Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal

Om ‘n oordeel oor jouself te drink met die nagmaal – Kobus Kok

Karen vra:

Ek verstaan van die vers oor die nagmaal dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan drink die volgende. Mens drink ‘n oordeel oor jouself wanneer jy nagmaal gebruik en nie besef waarom en hoekom jy dit gebruik nie. Dat jy nie besef wat Jesus kom doen het nie.

Ek het egter al ‘n hele paar kere in kerke predikante hoor sê dat jy moet regmaak met mense voordat jy nagmaal kan gebruik anders drink jy ‘n oordeel oor jouself. Ek verstaan dat Jesus het juis gekom en gesterf omdat ons nie volmaak is nie. Omdat ons nie onsself kan red nie en daarom gebruik ons ook die nagmaal om ons te herinner dat Hy die prys betaal het. Ek glo wel dat ons nie met onvergifnis in ons harte moet rond loop nie. Mense voel klaar veroordeeld wanneer die vers so oorgedra word, want hulle wonder of hulle nie dalk iets teen iemand het waaraan hulle nie nou kan dink nie. Verstaan ek dit reg?

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Karen verstaan die nagmaal reg. Die doel van die nagmaal is dat dit ‘n teken is wat ons herinner aan die lewe van Jesus en ‘n sakrament wat ons verbind aan die Christus-gebeure en God se beloftes. In die nagmaal dink ons aan, en herdenk die lewe van Jesus, en probeer ons opnuut om onsself te verbind aan ‘n lewe wat wesenlik daarvan getuig dat ons kinders van God is. Kinders van God vat God se Woord ernstig. In God se woord word ons aangemoedig, soos ons in die Bergrede (Matt 5-7) lees, om ander te vergewe en nog vele meer. Die oproep tydens die nagmaal moet eerder gekommunikeer word as ‘n belyning as ‘n oordeel. Die nagmaal belyn ons opnuut in ‘n feesmaal om ons identiteit te omhels. Dit is waar ons God se gasvryheid beleef en waar ons dan graag gasvryheid en vergifnis na buite wil straal. God se eerste tree is om ons tydens die nagmaal by die hand te vat, en nie om ons te straf nie. Daarom is die eerste ding wat met jou moet gebeur by die nagmaalstafel nie om skuldig te voel nie, maar dankbaar en ingenooi te voel. Tydens die hele proses beleef ons nuutskepping. Vrees vir oordeel wat tot “korrekte” optrede lei, klop nie die ritme van God se hart  nie. Dankbaarheid wat tot geestelike vrug lei, klop ritmies die evangelie se hart – ‘n goeie-nuus boodskap wat mense belyn om op nuut in lyn met God se wil te leef. Juis om hierdie rede moet ons versigtig wees om te maklik te dink ons drink onsself in oordeel in. As ons die nagmaal reg gebruik nooi dit ons eerder in die dampkring van God se genade, as die oordeel-kring in. Tog kan/mag niemand onaangeraak by die nagmaal verbystap nie, net soos ons ook nie onaangeraak by die voete van die Here in gebed mag wegstap nie. Ons geloofspad behels konstante groei, verdieping en vernuwing.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Ek is nie waardig om Nagmaal te gebruik nie

Nothing sets a person so much out of the devil’s reach as humility. Jonathan Edwards

 

Ek is nie waardig om Nagmaal te gebruik nie

Baie Christene sê dat hulle nie aan die Nagmaal kan deelneem nie – hulle voel nie waardig genoeg nie of daar is dinge wat hulle eers moet regstel. Wat sê hulle eintlik: Ek ken my eie swakpunte en ek voldoen nie aan God se verwagtinge nie.

 

 

Tim Gombis sê ons moet weer kyk na wat waardig beteken. As Paulus praat oor onreëlmatighede by die Nagmaal (1 Korintiërs 11:17 – 34) verwys hy na spesifieke skynheilighede wat voorgekom het by die mense se deelname aan die Nagmaal. Die doel van die maaltyd was om die eenheid van God se kinders te demonstreer. Dwarsdeur hierdie brief verwys hy na dinge wat die kerk in Korinte verdeel. Dit is dan die konteks van hierdie gedeelte oor die Nagmaal. Hy waarsku hulle dat hulle gedrag gelowiges verdeel – hulle eet op ‘n onwaardige wyse.

 

Die “waardigheidstaal” wat Paulus hier gebruik verwys na doelbewuste gedrag wat gelowiges verdeel en nie na die soort mense  wat Jesus na sy tafel uitnooi nie. Dit is nie dat Hy hoë standaarde het sodat net “waardige” mense by die tafel kan aansit nie. Wie was aan Jesus se tafel? Judas wat Hom verraai het; Petrus wat Hom verloën het; Tomas wat getwyfel het.

 

Jesus nooi ons uit om die Nagmaal saam met Hom te geniet – dié wat verraai, dié wat verloën en dié wat twyfel. Saamn vier ons die eenheid van God se kinders. As jy dus onwaardig voel … jy is in goeie geselskap aan die Nagmaaltafel.




Druiwesap of wyn

Druiwesap of wyn – Francois Malan

Cecil vra:

Ek kan nie saam met professor Francois Malan stem oor sy raad dat druiwesap en/of wyn tydens Nagmaal gebruik mag word. Dit is baie duidelik dat Jesus wyn gebruik het. Ek het nie genoeg ruimte om my standpunt volledig te staaf nie, maar slegs die volgende – In Palestina begin die druiwe in Junie eers ryp te raak terwyl dit gedurende September geoes word. Daar kon dus tydens die paasfees geen druiwe voorhande gewees het om die sap uit te pers nie. Wyn impliseer ook iets wat klaar deur ‘n gistingsproses is. Ek is van mening dat hier verkeerde advies verskaf is.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die nagmaal gaan dit nie oor die wyn of die brood nie, wat slegs tekens is wat heen wys na die bloed en die liggaam van die Here Jesus. Sy bloed wat aan die kruis vergiet is en sy liggaam wat gebreek is, is die uiterlike bewyse van God wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het om die straf op ons sonde te dra, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê (vgl. Joh 3:16; 1:29). Die Evangelie volgens Johannes vermeld nie eers die instelling van die Nagmaal nie, maar beskryf ‘n paar wondertekens en baie woorde van Jesus sodat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

 

Die doel van die instelling van die Nagmaal volgens Mt, Mk, Lk en 1 Kor. is dat ons die offer van God vir ons sondes sal onthou, en ons lewe daarvolgens inrig. Dit kan ons slegs doen as ons een word in sy dood, deur te sterwe aan ons self (Rom 6:5), deur ons self te verloën, en nie vir ons self te lewe nie (Mat 16:24-26), maar uit liefde vir God en ons medemens (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:3-11). Wanneer ons egter konsentreer op wyn of druiwesap en nie op die liefdesdaad van Jesus nie, het ons die betekenis van die Nagmaal verloor. Dit is presies wat in die gemeente in Korinte gebeur het. Die rykes het die armes verneder het deur alles self te eet en te drink, sonder om die liefdesmaal met die armes in die gemeente te deel. Toe word hulle gebruik van wyn en brood ‘n teken van verdeeldheid in die gemeente, en van die rykes se gebrek aan liefde vir God en hulle mede-gelowiges. En so het hulle God se oordeel oor hulle self geëet (1 Kor 11:17-34).

 

Dat Jesus wyn gebruik het, stem ek mee saam, al het nie een van die berigte oor die instelling van die Nagmaal die woord ‘wyn’ gebruik nie: Mt 26:27 verwys na ‘die beker’; so ook Mk 14:23 Lk 22:17 (Mat 27:25 se ‘nuwe wyn’ is ‘n poging om die oorspronklike ‘vrug van die wynstok’ verduidelik; so ook Mk 14:25 en Lk 22:18; Matteus en Lukas het waarskynlik Markus as een van hulle bronne gebruik by die skryf van hulle Evangelies). 1 Kor 11:25-29 gebruik ook die woord ‘beker’, hoewel die rykes hulle te buite gaan en dronk word van wat hulle drink (1 Kor 11:21; die NAV het ‘te veel drink’ om dit effe te versag; maar die Griekse methuoo verwys na dronk word van wyn Ef 5:18, in NAV ‘aan drank te buite gaan’, of figuurlik gebruik soos bv. dronk drink aan  bloed, soos in Openb 17:6).  

 

Die punt wat ek wou maak is dat die Nagmaal deur Jesus ingestel is met ‘n beker (wat waarskynlik wyn in gehad het), maar dat wyn nie spesifiek genoem word in die Evangelies nie, en dat wyn as sodanig nie die belangrike is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Geloofsvrae: Die Nagmaal

Geloofsvrae: Die Nagmaal – Adrio König

Die nagmaal

Ons het die doop behandel onder die eerste fase van die heilsweg: die inlywing in die heil. Die nagmaal hoort tuis onder die tweede fase: die voortgang op die heilsweg, die lewe in die heil. Daarom word ons ook net een keer gedoop, maar ons gebruik gereeld nagmaal. Die nagmaal is deel van die kos wat ons op die pad nodig het. Daarom eet en drink ons tydens die nagmaal.

Dit word nog verder beklemtoon deur die feit dat ons brood en wyn gebruik. Dit was die gewone kos van elke dag. Daar is mense wat ‘n besondere waarde daaraan heg dat dit juis brood en wyn moet wees waarmee ons die nagmaal vier. Hulle sien dan in die brood ‘n beeld van die gebroke liggaam van Christus (koring wat fyn gemaal is) en in die wyn druiwekorrels wat stukkend gedruk is, wat die lyding van Christus simboliseer. Dit is inderdaad mooi simboliek waarmee niks verkeerd kan wees nie, al kry ons dit nie só in die Bybel nie.

Daarom moet ons nie die simboliek dwingend maak in die sin dat ons net brood en wyn mag gebruik, en brood en wyn op dié wyse weer iets buitengewoons word en nie meer ‘n doodgewone maaltyd is nie. Trouens vir die meeste van ons is brood en wyn nie ‘n gewone maaltyd nie, en daarom sal daar niks mee verkeerd wees om dit wat ons gewoonlik eet te gebruik as ons nagmaal vier nie. Die nagmaal is ‘n versterking op die pad wat ons elke dag saam met die Here loop. Om dit te beklemtoon, moet die elemente deel van ons gewone daaglikse kos wees.

Wat die nagmaal wel ‘n buitengewone ervaring in ons gewone lewe maak, is die feit dat dit ‘n fees is. Ons vier nagmaal. By ‘n fees pas vreugde en opwinding. Maar dis ‘n fees met gewone kos! Dit beteken dat ons gewone lewe ‘n fees kan, mag, moet wees! Daarvoor het ons genoeg rede: Jesus se offer in ons plek, vir al ons sonde!  Sy opstandingslewe waaraan ons mag deelneem! Ons is versoen, vergewe, verlos, vry.

Terloops, die nagmaal kom nie tot sy reg in ‘n gemeente van honderde lidmate nie. Sowel die feeskarakter as die noue onderlinge gemeenskap van die gesamentlike maaltyd gaan grootliks verlore. Eintlik sal nagmaal én doop beter in kleiner groepe binne die groot gemeente tot hul reg kom. Dit sal dit ook veel meer deel van ons gewone lewe maak.

Wat ons tydens die nagmaal met ons mond eet, is nie so belangrik nie, solank dit gewone kos is. Wat ons met ons geloof eet, is wat tel. Ons eet die liggaam en bloed van Jesus. Hy beklemtoon dit self ook dikwels:  `Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe’ (Joh 6:54). Die vroeë Christene was selfs beskuldig dat hulle mensvreters is omdat hulle iemand eet. ‘n Mens hoef dit nie net af te maak as ‘n belaglike misvatting nie. ‘n Mens kan dit ook interpreteer as ‘n merkwaardige insig in die evangelie! Wat sê Jesus anders? Al verskil tussen Christene en kannibale, is dat kannibale ‘n mens met hul gewone mond eet, terwyl Christene vir Christus met die mond van hulle siel, die geloof eet (Nederlandse Geloofsbelydenis 35).

Dit beteken dat, net soos by die doop, (die sewende punt onder die samevattende betekenis) dit heeltemal te min is om van die nagmaal net as ‘n teken of simbool of belofte te praat. Daar gebeur iets in die nagmaal, dit verwys nie net na iets wat elders en op ‘n ander tyd gebeur het nie. Natuurlik verwys dit na die dood van Jesus. Trouens ons verkondig sy dood as ons nagmaal vier (1Kor 11:26). Die nagmaal verwys dus inderdaad na sy kruisdood. Sonder sy kruis sou daar geen nagmaal gewees het nie. Maar in die nagmaal vier ons nie net sy dood van eeue gelede nie, maar ons het met Hom gemeenskap.  Sy liggaam en bloed wat ons deur die geloof eet, is nie iets los van Hom nie, dit is ‘n Joodse manier om na Homself te verwys. Ons eet Hom in die nagmaal, net soos ons in die doop verenig word met sy kruis en opstanding sodat ons self vir die sonde gekruisig is en aan sy opstandingslewe deel het. In die nagmaal leef ons nou sy lewe saam met Hom.

Die kruis is die eerste en enigste voorbeeld in die Bybel waar die priester nie net ‘n offer bring nie, maar self die offer is. En die nagmaal is die enigste ete in die Bybel waar die gasheer nie net ‘n maaltyd aan die gaste voorsit nie, maar self die maaltyd is. Dit is wat tel. Ons eet Hom, dit beteken ons vereenselwig ons volkome met Hom in die nagmaal. Soos kos in ‘n mens ingaan, deur jou liggaam opgeneem en deel van jou word, so kom Christus in die nagmaal in ons in, word deel van ons, en bly in ons. `Wie in My bly, en Ek in hom …’ (Joh 15:5).

Kindermagmaal volg vanself uit kinderdoop. As ons glo dat ons kinders van gelowige ouers deur die doop amptelik in die verbond moet opneem, moet ons hulle ook tot die verbondsmaaltyd toegang gee. As ons glo dat die nagmaal gegee is om ons swak geloof te versterk (Heidelbergse Kategismus Sondag 25), dan tog seker ook kinders se geloof wat waarskynlik nog swakker is as volwasse Christene s’n. Enige ekstra voorwaardes wat nie ook aan ander lidmate gestel word nie verloën ons belydenis dat die kinderdoop ‘n wettige vorm van doop is. Die doop gee toegang tot die nagmaal of dit is nie die doop van die NT nie. Die kind behoort vandat hy of sy gedoop is, volle toegang tot die nagmaal te hê presies soos die lidmate wat reeds belydenis van geloof afgelê het. Natuurlik moet hulle ook net soos al die ander lidmate aan die tug onderworpe wees.

Om 1Kor 11:27ev op klein kindertjies van toepassing te maak, is nie verantwoord nie, net so min as 2Tes 3:10.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König