Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se antwoord aan Johannes die Doper (Luk 7:18-23) – Francois Malan

Die gedeelte kom inhoudelik ooreen met Matteus 11:2-19, wat aandui dat hulle dieselfde bron gebruik het en vir hulle doel aangepas of uitgebrei het. Lukas het bv. die inleiding uitgebrei om by die voorafgaande aan te pas, en om van Johannes se dissipels ooggetuies te maak.

7:18-19 Die geskiedenis volg op 3:20 wat Johannes in die gevangenis by Herodes se bergvesting Magaerus aan die oostekant van die Dooie See plaas (Matteus meld dat Johannes gevangene is; Lukas sê hier niks daaroor nie). Johannes, wie se dissipels vir hom vertel het van die vreemde dinge wat Jesus in hoofstuk 6 gesê en gedoen het, stuur twee (duo) van sy dissipels (Matteus: ‘hy stuur deur (dia) sy dissipels’) na die Here toe om te vra: Is U die Komende/die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag? Moontlik wou juis sy dissipels duidelikheid kry oor Jesus.

In Luk  3:16 het Johannes gepraat van een wat kom. Daniël 7:13 praat van een wat met die wolke kom. Ps 118:26 sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Reeds voor die Babiloniese ballingskap het Habakuk 2:2-4 gesê: dit sal gou kom, maar julle moet geduldig wag as dit nie gou kom nie. Lukas sê Johannes se dissipels is na die Here (ho kurios) toe gestuur (Matteus: na Hom toe – die Christus wat Matteus in v18 genoem het; enkele Griekse manuskripte lees hier in Lukas  ‘Jesus’ in plaas van ‘die Here’). Lukas wys met die benaming ‘die Here’ dat Jesus die een is wat gekom het, die Messias/Christus/Gesalfde wat die Jode verwag.. Johannes se prediking in Luk 3:16-18 het vertel dat die Een wat kom die koring en die kaf kom skei. Sover hoor hy baie van die goeie boodskap van Jesus se barmhartigheid, en slegs waarskuwings oor die oordeel. Kom daar iemand anders wat die oordeel gaan voltrek? Johannes vra nie wat moet ons doen nie, maar wat moet ons verwag.

7:20 Anders as Matteus, herhaal Lukas die vraag toe die manne by Jesus kom, om daarmee te beklemtoon dat dit ’n vraag is wat in baie mense se gedagtes geleef het, of Jesus wel die verwagte Messias/Christus/Gesalfde-verlosser is. Johannes se dissipels noem hom Johannes die Doper, wat juis verwys na Johannes se verkondiging van ‘’n doop van bekering (metanoia ’n verandering van jou denke en optrede) met die oog op die vergewing van sondes’ wat Jesus kom bewerk (Luk 3:3).

7:21 Toe Johannes se dissipels by Jesus kom, was Hy juis besig om baie mense te genees van hulle siektes  (nosoon siekte toestande), kwale (mastigoon siektetoestande wat as die straf van God gesien word), bose (poneros moreel korrupte en bose) geeste, en baie blindes om genadiglik (charizomai) weer te kan sien, soos Jesaja 35:5 gepraat het van blindes wat sal kan sien, want God is hier om te red; Jes 29:18 van blindes wat weer kan sien en mense in nood wat weer bly is.

7:22 Dit waarop Israel vir 700 jaar sedert Jesaja gewag het, gebeur nou – God is hier! Die profesieë, die beloftes van God in Jesaja 35:5, 29:18 en 61:1 word vervul deur Jesus, soos Hy dit in die Nasaret-sinagoge op Homself toegepas het (Luk 4:18-21): Die verlossingslied wat hier gesing word, kondig aan dat die heilstyd gekom het, dit waarop die vrome Israeliete gewag het (vgl. Simeon se loflied in Luk 2:28-32). By die genesing van siekes kom ook die armes wat  afhanklik van God se sorg lewe, aan wie die goeie boodskap aangekondig word (vgl. Luk 6:20-23). Johannes se dissipels sien nie slegs wat Jesus doen nie, maar hoor ook sy goeie boodskap aan die armes.

Jesus antwoord nie direk op Johannes se vraag nie en sê nie dat Hy die Messias/Christus is nie. Johannes het ook nie direk gevra of Hy die Messias/Christus is nie – die term Messias/Christus het in Israel valse verwagtings gewek van ’n gesalfde koning wat hulle met geweld gaan verlos. ‘Die een wat kom’ is ’n verwysing na Jesus as die verwagte Gesalfde van God. Die messiaanse heerlikheid van Jesus is nie vir almal duidelik sigbaar nie, maar blyk uit sy woorde en optrede.  Uit sy dade van barmhartigheid word die werk van die Een wat aan die kom is, geken en nie deur militêre oorwinnings oor hulle Romeinse onderdrukkers, of deur vuur oor die vyand nie. Met sy dade van barmhartigheid vervul Jesus die beloftes van God in die Skrif.

7:23 Aan die lofsang word ’n waarskuwing in die vorm van ’n seën verbind. Moenie aanstoot neem aan Jesus nie (skandalisthe word hier figuurlik gebruik as aanstoot neem; letterlik is dit om in ’n strik gevang te word deur in die strik te trap). Aanstoot neem aan Jesus kan ’n mens tot ’n val bring as jy nie hierdie waarskuwing ter harte neem nie. Die heilstyd is verbind aan die Heilbringer wat gekom het. Johannes het die onontwykbare oordeelskatastrofe aangekondig en die reiniging van die volk deur die bekeringsdoop voorsien. Jesus bring egter die begin van die heilstyd, nie deur die oordeel of ’n nasionale bevryding nie, maar met sy barmhartigheid wat God se volk kom vernuwe. Die seën eis nie onvoorwaardelike erkenning van Jesus nie, maar waarsku teen ’n vinnige veroordeling van Jesus en sy nuwe weg, waarmee jy jouself uitsluit uit God se verlossingswerk. Om die valse verwagtings wat aanstoot neem aan Jesus te oorwin, vra om vertrouend in Hom te glo. Jesus se antwoord laat dit vir die Doper en sy dissipels oop om te besluit, maar om hulle te help om reg te besluit, herinner Hy hulle aan die skildering van die heilstyd in Jesaja 29:18-19; 35:1-6; 61:1.  Hierdie seën van Jesus aan dié wat nie aan Hom en sy woorde en dade aanstoot neem nie, geld vir alle mense (‘wie ookal’). Salig is ook die gelowiges wat hulle lyding ter wille van Jesus aanvaar (Rom 8:17).




Die Evangelie volgens Lukas: Die opwekking van die jongman van Naïn (Luk 7:11-17) – Francois Malan

Die verhaal kom slegs in Lukas voor. Daar is ’n stygende lyn in Jesus se genesingswonders van ’n sterwende waardevolle slaaf van ’n ryk hoofman, tot ’n gestorwe enigste seun van ’n arm weduwee wat vir haar meer werd was as die slaaf vir sy heer. Daarby word Jesus se barmhartigheid teenoor mense in nood beklemtoon. Die genesing sluit aan by die twee profete waarna Jesus in Nasaret verwys het: Elia wat die weduwee van Sarfat se seun uit die dood opwek (1 Kon 17:17-23 en Elisa se opwekking van die Sunemmitiese vrou se seun  (2 Kon 4:32-36).

7:11 Die opwekking word aan die genenesing van die slaaf verbind met ‘kort daarna.’ Vir die eerste maal word vertel dat Jesus met sy dissipels en ’n groot skare op reis gaan. Naïn lê ongeveer 30 km suid-wes van Kapernaum en ongeveer 8 km suid van Nasaret af teen die hang van klein Hermon, nie te ver van Sunem aan die anderkant van klein Hermon af nie.

7:12 Voor die stadspoort ontmoet Jesus se stoet van die lewe die stoet van die dood. Gewoonlik word ’n dooie op dieselfde dag as sy dood begrawe, en sou die ontmoeting teen die laatmiddag gewees het. ‘En kyk! ’n gestorwe enigste seun van ’n weduwee moeder word uitgedra (ekkomizo ’n tegniese term vir uitdra van ’n lyk om begrawe te word) om buite die dorpie begrawe te word. Omdat sy ’n weduwee is, is haar seun haar enigste versorger en regsverteenwoordiger. Sonder hom is sy sonder regsbeskerming en is sy onversorg. Die stoet bestaan uit ’n groot groep uit die stadjie. Om ’n lyk te vergesel is deur die Jode gesien as ’n verdienstelike werk.

7:13 Vir die vrou voel die Here innig jammer (splanchnizomai innerlik geroer) en sê sy moenie huil nie. Sy loop volgens gebruik voor die baar waar Jesus haar stop. Lukas noem Jesus ‘Here’ (kurios verwys na die Heerser wat die bevele gee, of die Eienaar, of vir respekbetoning; die titel word in die Bybel veral vir God en vir Christus gebruik). Niemand vra iets van Jesus nie, maar Hy tree op uit sy innerlike meegevoel teenoor die vrou.

7:14 Jesus gaan nader en raak aan die draagbaar, waarskynlik ’n plank waarop die lyk lê, toegemaak in ’n doodskleed. Die draers gaan staan oor dié man wat aan ’n lyk kom raak, en dit sonder vrees om daardeur verontreinig te word. Volgens Numeri 19:11 is elkeen wat aan ’n lyk raak vir sewe dae onrein. Maar hier wyk die reinheidswet voor die hoë wet van barmhartigheid. Hy spreek die dooie aan as ‘Jongman’ (neaniske ’n ongetroude jong man na puberteit) en spreek sy volmagswoord uit: ‘Ek sê vir jou: staan op!  As die Here, soos Lukas Hom hier noem (7:13) en as Here oor die Sabbat (6:5), wat ook seggenskap het oor lewe en dood, spreek Hy ‘n opwekkingswoord aan ’n jongman. Dit volg as klimaks op sy prediking en sy vergewing van sonde in die vorige hoofstukke, sy aanspreek van die duiwel en bestraffing van demone, van ’n hoë koors, visse, die ry genesingswoorde, ’n reinigingswoord aan ’n melaatse en roepingswoorde aan sy dissipels, wat alles die mag van sy woord onderstreep.

7:15 Met sy regopsit en praat bewys die jongman dat die lewe in hom teruggekeer het (vgl. Ps 104:29-30 wat die Here prys omdat Hy lewe gee en dood). Uit sy erbarming oor die weduwee-moeder word haar enigste steun en beskermer aan haar teruggegee, soos aan die weduwee-moeder in Sarfat (1 Kon 17:23). Die jongman word nie geroep om Jesus te volg nie, maar word aan sy moeder gegee om haar te troos en te versorg. Jesus se gebruik van sy volmag word gekenmerk deur sy barmhartigheid om ’n lewe, wat ten gronde gegaan het, te red (vgl. 7:9).

7:16 Die daad van Jesus wek vrees onder die mense en lof aan God, soos in 5:26 met die opstaan van die verlamde man. God word geprys dat Hy ’n groot profeet onder hulle laat opstaan het, soos Elia en Elisa (4:24-27). Deur hierdie profeet is God self tussen hulle teenwoordig met sy innige ontferming waarvan Sagaria gesing het (1:78-79). Die opwekking van die jongman van Nain is ’n vervulling van die belofte in Sagaria se lofsang: danksy ons God se innige ontferming laat Hy die son skyn oor diegene wat hulle in die skaduwee van die dood bevind.

7:17 Die roem van Jesus versprei hierna oor die hele Joodse land, soos die naam Judea hier gebruik word (Nain lê in Galilea),. Sy roem versprei ook in die omliggende gebiede soos Sirië, Dekapolis, ens.




Die Evangelie volgens Lukas: (Luk 7: 1- 10) – Francois Malan

Lukas se berig is langer en met meer besonderhede as Matteus 8:5-13 en Johannes 4:46b-50 se berigte hieroor.

7:1-3  ‘Na Jesus al sy woorde tot die hoorders uit die volk voltooi het, het Hy in Kapernaum ingegaan.’ Die onderrig van die volk was op die vlakte buite Kapernaum. As grensdorp was daar ’n afdeling van Herodes Antipas se soldate aan diens in die stad. Die owerste oor die afdeling soldate se persoonlike slaaf, wat vir hom so baie werd was soos ’n kind, was dodelik siek. Aangesien die owerste nie ’n Jood is nie, stuur hy van die ouderlinge van die Joodse gemeente om Jesus te vra om die slaaf se lewe te kom red – die berig oor die genesings van Jesus op die vlakte buite Kapernaum het duidelik versprei tot in die Romeinse kamp (6:18).

7:4-5 Die Joodse leiers van Kapernaum kom met ’n ernstige en dringende versoek na Jesus in die lig van die dringendheid van die dodelike siekte, en die erns van die saak van die ryk soldaat wat dit werd is omdat hy lief is (omgee; agapao) vir ‘ons volk’  en ‘hy het uit sy eie vir ons die sinagoge gebou,’ waarskynlik met sy eie geld. Dit wys na die Jode se idee van verdienste voor die Here deur goeie werke; en na dié heidense soldaat se toegeneentheid teenoor die Joodse geloof en sedes, en na sy besorgdheid oor sy slaaf, alles dinge wat besonder en uitsonderlik was vir ‘n Romeinse leier van soldate. Die leiers gaan saam met Jesus na ’n heiden se huis, wat vir hulle en vir Jesus volgens hulle opvattings onrein sou maak, tensy hy reeds deur die doop en besnydenis ’n Joodse proseliet was, of nog sonder die doop of besnydenis as ’n ‘godvresende’ beskou sou word.

7:6-8  Jesus voldoen aan die ouderlinge se versoek en gaan saam met hulle na die hoofman se huis. Maar terwyl hulle die hoofman by Jesus aangeprys het dat hy dit verdien (axios werd is) dat Jesus dit vir hom doen, laat weet die hoofman vir Jesus dat hy homself nie werd ag (axioō) dat Jesus onder sy dak inkom nie. Eers het hy laat vra dat Jesus kom (7:3), maar nou, blykbaar by nadenke, laat hy weet dat hy nie waardig is dat Jesus kom nie. Die tweede gesantskap wat die nuus bring bestaan uit die hoofman se vriende. Hy het homself nie waardig geag om self na Jesus te kom met die eerste versoek nie, en spel sy nederige beskeidenheid nou nog verder uit deur sy vriende te stuur met sy nederige boodskap. Hoewel die hoofman daarmee die groot afstand van sy eie minderwaardigheid teenoor Jesus betoon, beskou Jesus Homself nie verhewe bo die nederige heidense man en sy versoek oor sy slaaf nie. Die hoofman is van die krag van Jesus se woord oortuig en vra van Jesus slegs ’n bevel oor die siekte, soos hy bevele van bo hom gehoorsaam, en van sy peloton verwag. Maar hulle aardse seggenskap kan nie ’n mens genees nie. Hier is die beperking van die mens se bevele. Soos sy bevelende woord egter gesag dra, glo hy in Jesus se baie groter gesagswoord oor die liggaam en gesondheid van ’n mens. Jesus se teenwoordigheid is nie daarvoor nodig nie, maar kan oor afstande en oor bonatuurlike magte heen werk. Soos Jesus gelykenisse gebruik om sy boodskap te verduidelik, gebruik die hoofman ook ’n beeld van sy eie gesag oor sy soldate en sy slawe, maar sy gesag kom van sy koning, Herodes Antipas, onder wie se gesag hy staan. So erken hy Jesus se groter gesag wat in die koninkryk van God geld.

7:9 Jesus verwonder Hom oor die heidense hoofman se groot geloof in sy woord, wat Hy tot dusvêr nie in Israel gevind het nie, van wie Hy dit juis sou verwag met hulle eeuelange kennis van die krag van hulle Here se woord. Maar by Israel kry Hy voorbehoude en wantroue (4:2,29 in Nasaret; 5:21 by die genesing van die verlamde; 6:7,11 en van die mense by die man met die gebreklike hand). Jesus het Hom na die skare, wat Hom volg, gedraai en dit tot hulle beskaming gesê, om hulle jaloers te maak, soos Paulus sê (Rom 10:19; 11:11,14). Die oes van die Here groei ook by die heidene deur wat die Here Jesus doen.

Dit was Joodse leiers wat die heidense hoofman se saak by Jesus kom bepleit en die kontak tussen Jesus en die godvresende heiden bewerk het. Die heiden kom by Jesus uit deur bemiddeling van die Jode. So kom die verlossing van die heidene deur die rol van die Jode, en kom die Nuwe Verbond van Jesus nie sonder die Ou Verbond met Abraham tot sy reg nie, en die kerk van Christus nie sonder Jode soos Jesus, Paulus. Johannes, ens. nie.

7:10 Lukas vertel nie dat Jesus ’n woord gespreek het, soos Matteus 8:13 vertel nie, maar dit word veronderstel deur die woorde van die hoofman. Die gestuurde vriende van die hoofman kry egter die slaaf tuis genees deur die helende woord van Jesus waarop die hoofman vertrou het. Hierdie is Lukas se eerste berig van Jesus se genesing van ’n heiden wat eintlik reeds in sy verweer in Nasaret geïmpliseer is met die voeding van die heidense weduwee van Sarfat en die genesing van Israel se onderdrukker Naäman. Daarby is dit die eerste genesing op ’n afstand sonder dat Jesus aan die sieke raak of direk aanspreek, soos by meeste van die vorige genesings. Die hoofman se nederigheid en sy vaste geloof in Jesus as Geneser word deur Lukas beklemtoon.




Die Evangelie volgens Lukas: Moenie oordeel nie (Luk 6:37-42) – Francois Malan

6:37-38 Die barmhartigheid wat gevra word, word hier verduidelik met ’n samevattende sin aan die einde: Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word. Twee soorte maatstawwe word teenoor mekaar gestel: oordeel en barmhartigheid, elk met twee dele: oordeel en veroordeel; vergewe en gee.

Die Jode het geglo God gebruik die twee soorte maatstawwe, oordeel en barmhartigheid. Maar Jesus vra dat ’n mens mense volgens die maat van barmhartigheid sal behandel, omdat dit die enigste manier is om die gebroke gemeenskap te heel. Die oordeel word aan God alleen oorgelaat, Rom 14:10-13. Die maat wat die mens teenoor sy medemens gebruik, gebruik God weer teenoor hom/haar. As jy nie jou naaste oordeel nie, sal God jou nie oordeel nie; as jy nie jou medemens veroordeel nie, sal God jou ook nie veroordeel nie. As jy vergewe, vergewe God jou (vgl. Mat 6:14-15); as jy gee, sal God aan jou gee, in oorvloed. Aan sulkes gee God ’n volle gawe wat in die besonder beklemtoon word: ’n ryke maat, saamgepers, ingeskud, wat daarby oorloop; dit word in jou skoot gegee, in die vou van die los klere bokant die gordel (vgl. Rut 3:15 se tjalie). In sy barmhartigheid skenk God aan sy volgelinge om burgers te wees van sy koninkryk, en vra van hulle barmhartigheid teenoor hulle medemense, ook teenoor hulle vyande; daarop antwoord God met nog meer barmhartigheid. Die volheid word geskenk en uitgewerk in die mense se kindskap van God. Hy sorg vir hulle as hulle Vader (Luk 12:7=Matt 10:30; Luk 21:18).

6:39 Die volgende gedeeltes handel oor Jesus se volgelinge se verantwoordelikheid om mense na Jesus toe te lei (vgl. Luk 5:10). Die vers gaan oor leierskap wat in vers 40 op die dissipels toegepas word. Volgens Matteus 15:14 het Jesus die woord op die Fariseërs toegepas, as blinde leiers van blindes vir wie sy volgelinge moet oppas (vgl. Rom 2:17-24). As Jesus se dissipels mense na Jesus toe moet lei, moet hulle die waarheid verkondig en lewe soos mense wat die lig van die koningskap van God sien, anders lei hulle die mense die afgrond in, soos die Fariseërs. ’n Leier kan alleen lei as hy die pad kan sien. Jesus beveel streng selfondersoek voordat ons begin oordeel (vgl. Luk 6:37).

6:40 Om ’n leier te word moet die leerling by sy leermeester leer hoe om ’n bekwame leier van ander mense te word. Daarom is dit so belangrik om die regte leermeester te kies. In 6:47 spel Jesus dit uit dat hulle Hom as leermeester moet kies. In Ps 119:99 het die digter reeds gesê: Ek is verstandiger as al my leermeesters, want U bepalings is vir my stof tot nadenke. Dit beteken dat Jesus se dissipels die blinde Fariseërs moet los as hulle leermeesters. Jesus se volgelinge moet Hom navolg sodat Hy die goeie boodskap na ander bring deur hulle woord en lewe. Die leermeester kan slegs onderrig gee in wat hy self geleer het en dit toepas.

6:41-42 Vir die eerste keer in Lukas word die woord ‘broer’ vir Jesus se dissipels gebruik. Die christenleier moet los- kom van sy skuld en verstrengeldheid in boosheid en sonde. Dit kan egter nie geskied in ’n hoogmoedige neersien op ander nie; maar slegs in solidariteit met ander, bewus van almal se skuld en sonde, en van die vergewing daarvan deur Christus. Slegs die een wat homself onder die oordeel van die Here se woord stel, kan ’n ander op sy tekortkomings wys. Die beeld wat gebruik word vergelyk die klein splintertjie hout van jou broer se oortreding met die groot balk van eiegeregtige hoogmoed in jou eie oog. Jesus herinner gelowiges, as volgelinge van Hom, hulle nederige leier, dat hulle mekaar se broers is. As jy op jou broer of sy geringe oortreding neersien, soos die Fariseërs op die tollenaars, word die eenheid en solidariteit van Christus se kerk bedreig. Christus moedig sy volgelinge aan tot nederige selfondersoek om eers die balk van selfbelang en selfversekerdheid in hulle eie oog, te verwyder. Dan kan hulle mekaar se sonde laste dra, soos die broer se splinter in die oog, en om mekaar se voortreflikhede te verdra (die twee Griekse woorde in Gal 6:2 het elk twee betekenisse: báre laste & voortreflikhede; bastazo dra & verdra: laste en dra pas by 6:1, en voortreflikhede en verdra by 6:3).

6:43-46 Die volgende beeld van die eenheid tussen die boom en sy vrug verwys na die soort woorde wat uit die mond kom van die goeie of slegte mens (soos in Matteus 12:33-37; terwyl Matteus 7:15-21 na dade en woorde verwys). Die gevaar van huigelary (vgl. skynheilliges in vers 42, en die splinter en die balk) word oorwin deur die eenheid tussen jou mond se uitinge en jou innerlike aard. Jou mond openbaar wat in jou hart is.

Die Jode sê  ’n mens wat goeie dade verrig is ’n goeie mens. Jesus sien die goeie woorde van ’n goeie mens as uitinge van sy hart wat aan sy woorde en werke kwaliteit gee. Niemand soek vye aan ’n doringstruik of druiwe aan ’n doringbos nie. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer van sy hart, dit is die sentrum van sy persoon, die goeie woord wat ‘n mens van die Goeie Leermeester geleer het (6:40) en in die skatkamer van sy hart gebêre het. Die hart word ook vergelyk met ’n fles wat oorloop in jou woorde, as goeie woorde of slegte woorde, afhangende van die goeie of slegte wat in die mens is.

Lukas skryf sy Evangelie aan gemeentes waar daar valse leraars optree, soos die Fariseërs in Jesus se tyd, en 6:39-42 waarsku gelowiges met ’n humoristiese oordrywing teen sulke blinde leiers wat ’n balk in die oog het (vgl. 2 Tim 3:13-17). Dit is gelykenisse oor persoonlike verhoudings. Valse godsdiens, wat Jesus skynheiligheid noem, is altyd besig om sekere mense beter as ander te maak; en die genesing daarvan is ’n spieël om na jouself te kyk.

6:47-49 Vir die slotgelykenis van sy rede op die gelykte (in Luk 6:17-49) gebruik Jesus ’n beeld uit die boubedryf om die erns van sy onderrig te beklemtoon. Dit is lewensbelangrik om daarvolgens te lewe teenoor jou medemens. Matteus sluit sy weergawe van die bergrede met dieselfde waarskuwende gelykenis as Lukas af (Matt 7:24-27). Om aan te pas by sy lesers se omstandighede, omskryf Lukas die lê van die fondament in meer besonderhede van hoe die slote vir die fondament gegrawe word tot op die rotsbodem.

Dit gaan oor die groot groep dissipels en die menigte uit die volk wat na Jesus geluister het. Almal noem Hom ‘Here, Here’ – die verdubbeling versterk die aanspraak, maar vir party beteken dit slegs ’n eerbiedige aanspreekvorm, vir ander dat hulle Hom aanvaar as die Here volgens wie se woord hulle gaan lewe. Dié wat nou gaan doen wat die Goeie Leermeester hulle geleer het, word vergelyk met die man wat sy huis op die rots bou, en dié wat nie gaan doen wat Hy hulle geleer het nie, met die huis sonder fondament wat gebou is op die grond (ge ‘grond’ of ook ‘aarde’ om die aardse wyse van lewe te suggereer); Matteus 7:26 op die sand (ámmos met verwysing na bou in die sand van ’n wadi/stroom). Die vloedwaters van ’n rivier wat sy walle oorstroom en die twee soorte huise tref, verwys na die oordeel van die Here oor die lewe van die twee soorte mense wat Hom ‘Here, Here’ noem. Die soort lewe wat die Here van sy hoorders verwag, is beskryf in die voorafgaande gelykenisse wat almal handel oor die verhoudings tussen mense; mense wat praat en lewe vanuit die goeie woord van hulle Leermeester in hulle harte. Daarom lewe hulle soos hulle Leermeester (6:40) in broederlike solidariteit met verloste mede-sondaarskuldiges en in noue geloofsverbintenis met Jesus as die Here wat die seggenskap het oor hoe hulle lewe.