Kom weer aan die gang

Memory… is the diary that we all carry about with us. ~Oscar Wilde, “The Importance of Being Earnest”

 

Kom weer aan die gang

As jy misluk het, is daar een waarheid wat jy moet onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Laat Hom toe om jou mislukking te gebruik om jou vorentoe te laat beweeg.

 

Hoe kan ek van mislukking herstel en na vore beweeg?

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou mislukking

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat die bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28:13). Weier ons om ons foute te erken, vermors ons ‘n leergeleentheid. Wees eerlik met jouself en met ander. Ons is almal kundiges om blaam na ander oor te plaas. God sê: “As jy weer voor wil begin, erken dit.” Ons hoef nie voor te gee dat ons volmaak is nie – niemand is volmaak nie.

 

  • Hou op jammer wees vir jouself; begin bely

Bely beteken dat ek my gedagte verander; ek kyk na die saak uit ‘n ander hoek. Jy sit nie op ‘n hopie en kla nie. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:10). Hier lees ons van twee soorte droefheid: Goddelike droefheid lei tot verandering – dit motiveer jou om iets te doen; wêreldse droefheid is terneerdrukkend en lei tot die dood. Sekerlik een van die emosies wat jou lewe kan vernietig is selfbejammering. Baie van die suksesverhale in die lewe is op mislukking gebou.

 

  • Vergeet van die verlede en fokus op die toekoms

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Watter gedagte oor die verlede laat jy toe om steeds jou lewe te manipuleer? Sommige mense laat toe dat hulle verlede hulle toekoms beheer. Jou verlede is verby. Jy kan nie jou verlede verander deur jou daaroor te bekommer nie. Fokus op die toekoms. Wat belangrik is, is nie waar jy was nie, maar waarheen jy op pad is. Jy verloor as jy tou opgooi, want dan verwerp jy God se genade. Jy kan jouself voortdurend veroordeel of jy kan bely en met jou lewe voortgaan.

 

  • Vertrou op God om alles op te los

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).God is besig om ons lewenspatroon uit te werk; alles pas mooi inmekaar. Vir ons lyk dit dikwels nie so nie. Maak nie saak wat die oorsaak van jou probleem is nie, God kan dit steeds gebruik.

 

Wat is jou probleem? God wil jou help om dit te oorwin. Hou op om jou te bejammer en laat Hom toe om in jou lewe te werk.

 




Hoekom misluk ons?

 

When you go through a trial, the sovereignty of God is the pillow upon which you lay your head. —C.H. Spurgeon

Hoekom misluk ons?

Mislukking hoef nie finaal te wees nie. Almal ondervind mislukkings in hulle lewe. God laat dikwels ons mislukkings vir ons werk. Volgens Spreuke is daar vyf dinge wat mislukking in ons lewens veroorsaak.

  • Ons misluk, want ons beplan nie vooruit nie

‘n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor (27:12). Sommige van ons is geneig om impulsief te wees, maar die verstandige man beplan vooruit. Die impulsiewe mens kyk nie vooruit nie en moet dan die gevolge hanteer.

 

‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9). Jesus vertel die verhaal van die man wat ‘n gebou gebou het, maar voor hy klaar was, moes hy tou opgooi, want hy het nie vooraf beplan nie. Beplan, maar jou beplanning kan nie los van God gedoen word nie.

  • Ons misluk, want ons dink ons het alles bymekaar

Die oomblik as ek dink ek het alles in beheer, moet ek versigtig wees. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig (15:25 – Die Boodskap). Hoogmoed laat ons val. Een van die simptome van trots is dat ons dink dat ons nie die raad van ander nodig het nie.

  • Ons misluk as ons te bang is om te waag

Die oomblik as ons ons begin bekommer oor wat ander mense dink, trap ons in ‘n strik. Die grootste mislukking is om nie eers te probeer nie. Vir God se heerlikheid moet ons waag. Dit is wat sukses in die lewe bring. As ons te bang is om te waag, misluk ons.

  • Ons misluk, want ons gooi te gou tou op

Mislukking is die pad van minste weerstand. Die probleem is nie dat hulle nie probeer nie, maar dat hulle te gou ophou. As jy aanvanklik nie slaag nie, is jy normaal. Probeer weer. Dikwels is sukses net om die draai. ‘n Luiaard se pad is met dorings besaai (15:19). Jy is nooit ‘n mislukking totdat jy ophou probeer nie.

  • Ons misluk as ons nie na God luister nie

Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (14:12). God se woord is vol riglyne en beginsels om ons lewe te rig. Maar meestal luister ons na ons gevoelens: “Ek voel dit is die regte ding om te doen al sê God se woord anders.” God se woord verskil dikwels van ons gevoelens. God sê om te kry, moet ons gee; die pad na grootheid is deur te dien. As ons nie na God luister nie, kom ons in die moeilikheid. Baie van ons mislukkings gebeur omdat ons nie bid nie.

Almal van ons sal op een of ander stadium misluk. Wat belangrik is, is wat ons doen as ons misluk. God stel meer in my toekoms belang as in my verlede.




Kan ek iets uit mislukking leer?

Most men pray more for full purses than for pure hearts. —Thomas Watson

Kan ek iets uit mislukking leer?

Ons kan baie uit mislukking leer. Hier is ‘n paar lesse:

  • Mislukking is dikwels die gevolg van oormatige selfvertroue – ek stel te veel vertroue in myself en te min in God. Gelukkig lei dit gewoonlik tot meer gebed en afhanklikheid van God.
  • Mislukking maak ons meer simpatiek teenoor ander. As ons nooit self misluk het nie, sou ons nie geduld met mense wat misluk het, gehad het nie – ons sou hulle ook nie gehelp het nie.
  • My mislukkings help my om my lewe te herkanaliseer. Daar is sekere dinge wat ons graag sou wou doen, maar nie die vermoë het om te doen nie. Mislukking leer my om te fokus op daardie areas waarvoor God my toegerus het.
  • Mislukking laat my daardie mense wat slaag op gebiede waar ek misluk het, waardeer.
  • Mislukking het my geleer om suksesse aan God te krediteer. As dinge goed gaan, moet ek besef  dat dit God is wat my bemagtig, geseën en gehelp het. Dit moet aanleiding gee tot meer dankbaarheid en nederigheid.
  • Baie van my mislukkings was die gevolg van te moeg of te besig wees. As ek ‘n beter pas in my lewe sou handhaaf, sou ek beter besluite geneem het.
  • My mislukkings maak dat ek Jesus Christus meer aanbid. As ek na al my mislukkings kyk en besef dat Hy nooit misluk het nie, word ek oorweldig.

Wat het jy uit jou mislukkings geleer?