Die oop grafte van die Heiliges

Die oop grafte van die Heiliges – Francois Malan

AnnaMaria vra:

In Matteus 27 staan van die geopende grafte en heiliges wat opgestaan het. Was hulle toe in ‘n fisiese liggaam en wat het hulle gedoen daarna? Wat het van hulle geword?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Matteus was nie geïnteresseerd in hierdie vrae nie, maar in die betekenis van die oop grafte, die opwekking van baie heiliges wat in Jerusalem begrawe was, en hulle verskyning in die stad nadat Jesus gesterf het en uit die dood opgewek is. Daarom kan ons ook nie presies weet wat daar gebeur het nie. Was hulle soos Lasarus vir wie Jesus uit die dood opgewek het vir wie die mense in Jerusalem kon sien en later weer gesterf het, of soos Jesus met ‘n verheerlikte onsterflike liggaam, wat vir veertig dae aan sy dissipels kon verskyn voor sy hemelvaart? Matteus is die enigste Bybelskrywer wat hierdie gebeure tydens die dood en opstanding van Jesus vertel. Soos Matteus telkens in sy Evangelie na die Ou Testament verwys of daarby aansluit, sluit hierdie berig waarskynlik aan by Esegiël 37:12-14 met God se belofte dat Hy die grafte sal oopmaak.

 

Soos die duisternis voor Jesus se dood  (Matteus 27:45), gee God tekens ná die dood van Jesus (Matteus 27:51-53). God skud die aarde met ‘n aardbewing; die voorhangsel skeur in twee en die rotse skeur oop – in Grieks word dieselfde woord gebruik vir die oopskeur van die voorhangsel en van die rotse.

 

Die voorhangsel het die Allerheiligste gebied in die tempel afgesper sodat niemand daar kon ingaan of daarin kyk nie – as simbool van God wat nie gesien kan word nie (vgl. Eks 33:20). Daar het die Hoëpriester eenmaal per jaar op die groot versoendag vir die sondes van die volk gaan versoening doen voor God. Maar die lewe en dood van Jesus aan die kruis wys vir ons die liefde van God (vgl. Jesus se woorde in Johannes 14:9: wie My sien, sien die Vader), en dit skeur die voorhangsel oop, wat God vir die mens verberg het. Elke mens kan nou met vrymoedigheid na God toe gaan in gebed – nie meer deur ‘n hoëpriester nie, maar deur geloof in Jesus, ons groot Hoëpriester (Hebreërs. 4:14-16).

 

God het die rotse geskeur sodat die grafte in die berg oopgegaan het as teken dat Jesus die dood oorwin het. Deur sy sterwe en opstanding het Jesus die krag van die dood vernietig het (vgl. 1 Korintiërs 15:54: die dood is vernietig, die oorwinning is behaal). Nou kan ons seker wees dat ons sal lewe omdat Jesus lewe. Jesus het in Johannes 11:25-26 gesê: Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.

 

Soos wat Jesus na sy opstanding aan die dissipels verskyn het, so was die gelowiges uit die ou verbond, wat opgestaan het, getuies aan baie mense in Jerusalem van Jesus se opstanding uit die dood. Soos Jesus saam met sy dissipels geëet en met hulle gepraat het, kon die mense wat opgestaan het waarskynlik ook met hulle mense in Jerusalem saam eet en praat. Maar meer as dit, word bespiegeling. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6) – Jan van der Watt

3.7 Matt 13: Koninkryksgelykenisse

 

Die verhaal het nou in ‘n groot mate sy gang gegaan. Jesus is gebore… hy is vir sy openbare bediening gesalf en het sy vyand ontmoet. Hy kies toe vir hom dissipels en begin oral preek en wonders doen – ons het mooi gesien wat hy gepreek het (Bergpredikasie) en watter wonders hy gedoen het. Toe stuur hy sy dissipels om dit aan almal te gaan vertel. Hulle het dit gedoen en die reaksies was wisselend. Elkeen, ook jou reaksie tel….

 

 

Hoofstuk 13 vorm die middelpunt van die Evangelie. Hier vertel Matteus ons wat presies die koninkryk van God (die hemele) is wat Jesus bring. Wat is dit en hoe werk dit? Weer bring Matteus vir ons ‘n klomp van die verhale (gelykenisse) bymekaar wat Jesus verkondig het. Elke gelykenis vertel ‘n storie. Al hierdie klein stories saam vertel weer ‘n groter storie.

 

Gaan nou Mat 13 deur en lys die verhale/gelykenisse wat vertel word. Sê in elke geval wat jy dink die gelykenis beteken. As jy al die betekenisse gelys het, kyk of jy kan sien wat die verhaal van die gelykenisse saam is……………………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Miskien het jy by min of meer die volgende uitgekom:

 

Kyk of jy die gelykenisse met die volgende uiteensetting kan verbind:

 

Die saaier (verkondiger) verkondig die woord, wat nie deur almal op dieselfde wyse ontvang word nie (dit is ook die boodskap van die Evangelie tot nou toe, het ons gesien). Die Christene, wat die evangelie aanvaar het, word egter nie uit die wêreld weggeneem nie, maar leef saam met die ongelowiges in die wêreld tot met die finale oordeel. Die koninkryk begin ook nie groot nie, maar die inherente krag van die koninkryk is so groot dat dit oor die hele wêreld sal groei. Daarom is dit die heel kosbaarste skat wat jy kan soek en kry. Jy moet alles wat jy het daarvoor opoffer. Aan die einde, met die finale oordeel, sal die Christene van die nie-Christene geskei word. Dan sal die beloning kom.

 

 4 Die res van die Evangelie

 

Jy het nou heelwat kennis oor hoe Matteus skryf. Gaan nou die res van die Evangelie op jou eie deur (of lees dit ten minste net deur). Jy sal sommer baie skatte kry. Kyk veral na die gedeeltes oor wat mens moet doen voor die wederkoms (jy moet wakker wees) en ook hoe die wederkoms beskryf word. (Hoofstukke 24-25). 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (5)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (5) – Jan van der Watt

3.4  Matt 10: Jesus stuur die 12 uit en berei hulle voor.

Volgens Matteus weet die wêreld nou wat Jesus se boodskap is, en Jesus het wys dat Hy betroubaar is en van God af kom deur die wonders wat Hy gedoen het. Nou weet sy dissipels genoeg en is hulle reg om die boodskap verder te gaan verkondig.

 

 

In hoofstuk 10 stuur Jesus sy dissipels dus uit. Soos in die geval van hoofstukke 8-9 help Matteus ons ook hier om sommer ‘‘n klomp inligting oor sendingwerk hier bymekaar te bring.

 

Lees hoofstuk 10 en skryf al die ‘eienskappe’ van sendingwerk wat jy hier sien neer………….. ………………………………………………………………………………………………………………………..

 

3.5 Matt 11: Reaksies op die boodskap van die dissipels

 

Die dissipels het toe gaan preek en nou wonder ‘n mens hoe suksesvol hulle was – die reaksies was egter verskillend. Weer stel Matteus ons nie teleur nie. Hy versamel vir ons van die reaksies op Jesus se boodskap in hoofstuk 11.

 

Lees Hoofstuk 11 en maak ‘n lys van al die reaksies op die boodskap van Jesus wat Matteus daar vir ons beskryf……………………………………………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………..

 

3.6 Matt 12: Aan wie behoort jy?

 

In hoofstuk 12 word dit al hoe meer persoonlik…

 

  • Daar is eers die konfrontasie oor die Sabbat, wat eintlik ‘n konfrontasie is met Jode wat dink dat om die Sabbatswette presies te hou soos dit in die Jodedom verstaan word, noodsaaklik is om God se kind te wees. Jesus is nie so nie. Hy is die Heer van die Sabbat – dit is belangriker om hom te dien as om wette te probeer navolg. Hier sien ons dus hoe Jesus wetsgodsdiens na verhoudingsgodsdiens verskuif.
  • Dan is daar die konfrontasie met die mense wat dink Jesus is van die duiwel… Lees 12: 22-31. Wat is die hoofprobleem hier en hoe word dit opgelos?……………………..

………………………………………………………………………………………………………………….. Lees nou 12:33-36 en 43-44 en sê hoe dit inpas by hierdie konteks.

  • Hf 12 eindig met ‘n belangrike opmerking rondom die vraag aan wie jy behoort: in 12:46-49 word Jesus se ware familie beskryf – nie sy fisiese familie nie, maar almal wat hom navolg is sy familie, God se familie. Jy kan dus ook deel daarvan wees.

 

In die laaste bespreking van Matteus gaan ons na die gelykenisse van die koninkryk kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (4) – Jan van der Watt

Deel 2: Die boodskap van Matteus

 

3.3 Jesus begin preek en werk

Nou lees ons iets belangriks wat ons sommer baie van Matteus se Evangelie leer:

 

Vergelyk Mat 4:23 met 9:35 Wat val jou op?Kyk nou waaroor gaan hoofstukke 5-7 en 8-9 respektiewelik. Kan jy enige verband sien tussen wat in hoofstukke 5-7/8-9 gebeur en wat in die verse staan wat jy gelees het?………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Mat 4:23 en 9:35 ‘omraam’ hoofstukke 5-9. Die twee verse sê dieselfde: Jesus het gepreek en Jesus het wonders gedoen. As ons nou na hoofstukke 5-7 kyk, is dit die Bergpredikasie – een lang preek van Jesus, terwyl in hoofstukke 8-9 die wonders van Jesus in ‘n ry bespreek word. Wat in hoofstukke 5-9 staan illustreer dus hoe Jesus gepreek het en wat se wonders hy gedoen het.

 

3.3.1 Matt 5-7: Die Bergpredikasie

 

Ons het reeds in detail kyk na die bergpredikasie gekyk. Dit wys vir ons hoe Jesus se preke gelyk het.

 

3.3.2 Matt 8-9: Wonderverhale (3-3-3)

 

Gaan hoofstukke 8-9 deur en skryf neer wat jou opval………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Die volgende val op as mens hierdie hoofstukke lees.

 

Daar is ‘n patroon – daar word eers drie wonders vertel, dan word dit onderbreek, weer drie met nog ‘n onderbreking en dan nog drie. Dit wys vir ons dat Matteus bewustelik die wonders so georden het. Hy het wonders wat Jesus op verskillende tye gedoen het, bymekaar gemaak en dit so saam vir ons aangebied. Onthou, die groot belangstelling vir hulle was die boodskap en nie noodwendig die feite soos dit agter mekaar gebeur het nie. Matteus wil vir ons die ‘gevoel’ gee van wat dit beteken dat Jesus wonders doen.

 

Die wonders het beslis iets te doen met die preke (boodskappe) van Jesus, soos ons dit ook in die Bergpredikasie gelees het. Wat is die verhouding? Hoekom dink jy was dit belangrik vir Jesus se preke dat Hy wonders gedoen het?

 

Wel, om iets te sê is een ding, maar om iets te bewys is ‘n ander. Jesus kom beweer dat Hy van God af kom, die Messias is en mense kan red. Wie sê dit is waar? Die funksie van die wonders is om die boodskap te ondersteun en waar te maak. Die Jode het geweet dat goeie dinge van God af kom. As Jesus nou goeie dinge doen wat gewone mense nie kan doen nie moet dit beteken dat God op ‘n spesiale manier in Hom werk. Dit bewys die wonders. Gewone mense kan dit nie doen nie en dit bewys dan dat Jesus nie sommer ‘n gewone mens is nie. Hy kom van God af.

 

Daar is nog meer – die Jode het die Messias verwag. Hy was aan die kom, maar hoe het hulle geweet wie is hy? Hoe kon hulle hom herken? Twee dinge was belangrik: a) die profesieë van die Ou Testament moes waar word, met ander woorde, hulle het na die Bybel gaan kyk; b) hy moes wys dat hy van God kom, God se krag deel en dit het Jesus deur die wonders ook gedoen. Jesus het dus aan beide eise voldoen en daarom was die Christene seker hy is die Messias.

 

Jesus het nie net wonders gedoen ter wille van wonders nie, maar om te wys dat Hy werklik die Messias is. 

 

Volgende keer gaan ons voort by Matteus 10.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt