoordeel word, so vinnig as wat die aasvoëls om ’n karkas saamtrek.




Die Evangelie volgens Lukas: Die derde deel van Jesus se tog na Jerusalem (Luk 17:11-19:27) – Francois Malan

Vir die derde keer sê Lukas dat Jesus op pad is na Jerusalem, (9:51; 13:22; 17:11). Hy gaan daarheen om te sterf vir die sonde van die wêreld (vgl. die gesprek oor sy uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring, in 9:31). Maar Hy moet nog sy volgelinge toerus vir hulle lewe as kinders van God. In hierdie gedeelte is die grootste deel gegewens wat slegs in Lukas opgeteken is. 

 Genesing van 10 melaatse mans (Luk 17:11-19)

 Lukas plaas Jesus se genesing van die 10 melaatse mans hier, na sy antwoord op die dissipels se versoek om meer geloof (17:5-10).  Slawe moet hulle werk doen sonder om dank te verwag, maar moet dankbaar wees vir wat aan hulle gedoen word, soos die melaatse Samaritaan in 17:16. Dit was net die melaatse Samaritaan wat die geloofstoets van die klein mosterdsaadjie (17:6) in die groot krag van God verstaan het. So ook die barmhartige Samaritaan van 10:33, en die melaatse Siriër van 4:27 (vgl.ook die opwekking van die seun van die weduwee van Sarfat in Luk 4:26;

1 Kon 17:2; en die seun van die weduwee van Nain in Luk 7:15).  

 17:11  Die plekaanduiding dat Jesus op pad is na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea, is ’n probleem. In 9:56 het Jesus al die Samaritaanse dorpie verlaat; in 10:38 is Hy in Betanië net buite Jerusalem, waar Martha en Maria bly; in 18:34 is Hy in Jerigo; en hier is Hy weer in die noorde op die grens van Samaria en Galilea. Lukas probeer nie die geskiedenis van Jesus kronologies weergee nie, maar beskryf die verskillende optredes en woorde van Jesus soos sake met mekaar verband hou en mekaar verklaar; nie in kronologiese volgorde nie, maar in logiese volgorde (vgl. Luk 1:3). Samaria word hier eerste genoem omdat dit eintlik gaan oor die melaatse Samaritaan. Dit is ook Lukas se derde berig oor die Samaritane (vgl. 9:5; 10:30). Maar die hele toer lei alles na Jerusalem waar Hy vir ons moet gaan sterf as die doel van sy lewe.

 17:12 Terwyl Jesus ’n sekere dorpie binnegaan, kom tien melaatse mans hom tegemoet. In Jerusalem en die ander tien ommuurde stede van Israel was melaatses nie toegelaat nie, maar in die ander dorpies wat nie ommuur is nie kon die onreines aan die buitewyke, afgesonder van ander mense bly, sonder aanraking wat ander kan verontreinig (vgl. Lev 13:45-46; Luk 5:12). In hulle gesamentlike ellende val die onmin tussen Jode en Samaritane weg en bly hulle saam in afsondering. Melaatsheid is beskou as die Here se straf op sonde (vgl. Deutr 28:15,27), veral op die sonde van kwaadpratery en hoogmoed, soos Miriam vir sewe dae melaats geword het weens haar opstand teen die Here. Dit was  omdat Hy net haar kleinboet Moses uitgekies het om deur hom met die volk te praat (Num 12:1-15; Deutr 24:8-9). So het koning Ussia van Juda lewenslank melaats geword toe hy aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree het (2 Kron 26:16-21).

 17:13 In plaas daarvan dat die tien melaatses hulle waarskuwing van ‘Onrein Onrein’ uitroep, soos die wet vereis (Lev 13:45), vra hulle luid (letterlik: hulle verhef hulle stemme): ‘Jesus, Meester, wees ons barmhartig (eleêson).’ Die Here het Hom 1300 jaar tevore reeds aan Moses geopenbaar as die barmhartige God (Eks 34:6). Die ryk man, wat ’n beeld van die Fariseërs se gierige onbarmhartigheid is, het egter tevergeefs in die doderyk om Abraham se barmhartigheid gepleit (Luk 16:24).

 17:14 Jesus sien hulle raak, soos Hy vir Saggeus in die vyeboom gesien het (Luk 19:5) en vir Petrus gekyk het toe Petrus hom verloën het (Luk 22:61). Petrus en Johannes kyk stip na die verlamde man voor die tempel (Hand 3:4). Lukas beskryf die betekenisvolle kyke wat die lyding van die naaste raaksien en daarop handel. Jesus beveel die melaatses om hulleself aan hulle onderskeie priesters te gaan wys vir ondersoek, soos deur die wet vereis word. Dit behels die bring van offers, ’n rein verklaring deur die priester, en heropname in die gemeente en die samelewing (Lev 14:1-32).  Die Jode moes na Jerusalem se tempel toe, waar Samaritane nie toegelaat word nie, en hy sou waarskynlik na sy Samaritaanse priester gaan. Anders as in Lukas 5:13 raak Jesus nie die tien manne aan nie, en spreek nie ’n ‘word rein’ woord uit nie, maar beproef hulle geloof om na die priesters toe te gaan terwyl hulle nog melaats is. Op pad daarheen is hulle eers gereinig. So is die melaatse Naäman se geloof ook beproef toe Elisa hom gestuur het om hom sewe maal in die Jordaan te gaan was (2 Kon 5:10-14).

 17:15 Toe een van die tien sien dat hy genees is, het hy terstond omgedraai en  met ’n luide stem God begin loof. Hy het sy genesing dadelik as die werk van God deur Jesus gesien, en dié geloof in lofprysing uitbasuin. Sy wondergenesing bewys vir hom dat hy deur God begenadig is. Waar hy sy siekte as God se straf beskou het, sien hy sy genesing as God se genade aan hom. 

 17:16 Met sy lof aan God verbind hy sy dank aan Jesus deur nederig met sy gesig op die grond voor Jesus as sy koning se voete neer te val terwyl hy Hom dank. Met klem word gesê: En Hy was ’n Samaritaan! Langs die barmhartige Samaritaan vir wie Jesus prys (Luk 10:30-37) staan die gelowige en dankbare Samaritaan vir wie Jesus voorhou as voorbeeld vir die Jode en daarmee vir alle volke, en dit ten spyte van die Samaritaanse dorpie wat Hom nie wou verwelkom nie (9:53).

 17:17-18 Jesus vra drie retoriese vrae: ‘Is daar dan nie tien gereinig nie?’ – Hy weet daar was tien. ‘Waar is die ander nege?’  – ook dit weet Hy, dat hulle net aan hulleself dink, en dat hulle hulle haas om deur die priester rein verklaar te word. Hulle het slegs in sy genesingskrag geglo en nie in Hom of in God nie. ‘Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?’ (allogenês vreemdeling, wat aan ’n ander sosio-politiese groep behoort sonder verwantskap, die woord word slegs hier in die NT gebruik, 46x in die Septuaginta).

 us huil oor sy volksgenote wat hulle ondankbaarheid teenoor God so duidelik wys. Die Jode het hulle heil as ’n reg beskou en dat hulle ’n aanspraak op die Messias het. Maar hulle eksklusiewe aanspraak het Jesus reeds in Luk 4:25-27 die nek ingeslaan met die twee voorbeelde van twee nie-Jode, die weduwee van Sarfat in Elia se tyd en die melaatse Siriër Naäman in Elisa se tyd, wat deur God uitgekies is om hulle te versorg. Hierdie Samaritaan beskou sy genesing as genade en word daardeur ’n mens wat vir God loof en aan sy Helper sy dank bewys. So word hierdie gebeure ’n blik op die Jode se verwerping wat vir Jesus in Jerusalem wag. Die vreemdeling het, deur terug te kom om Jesus te bedank, God verheerlik. Die nege het Jesus maar net gebruik. Vir Lukas en sy lesers, wat Christene uit die heidendom was, moes die berig iets besonders beteken het; dat God inderdaad nie-Jode wat na Jesus toe kom, red.

 17:19 Vir die geneesde dankbare Samaritaan laat Jesus opstaan en weggaan met ’n wonderlike toesegging: ‘Jou geloof het jou gered’ (sōzō  van siekte genees en/of red – om iemand goddelike verlossing te laat beleef; die perfektum vorm van die woord beteken dat hy dit ontvang het en as verloste gaan lewe). Die Messias is daar, maar sy volk ignoreer Hom asof Hy maar net sy plig gedoen het. Jesus verseker egter die Samaritaan wat na Hom toe gekom het, dat hy gered is. So stel Jesus vas dat sy gemeente alleen op grond van geloof in Hom ontstaan, en as gemeente van geloof nie aan die beperkende grens van die Jodendom gebind is nie (vgl. Matt 8:10-12). Die genadewoord aan die gelowige Samaritaan is tegelyk ’n oproep tot bekering aan Israel.