Die oue weerklink in die nuwe: Moses (1) – Jan van der Watt

Dit is interessant om te sien hoe hierdie ‘gesagvolle posisie’ van Moses gebruik word om die grootheid van Jesus te beklemtoon.

  • In Joh 1:17 word daar gesê dat God die wet deur Moses gegee het, maar dat die genade en waarheid deur Jesus gekom het. Daar word nie gesê dat Moses onbelangrik is nie, nee, hy was die instrument in God se hande. Wat wel waar is, is dat Jesus beter is, want die genade en waarheid wat die wêreld sou verander en lewe gee, kom deur Hom. Jesus is dus baie groter as hierdie groot leier van Israel.
  • Moses (saam met Elia as een van die ‘groot twee’ uit die geskiedenis van Israel) verskyn op die berg van verheerliking in die teenwoordigheid van Jesus (Mk 9:4 en parallelle). Na die ontmoeting keer Jesus na die gewone wêreld terug met ‘n stem wat uit die hemel kom met die opdrag dat daar na Jesus geluister moet word (Mk 9:7 en parallelle). Daarmee word gesê dat Jesus nou God se boodskapper in die wêreld is. Na Hom moet nou geluister word.
  • Dit is heel moontlik dat Matteus impliseer dat Jesus die ‘tweede Moses’ word wat met die Bergpredikasie (Mat 5-8) die nuwe interpretasie van die wet afkondig, soos Moses dit die eerste maal van die berg Sinaï gedoen het. So wys Jesus dus dat ‘n nuwe era in die geskiedenis van die volk van God aangebreek het. Sy boodskap oortref die boodskap van Moses. Immers, in die ‘ou dae voor Jesus’ het mense die wet op een manier verstaan, maar Jesus het vir hulle die regte pad kom wys (Mat 5:18 en verder).

Omdat Moses so met die sentraal belangrike wet verbind word, is dit dus nie snaaks dat hy in sommige gevalle ook sommer as ‘simbool’ vir die hele Joodse volk beskryf word nie. In Hand 6 word daar vertel van die konflik tussen die Jode en die Christene wat uiteindelik op die steniging van Stefanus uitgeloop het (Hand 7). In die konflik kla die Jode Stefanus aan: ‘Ons het hom teen Moses en God hoor laster’ (Hand 6:7). Hier staan die naam Moses vir die Jode met hulle tradisies. Stefanus het teen die Joodse volk (Moses) gedraai en so teen God ook. In Hand 21:21 word Paulus daarvan beskuldig dat hy die heidene aanmoedig om ‘van Moses’ af weg te draai, met ander woorde, om nie die Joodse gebruike te volg nie (‘wet van’ is hier in die vertaling ingesit en staan nie in die Grieks nie).

Uitdrukkings soos ‘die wet van Moses’ (Rom 5:13) kom baie in die Nuwe Testament voor. Omdat die Jode die wet gebruik het om te bepaal of iemand sonde gedoen het, het mense gewonder of daar sonde voor die wet was, en hoe het mense dit geweet. In Rom 5:12-14 sê Paulus dat sonde en die resultaat, die dood, eintlik al daar was sedert Adam; dit het nie met die wet eers begin nie.

In 2 Kor 3:7-18 vergelyk Paulus wat Moses gedoen het met dit wat die Gees doen, met ander woorde, wat die Israeliete gehad het met wat die Christene nou het – hy noem die era van Moses ‘die bediening wat tot die dood lei’, terwyl die era waarvan hy deel is, ‘die bediening is wat deur die Gees geskied’ (2 Kor 3:7-8; sien ook Eks 34:29-35). Nou sê hy juis nie dat wat Moses (die Israeliete) gehad het sleg was nie. Inteendeel, Moses het van heerlikheid gestraal nadat hy in die teenwoordigheid van God was. Hy skryf (2 Kor 3:7-8): ‘Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?’. Dit is juis die punt – wat die gelowiges vandag het, is soveel groter as wat Moses gehad het, want wat Moses gehad het, het gou verdwyn. Wat die gelowiges nou het, is onoortreflik en permanent: ‘Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter’ (2 Kor 3:10-11).  Dit moet die gelowiges laat moed hou en besef wat hulle het, of soos Paulus dit stel: ‘Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op’ (2 Kor 3:12). Wat Moses gehad het, was nie sleg nie, maar wat die Christene het is net veel beter. Johannes sluit op sy eie manier by die gedagte aan as hy sê: ‘God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Joh 1:17). Die wet kom wel van God af en het wel op sy manier ‘n rol gespeel, maar wat Jesus gebring het is soveel beter. Deur Jesus leer ons nie wette ken nie, maar genade en waarheid.

Volgende keer kyk ons verder na Moses.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Eksodus en Moses – Jan van der Watt

  1. c) God red sy volk: die uittog uit Egipte.

Die uittog uit Egipte het ‘n baie belangrike rol in die lewe van Israel gespeel. As hulle later ooit in die moeilikheid of onseker was, het hulle teruggedink aan Egipte, want waar kon jy ‘n beter bewys as die verlossing uit Egipte kry dat God sy volk uit die moeilikheid sal red. En dan is daar nog die tog van 40 jaar deur die woestyn, waar God vir hulle oor en oor gewys het dat Hy hulle sal versorg en beskerm, al was hulle soms opstandig en ongehoorsaam.

Die vroeë Christene het gevoel die God van Israel wat sy mense op so kragtige en wonderlike manier uit Egipte gered het, ook hulle God is. Omdat dit is wie Hy is, sal Hy hulle dus ook so uit nood kan red. Daarom word die eksodusverhaal baie op die Christelike verhaal toegepas om so te wys dat die God van Israel ook die God van die Christene is. Hier gaan net ’n paar voorbeelde genoem word.

  1. i) Moses, die leier van God se volk.

Moses, wat die volk uit Egipte gelei het, was een van die hooffigure in die geskiedenis van Israel. Daarom is dit nie snaaks dat daar baie na hom verwys word in die Nuwe Testament nie. By hom kan daar baie geleer word, omdat hy so naby aan God was.

God het die wet deur Moses gegee’ (Joh 1:17) – daarvoor was Moses veral bekend. Die wet word selfs die ‘wet van Moses’ genoem (Luk 2:22; 24:44; 1 Kor 9:9; Hand 13:39) en die eerste vyf boeke van die Bybel (die Pentateug) word in die Nuwe Testament die ‘boek van Moses’ (Mk 12:26), of sommer net ‘Moses’ (Luk 16:29, 31; 20:37; 24:27) genoem. Moses en die wet is onlosmaaklik aan mekaar gekoppel en daarom is Moses ook gesien as die verteenwoordiger van die volk van God. Hy het die volk by God verteenwoordig toe God met sy mense by die berg Sinaï ’n verbond (kontrak) gesluit het (Rom 9:15; Rom 10:5,19) dat Hy hulle God sal wees, vir hulle sal sorg en hulle sal beskerm, maar dat hulle dan vir Hom ‘n volk moes wees. Die deel van die ooreenkoms (verbond) wat die volk moes nakom, is in die verbondswet neergeskryf. Dit was die deel van die kontrak wat hulle moes nakom om die kontrak geldig te hou. Deur die Wet te hou, het die Jode gewys dat hulle God se verbondsvolk was. As jy die wet sommer oortree het, was jy in die moeilikheid, want dan het jy die kontrak met God in gevaar gestel wat die hele volk en verbond in gevaar gestel het. Daarom lees ons in die Ou Testament dat mense wat die wet oortree het sommer kwaai gestraf is en selfs doodgemaak is. Dit verbond was immers nie met individuele persone nie, maar met die volk. As die volk dus toelaat dat individue sommer links en regs die wet breek en niks daaraan doen nie, beteken dit dat die hele volk skuldig is. Dan kan God almal straf. Daarom het die Jode dan ook so kwaad geword vir Jesus as Hy en sy dissipels nie die Sabbat hou nie. Maar Jesus het nie die wet oortree nie, maar die wet kom vervul.

Volgende keer gaan ons verder na Moses kyk.




Jetro en Reuel – Francois Malan

Eugene vra:

Hoekom is daar ‘n verkil in die naam van Moses se skoonpa. Eks.2:21 en Eks.3:1.

Ek is tans besig om ‘n boek saam te stel “Misgelees of Misverstaan” en wil graag kommentare kry rondom skere Bybel gedeeltes soos bv. die naamsverskille ens.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die naam van Moses se skoonvader, Reüel (vriend van God), in Eks 2:18  en Numeri 10:29, is moontlik sy naam wat die familie hom noem. In Eks 2:18 word hy genoem as die pa van die sewe dogters. In Numeri 10:29 word Reüel die pa van Gobab genoem. Dus is Gobab die swaer van Moses.

Die naam Jetro (eksellensie) is waarskynlik ’n ampsnaam of titel vir Reüel omdat hy die priester van Midian is, in Eks. 3:1; 4:18 en talle kere in Eks.18.

In Rigters 4:11 word Reüel, Moses se skoonvader, Gobab genoem, maar in Numeri 10:29 word Gobab die seun van Reüel genoem. Waarskynlik moes skoonvader in Rigters 4:11 swaer gewees het.

Hoewel daar baie voorstelle is waarom die twee name Reüel en Jetro gebruik sou word, bly dit raaiwerk en onseker.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Goue kalf – Herrie van Rooy

Jan vra:
Eksodus 32. Moses is op die berg en keer nie terug nie. Die Israeliete raak ongeduldig en hulle dwing Aäron om vir hulle ‘n god te maak. Hy maak ‘n goue kalf en ek wonder om watter rede dit ‘n kalf moes wees, asb?

Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die kalf (veral ‘n bulkalf) en ook ‘n bul was ‘n bekende afgod by die volke rondom Israel. Dit was ‘n simbool van vrugbaarheid, veral by die Kanaäniete. Die bulkalf was nie bedoel om God te vervang nie, maar is gesien as ‘n beeld van God. So was ook die kalfbeelde wat Jerobeam opgerig het by Dan en Betel (1 Konings 12). So is ook Amon-Re, een van die gode van Egipte, as ‘n kalf uitgebeeld. Dit was dus eintlik ‘n oortreding van die tweede gebod, oor afbeeldings van God.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy