Die Evangelie volgens Lukas: Jesus loof die Vader en sê sy dissipels is geseënd (Luk 10:21-24) – Francois Malan

Dié twee gedeeltes in Lukas (10:21-22 en 23-24) kom nie in Markus voor nie, maar Lukas se twee dele is op twee verskillende plekke in Matteus opgeteken (Mat 1:25-27 en 13:16-17). Dit wys na ’n gemeenskaplike bron vir Matteus en Lukas.

10:21 Ná Jesus se aanwysing van die ware rede vir blydskap vir sy volgelinge, dat hulle name in God se boek van die lewe opgeneem is as die mense vir wie Hy ken en as sy kinders versorg (Luk 10:20; 12:6-7) vertel Lukas van Jesus se eie groot blydskap, sy jubeling (agalliao om uitermate bly te wees, soos in Maria se loflied, Luk 1:47). Tipies van Lukas se klem op die Heilige Gees, is Jesus se jubelende blydskap in ( gemeenskap met) die Heilige Gees. Jesus loof en dank die magtige Here, die Skepper, Eienaar en Regeerder oor die hemel en die aarde, wat Jesus se goeie en barmhartige Vader is (Luk 2:49; 11:2 ). Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is hier één, op só ’n wyse dat elkeen dit kan hoor en lees. Aan die aanwesiges en aan almal wat dit lees, word iets van die basis van Jesus se lewe en optrede geopenbaar, oor sy bestendige verbondenheid met sy Vader en oor sy lewenstaak. Waarmee God besig is, is nie die vrug van menslike denke nie, maar van God se bemoeienis met mense wat in eenvoud luister en soos kindertjies wat die boodskap wat hulle hoor aanvaar en glo; ‘Ja Vader, want so word dit voor U goedgevind.’

Die rede vir Jesus se blydskap is dat die Vader ‘die dinge’ vir slim en geleerde mense verberg het (apekrupsas) – eie wysheid (sofoi wyses) en insig/intelligensie (sunetoi verstandiges, intelligentes) maak nie dat God jou ken of erken nie; dit laat God nie jou naam in sy boek van die lewe opskryf nie (Luk 10:20). Maar aan die kindertjies (nepioi kindertjies van 3-4 jaar; ongeleerdes en onkundiges) het die Vader die dinge geopenbaar (apekalupsas; let op die woordspel tussen apokrupto verberg en apokalupto openbaar anders as Matteus se krupto verberg).

Die wyse man begryp die gedagtes waarvolgens hy sy lewe inrig, die verstandige begryp die dinge wat hy teëkom en albei ontwikkel deur hulle begrip van dinge die vermoë om sake reg te beoordeel en daarvolgens te handel. Maar omdat Jesus en sy optrede vir hulle bedek bly, is dit duidelik dat die mens die kennis van Jesus en die koninkryk van God nie uit homself kan verstaan of begryp nie. Dit moet as ’n geskenk uit genade ontvang word uit die hand van God, deur die werking van die Heilige Gees (Joh 16:8). Omdat hulle dit nie uit hulleself kan begryp nie, is dit vir die wyses en verstandiges ’n ergernis, wat hulle trots krenk. Maar vir die kindertjies wat dit as ’n geskenk aanvaar, word die geheim van God se koninkryk geopenbaar; nl. dat die kleinste en die nederigste (die kleinste in eie oë) juis die grootste en vernaamste is in God se koninkryk. Dit gaan om geloof en kinderlike vertroue op die Here, wat vir die wyses en verstandiges so moeilik is (Luk 1:52; 6:20; 1 Kor 1:18,25; Ps 8:3; 116:6).

10:22 Die Vader het alles aan die Seun oorgegee. Wat die ‘alles’ insluit is eerstens dat God sy Vader is, dié Vader van alles in die skepping. Die Seun het deelname aan al die mag van God en aan die goddelike lewe. Dit beteken dat Jesus self ook God is, soos Joh 1:1 sê, en die lewe is (Joh 1:4); dat die Vader aan Hom die koningsheerskappy toevertrou het in God se koninkryk (vgl. 1:33; 7:28; 8:1; 10:9,11 en dwarsdeur die hele Evangelie van Lukas). Op grond van die geheimenisvolle Vaderskap van God wat as die liefdevolle Vader en die magtige Here oor die hemel en die aarde regeer, bestaan die wederkerige verhouding tussen  die Vader en die Seun: niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun. Die  woord ‘ken’ (ginosko) het soos die Hebreeuse woord ‘jada,’ ’n wye betekenis wat ook ’n direkte persoonlike verhouding wat voortgaan uitdruk. Dit gaan nie om intellektuele kennis nie, maar om die noue persoonlike verhouding tussen twee persone. Hier gaan dit om ’n verhouding tussen die Vader en die Seun wat niemand anders kan begryp nie (1 Joh 4:8,16 sê ‘God is liefde’ om die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees te beskryf); vir Filippus sê Jesus: ‘Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is’ (Joh 14:11).

Jesus maak die pad na dié besondere verhouding oop sodat dié mense aan wie Hy dit wil openbaar, God kan ken soos Hy is. Hulle kry ook deel aan, of word opgeneem in dié besondere liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat hulle aan die Seun van God, wat self ook God is, verbind word deur geloof in Hom, word hulle aangeneem as kinders van God. Aan dié persoon aan wie Hy wil, openbaar Jesus hoe God werklik is. Dit is ’n geskenk uit die genade van die Here. Dié geheimenis van die persoon van die Seun, nl. dat Hy God is, was deur min Jode aanvaar, en dat God is soos die nederige Jesus sy Vader  openbaar, was ook vir hulle onaanvaarbaar.

10:23 Dat die volgelinge van Jesus die openbaring oor die Vader deur die Seun ontvang, word duidelik gemaak deur hierdie seënuitspraak van Jesus, privaat aan sy groepie dissipels. Jesus sê: ‘Geseënd/gelukkig is dié oë wat sien wat julle sien.’ Hulle, hoofsaaklik ongeleerde vissers, is die bevoorregte mense wat die Seun van God self gesien het en met Hom gewandel het – vgl. Johannes se weergawe van hulle dissipels se bevoorregte posisie in 1 Joh 1:1-3. Hulle beleef die aanbreek van die koninkryk van God. Hulle het hulle eie idee gehad oor hoe God is en hoe Hy gedien moet word en moes die ander siening by Jesus leer.

10:24 Profete en konings het verlang om te sien en te hoor wat Jesus se eenvoudige dissipels beleef het (1 Petr 1:10-12). Profete en konings was draers van die belofte van God se Gesalfde (die verwagte Messias) ,’n Profeet soos Moses (Deutr 18:18-19) en ’n Koning soos Dawid (1 Sam 7:12-13) maar met baie meer glans en heerlikheid as Moses of Dawid. Die vrome Simeon het in die baba Jesus die vervulling van die beloftes gesien (Luk 2:29-32). Die dissipels was egter bevoorreg om ’n paar jaar metgeselle te wees van die Seun van God aan wie die Vader die seggenskap oor alles in die skepping gegee het (paradidomi). Hulle gaan ook die getuies word van sy kruisiging en sy opstanding en hemelvaart, en ontvangers van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (Hand 2:4,en 2:17 – aangehaal uit Joël 2:28-32).




Die Evangelie volgens Lukas: Ellende vir die onboetvaardige dorpe (Luk 10:13-16) – Francois Malan

10:13-14. Lukas plaas die gedeelte hier as terugblik op Jesus se arbeid in Galilea wat nou afgesluit is. Die drie stede lê in ’n driehoek: Gorasin 3 km noord van Kapernaum en Betsaida oos van Kapernaum in die gebied van Filippus aan die oorkant van die Jordaanrivier wat in die see van Galilea vloei. Jesus het die meeste van sy prediking en werke hier gedoen. Jesus se kragtige dade verwys na sy wonderwerke wat hulle gesien het, wat die tekens was van die teenwoordigheid van die koningskap van God by hulle. Terwyl sommige van die dorpe in Judea en Perea waarheen die 72 dissipels gestuur word Jesus moontlik gaan verwerp nog voordat hulle Hom gesien het, en daardeur vir hulleself  die nabyheid van die koninkryk ontsê, het hierdie drie dorpe die kragtige dade gesien en belewe, en Jesus tog nie aangeneem en as God se Seun erken nie. Die twee buurstede van Kapernaum word gestel teenoor die twee heidense kusdorpe Tirus en Sidon, wat in sak en as sou gesit en hulle bekeer het, soos Nineve van ouds op die prediking van Jona (Jona 3:5). Hoe groter die Here se genade wat verwerp word, hoe groter die straf.

Die wee-roep is ’n weeklag oor die hardheid van die stede se inwoners en die vreeslikheid van hulle einde (Luk 13:28). Van Jesus se wonderdade in Gorasin word nie verder in die Evangelies vertel nie, en wys na baie werke van Jesus wat nie in die Evangelies opgeteken is nie. (vgl Joh 20:30).

10:15 En dan word Kapernaum aangespreek met woorde op die stramien (basis) van die oorwinningslied oor die koning van Babel in Jesaja 14:12-15. Kapernaum is deur Jesus uitgekies as sy stad (Matt 4:13) en is daarom verhef tot die hemel, die woonplek van God, omdat die Seun van God in Kapernaum kom woon het. Kapernaum sal sink tot in die doderyk (hades die mense van die Bybelse tyd se idee oor die plek onder die aarde van die dooies), omdat hulle Jesus nie as God wat by hulle kom woon het, erken het nie. Hemel word hier gebruik as die hoogtepunt van glorie en die doderyk as die dieptepunt van vernedering.

10:16  Met die oordeel oor die stede waaruit Jesus die meeste van sy werk gedoen het, Gorasin en Kapernaum in Galilea en Betsaïda in Filippus se gebied, word sy onderrig aan sy volgelinge uit die twee streke afgesluit met die algemene uitspraak oor die getuieniswerk van sy volgelinge. Daarmee gee Hy sy gesag aan die 70/72 wat Hy uitstuur en aan al sy latere volgelinge. As sy gesante getuig hulle oor Hom, oor die koninkryk van God, namens Jesus en in sy Naam. Aangesien ’n gesant sy sender verteenwoordig, is ’n aanvaarding of verwerping van sy gesante ook ’n aanvaarding of verwerping van Jesus self, en daarmee ook van God, wat vir Jesus gestuur het. Hy stuur nou sy volgelinge uit met sy boodskap wat Israel terugroep na hulle ware roeping as God se heilige volk. Die stede en dorpies moet kies: óf hulle kies Jesus se nederige self-opofferende diens in God se koninkryk, óf hulle kies hulle Joodse selfregverdigende en trotse nasionalisme (vgl. Luk 18:9-14). Dié oordeel sluit aan by Luk 10:12 en by die oordeel oor Gorasin, Betsaïda en Kapernaum.

 

Die terugkeer van die 72 (Luk 10: 17-20)

10:17 Die onderrig van die dissipels word afgesluit met die vreugdevolle terugkeer van die 72 omdat selfs die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van Jesus se Naam. Die dissipels spreek Jesus aan as ‘Here’(kurios), wat die seggenskap het in God se koninkryk en selfs oor die demone, soos hulle dit, as sy gesante, self beleef het.

10:18  Die naam vir die duiwel ‘Satan’ is afgelei van die Hebreeuse woord wat ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ beteken, (vgl. sy aanklag en teenstand teen Job en teen alle gelowiges; Job 1:6-12; 2:1-7; Openb 12:7-12).  Sy blitssnel skielike val uit die hemel, soos ’n weerligstraal, beteken dat hy nie langer enige aanklag teen ’n mens aan God kan voorlê nie, want Jesus het alle aanklagte teen mense op Homself geneem en dit aan sy kruis gespyker (Kol 2:14). Met Jesus se koms na die wêreld, met sy menswording, het Hy as die Skepper-God Hom reeds met die mensdom kom vereenselwig, en toe Hy Homself in die hande van mense oorgegee het (Luk 9:44) het Hy, as die paaslam van God, die sonde van die wêreld deur sy offer weggeneem (Joh 1:29; 1 Kor 5:7; Hebr 2:9). God het sy offer aangeneem deur Hom uit die dood op te wek (Hand 3:15; 4:10; Hand 5:30-31; 10:40-43; 17:3). Hy moes ly en uit die dood opstaan (dei dui die noodwendigheid daarvan aan omdat dit God se raadsplan is waaroor die Vader en die Seun en die Heilige Gees saam besluit het). In Rom 8:33-34 vra Paulus wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree (vgl. Ps 110:1). As God ons dan vrygespreek het, kan Satan ons nie meer by God aankla nie.

Deurdat die groot aanklaer uit die hemel uitgewerp is, kon die 72 dissipels die duiwels uitdryf en het die demone hulle aan die dissipels onderwerp op grond van Jesus se Naam, die Jesus wat al die versoekings van die Satan weerstaan het (Luk 4:1-13). Dit ten spyte daarvan dat die Satan, wat uit die hemel uitgegooi is, nou saam met sy engele op die aarde neergegooi is en sy heerskappy hier probeer uitoefen (Openb 12:9).

10:19 Psalm 91:13 sê dat die mens, wat by die Almagtige Here skuil, Hom aanroep en aan Hom toegewy is, sal op leeus en horingslange trap, en jong leeus en slange vertrap. Die volmag wat Jesus aan die twaalf gegee het (9:1) sê duidelik dat die Satan sy greep op die mens ten gunste van Jesus verloor het. Die nabyheid van die koninkryk van God in Jesus  se lewe en sterwe wys na die begin van die verwisseling van die Satan se heerskappy van geweld en bedrog op aarde met Jesus en sy bedeling van liefde en genade. In die woestyn het die Satan Ps 91:11 vir Jesus aangehaal om Hom te versoek, dat die engele Hom sal beskerm sodat sy voet nie oor ’n klip sal struikel nie (Lukas 4:10-11). Nou pas Jesus Ps 91:13 op die twaalf toe om hulle te versterk in hulle geloof in Hom as hulle bewaarder teen die slange wat hulle hakskeen sal probeer byt (Gen 3:15; Hand 28:3-5) en gee aan hulle die gesag (eksousia gesag om te heers, te beheer en te oordeel) oor al die mag van die vyande van Jesus.

Romeine 8:36-37 sê:  al word ons ter wille van God soos slagskape behandel (soos Ps 44:23 sê) is ons in alles selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. 1 Kor 13:8 sê dat liefde nooit faal nie (pipto val, vernietig word, sterf, ophou, ontoereikend wees). Só, in liefde, word ons gesag in Jesus se Naam uitgeoefen.

10:20  In vers 17 was die feit dat die demone hulle aan die 72 onderwerp het, die rede vir hulle groot blydskap. Ware blywende vreugde kom egter nie van die uitoefening van gesag oor ander, selfs oor duiwels nie, maar in die onwrikbare wete dat God ons ken en ons name reeds in die hemel opgeteken het (Flp 4:3 in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is; Openb 13:8). Nie die verjaagde duiwel nie, maar dat God daar is vir ons, maak werklik bly. Rom 8:31-32: ‘As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?’ Dit is ons blywende vreugde (vgl. 1 Petr 1;5-6).




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus stuur 70/72 dissipels uit (Luk 10:1-12) – Francois Malan

Slegs Lukas vertel van hierdie uitsending wat baie ooreenkom met Matteus 9;37-38; 10:7-15 en dit ná die berig in Luk 9:1-6 van die sending van die twaalf deur die hele Galilea. Hier word meer besonderhede gegee oor die sending. Waarskynlik word hierdie groep gestuur na die suidelike deel van Palestina, na Judea en oorkant die Jordaan in Perea, om sodoende die hele gebied van Israel te bereik met die boodskap oor Jesus en die koningskap van God wat aangebreek het.

10:1 Die getal 72 kom in sommige manuskripte voor (bv. Vaticanus, ongeveer 350 v.C., en papirus 75 uit Alexandrië), terwyl ander die getal 70 het (bv. Sinaïticus, wat ‘n bietjie jonger is as Vaticanus, en papirus 45 deels ’n Alexandrynse en gedeeltelik Westerse teks). Volgens Eksodus 1:5 het Jakob na Egipte toe gegaan met 70 afstammelinge tydens die sewe jaar droogte, terwyl Josef reeds daar was; volgens die Hebreeuse teks van Genesis 10 was daar 70 volke wat uit Noag se seuns ontstaan het; volgens die Griekse vertaling daarvan was daar 72). Volgens Numeri 11:16-17,24-30 het Moses 70 leiers op die trek deur die woestyn gehad en twee het in die kamp gebly; daar was 70 lede van die Sanhedrin).

Jesus stuur 72 van sy ‘ander’ volgelinge (benewens die twaalf) twee-twee voor Hom uit na elke dorp in Judea en moontlik Perea, dele wat Hy nog wou besoek, om Hom en sy boodskap bekend te maak. Die grootte van die getal wys hoe wyd Jesus nog voor sy dood die vernuwing van Israel deur sy verkondiging van God se koningskap oor hulle lewe wou bekendmaak. Die 72 was gekies uit die skare wat Jesus gevolg het, wat na sy prediking geluister het en die wonders gesien het wat Hy uit barmhartigheid aan mense gedoen het. Dit was hulle opleiding.

10:2  Die rede vir die uitsending is die oes wat ingesamel moet word. Dit is die Here se oes waarvoor Hy mense as sy werkers gebruik (vgl. Joh 4:35-38). Sy werkers se eerste taak is om tot die Here te bid dat Hy werkers sal stuur vir sy oes, sodat die mense in ’n dorpie wat tot geloof gekom het, sal voortgaan met die verspreiding van die evangelie onder die ander mense in hulle dorp, nadat die twee lede van die 72 wat daar gewerk het van hulle dorpie af vertrek het.

10:3 Hulle taak is verder om te gaan in die wete dat Jesus hulle uitstuur, as ’n weerlose prooi, soos lammers onder wolwe; onder hulle eie landgenote wat ’n verwagting van die Christus het wat heeltemal van hulle sal verskil; dit is asof Hyself in die hande van die ‘wolwe’  oorgelewer gaan word. Die 72 moet teenstand en verwerping verwag, selfs bedreiging van hulle lewens, deurdat hulle hulleself verloën, hulle kruis elke dag opneem en Jesus volg (Luk 9:23).  Maar kyk! gee besondere aandag hieraan! Hy stuur hulle. Hy sal hulle lei, hulle as sy getuies gebruik en hulle versorg.

10:4 Die reis moet haastig aangepak en deurgevoer word, sonder voorsiening in hulle eie behoeftes, nie eers ’n paar sandale nie, kaalvoet? (vgl. 10:11). Hulle moet dadelik vertrek op die sending en nie eers daarvoor gaan voorberei nie. Dit wys hulle armoede en ook hulle algehele afhanklikheid van die Here se versorging op die reis (vgl. Luk 22:35). Dat hulle niemand langs die pad moet groet nie, verwys na die haas van die uitvoering van hulle taak – die Jode se seremonies met die begroeting kon ’n lang proses wees, en dit sal hulle lank op hulle reis kan vertraag (vgl. 2 Kon 4:29). Dit beteken nie dat hulle die huise waar hulle gaan bly sonder ’n beleefde groet moet binnegaan nie (Luk 10:5). Die haas hang saam met die reis van Jesus na sy dood in Jerusalem, sodat elke dorpie ook in Judea van Hom en sy booskap sal kennis neem, die besondere voorreg om van die Seun van God se teenwoordigeheid in hulle land te hoor.

10:5 By die huis waarheen die Here hulle gaan lei om aan te klop vir die nag moet die inwoners eers gegroet word met ’n vredestoesegging: Vrede vir hierdie huis. Die Hebreeuse woord sjalom (Grieks êrene) verwys ook na die welwese van die huis se mense. Dit is die gewone Joodse groet, maar in gemeenskap met Jesus word dit die ewige heil van dié wat sy vrede aanneem (vgl. Luk 1:79; 2:14, ens.). Die Hebreeuse woord vir ‘groet’ en ‘vrede’ (sjalom) is dieselfde. Vir die ontvangs van Moses, vgl. Eks 2:20-21, en van Elia, vgl. 1 Kon 17:8-16. Al reis hulle as arm afhanklikes dra hulle die seën van God as toerusting vir hulle werk, die vrede wat in hulle gesprek sal deurstraal.

10:6 Die ontvangs van die vrede wat Jesus se gesante bring hang af van die ontvanger se reaksie daarop. As hy ’n ‘seun van vrede’ is  – ’n man van vrede, wat vrede soek en ontvanklik is vir vrede, sal julle vrede op hom bly (epanapauomai voortgaan om op hom te bly). Dit spel sy tydelike en ewige vrede met God, ook in sy hart, en die meegaande vreugdevolle en geseënde lewe onder die hand van die Here (vgl. Num 11:25).  Maar die seën van die groet sal nie bly by die mense wat nie die vrede soek en dit nie in geloof van God ontvang nie.

10:7 In dié huis waar hulle ontvang word, bly die twee dissipels wat Jesus na die dorpie gestuur het vir die hele tyd wat hulle die mense in die dorpie besoek met die boodskap van God se koninkryk wat in Jesus aangebreek het. Hulle eet wat hulle voorgesit word. So word hulle behoefte aan kos versorg. Die rede vir die vryheid om van die mense se gasvryheid gebruik te maak, is Jesus se volgende woord: die arbeider is sy loon werd. Hulle staan in diens van Jesus, wat hulle op dié manier deur ander laat versorg (1 Kor 9:9-11; 1 Tim 5:18; Deutr 25:4). Die verblyf in een huis wys ook op die haas waarmee hulle die taak moet aanpak, en nie van huis tot huis eers gesellig verkeer nie.

10:8-9 As die mense van die dorp hulle ontvang is daar drie dinge wat daarop volg: 1 hulle moet die mense se gasvryheid aanvaar, selfs in Perea waar daar ook baie nie-Jode woon en vir hulle kos kan voorsit wat nie volgens die Jode ‘kosher’ is nie (vgl. Hand 10:15). 2 maak die siekes gesond as teken van die heling wat Jesus bring en as bewys dat hulle deur Hom gestuur is; 3 sê vir die mense: die koninkryk van God, sy koningsheerskappy het naby julle gekom in die Persoon van Jesus. Hy is die koninkryk/koningskap van God wat na julle toe kom, na elke huis en stad. Die nabyheid van die koninkryk word juis geopenbaar deur die genesings deur Jesus se gesante.

10:10 In die dorp waar hulle nie ontvang word nie, moet hulle in die openbaar vir die inwoners in die strate sê dat hulle hulle heeltemal aan die dorp onttrek en aan hulleself oorlaat, soos Jesus in Nasaret en in die een Samaritaanse dorp gedoen het (Luk 4:30; 9:56).

10:11 Die onttrekking word met ’n profetiese simboliese gebaar sigbaar genaak: ‘selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef skud ons teen julle af.’ Dit is ‘n aanklag en teken van hulle onttrekking sonder om iets van die dorp met hulle saam te neem. Markus 6:11 sê dit dien as getuienis teen die dorp.

Daarby moet hulle ook sê: ‘Maar weet dit, dat die koninkryk van God naby gekom het.’ Dit is nie die boodskappers nie, maar die nabyheid van God se regering, sy genade, sy vrede, en daarmee die genadige God self, wat afgewys is.

10:12 Voor die vertrek van die 70/72 sê Jesus dat God se eindoordeel oor so ’n stad wat vir God verwerp het veel groter sal wees as dié oor Sodom, wat die engele/boodskappers van God wou verkrag (Genesis 19:1,5). Dit is nie so ’n dorpie wat die gesante van God afwys nie, maar hulle wys die koninkryk van God af, wat naby hulle gekom het; die nabyheid van God self by hulle, het hulle afgewys. Die afwysing van die evangelie en sy reddende krag (Rom 1:16) maak die oordeel van God onontwykbaar.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus op pad na sy lyding in Jerusalem (9:51-62) – Francois Malan

Lukas 9:51-19:48 is ’n konstruksie van Lukas wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. Soms maak hy van Markus gebruik, en heel dikwels van ’n gemeenskaplike bron met Matteus. Maar die grootste gedeelte kom slegs in Lukas voor. Agt maal sê Lukas dat Jesus op pad is na Jerusalem (9:51,53; 13:22,33; 17:11; 18:31; 19:11,28) en in 9:57; 10:1,38; 14:25 is aanduidings van ’n reis. Maar die reisplan kan nie gekonstrueer word nie. Van 9:51 af lyk dit of Jesus die kortpad volg deur Samaria na Jerusalem, maar in 19:1 gaan Hy deur Jerigo, wat die ompad deur Perea veronderstel. In 10:38 is Hy in Betanië net buite Jerusalem by Marta en Maria, maar in 17:11 is Hy weer tussen Samaria en Galilea. Dit lyk meer na omswerwings in Palestina. In hierdie tien hoofstukke is die Here, wat volgens God se wil gaan ly, besig om sy dissipels toe te rus vir hulle sending om die boodskap oor Jesus die Christus as Verlosser ná sy dood en opstanding te gaan verkondig. Die oproep aan die Galileërs en in die gebied van Filippus is verby. Jesus se lyding en sy eksodus/uittog waaroor Moses en Elia met Hom gepraat het, lê nou voor en Hy reis doelgerig daarheen, maar totdat dit kom, moet Hy voortgaan met sy toerusting van sy volgelinge.

 

Die Samaritane verwerp Jesus (Luk 9:51-56)

Soos Jesus se bediening in Galilea met sy verwerping in Nasaret begin, begin sy tog na Jerusalem met sy verwerping in Samaria.

9:51 Jesus se taak in Galilea is vervul/voltooi. Hy en die twaalf het al die dorpies en gebiede in die provinsie Galilea besoek. Dit word afgesluit saam met duisende van sy volgelinge met ’n feesmaal buite die grense van Galilea. Daarop volg sy verheerliking en gesprek op die berg oor sy uittog/eksodus (vgl. ook 2 Petr 1:16-18) en ’n laaste duiweluitdrywing. Sy volgelinge se geloof word in vier kort berigte getoets.

Toe die dae vervul was (sumplêromomai) van sy opneming (analêmpsis) (vgl. 2 Kon 2:10-11; in die hemel in; vgl. Luk 2:22) was Hy vasberade (to prosopon estêrisen – ’n Semitiese uitdrukking: om jou gesig vas te nael – om ’n vaste besluit te neem) om na Jerusalem te gaan. Soos Johannes 12:32 se woord ‘verhoging’ sluit Lukas se woord ‘opneming’  Jesus se sterwe, opstanding en hemelvaart in. Nou is Jesus vasberade om dit in Jerusalem te gaan vervul. Dit was die doel van sy koms as Verlosser van die wêreld. So word die belofte van God deur die verwagte Messias, die Christus/Gesalfde van God, vervul (Luk 9:20; Jes 53:10).

9:52-53 Die Samaritane was die nakomelinge van die Oosterse volke wat deur Assirië se koning hier geplaas is ná die wegvoering van die tien stamme van Israel, in 722v.C. (2 Kon 17:24-35). In 128 v.C. het die Judese koning Hyrkanus die tempel van die Samaritane op berg Gerizim verwoes (vgl. ook Deutr 27:12-13; 11:29; Jos 8:33). Die Samaritane het die Galileërs, wat die kortpad na Jerusalem toe gevolg het vir die jaarlikse feeste, verblyf geweier en hulle soms aangeval; die Jode het nie die Samaritane se godsdiens aanvaar nie (Esra 4:1-6; vgl. Joh 4:20). Jesus stuur boodskappers om vir Hom voor te berei. Die Samaritane van dié dorpie weier om Hom te verwelkom/ontvang (degomai – om iemand vriendelik te ontvang). Die verwerping van Jesus, soos Hy in Luk 9:22 gesê het, het reeds begin.

9:54-55 Jakobus en Johannes wil die inwoners van die Samaritaanse dorpie met vuur uit die hemel vernietig, soos die Here vuur uit die hemel op Elia se gebed op die brandoffer gestuur het (1 Kon 18:36-38) en vuur uit die hemel twee groepe soldate wat Elia kom haal, vernietig het (2 Kon 1:10-12). In Mark 3:17 noem Jesus hulle twee Boanerges, ‘seuns van die donder.’ Die Seun van die Mens het gekom om te red (Luk 2:11; 19:10), nie om te vernietig nie! Hy is nie dié soort Messias soos Elia, soos die twee broers meen nie. Jesus wys die twee broers tereg (epitimao, dui op sy sterk afkeur daarvan). Dit gaan om hulle soort denke te vernietig, oor hulle verkeerde denke oor Hom, oor die Samaritane en oor hulleself as volgelinge en gestuurders van Jesus (’n langer teks, soos in die 1933/53 vertaling, kom nie in die oudste papiri en manuskripte voor nie).

9:56 Jesus en sy groep volgelinge gaan rustig na ’n ander dorp om sy sending voort te sit.

 

Hoe Jesus gevolg moet word (Luk 9:57-62)

Lukas plaas die drie kort gesprekke as teenstelling en toepassing van die voorafgaande verwerping van Jesus deur die Samaritaanse dorpie op sy pad na sy kruisdood toe, en Jesus se verwerping van sy twee dissipels se wraak op die dorpie uit lojaliteit teenoor Hom. Dit is anders geplaas as in Matteus 8:19-22 se insetsel oor dissipelskap tussen die reeks wonders van Jesus in Galilea.

9:57 Die ongenoemde man (‘iemand’) wat Jesus sal volg waar Hy ookal gaan, wil deel word van Jesus se dissipelkring. Die man praat met soveel selfvertroue want hy het geen idee oor Jesus se verwerping en kruisiging wat voorlê nie, en daarom ook nie van sy eie swakheid en onstabiliteit nie.

9:58 Jesus verwys na die diere wat vir hulleself gate soek en neste bou, teenoor die Seun van die Mens wat nie deur die mense van die Samaritaanse dorpie verwelkom is nie, nie sy eie huis besit nie, die brandarme wat juis van mense afhanklik is om vir Hom ’n plek te gee om sy kop neer te lê, selfs in sy dood (Luk 23:33; Mat 27:60). En as die mense Hom verwerp, sterf Hy sonder ’n draad klere aan, aan ’n kruis. Dissipelskap van Jesus is iets anders as om saam met Jesus op ‘n segetog te gaan, waaroor mense droom. Jesus kla nie oor sy lot nie. Hy wil die implikasie van dissipelskap uitstippel vir elkeen wat Hom wil volg. Daarom moet die koste bereken word om Jesus te volg waar Hy ookal mag gaan…tot in sy kruisdood?

9:59 In die tweede gesprek roep Jesus iemand om Hom te volg. Hierdie man was skynbaar besig om vir sy pa se begrafnis voor te berei, en hoewel hy gewillig is om Jesus te volg, vra Hy toestemming om eers sy pa te gaan begrawe, moontlik lê sy pa nie op sterwe nie, maar is net oud. Vir die Jode was dit ’n dure plig om jou ouers te begrawe, volgens hulle verstaan van Eks 20:12. Die rabbi’s het selfs die toestemming vir die priesters in Lev 21:1-2 tot ’n plig verander. Hulle het dit ook beskou as ’n liefdeswerk en daarom as ’n goeie werk in die oë van God. Die seuns se plig rondom die begrafnis het ook die bereddering van die boedel behels (Luk 12:13). Die man vir wie Jesus roep is nog te vol van sy eie sake, wil voorlopig nog sy bindinge handhaaf, en daarna is hy beskikbaar in die vertroue dat die roeping wel herhaal kan word. Maar Jesus is op pad na sy dood, en die geleentheid vir hierdie man om saam met Jesus te wees is verby. Om Jesus te volg behels ook gaan om te verkondig. In plaas van rou oor die dooie, staan die verkondiging van die vreugdeboodskap van God se koningskap oor die wêreld.

9:60 Vir die soort uitstel-mens het Jesus ’n harde woord oor sy familieverbondenheid. In plaas daarvan dat die man op die dood en doodsgebruike konsentreer, moet hy die koninkryk/koningskap van God gaan verkondig. Jesus het juis gekom as die oorwinnaar oor die dood, wat God as straf op die sonde vir die hele skepping en die mens opgelê het (Gen 3:19). Jesus kom die pad na die lewe aanwys, die verlossing uit die dood tot ’n ewige lewe (Luk 20:38). Jesus kom alle doodsgebruike deurbreek met sy opstanding uit die dood. Die dood is nou ’n oorgang na die lewe vir elkeen wat in Jesus glo. Laat die geestelike dooies die fisiese dooies begrawe.

9:61 Die derde man, wat net in Lukas voorkom, sal Jesus volg, maar vra Jesus se toestemming om eers van sy huismense afskeid te neem (apotassomai om totsiens te sê en te vertrek, of ook: totsiens sê en finale reëlings vir die vertrek te tref) soos Elisa toe Elia hom geroep het (1 Kon 19:19-21).

9:62 Jesus antwoord met die beeld van ’n boer wat ploeg en sy oog op ’n vaste punt oorkant die land vestig om ’n reguit voor te trek. Maar die boer wat loop en omkyk trek krom spore, omkyk help nie om vooruit te kom nie. So ’n mens is nie geskik (euthetos geskik om bruikbaar te wees) vir die koninkryk van God nie. Onder God se koningsheerskappy word algehele toewyding aan Hom en onvoorwaardelike getrouheid aan jou Here gevra: om jouself te verloën, elke dag jou kruis op te neem, Jesus te volg (Luk 9:23). Dit wat Hy van sy volgelinge vra, het Hy ten volle uitgevoer. Hy het selfs die band met sy moeder en broers verbreek waar dit nodig was om sy roeping te vervul (Luk  8:20-12). Soos ‘n boer vestig Jesus van hier af sy oog op Jerusalem waar die Joodse Raad Hom gaan verwerp en laat kruisig, en so sal Hy die verlossing van die mense  bewerk.