1

Hoekom laat God tragedies en lyding toe?

What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.” – A.W. Tozer

 

Hoekom laat God tragedies en lyding toe?

Hierdie vraag is aan Lee Strobel, bekende skrywer, gestuur. Ek het gehou van sy antwoord:

Kyk net na die nuus. Oral net tragedies en lyding: aardbewings, vloede, mishandeling, gebroke verhoudings, beserings, misdaad …. Oral om ons ly mense en vra: Hoekom laat God dit toe? Jesus het voorspel dat dit in ons sondige wêreld sal gebeur: In die wêreld sal julle dit moeilik hê (Johannes 16:33).

 

Ons kan nie ‘n volledige antwoord gee nie, want ons staan nie in God se skoene nie, maar daar is tog sekere dinge wat ons kan verstaan. Ons verstaan nie al die besonderhede van hoekom dit gebeur nie, maar daar is tog Bybelse waarhede wat sekere punte vir ons verlig. As ons hierdie ligpunte volg, lei dit ons tot gevolgtrekkings wat ons tog kan tevrede stel. Hy noem dan vyf ligpunte wat vir hom gehelp het.

 

 

  • Eerste ligpunt: God is nie die skepper van die bose en lyding nie

Genesis 1:31 sê dat toe God gekyk het na wat Hy gemaak het, het Hy gesien dat dit baie goed was. Maar as God dan nie die oorsprong van die bose is nie, waar kom dit dan vandaan? God het die mens met ‘n vrye wil geskep sodat ons Hom kan liefhê – liefde sluit altyd die vermoë in om lief te hê of nie lief te hê nie. Ons het hierdie vryheid misbruik om God se liefde te verwerp. Die gevolg is dat daar boosheid in ons lewens en in die wêreld gekom het.

 

  • Tweede ligpunt: Lyding is nie goed nie, maar God kan dit gebruik om iets goed mee te bereik

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Dit sê nie dat God die oorsprong van die bose en lyding is nie – net dat Hy dit ten goede kan gebruik. Dit sê ook nie dat Hy dit onmiddellik of selfs in hierdie lewe gaan bewerksteillig nie en ook nie hoe Hy dit gaan doen nie.

 

  • Derde ligpunt: Die dag kom wanneer alle lyding verby sal wees en God die bose sal oordeel

Mense vra: “As God dan lyding en die bose kan oorwin, hoekom doen Hy dit nie.” Die feit dat Hy dit nog nie gedoen het nie, beteken nie dat Hy dit nie kan doen nie Die Bybel sê dat daar ‘n dag sal kom waar daar geen siekte of pyn meer sal wees nie. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer (2 Petrus 3:9).

 

  • Vierde ligpunt: Die lyding wat ons nou verduur weeg nie op teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie

 Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Hiermee word die werklikheid van pyn in ons lewens nie ontken nie. Maar eendag sal ons besef dat hierdie moeilike dae op aarde nie met die ewige seëninge een dag saam met Hom vergelyk kan word nie.

 

  • Vyfde ligpunt: Ons besluit of ons verbitterd sal wees of ons na God vir vrede en moed sal wend

Ons het almal gesien hoe lyding sekere mense verbitterd maak en dat hulle dan God verwerp, terwyl ‘n ander persoon hom na God toe wend. Ons besluit of ons van God af wil weghardloop of na Hom toe wil hardloop.


God se antwoord op op lyding is nie ‘n verduideliking nie, maar die menswording van Jesus Christus. Hy is nie ‘n veraf, afgetrokke God nie – Hy het ons lewe binnegetree en persoonlik ons pyn ondervind. Peter Kreeft stel dit so:  “Are you broken? He was broken, like bread, for us. Are you despised? He was despised and rejected of men. Do you cry out that you can’t take any more? He was a man of sorrows and acquainted with grief. Did someone betray you? He was sold out. Are your most tender relationships broken? He loved and was rejected.”

 

As ons Hom vertrou, is Hy in ons. Dan word jou lyding sy lyding en jou hartseer sy hartseer. By Hom sal jy vrede kry om die huidige te hanteer.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33).

 




Ons afkeer aan lyding

Without the heart it’s not worship, it’s a stage play. —Stephen Charnock

Ons afkeer aan lyding

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ons toewyding aan spoed, ons afhanklikheid van arbeidsbesparende toestelle en tegnieke bring sekere vrae na vore:

          Hoekom bespaar ons arbeid?

          Watter soort ruimte skep ons in ons lewens deur arbeid uit te skakel? Wat gaan ons met daardie ruimte doen? Ledig wees? Ondermyn ons nie die geleenthede vir goeie werk goed gedoen nie?

 

Die mens is geskep om te werk. Vandag is daar spanning tussen goeie werk goed gedoen en die gevolge van oorwerk – tussen die goedheid en noodsaaklikheid van werk  en ons roeping as mense van God in ‘n sabbatslewe.

Die Westerse kultuur met al sy tegnologiese grootsheid het ‘n obsessie om lyding te oorkom. Natuurlik is daar sekere soorte lyding wat oorkom moet word as ons daartoe in staat is, maar ons roeping is deernis – om saam te ly. Ongelukkig het ons ‘n kultuur geskep wat lyding vermy. Nog erger: ons het die vermoë en gewilligheid om saam met ander te ly, verloor. Ons is nie meer saam met die mense wat huil nie. Ons is nie meer bereid om stadiger voort te gaan om by diegene wat alleen huil, te wees nie. Daarom is daar so baie mense wat in stilte en alleen ly – sonder enige menslike kontak.

Ons vermyding van lyding water ons getuienis van Jesus Christus, wat ons lyding in liefde op Homself geneem het, af. As ons nie meer kan deel in die lyding van medegelowiges en ons bure nie, is die Christus wat ons in ons buurt beliggaam ‘n vlak verwringing van dié Jesus wat ons in die Skrif raakloop. Die vermyding van lyding beteken dat ons kortpaaie neem wat ons wegstuur van menslike lyding, moeilike situasies en mense wat seer het. Mense wat siek of haweloos is, het mense wat saam met hulle as vriende sal loop nodig om hulle laste te help dra. Dit vereis baie van ons. Ons geloofsgemeenskappe gee aan mense in nood kos, klere en geld … en dan laat ons hulle verder op hulle pad … alleen.

Geduld is hoe deernis in ons lewens beliggaam word. Maar geduld is nie passiewe wag nie. Geduld beteken nie dat noodsaaklike verandering in die gemeente vermy word nie. Geduld beteken om aktief by die lewe betrokke te raak en om die lyding in en om ons te dra. Jy kan nie die lyding van ander hanteer soner om self deel daarvan te word nie. Die pad na genesing en versoening is die geduldige deernisvolle weg van Jesus Christus.

Geduld het ‘n vormingswaarde in die vroeë kerk gehad. Die kerkvaders het heelwat daaroor geskryf. Vir hulle was geduld langstaande lyding. Dit is wat hulle in die lewe, lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus gesien het – dit is beter om te ly as om skade te berokken. Hulle het vas geglo dat God ‘n nuwe familie, ‘n geloofsgemeenskap onder een Vader, geskep het. Hierdie gemeenskap het saam die moeilike pad van dissipelskap geloop en mekaar se laste gedra.  Tertullianus sê dat geduld en liefde waardes is wat na aan mekaar staan. Die eerste beskrywing van die liefde in 1 Korintiërs 13 is: Die liefde is geduldig.

Moderne gemeentes moet langstaande lyding weer ontdek. Ons moet getuies wees van die deernisvolle liefde van Jesus.

Hoe kan ons geduld in die plaaslike gemeente leer? Daarna kyk ons volgende keer.




Lyding en swaarkry: Opsomming

If we are not supposed to know for certain whether God does everything in salvation, then … I ask you, what is useful to be known – Martin Luther.

 

Lyding en swaarkry: Opsomming

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 

As ek die Bybelse teologie van lyding verstaan, sal ek nie verbaas wees as hartseer, pyn en verlies kom nie. Ek sal dan in staat wees om te reageer op die verskillende maniere waarvan die Skrif praat. Hier is tien riglyne:

  1. .Lyding is nie uniform nie. Daar is verskillende tipes lyding wat verskillend hanteer moet word. Die vier belangrikste groepe is:
  • Lyding as gevolg van verkeerde gedrag. My gevoelens is dié van skuld en skande.
  • Lyding as gevolg van aanvalle van ander mense. Ek is kwaad en in opstand.
  • ’n Meer universele lyding wat alle mense kan tref, maak nie saak hoe hulle leef nie – dood van ’n geliefde, siekte, finansiële terugslae, ens. My gevoelens is dié van hartseer en selfs vrees.
  • Lyding wat aaklig is – iemand stap by ‘n skool in en skiet ‘n klomp kinders dood. My reaksie is om kwaad te word … selfs vir God.

Elke vorm van lyding deel sekere algemene tekens en word basies op dieselfde manier hanteer, behalwe dat vir elke groep daar spesifieke hantering moet bykom.

 2.In my hantering van lyding, moet ek mense se temperamente onderskei. Ek moenie aanvaar dat die manier waarop God iemand deur die smeltkroes gelei het, in ‘n ander geval presies dieselfde sal wees nie. Mense reageer verskillend op lyding: sommige isoleer hulle; sommige keer in hulleself; sommige veroordeel; sommige word kwaad; ens. Die persoon se emosionele temperament en geestelike volwassenheid bepaal sy reaksie – hoe sterk sekere van hierdie reaksies deurkom. Die oorsaak van my beproewing bepaal ook my reaksie op lyding. Daarom moet ons aanpassings maak as ons lyding hanteer.

3.Ek moet eerlik met myself en God wees oor my pyn en hartseer. Ek moenie my swaarkry ontken nie; ek moenie te hard probeer om my gevoelens te beheer nie. Lees maar net die klaagpsalms en Job. God is baie geduldig met my as ek desperaat is. Ek kan maar my siel voor Hom uitstort.

4.Vertrou op God se wysheid en sy liefde. Hy is soewerein. God is deur die lyding waardeur ek nou gaan. Jesus het self gevra dat die beker by Hom verby moes gaan, voordat Hy gesê dat God se wil en nie syne nie, moet geskied. Ek moet stry totdat ek ook kan sê: Here nie my wil nie, maar u wil.

5.Bid. Job het gekla en selfs sy geboortedag vervloek, maar hy kla by God, hy stry met sy lyding voor God. As ek ly, moet ek my Bybel lees, bid, deel bly van die geloofsgemeenskap al is dit soms pynlik. Ek moet vra dat God my help om Hom lief te hê ten spyte van my swaarkry.

6.Ek moet in my denke gedissiplineerd wees. My perspektief moet bepaal word deur te onthou wat God alles in die verlede vir my gedoen het … en nog vir my gaan doen. Ek moet na my hart luister, maar ook met my hart praat en redeneer. Dit het natuurlik met my Christelike hoop te doen.

7.Ek moet selfondersoek doen. Dit beteken nie dat my lyding altyd die gevolg van my sonde is nie – soos Job se vriende geglo het. Job het in sy lyding gegroei. Ek moet elke keer as ek ly, vra hoe ek kan groei.

8.Herprioritiseer my liefdes. Lyding wys vir my dat daar dinge is wat ek te liefgekry het – liewer as vir God. Lyding vererger as ek goeie dinge in finale dinge verander. Lyding is positief as dit my leer om God liewer te hê as vantevore. Dit gebeur as ek God se lyding in Jesus Christus vir my as ‘n feit erken.

9.Ek moet my nie afsonder nie – ek moet deel van die geloofsgemeenskap bly. Ek moet vir my ’n gemeente kry waar hulle mense wat swaarkry liefhet en ondersteun. Afsondering sal net my lyding vererger,

10.Ek moet genade en vergifnis wat God aan my gee, aanvaar – en dieselfde aan ander doen. As lyding my sondes openbaar, moet ek leer om berou te hê, my te bekeer en om by God versoening te soek. Ek moet leer om te vergewe as ek ly as gevolg van ander mense se ongeregtighede.

 

 




Die Here antwoord, maar tog antwoord Hy nie.

 

The focus of the Bible is not on the question, “What would Jesus do? But on, “What has Jesus done?” – Michael Horton

Die Here antwoord, maar tog antwoord Hy nie.

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Die Here antwoord vir Job, maar Hy hanteer nie enige van Job se bekommernisse nie. Job verwag ten minste ‘n verduideliking; Job se vriende verwag ‘n veroordeling. Nee, die Here gee ‘n digterlike beskrywing van die wonders van die natuurlike wêreld. Die Here vertel hom nie van Satan en die byeenkoms in die hemel nie (1:6 ev). Hy gee geen rede waarom Hy toegelaat het dat Satan Job se lyding veroorsaak nie.

 

Wat ongelooflik is, is dat Job tevrede is sonder dat hy al die feite ken. Deur nie vir Job alles te vertel nie, verseker die Here dat Job in die geloof loop: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien (42:5). Satan het gesê dat Job nie werklik vir God liefhet en Hom dien nie – Job doen dit vir sy eie persoonlike voordeel. Ons is ook nie ten volle tevrede met God nie tensy ander dinge ook glad verloop nie – voorspoed, gesondheid, ens. Daarom word ons deur die winde van veranderende omstandighede omgewaai. Om God waarlik te ken, moet ek eers gestroop word. Dan verander ons – ons soek na, bid tot en gehoorsaam God.

Wat Job uiteindelik ontvang het, was moontlik omdat God nie vir Job vertel het waarom hy gely het nie. Job het by ‘n plek gekom waar hy God liefhet en gehoorsaam net omdat Hy God is. Hy het nie meer gunstige omstandighede nodig om geestelik te kan regop staan nie. Job sien steeds nie die groot prentjie nie, maar hy sien vir God en dit is al wat hy nodig het. Satan wou vir Job gediskrediteer het, maar hy kry presies die teenoorgestelde reg.

God gee aan die bose net genoeg ruimte om homself te vernietig. God doen dit steeds in ons lewens en in die geskiedenis. Dit maak ons dikwels kwaad. Job trek vir ons die sluier op ‘n skrefie oop – God gee nie aan die bose onbeperkte mag nie.