Die Evangelie volgens Lukas: Die loflied van Sagaria (Die Benedictus, 1:67-80) – Francois Malan

Die lied bevat die lofprysing van Sagaria by die naamgewing van Johannes in 1:64. Dit begin met die woord ‘Geseënd’ (eulogetos in Grieks, benedictus in Latyn), en verskaf die antwoord op die vraag oor die toekoms van die kindjie in vers 66. Terwyl die Magnificat van Maria uit die geslag van Dawid ’n koninklike aanslag het, het die Benedictus van Sagaria uit die priestergeslag meer ’n offeraanslag.

Maria se loflied begin met haar persoonlik (1:46-50) en daarna die boodskap (1:51-55). Sagaria se loflied begin in omgekeerde volgorde, eers die boodskap (1:68-75) en daarna die persoonlike deel (1:76-79), met gebruik van woorde en terme uit die Psalms, 1 Samuel, Miga, Eksodus, Jeremia, Genesis, Josua, Jesaja, Maleagi, wat die lied ook veranker in die Ou Testament.

Die eerste deel verwys na die Ou Testamentiese verbond en verlossing met die uittog uit Egipte, met die bekwame regering van die geslag van Dawid en die Messiaanse verwagting wat daarna volg. Die betekenis van die name rondom Johannes se geboorte vind hier ook ’n neerslag: Sagaria ‘die Here dink aan,’ Elisabet ‘die Here het gesweer;’ Johannes ‘die Here is genadig.’

Die tweede deel is ’n gelukwensingsgedig by die geboorte en die rol van die kindjie.

 

1:67 Die inhoud van hierdie himne word bestempel as ’n profesie wat deur die Heilige Gees geïnspireer word en daarom God se raadsplan openbaar. Naas sy moeder se profesie (1:42-45) word sy priestervader ook nou ’n profeet wat die wil van die Here verkondig.

1:68 Sagaria loof die Here (Jahweh), die God van Israel, wat ‘gedink het’ aan sy verbond met hulle: Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees (Jer 31:31-35). Want Hy het sy volk besoek (episkeptomai, raakgesien, uitgesoek, versorg, teenwoordig wees). So het die Here Abraham by Mamre besoek (Gen 18). Nou het Hy hulle verlossing (lutrosis) kom bewerk. Van hierdie verlossingsgeskenk word in die eerste deel gemeld met woorde uit Psalms 41:13-14; 106:47-48; 111:9.

1:69 ‘En Hy het vir ons ’n horing van verlossing verwek…’ ’n Dier se horing is beskou as ’n simbool van krag, daarom ’n kragtige verlossing (vgl. Hanna se loflied in 1 Sam 2:10: Hy gee sterkte aan sy gesalfde, letterlik: Hy verhef die horing van sy gesalfde; Ps 18:3: die Here is die krag van my redding, letterlik: die horing van my redding; 132:17; Eseg 29:21: Ek laat Israel se mag weer groei, letterlik: Ek sal vir die huis van Israel ’n horing laat groei).

Die Verlosser kom ‘uit die nageslag van Dawid sy dienskneg (pais ook in Hand 4:25)’ – vgl. 2 Sam 7:12-16. Die profete het voorspel dat ’n kragtige verlosser sal kom. Die profesie begin nou in vervulling gaan. Sagaria juig dat die Here reeds begin het om dit te vervul deur ’n Verlosser te stuur van wie sy seun die voorloper is.

1:70 Die Here het die Verlosser reeds lank gelede beloof deur sy profete – heilige profete beteken die profete wat aan die Here behoort en wat Hy gebruik het as sy mondstukke. Die tyd van die belofte kom nou tot ’n end, want dit word vervul met die koms van die koninklike Verlosser (vgl, Luk 16:16; 24:25), wat die koninkryk/koningsheerskappy van God in sy persoon bring.

1:71 Die vers brei uit op vers 69 se werkwoord oor wat die Here belowe het: verlossing uit die hand van ons vyande en die hand van almal wat ons haat (Ps 106:10). Die redding wat die Here beloof het, is deur die volk en hulle leiers nasionaal-polities verstaan, waarby Sagaria aansluit. Sagaria sluit homself by die opvatting van die volke aan, maar verklaar die verlossing tog as vergifnis van sonde  (1:77).

1:72 Die redding is ’n daad van die Here se beloofde barmhartigheid en van sy verbond met Abraham, Dawid en Israel.  Hy onthou sy verbond en sy volk sonder ophou. Nog steeds is die Here (Die Ek is) deel van die daaglikse lewe van sy volk (vgl. Miga 7:20; Eks 24:25;  Ps 105:8; Jer 11:4).

1:73-75 Die Here onthou die eed waarmee Hy die land  aan Abraham gegee  het (Gen 22:16-18; 26:3; Ps 105:8-11; Jer 11:5).

Die einddoel van die Here se verlossing van Israel uit die hande van hulle vyande is dat hulle die Here sal dien (latreuo soos in aanbidding), sonder las van die vyande, om vry van die bande van sonde en vernietiging te leef deur toewyding aan die Here en sy woord, en in die regte verhouding met God en met hulle medemense.

1:76-77 Die tweede deel van die Benedictus het aanwysings vir die kindjie Johannes, wat saamgestel is uit Maleagi 3:1: Hy sal die pad voor My uit regmaak; en Jes 40:3: Maak vir die Here ’n pad in die dorre woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God.

Johannes is die profeet van die Allerhoogste wat reeds voor sy geboorte met die Heilige Gees gesalf is, wat die Here se wil aan die volk bekendmaak. Hy is die voorloper van die Here self. Jesus is die Gesalfde Koning wat uit die Heilige Gees gebore is,. Die volk verwag ’n politieke verlossing uit die oorheersing van die Romeine, maar Jesus kom om hulle, uit sy groot genade en deur sy liefdesoffer van Homself, te bevry uit hulle sondeskuld en die mag van die sonde wat hulle van God skei.

1:78-79 Die mense word uit die mag van die sonde bevry danksy die innige ontferming (splanchna eleos) van óns God (wat met ons ‘n genadeverbond gemaak het), waardeur die oggendlumier (anatole) uit die hoogte oor ons sal opkom  (’n verwysing na Maleagi 4:2 ‘maar vir julle wat my Naam eerbiedig sal die son van geregtigheid opkom met genesing in sy vlerke’ – dit word gesien as ’n heenwysing na Christus). Die oggendson van verlossing sal oor ons opkom, of: die Messias sal na ons toe kom soos die oggendson uit die hoogte.

Die son kom skyn oor die mense wat in die duisternis (van sonde) is en hulle bevind in die skaduwee van die dood (van God se straf oor die sonde) – So het Jesaja 9:2 reeds gesê, ook Jes 58:8 en 60:1-2. Dié bekende profesieë weerklink in die Benedictus van Sagaria, en word nou vervul met die koms van die voorloper en die koms van God self om mens te word vir ons, en ons op dié manier raaksien en besoek. Sy koms is soos die son wat die hele wêreld waarin ons leef verlig.

Die ‘opkom’ herinner ook aan die ster van Jakob en die septer wat uit Israel sal opkom – in die profesie van Bileam (Num 24:17, 1200 jaar v.C.); wat die son van geregtigheid in Maleagi 4:2 geword het, en my dienaar Loot in Sagaria 3:8; 6:12. Die Hebreeuse woord Loot  hou verband met die woord vir ‘vinnig opkom.’ Jeremia 23:5 praat van ‘’n regverdige spruit’ wat die Here vir Dawid sal laat opskiet.

In die kragveld van die dood breek die kragveld van die Lewe in, wat die lig vir die mense is (Joh 1:4), om ons voete op die pad van vrede te plaas, die pad van die volle heil (sjalom).

1:80 Die vraag in 1:66 waarvoor die kindjie bestem is, en die opmerking dat die hand van die Here werklik met hom was, word hier opgeneem. Die kindjie het gegroei en het sterk geword in die gees – dit kan verwys na sy innerlike groei in die gees en krag van Elia (1:17), of na die Heilige Gees waarmee hy reeds voor sy geboorte vervul is (1:15); waarskynlik na albei.

Die opmerking dat hy in die woestyne was totdat sy bediening begin het, het fantastiese teorië daaroor laat ontstaan dat sy ou ouers oorlede is en hy deur die asketiese Koemraangemeenskap, wat ooreenkomse met Johannes se prediking vertoon, grootgemaak is. Maar sy prediking oor die komende Christus, bekering en reiniging van sonde, teenoor hulle wassinge, en hulle afgeslotenheid van die breër gemeenskap maak dit onwaarskynlik. Markus 1:6 en Matteus 3:4 se beskrywing van sy klere verbind hom met Elia se harige kleed en leergordel (2 Kon 1:8). Lukas se opmerking beteken dat Johannes nie soos sy pa die priesteramp opgeneem het, waartoe sy afstamming hom bestem het nie, maar dat ’n groter diens as van ’n priester in die tempel op hom gewag het. Die Gees is sterker as die tradisie. Lukas skilder hom as ’n ware profeet wat soos Elia in die woestyn deur die Here versorg en geïnspireer is (vir Elia se versorging vgl. 1 Kon 17:5 by Kritspruit, 17:9 by Sarfat,  1 Kon 19 by Horeb).




Die Evangelie volgens Lukas: Die geboorte van Johannes die Doper (1:57-66) – Francois Malan

1:57 Die tyd wat Elisabet  geboorte moes gee is vervul (pimplemi, ten volle gevul) – ’n Hebreeuse uitdrukking soos in Genesis 25:24, wat ’n voltooiing is van die voorspelling in 1:20 oor die woorde wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan.  Dit voltooi ook die gedeelte wat met vers 56 afgesluit het. ‘…en sy het aan ’n seun geboorte gegee’ – die ideaal van elke Joodse gesin, wat in 1:13 aan die ou mense-paar voorspel is oor die wondergeboorte.

1:58 Die omgewing se mense en die familie kom bymekaar en herken hierin die grootheid van die Here se barmhartigheid (vgl Ps 126:2-3) wat sy optrede bepaal (vgl 1:50 oor sy ontferming eleos, waaroor Maria ook gesing het). So word Johannes en Jesus se geboortes toegeskryf aan die Here se ontferming oor dié wat Hom eer van geslag tot geslag. Die skare vriende en familie saam met die ouers vervul die belofte in 1:14: en baie mense sal bly wees oor sy geboorte.

1:59 Van Johannes se geboortedag gaan Lukas oor na sy besnydingsdag – op die agste dag, soos deur die Here bepaal as teken van sy verbond met Abraham (Gen 17:12; 21:4; Lev 12:3). Onder Griekse invloed  is die naamgewing aan die besnydenis verbind in Jesus se tyd en in die Laat Jodendom. Die mense meen die wonder van die ouderdomskind moes in die kind se naam weerspieël word: Sagaria seun van Sagaria (‘die Here dink aan/onthou’ sy beloftes/sy verbond).

1:60  Elisabet weier egter volstrek en sê Johannes (Jehoganan ‘die Here is genadig,’ ‘die Here se genadige geskenk,’ vgl. Joh 1:6) is sy naam, die naam wat die Here deur sy engel gegee het (1:13) vir die man wat voor die Here sal uitgaan om ’n volk vir die Here se genade voor te berei (1:17).

1:61-63 Toe die mense dit vreemd vind omdat niemand in die familie die naam Johannes het nie, word Sagaria met handgebare geraadpleeg oor sy wens, hy wat doof en stom geword het as teken van sy ongeloof in die woord van die Here, en van die Here se betroubaarheid aan sy woord en verbond (1:20; die woord kofos in 1:22 kan doof en stom beteken). Op ’n skryfbordjie, ’n houtbordjie met was oorgetrek, skryf hy: Johannes is sy naam. Dat moeder en vader as twee getuies so sterk oortuig is dat dit reeds die naam is, beskou almal in verbasing as ’n wonder van die Here.

1:64 Die tweede wonder. Onmiddellik het sy mond oopgegaan en sy tong losgeraak en hy het gepraat, soos die engel gesê het (1:20) en met sy eerste woorde loof hy die Here (vgl. 1:67-80). Die mond van die vroom man, wat nie kon glo nie, en deur sy tydelike doofstomheid oortuig is om die woord van die Here onvoorwaardelik te glo, uiter sy geloof in lofprysing aan die Here.

1:65 Almal is met vrees/ontsag vervul deur die wonders waarvan hulle getuies in die hele bergstreek van Judea geword het. Die nuus het soos ’n vuur deur Judea versprei.

1:66 Almal wat gehoor het wat met Sagaria en Elisabet en die seun gebeur het, en die lofsang van Sagaria gehoor het, het met die vraag rondgeloop: waarvoor is hierdie kind bestem? Die skrywer Lukas of sy mondelingse bron antwoord op die vraag: Die hand van die Here was werklik op hom – die hand veronderstel ’n magtige werking deur die kind, wat reeds voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul is (1:15). Die vraag waarmee die mense rondgeloop het, het hulle later na sy prediking by die Jordaan gelok (3:3,7,10,15,18).




Die Evangelie volgens Lukas: Die ontmoeting tussen Maria en Elisabet (1:39-56) – Francois Malan

1:39-40 Die wenk oor Elisabet se swangerskap word deur Maria opgevolg. Sy gaan kyk wat die Here aan haar bekendgemaak het (sooos die skaapwagters, 2:15). Sy vertrek uit Nasaret in Galilea na die dorp in die berge van Judea waar Elisabet woon, ’n reis van 4-5 dae, soos sy later saam met Josef na Betlehem in Judea sal reis (2:4), en Jesus die reis uit Galilea na Jerusalem toe sal onderneem om verwerp en doodgemaak te word en opgewek te word (9:22,31,44,51).

1:41 Met die groet van Maria begin die baba in Elisabet beweeg. Lukas noem dit ‘opspring van vreugde’ (skirtao, vgl 6:23; Ps 114:4,6). Elizabeth word met die Heilige Gees vervul soos die profete van die Ou Testament met die oog op haar lofprysing. Dit is ook ’n vervulling van 1:15,17 se belofte oor die kindjie Johannes, wat voor die Christus moet uitgaan en van Hom getuig. Hier doen hy dit reeds in die moederskoot.

1:42 Die harde uitroep wys na die profetiese aard van haar lofprysing (die ‘Benedicta’):

‘Geseënd is jy onder die vroue – en geseënd is die vrug van jou moederskoot’

Elisabet herken reeds Maria se nog onsigbare swangerskap. Saam met haar ongebore kind verheug Elisabet haar oor die grootheid van die Verlosser se koms.

1:43 Sy noem reeds die ongebore kind ‘my Here’ – die eerste verklaring in Lukas dat die Kind die Here is, en die erkenning dat Hy ‘my Here’ is. Elisabet buig voor Maria, die oue voor die jonge, wat die verhouding tussen die ou verbond en die nuwe verbond verbeeld; Hy is ook die Here waarop die ou verbond gewag het (vgl. 7:28; 16:16).

1:44 Die gebeure verloop soos volg: Maria groet Elisabet – die ongebore kind in Elisabet groet die ongebore kind in Maria met uitbundige blydskap – dit lei tot Elisabet se profetiese uitspraak oor Maria en haar kind (vgl. Johannes se uitspraak oor sy verhouding met Jesus in Joh 3:28-31).

1:45  Die grond vir Elisabet se seënende lofprysing van Maria is Maria se geloof. Sy het geglo dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. Haar geloof vertrou die waarheid en werksaamheid van God se woord. Daarom is sy, deur die Here, geseënd. Lukas beklemtoon telkens haar geloof as die grond van haar seëninge (vgl. 2:19,51; 8:15; 11:27-28). Die saligspreking van Elisabet oor Maria is so algemeen gestel dat dit vir enige persoon geld; ‘geseënd is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.’

 

Die lofsang van Maria (die Magnificat – ‘maak groot’ 1:46-56)

Die Latynse vertaling van die lofsang begin met die woord magnificat, vir die Griekse megalunei – ‘my siel maak groot/loof die Here. ‘Vandaar die naam vir hierdie lofsang. Liedboek nr 318 is Andries Breytenbach se omdigting van die lofsang van Maria (Luk 1:46-55). Liedboek 333 is Lourens Strydom se vertaling van die eerste vier Latynse verse (Lk 1:46-49). Maria se lofsang is vol Ou Testamentiese uitdrukkings wat deur die Jode gesing is, maar met ’n dieper betekenis en ’n hoër toepassing. Dit volg tot ’n mate die lofsang van Hanna toe sy Samuel by die tempel gaan afgee (1 Sam 2:1-10). Maar waar Hanna se lof haar triomf oor haar vyande besing, is Maria se nederige lof ’n gereserveerde toewyding aan die Here.  Sy besing alleen die Here se wonderlike handelwyse met haar. Elisabet se lofprysing kom met ’n luide stem; Maria se lofsang adem ’n groter majestueuse kalmte. Geleerdes meen die lofsang is deur Lukas of iemand anders gedig en hier ingevoeg. Maar die hele lofsang gebruik woorde en sinne wat in die Ou Testament gebruik word, veral in die Psalms, wat Maria as kind kon saamgesing het.

1:46 Soos Miriam, ná die deurtog deur die Rietsee (Eks 15:21), antwoord Mariam (soos Lukas haar Hebreeuse naam weergee) op Elisabet se groet, en seën met haar loflied: psuche mou ‘my siel’ is my binneste –  gedagtes, wil, gevoel, my hele wese, loof die Here.

1:47 Met ’n tipiese Joodse parallellisme word dieselfde gedagte in ander woorde uitgedruk en aangevul: ‘my gees jubel oor God my Verlosser…’ (soos in Hab 3:18 se twee sinne). Die gedagte van ’n verlosser hang saam met die naam Jesus wat sy vir die kind moet gee (Lk 1:31). Jesus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse Jehosjua, ‘die Here verlos,’ na Josua wat Israel die beloofde land ingelei het. Dat God ‘my Verlosser’ is, wys haar bewustheid dat God haar kom verlos uit haar nederige staat tot ’n geseënde deur God. Die term ‘verlosser’ word ook in Luk 2:11 deur die engelesang gebruik; in Hand 5:31 deur die apostels voor die Sanhedrin; en in Hand 13:23 deur Paulus in Antiogië se sinagoge. Matteus en Markus het nie die term nie; Joh 4:4:42 wel). Verlosser kom 12x in Paulus se briewe voor, en 6x in die algemene briewe. Die term ‘verlossing’ word in bogenoemde boeke genoem in die sin van verlossing van sonde.

1:48 Die nederigheid van Maria verwys na haar status as slavin van die Here (1:38), dat die Here so ’n onbeduidende ou meisietjie raakgesien en uitgekies het as die moeder van die Seun van die Allerhoogste (1:32); die onverstaanbare en ondenkbare dat die Here spesiale aandag skenk aan en bemoeienis maak met die nederige posisie van sy slavin, sodat alle geslagte van mense van nou af haar die geseënde van die Here sal noem. Omdat haar kind vir ewig oor die nageslagte sal regeer (1:33) is vir haar ’n verwondering. Dit gebeur al in 11:27.

1:49 Die groot dinge wat die Here vir haar gedoen het is ’n naklank van die pelgrims se vreugdesang op pad na die paasfees van Galilea af na Jerusalem, tydens die fees, en op pad terug (Ps 126:2-3; vgl. Deutr 10:21). Met dié psalmwoorde beskryf sy die groot dinge wat die Almagtige vir haar gedoen het om haar as sy slavin vir die geboorte van  die Seun van die Allerhoogste te kies.

‘ja, heilig is sy Naam’ – in die antieke tyd het die Naam vir die hele persoon en sy reputasie gestaan. Heilig verwys na sy goddelike eienskappe, maar het ook die gedagte van toewyding. Benewens sy godheid is die Here ook toegewy aan hierdie nederige maagd en haar kind.

1:50 Ps 111:5, die inleiding tot die bundel Halleluja-psalms (112-118), besing die Here as genadig en barmhartig. Hieruit besing Maria die Here se ontferming van geslag tot geslag tot by haar en verder, vir dié wat vir die Here ontsag het (vgl Ps 103:13,17). Ps 111 praat ook van: die Here loof, die opregtes (v 1), die Here se wonders (v4), verlossing, heilig is sy Naam (v9). Dit is die bronne vir Maria se loflied, wat sy van kindsbeen af sing.

1:51-53 Die kragtige dade van die Here keer die magsverhoudings om, dit tref die hoogmoediges en help die geringes (v51-52)  en keer die besittingsvermoë van hongeriges en rykes om (v53; vgl. Ps 107:9; Job 12:19). Ook op dié wyse  is Hy Verlosser, wat mense uit die greep van hulle magshonger en sug na rykdom verlos, en geringes en hongeriges uit hulle ellende, om op Hom te vertrou soos Maria. Die insigte kom reeds in Hanna se lofsang voor (1 Sam 2:7-10; vgl. Job 5:11-12). Jesus sit dié soort verlossingswerk voort (Luk 4:18-19; 6:20-26). Dit het reeds gebeur met die keuse van die onvrugbare veragte Elisabet vir die voorloper en die nederige arm Maria as God se uitverkorenes. Maar dit beteken ’n algehele ommekeer van die gewoon menslike maatstawwe vir grootheid en prestasie. Hoogmoediges wat nie met die Here rekening hou nie, en verdrukkers van mense, word deur die Here omvergewerp (vgl. Jer 13:15-17; Deutr 8:14); maar diegene wat hulleself verneder voor die Here en op Hom vertrou, word verhoog tot groot dinge (1:49). Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jes 40:31).

1:54 Ps 98 sing van Israel se terugkeer uit die ballingskap as die wonders wat die Here gedoen het deurdat Hy sy troue liefde en getrouheid teenoor die huis van Israel onthou het. So sing Maria hier dat die Here sy dienskneg/seun Israel gehelp het om deur haar sy Seun as Verlosser te stuur om die verhoudinge in die samelewing te kom regmaak. Dit het Hy gedoen ter herinnering aan sy barmhartigheid – ’n Semitisme vir sy barmhartigheid as die grond vir sy bystand aan Israel (vgl, Ps 98:3; Miga 7:20).

1:55 Die Here het sy seën vir ewig beloof aan Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag. Die Here se belofte aan Abraham het ook die Here se seën vir al die volke van die aarde ingesluit (Gen 12:3; 18:18; 22:18; 26:24; 28:14; Ps 105:7-11). Met die skakel na Abraham word die Nuwe Verbond gesien as die vervulling van die Ou Verbond van die Here met Israel en Abraham. Maria sing oor die koms van haar Kindjie wat die Here se ewige beloftes van ontferming aan Abraham en sy nageslag kom vervul.

1:56 Maria keer na drie maande na haar huis terug, dit wil sê na haar ouerhuis. Sy is nog nie in Josef se huis opgeneem nie. Sy beleef waarskynlik nog die geboorte van Johannes voor haar vertrek.

Die volgorde in Lukas se samestelling van die gebeure is: die aankondiging aan Sagaria (1:5-24), die aankondiging aan Maria (1:26-38), en omgekeerd: Maria se lofsang (1:46-56), Sagaria se lofsang (67-79). Daarmee getuig Lukas oor die geloof van Maria nadat Elisabeth haar as geseënd geprys het, die teken wat die Here aan haar ongevraagd gegee het. Sy vertrou dat die woorde van die Here sal doen wat dit sê. Die groot dinge wat aan haar gedoen is en wat die Here aan sy volk gaan doen, kom uit sy barmhartigheid en sy krag (1:49,51,54). Op Hom vertrou sy onvoorwaardelik.




Die Evangelie volgens Lukas: Die geboorte van Jesus word aangekondig (Luk 1:26-38) – Francois Malan

Matteus bskryf die aankondiging van Jesus se geboorte aan Josef. Lukas vertel van die aankondiging aan Maria. Die twee se geslagsregisters verskil ook vanaf Salomo. Die aankondiging aan Sagaria en aan Maria vertoon baie ooreenkomste, terwyl die een aan Maria die een aan Sagaria oortref. Johannes en Jesus word in die Ou Testamentiese volk van God gebore, maar Johannes kondig die koms van God in Israel aan, terwyl God self in die Messias Jesus na sy volk toe kom. Terwyl Johannes in die moederskoot vervul word met die Heilige Gees (1:15), word Jesus deur die krag van die Heilige Gees in die maagd Maria verwek. Om die mens Jesus reg te verstaan moet Hy as ‘God met ons’ verstaan word (Immanuel Mat 1:23).

1:26 In die sesde maand van Elizabeth se swangerskap stuur God die engel Gabriël na die klein geminagte dorpie Nasaret in Galilea van die heidene (Jes 8:23; Mat 4:15). Die Jode wat in Galilea woon is daarom beskou as onrein weens hulle kontak met die heidene. Nasaret lê 115 km noord-oos van Jerusalem. Hierdie keer is die verskyning nie in die heilige vertrek in die tempel in Jerusalem tussen die priesters, soos met die Doper nie, maar by die gewone eenvoudige mense op die platteland (Joh 1:46; 7:52). Anders as die aankondiging aan Sagaria wat ’n verduideliking het oor wie Gabriël is, word hier slegs verwys na Gabriël opdrag. Sy verduideliking van sy opdrag word beklemtoon.

1:27 Gabriël is deur die Here gestuur na ’n meisie (parthenos) wat verloof is aan ’n man met die naam Josef, uit die geslag van Dawid. Volgens Joodse reg was Josef deur die verlowing beskou as haar man, maar omdat die seremonie, waar hy haar na sy huis toe kom haal, nog nie voltrek is nie, het sy nog nie met ’n man gemeenskap gehad nie (1:34) en daarom kan die Griekse woord parthenos hier met ’n maagd vertaal word. Die verlowing het gewoonlik ’n jaar geduur, en was net so bindend soos die huwelik, en kon alleen ontbind word deur ’n egskeiding, en as die man sou sterf is sy as ’n weduwee beskou (vgl. Deutr 22:13-29). Sy word reeds verbind met die geslag van Dawid deur haar verlowing aan Josef (vgl. die Here se belofte aan Dawid in 2 Sam 7:12-13). Die naam van die maagd is Mariam, die Septuaginta LXX se weergawe van die Hebreeuse Miriam (‘rebellie,’ wat saamhang met Mara, ‘bitter’).

1:28 Gabriël groet haar met ‘Gegroet  begenadigde (vgl. die woordspel in Grieks chaire kecharitamene; die Hebreeuse groet sjalom: ’heil aan jou wat heil ervaar’), die Here is met jou.’ Sy is deur die Here begenadig, uitgekies vir sy besondere diens. Vir dié diens is die Here met haar is, om haar by te staan. Die Hebreeuse naam Jahweh-Here (Eks 3:14)  ‘Die Ek is’ beteken dat Hy persoonlik aktief teenwoordig is (vgl. by Moses, Jos 1:9; by Gideon, Rigt 6:12). Daar is ’n lang lys van die latere manuskripte wat 1:42 hier byvoeg: ‘geseënd is jy onder die vroue (waarvolgens die Ave Maria ‘Gegroet Maria’ geskryf is). Die groet van die engel wys op die groot dinge wat hierop volg, vgl. 1:30-33. Dit was nie die Jode se gebruik dat ’n man ’n vrou met ‘n groet aanspreek nie (vgl. by Joh 4:9); die rabbi’s het gesê dit is verbied – vandaar Maria se reaksie in 1:29.

1:29  Maria is ernstig verward (diatarasso) deur die woorde van die engel, meer intens as Sagaria by die verskyning van die engel (tarasso, 1:12). Sy het gewonder wat die groet tog kon beteken, maar sy vra nie uit nie.

1:30-33 Soos by Sagaria (1:13) stel die engel Maria gerus: ‘Moenie vrees nie!’ Die woord ‘begenadigde’ word verduidelik: ‘want jy het genade by God gevind’ (teenoor sy woord aan Sagaria: ‘jou gebed is verhoor’). Daardeur word haar verrassende verkiesing deur die Here duidelik. Waarvoor sy uitgekies is, word in verse 31-33 uitgespel, telkens met tweeledige sinne:

31 Kyk! (let fyn op): Jy sal swanger word en ’n seun baar – en jy moet hom die naam Jesus gee.

Soos by Sagaria gee die Here self die naam van die kind. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse Jehosjua (‘die Here verlos’).

32a Hy sal groot wees – en die seun van die Allerhoogste genoem word.

Dit beteken die Allerhoogste sal hom as sy kind beskou en vir hom sorg. Waarin sy grootheid bestaan word verder uitgespel:

32b-33 Die Here God sal aan hom die troon van sy voorvader Dawid gee –

en hy sal vir ewig oor die huis/nageslag van Dawid regeer-

en aan sy koningsheerskappy sal daar geen einde wees nie.

Sy ewige koninklike heerskappy hang saam met sy seunskap van die Allerhoogste (vgl. Gen 14:18-20). Sy ewige heerskappy oor alles in die skepping vervang die verganklike tydelike heerskappy van die Dawidsgeslag. Johannes die Doper se amp gaan saam met die belofte oor Elia; so word Jesus se messiaanse koningskap gesien as die vervulling van die Here se belofte aan koning Dawid (2 Sam 7:16; Ps 89:30; Jes:9:5-6 oor Hiskia; Dan 7:13-14). Die seun met wie Maria swanger is, is die Jode se verwagte Messias. Hulle verwag ’n aardse verlosser-koning maar hierdie Kindjie sal ewig regeer as die ewige seun van die Allerhoogste.

1:34 Soos Sagaria, vra Maria hoe dit kan/sal gebeur, want sy is nog nie na Josef se huis toe kom haal nie. Maar anders as Sagaria vra sy nie om ’n teken nie (hoe sal ek dit weet? nie’); sy glo die woord en vra om verdere informasie, ‘hoe sal dit wees?’ op watter manier sal dit wees/gebeur?

1:35 Johannes kom uit die wonderbaarlike vrugbaar word van onvrugbare ouers; Jesus kom deur die skeppingswoord van God in plaas van ’n vader. By Johannes is die kindjie in die moeder se liggaam met die Heilige Gees vervul; Jesus is deur die Heilige Gees verwek, as die tweede Adam. Saam met die verduideliking van die rol van die Heilige Gees word die verhullende rol van die skeppingskrag van die Allerhoogste gestel. Daardeur word die teenwoordigheid van die skeppende God verhuld aangedui, soos die verskynings aan Israel in die woestyn met die wolk wat God se teenwoordigheid aandui sonder dat Hy gesien word (Eks 40:34; Num 9:15). In 1:17 word Gees en krag ook langs mekaar gestel.

Vir die eerste maal word die kind ‘heilig’ en ‘Seun van God’ genoem. In 4:34 noem die onreine demoon vir Jesus ‘die Heilige van God.’ In die Ou Testament kan die naam ‘seun van God’ verwys na die koning (2 Sam 7:14, na engele (Ps 29:1) of na Israel as die volk van God (Eks 4:22). Maar die heilige Seun van God wys na die ewige Seun van God wat in die Nuwe Testament vir Jesus gebruik word om sy unieke ewige verhouding met die Vader aan te dui (Mat 14:33; 16:16; Joh 17:24; Joh 1:1-14).

1:36-37 Aan Maria word ook ’n teken gegee saam met die onmoontlike wat God reeds gedoen het: ‘Kyk! (let noukeurig op) na Elisabet se swangerskap; sy wat die beskamende bynaam ‘Onvrugbare’ gekry het (1:25), se onvrugbaarheid is van haar weggeneem en is nou ses maande swanger. Die verwysing na Elisabet se swangerskap is ’n wenk wat die engel vir Maria gee om op te volg. Vir God is die vervulling van sy beloftewoord nie onmoontlik nie. God se woord is ’n werksame, skeppende woord (Gen 18:14; Sag 8:6; Jes 40:8). So versterk die Here Maria se vertroue op sy belofte. Lukas sien ‘n onlosmaakbare verwantskap tussen Elisabet en Maria, tussen Israel en die Christusgemeente (die name van Aäron se suster was Miriam en van sy vrou Elisaba, Eks 6:22; 15:20).

1:38 Maria se antwoord: ‘Kyk, die slavin van die Here; laat met my gebeur soos U gesê het’ – sy stel haarself volledig tot beskikking as slavin van die Here, wat doen wat haar Heer en Meester sê, nog voordat sy die wenk van ’n teken, wat die Here vir haar gee, opgeneem het. Sy het gehoor, geglo en gehoorsaam as voorbeeld vir elke Christusgelowige. Teenoor die verstommende strafteken aan die twyfelende man Sagaria (1:18) stel Lukas die onvoorwaardelike gelowige vrou Maria. Geloof is ’n kinderlike vertroue en oorgawe aan die wil van die Here, nie my wil nie, maar U wil geskied (Luk 22:42) wat dit ook al van my sal vra en vir my sal kos – soos Maria se skandeposisie voor haar verloofde en Jesus se opneem van die straf van die sonde van die ganse wêreld.

Die engel se vertrek laat Maria alleen om in geloof voort te gaan.