Nederigheid en vernedering

“The gospel overturns everything sin does.” D.A. Carson

Nederigheid en vernedering

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3)

Paulus sê dat nederigheid ‘n deug is. Dit was ‘n radikale stelling in die Romeinse kultuur van destyds. Die Romeine het feitlik geen verskil tussen nederigheid en vernedering gemaak nie – albei dui op ‘n verlaging van die status van ‘n persoon. Paulus se oproep op nederigheid in die kultuur van destyds was onbekend – geen Romein met enige selfrespek sou nederigheid as ‘n deug gesien het nie. Dade moet gedoen word daar waar mense dit kan sien en jou kan prys. Jou selfwaarde word bepaal deur wat die mense van jou dink en sê. In die Joodse gemeenskap speel nederigheid ‘n meer positiewe rol, maar nie naasteby soos in die Christelike geloof nie. Kyk maar na die verbasing toe Jesus ‘n kindjie as model gebruik (Matteus 18:1 – 5).

 

Vandag word nederigheid meestal positief beoordeel. Die vraag is egter wat presies ons met nederigheid bedoel Paulus beskryf dit soos volg:Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (2:4). Nederigheid beteken dus gehoorsaamheid aan die wil van God. ‘n Trotse gesindheid beteken dat ek nie voor God se wil kan buig nie. Net in nederigheid kan ek God se wil sien en my behoefte aan God se krag besef. Paulus glo dat om God se wil te doen ek krag by die inwonende Heilige Gees moet kry.




Die oproep vir nederigheid

If man has no personal God, all the more surely he has one or more impersonal gods. — Emil Brunner

Die oproep vir nederigheid

Naäman was ‘n ryk generaal in die Siriese leër. Ons lees sy verhaal in 2 Konings 5. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. By sy vrou se bediende (ons weet nie eers wat haar naam was nie) hoor hy van die profeet in Samaria wat hom van sy melaatsheid kon genees. Hy gaan na sy koning en kry ‘n brief aan die koning van Israel. Hy reis na Israel met silwer, goud en tien stelle klere – en ‘n brief van sy eie koning. Hy gaan reguit na die koning van Israel en gee vir hom die brief. Dit is eintlik ‘n dreigbrief: Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak – moet.

 

Soos so baie van ons het Naäman geglo dat geld en invloed sy lyding sal genees. Daarom gaan hy na die persoon wat volgens hom die meeste geld en invloed in die Israelse kultuur het – die koning – en verwag ‘n oplossing. Wat doen die koning van Israel? Hy skeur sy klere en sê: Is ek dan God wat mense laat sterwe of hulle die lewe gee. In wese sê hy: Moenie van my verwag om iets te doen wat net God kan doen nie.

Is dit nie tyd dat ons weer na hierdie uitroep van die koning van Israel luister nie. As ons voor  lyding te staan kom, dink ons ons kan dit oplos deur ‘n beleidsverandering van die regering of die kundigheid van sielkundiges en psigiaters of tegnologiese vooruitgang. Dit gaan nie gebeur nie.  Dit is verkeerd om te glo dat ons lyding met ons kennis gaan oorwin en beheer.

Ons moenie passief wees as rampe en tragedies ons tref nie. Natuurlik as ‘n verandering in regeringsbeleid kan verhoed dat ‘n ramp weer gebeur, moet ons dit doen. Maar terselfdertyd moet ons besef dat hierdie maatreëls nooit genoeg is nie. Pyn en die boosheid in hierdie wêreld is diepgaande en het geestelike wortels. J. R. R. Tolkien (The Lord of the Rings) sê: Always after a defeat and respite, evil takes another shape and grows again. Maak nie saak wat ons doen nie, menslike lyding en die bose kan nie uitgewis word nie. As jy lyding en die bose wil hanteer, het jy meer as wêreldse hulpbronne nodig.

Naäman wend hom uiteindelik  nie na geld of  kundiges of tegnologie nie, maar na God self. In plaas daarvan om met trots in sy eie en ander se kundigheid te vertrou, word hy geroep tot … nederigheid. Hy word nie alleen genees nie, maar ontwikkel ‘n nuwe verhouding met God en ‘n siel vol genade en vreugde. Lyding lei tot sy verlossing.

Dit antwoord nog nie ons vrae nie: “Waarom laat God toe dat soveel swaarkry in die wêreld bly voortbestaan?” Dit regverdig ook nie lyding nie. Tog leer ons in die Bybel dat feitlik niemand tot grootheid groei of God vind  sonder lyding nie. Selfs Christus het nie verlossing en genade aan ons gebring sonder lyding aan die kruis nie. Hy het ons lief genoeg gehad om sy lyding met geduld en moed te hanteer. Soos sy swakheid en lyding tot sy opstandingskrag gelei het, kan lyding ook vir ons na krag lei.

 

 




Is my nederigheid eg of vals?

As long as there is a separation between Christ and us, all that he suffered and performed for the salvation of mankind is useless and unavailing to us. — Johannes Calvyn

Is my nederigheid eg of vals?

In die openbaar is ons nederig; in die privaat gaan alles oor homself. Daar is baie mense wat voorgee dat hulle nederig is, maar in werklikheid is hulle net oor hulle eie agenda bekommerd. Hoe weet ons of hulle nederigheid eg of vals is?

  • Ware nederigheid lei my om nuuskierig en bekommerd oor ander  te wees – nie net belang te stel in hoe hulle my sake sal bevorder nie. Nederigheid beteken ek plaas ander eerste in my gedagtes, woorde en optrede. Dit is maklik om voor te gee dat jy nederig is as daar vir jou ‘n voordeel in is. ‘n Nederig persoon stel belang in die langtermyn welstand van ander en nie in sy eie korttermyn selfbelang nie. Ons help ander vir wie hulle is en nie as gevolg van hulle posisie nie.
  • Nederigheid stel belang in ware diens. Vals nederigheid is kruiperigheid en nie diens nie. Daarom word nederige mense dikwels as mense met ‘n swak selfbeeld beskou. Dit is egter arrogante mense wat ‘n skewe selfbeeld het – hulle dink te veel van hulle bydraes en soek altyd krediet vir wat hulle doen.
  • As ‘n nederige persoon ‘n fout erken of erken dat hy verkeerd was, maak hy nie net verskoning nie – hy stel dinge reg. Die trotse persoon mag sê dat hy jammer is, maar gaan voort om te doen wat hy nog altyd gedoen het. Abraham Lincoln was altyd bereid om sy foute te erken.
  • Ware nederigheid bou ander op; vals nederigheid breek ander af. Die persoon wat baie gou krediet opeis vir iets wat goed gedoen is, is dikwels die eerste persoon om ander te blameer as dinge skeef loop.  As dinge verkeerd loop? A humble leader looks in the mirror, not out of the window (Jim Collins).
  • Hoe meer verantwoordelikheid en gesag iemand het, hoe meer nederigheid het hy nodig.

 Dit is moeilik om ‘n ander persoon se hart te lees, maar vals nederigheid openbaar hom op een of ander stadium. Luister na die raad van Abigail Adams, Amerikaanse presidentsvrou, aan haar seun: If you begin to think yourself better than others, you will then become less worthy, and lose those qualities which now make you valuable.

 




Christene en nederigheid

Christ has taken our nature into heaven to represent us, and has left us on earth with his nature to represent him. —John Newton

Christene en nederigheid

As daar nou iemand was wat kon spog, dan was dit Paulus. Maar ons lees: Ek beskou alles as waardeloos. Want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde … Al wat ek wens is om Christus te ken (Filippense 3:7 – 11). Paulus hou vir Jesus Christus voor as dié model om na te volg. Jesus Christus bewys sy nederigheid : Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:5 – 7).

 

Dit is noodsaaklik dat Christene hulle selfbelang opsy skuif. Ons is eerstens oor onsself bekommerd – ons maak seker ons is gemaklik en kry die krediet wat ons voel ons verdien. Maar as Christus se verteenwoordigers moet ons tog soos hy leef. Dit beteken ons plaas ander eerste – ons doen afstand van persoonlike erkenning. Dan kan ons die Here met liefde en blydskap dien. Ware nederigheid is wanneer ons onsself vanuit God se perspektief sien. Dan sal ons besef dat sonder Hom ons niks is nie.

Wat kan ek doen om ander te dien? Wat kan ek doen om ander hoër as myself te sien.