Geloofsvrae: Die mens as bondgenoot van God

Geloofsvrae: Die mens as bondgenoot van God – Adrio König

Die mens as bondgenoot van God 

Daar word herhaaldelik na die verbond gekyk omdat dit so ‘n sentrale saak in die Bybel is. Trouens die verbond kan gesien word as die doel van God se skeppingswerk. God het die aarde geskep om ‘n plek te hê waar Hy in gemeenskap met die mense kan leef. Ons bestemming is om in die verbond met God te leef.

Dit alles maak dit onmoontlik om sinvol oor die mens te dink sonder om God en die verhouding met Hom daarby te betrek. God neem immers die inisiatief in die verbond wat beteken dat Hy bepaal wat die inhoud van die verhouding is, en wat sy insette is en wat ons reaksie behoort te wees. Dit alles is trouens kort saamgevat in die verbondsformule: `Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees.’

Dit beteken ‘n paar dinge vir ons menswees. Allereers beteken dit dat ons aan God gebonde is en verbonde behoort te wees. ‘n Verbond bind aan mekaar. Maar hier is meer op die spel. Omdat die doel van ons lewe is om in hierdie verbond te lewe, is ons gebondenheid aan God wesenlik vir ons lewe. Dit is nie iets wat agterna kan bykom nie. Omdat God die inisiatief geneem het, en omdat Hy vooraf oor Homself besluit het dat Hy nooit op ‘n ander wyse God wil wees as die mense se God nie, is daar ook vooraf oor ons besluit: ons is bondgenote van God. Dít is ons bestemming: gebonde aan God. Ongelukkig kan ons dit probeer ontken. Dan word dit onwillige, gedwonge gebondenheid, terwyl Hy bedoel het dat dit verbondenheid moet wees.

As ons reg aan die God van liefde gebonde is, d.w.s.as ons aan Hom verbonde is, is ons ook geborge en veilig in Hom. Dat Hy ons God is – en daarvan is ons seker want Hy het dit besluit – beteken dat Hy vir ons verantwoordelikheid aanvaar. Hy kán vir ons sorg omdat Hy magtig is, en Hy wil omdat Hy liefde is. Hierdie geborgenheid gee aan ons waagmoed. Mense wat veilig voel, kan dit uit hul skuilplek waag en iets aan die wêreld doen.

Om sy bondgenote te wees, beteken ook dat ons by Hom moet pas. ‘n Bondgenoot moet sinvol inpas by die ander bondgenoot anders kan die saamwees nie egte verbondenheid wees nie, maar net slegte gebondenheid. En as die ander bondgenoot die inisiatiefnemer is wat die struktuur van die verbond bepaal, hang dit van Hom af hoe ons moet lyk om in te pas by Hom. Uit wie en hoe God is, kan ons dus aflei hoe ons behoort te wees. Ons Godsleer behoort dus ons mensbeskouing te bepaal.

Omdat God die inisiatief neem, omdat Hy die eerste woord spreek, moet ons ant-woord. Ons is dus ver-antwoord-elik. Ons sou kon sê dat ons eienskappe syne moet komplementeer of aanvul, d.w.s. sinvol by syne moet inpas, soos ‘n hollens by ‘n bollens pas. Omdat Hy gesag oor ons het. moet ons Hom gehoorsaam. Omdat Hy genadig is, moet ons dankbaar wees. En omdat Hy die God van die beloftes is, kan en moet ons met hoop op die toekoms gerig wees.

Mense is dus wesens wat verantwoordelik is voor God om Hom te gehoorsaam, te dank en met hoop die toekoms in te volg.

Dit gee sin en betekenis aan ons lewe. Sonder sin en betekenis is dit onmoontlik om met vreugde te lewe. ‘n Mens heg betekenis aan die lewe as jy iets het om na uit te sien. Ons het God se beloftes dat Hy ons saam met Hom op die nuwe aarde in heerlikheid sal laat leef. Dit gee selfs sin te midde van lyding en onreg.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Onsterflike siel

(*Siel, *Mens, *Tussentoestand, *Opstanding)

Dit is ‘n baie bekende uitdrukking wat vir sommige Christene ‘n besondere betekenis het. Hulle sien die taak van die kerk as “die redding van onsterflike siele”. Dit beteken dat mense tot bekering moet kom. En dit is inderdaad ‘n baie belangrike deel van die roeping van alle Christene en die kerk as geheel om mense na die Here toe te roep en te lei.

Die uitdrukking self, “onsterflike siel”, kom egter nie in die By­bel voor nie. Trouens, daar lees ons dat net God onsterflikheid be­sit (1 Tim 6:16). Ons lees wel dat ons by die opstanding on­sterflik sal word (1 Kor 15:53-54), maar dit beteken juis dat ons nog nie on­­sterflik is nie.

Mense kan daarvan verskil. Hulle kan daarop wys dat Pau­lus skryf dat die sterflike liggaam met onsterflikheid beklee sal word. Dit sou volgens hulle beteken dat net ons liggaam nog nie onsterflik is nie, maar ons siel natuurlik wel onsterflik is. Die moeilikheid hier­mee is dat Paulus anders daaroor dink (1 Tim 6:16). Verder is elders daarop gewys dat dit ‘n misverstand is om te meen dat Paulus in 1 Korintiërs 15 met “liggaam” net ‘n deel van die mens bedoel en die siel uitsluit. (*Opstandingsliggaam) “Liggaam” be­teken hier “die mens” sonder meer. Paulus skryf dus hier dat die mens onsterflik sal word by die wederkoms van Christus. By die bespreking van *mens is daarop gewys dat die mens ‘n een­heid is en nie uit twee of meer “onderdele” bestaan nie.

En tog moet ons volle respek hê vir mense wat met soveel nadruk praat van “onsterflike siele”. Wat hulle waarskynlik eint­lik bedoel, is dat elke mens ‘n ewige bestemming het, en dat ons ons lewe vir die Here moet gee sodat ons die *ewige lewe kan beërf.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Menseregte

Die Groot Geloofswoordeboek: Menseregte

  • Individuele menseregte Kollektiewe sosiale menseregte Mensheidsregte en die regte van die natuur Selfbeskikkingsregte

Menseregte is ‘n baie belangrike saak, maar vir sommige tog om­­stre­de. Hulle assosieer dit met Liberalisme en Kommunisme. An­der is oortuig dat ons geen regte het nie omdat ons bedelaars is voor God en net van sy genade kan leef.

Alles wat hierdie mense sê, is nie noodwendig verkeerd nie. Natuurlik verdien ons niks voor God nie en het ons geen regte voor Hom nie. En natuurlik het menseregte eintlik as deel van ‘n liberale mensbeskouing ontwikkel. Maar die afskaffing van slawerny is ook hoofsaaklik deur liberaliste gedryf, maar min mense sal vandag nog sê dit was verkeerd. Dié wat dit dalk nog sê, is of was in elk geval nie slawe nie.

Ons moet onthou dat die evangelie vir eeue goed gevestig was in Europa en dat baie waardes wat daar ontwikkel het, onder die direkte of indirekte invloed van die evangelie ontwikkel het. Hos­pitale, sorg vir gestremdes en hulp aan armes is alles waardes wat baie direk uit die evangelie gevloei het al was dit soms gedryf deur mense (“liberaliste”) wat self nie geglo het nie.

Watter gronde is daar in die Bybel vir die gedagte van men­se­regte? Sommige gebooie impliseer dat ons reg­te het. Die gebod lui dat ons nie mag moord pleeg nie. Dit be­te­ken dat ‘n mens reg het op lewe. Ons mag nie steel nie. Dit beteken ons het eiendomsreg.

Maar dit is veral die feit dat die mens, en dus alle mense, as die *beeld van God geskape is wat aan mense, alle mense, ‘n beson­dere waardigheid gee en die implikasie het dat alle mense op gelyke vlak behandel moet word. En dit as sodanig is die basis vir menseregte.

Omdat mense as die beeld van God geskape is, mag hulle lewe nie geneem word nie, het hulle reg op ‘n menswaardige lewe, enso­voorts.

Voor die instelling van demokrasie in Suid-Afrika het die wit mense in elk geval omtrent al die regte gehad wat daarna net na alle mense uitgebrei is. Wit mense het regte gehad soos vry­heid van beweging, vryheid van assosiasie, vryheid van mede­dinging. Nou het almal dit.

Eintlik het daar in die loop van die geskiedenis vier soorte/ka­tegorieë menseregte ontwikkel: individuele mense­regte, kollek­tie­we sosiale menseregte, mensheidregte en selfbeskik­kings­reg­te.

 

  • Individuele menseregte

Individuele menseregte het in 1776 amptelike erkenning ge­kry in die grondwet van die staat Virginië (later deel van die VSA). Die teo­rie is egter al ‘n eeu vroeër deur John Locke in Enge­land ontwikkel. Dit het veral om drie basiese regte van die in­di­viduele mens gegaan: die reg op lewe, vryheid en eien­dom. Hierdie regte was daarop ge­mik om die individu teen die staats­mag te beskerm. Ook in ons eie land is die Handves van Mense­regte ‘n baie belangrike dokument wat die gesag van die staat inkort. Omdat die staat soveel mag het, kan dit maklik indi­vidue onregverdig behandel.

 

  • Kollektiewe sosiale menseregte

Kollektiewe sosiale menseregte het vroeg in die vorige eeu veral onder die Sosialisme en Marxisme ontwikkel. Hierdie regte gaan uit van die gemeenskap en nie van die enkeling soos die indi­vi­due­le menseregte nie. Die teorie was dat die individuele regte aanleiding gee tot onbeperkte selfsug. Individue wat self oor groot mag beskik, kan deur middel van hierdie mag te veel vir hulleself inpalm tot nadeel van die gemeenskap as geheel. Die ge­meenskap moet as geheel ontwikkel word, en die individu moet sinvol daar­by inskakel. In ruil daarvoor het die gemeenskap dan weer die verantwoordelikheid om in bepaalde behoeftes van die individu te voorsien, soos behoeftes aan werkgeleentheid, loon, opvoeding/onderwys en gesondheidsdienste. Kritiek op hier­die men­se­regte is dat dit individuele inisiatief strem en dat ‘n ge­meen­skap nie son­der hierdie inisiatief vooruitgaan nie.

 

  • Mensheidsregte en die regte van die natuur

Mensheidsregte en die regte van die natuur het maar teen die ein­de van die vorige eeu eers duidelik na vore gekom. Dit het ge­beur om­dat die aarde “klein” geword het en die mensdom baie sterker on­derling verbonde is. Dit gaan veral om die reg op skoon lug en water, en die beskikbaarheid van basiese grondstowwe. As een land die lug besoedel, ly ander lande uiteindelik daaronder. As een die grond­stowwe uitput, sal niemand dit later meer hê nie. Dit beteken dat internasionale samewerking baie belangrik geword het.

 

  • Selfbeskikkingsregte

Selfbeskikkingsregte het in en na die tydperk van deko­lo­nisasie ontwikkel. Gedurende die 1960’s is tal­le kolonies polities bevry, maar dit het gou duidelik geword dat hulle ekonomies en sosiaal nog byna volkome van die ko­lo­­nia­le moondheid afhanklik was. Meer as politieke regte was no­dig. Daar moes ook ekonomiese en sosiale onafhanklikheid ont­wikkel. Die ontwikkeling van hierdie regte is selfs vandag nog nie baie ver gevorder nie.

 

Hierdie vier groepe regte kom soms in spanning met mekaar. Dink maar aan die groot vraagstuk van grondbesit in ons land. Die oor­grote meerderheid landbougrond en ander grond is in die hande van die klein minderheid wit mense. Die liberale politiek sou tevre­de gewees het toe die vorige re­gering se Wet op Grondbesit en die Groepsgebiedewet afgeskaf is. Dit het beteken dat alle mense grond sou kon besit. Maar dit het nog nie naastenby die probleem opgelos nie. Swart mense se ag­terstand het deur die jare so groot geword dat hulle eenvoudig nie die middele het om grond te koop en ‘n boerdery te begin nie. Dit bring die behoefte aan regstellende aksie (affirmative action) na vore. Dit is onontbeerlik in ‘n onregsituasie wat oor dekades en selfs langer ontwikkel het, nieteenstaande al die negatiewe ge­volge as dit nie verstandig beheer word nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Mens

Die Groot Geloofswoordeboek: Mens

  • Siel Gees Hart

Hier word gekonsentreer op die verskillende woorde wat in die Bybel vir die mens gebruik word. Elders kom ander fasette van ons menswees ter sprake. (*Beeld van God)

Daar is baie ou verskille oor geloofsake wat nooit opgelos kan word nie omdat die vraag verkeerd gestel word. Een hiervan is be­handel onder *heilsweg. Dit is die ou vraag wat eerste kom: weder­geboorte of bekering?

In verband met die mens het ons dieselfde tipe probleem. Die ou vraag is of die mens uit twee of uit drie dele bestaan: siel en liggaam; of gees, siel en liggaam. Dit staan onder geleerdes be­kend as dichotomie of trichotomie.

Daar is geen goeie antwoord op hierdie vraag nie omdat die vraag verkeerd gestel is. Die mens bestaan glad nie uit dele nie. Die mens is ‘n eenheid wat uit verskillende hoeke bekyk kan word. Begrippe soos “gees”, “siel” en “liggaam” is nie dele waaruit ‘n mens bestaan nie. Jy kan nie hierdie onderdele by ‘n plek gaan koop en hulle aan­mekaarsit en dan ‘n mens kry nie. Trouens, as hier­die woor­de vir ver­skillende dele van die mens gestaan het, wat van al die an­der: hart, ge­wete, gemoed, krag, niere, almal woor­de wat in die­self­de sin as gees en siel en liggaam vir die mens ge­bruik word? Uit hoe­veel de­le bestaan ‘n mens dan? En waar sit hulle almal?

Jesus som die Tien Gebooie op in twee gebooie. Die eerste is om God lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en krag (Mark 12:30). As ons uit vaste dele bestaan het, sou dit dan beteken ons hoef Hom nie lief te hê met ons liggaam, gewete en gemoed nie? As Paulus ons vermaan om ons liggame as ‘n heilige offer aan God te wy (Rom 12:1, 1953-vertaling), beteken dit ons kan maar ons siel en ons gees vir onsself hou? As die psalmdigter sê sy siel smag na God (Ps 42:2, 1953-vertaling), bedoel hy sy ander dele, hart, gees en liggaam, smag nie?

Dit is opvallend dat hier telkens na die *Vertaling van 1953 ver­wys word. Die rede is dat hierdie vertaling Hebreeuse en Griek­se woorde soos woorde vir “liggaam” en “siel” letterlik ver­taal het. Later het dit duidelik geword dat hierdie woorde nie vas­te be­te­kenisse het nie, maar dikwels na die persoon self ver­wys, mees­tal vanuit ‘n bepaalde gesigspunt. Daarom het die *Vertaling van 1983 eerder die besondere betekenis wat die woord in ‘n be­paal­de verband het, probeer weergee. As Paulus in die Grieks letterlik skryf die gemeentelede moet hul “liggaam” (Grieks: soma) aan God wy, beteken dit eintlik hulleself, hul kon­kre­te lewe. Dit is nie een deel van hulle teenoor ‘n ander deel wat hulle dan nie aan God hoef te wy nie. Daarom word “liggaam” in 1983 vertaal met “julleself”.

As die psalmdigter sing sy “siel” (Hebreeus: nefesh) smag na God, bedoel hy nie sy ander “dele” smag nie, hy bedoel hy smag. Daar­om word dit in 1983 vertaal met: “Ek smag na U, o God.”

‘n Mens kan dus die gevolgtrekking maak dat die Hebreeus en Grieks vir woorde soos “gees”, “siel”, “liggaam”, “hart”, “ge­moed” nie vaste betekenisse in die Bybel het nie. Dit verwys nie na spe­si­fieke “onderdele” van die mens nie. Die mens is ‘n eenheid.

 

• Siel

Die Hebreeuse woord vir “siel” kan die volgende be­te­kenisse hê:

Keel (Jes 5:14; Jer 4:10).

Maag: Jesaja 29:8 praat van iemand wat “nog honger is”. Die Hebreeus het: iemand wie se “siel” (nefesh) leeg is. Dit kan tog net sy of haar maag wees. Daarom word dit vertaal met “honger wees”.

Nek: Psalm 105:18: “Hulle het hom in die gevangenis gehou.” Maar die Hebreeus lees: “sy ‘siel’ het in ysters gekom.” Ons weet gevangenes het ‘n ysterband om die nek gekry. Die Hebreeuse woord vir “siel” beteken in hierdie verband dus “nek”.

Begeerte: Spreuke 16:26: “‘n Werker se honger (Hebreeus: “siel”) laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom.” Elders bid Dawid dat hy nie sy vyande se begeerte (“siel”) moet word nie, want dan sal hulle hom soek en doodmaak (Ps 35:25, 1953-vertaling).

Die persoon self: Dikwels verwys die Hebreeus vir “siel” na die persoon self. As die Here volgens die Hebreeus verklaar: “Ek sal elke ‘siel’ wat op hierdie dag werk, om die lewe bring” lui die vertaling tereg: “Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk … ” (Lev 23:30).

Baie voorbeelde kan nog genoem word, maar die punt is ge­maak: die Hebreeuse woord vir “siel” kan in baie verskillende betekenisse gebruik word. Die “siel” is nie ‘n bepaalde deel van ‘n mens nie.

 

• Gees

Dit geld ook van die ander bekende woorde. Die He­breeus vir “gees” (ruag) kan gebruik word vir die volgende:

Asem of lewe (Jes 42:5; Jer 10:14; Eseg 37:6, 14).

Krag (Rig 3:10; 13:25; 14:6; 1 Sam 10:6).

Gemoed (1 Kon 10:5; 21:5; Spr 14:29).

Wilskrag, wil of voorneme (“elkeen in wie God die voorneme gegee het”, Esra 1:5).

Die persoon self (“My gees is verheug in God” word tereg in 1983: “Ek juig oor God”, Luk 1:47).

 

• Hart

Die Hebreeus vir “hart” kan in die volgende betekenisse gebruik word:

Die fisieke hart (2 Sam 18:14; Ps 37:15).

Die mens se innerlike in die algemeen (1 Sam 16:7; in Grieks:
2 Kor 5:12).

Begeertes (Ps 21:3; Job 31:7).

Denke of insig (Deut 29:4 waar “verstand” tereg ‘n vertaling is van die Hebreeus vir “hart”; 1 Kon 3:7-12 waar Salomo vir die Here wysheid vra; letterlik “‘n opmerksame hart” in die 1953-vertaling).

Die persoon self (Ps 22:27: “Mag julle hart lank lewe” word vertaal met: “Mag julle lank lewe”; 1 Kor 7:37: “Hy het in sy eie hart besluit” word vertaal: “Hy het besluit”; Rom 1:21: “hulle hart is verduister” word “hulle is in die duister”).

Uit hierdie voorbeelde, waarby daar nog talle en talle gevoeg sou kon word, en ook vir die ander woorde soos “vlees” (sarx) en liggaam (soma), kan ons aflei dat hierdie woorde nie elkeen vir ‘n vaste deel van die mens staan nie, maar in verskillende betekenisse gebruik word. Dikwels verwys dit eenvoudig na die mens self.

Die gedagte dat die mens uit twee of drie vaste dele bestaan, kom nie uit die Bybel nie, maar van sekere Griekse filosowe af. Die Bybel sien die mens as ‘n eenheid en gebruik ‘n hele aantal woorde vryelik en in verskillende betekenisse om na aspekte van ons lewe te ver­wys, maar nie na vaste dele nie. (*Onsterflike siel, *Opstanding, *Tussen­toestand, *Opstandingsliggaam)

 

Skrywer: Prof Adrio König