NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (3)

Everybody, soon or late, sits down to a banquet of consequences. -Robert Louis Stevenson

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Nehemia en leierskap

Nehemia het in die magtige God geglo. Hy ken die geskiedenis van God se trou aan Israel en God wat altyd sy beloftes vervul. Nehemia se krag as leier put hy uit God se belofte aan Josua:

 

Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:9).

 

Wat was Nehemia se suksesresep? Sy geloof in God; hy was positief; hy fokus op wat gedoen moet word: Kom ons herbou die muur van Jerusalem (2:17). Hiervoor vertrou hy op God – hy kyk na God vir die nodige krag.

 Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jesaja 40:31).

 

Jy kan ook in God se span wees; jy kan ook op God se beloftes vertrou. Beoefen jou geloof in Hom. Aanvaar hierdie waarheid en tree op.

 

Ons het nou gekyk na Nehemia se roeping, die belofte wat God maak aan almal wat Hy roep en na Nehemia se leierskap. Ons gaan nou kyk na die kenmerke van sterk geestelike leierskap.

 




NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (2)

Permanent good can never be the outcome of untruth and violence. -Mahatma Gandhi (1869-1948)

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

God roep leiers. Hy gee vir hulle ‘n model om na te volg – Nehemia. Hy gee ook aan hulle ‘n belofte:

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

Het jy probleme? ‘n Dom vraag, want God se kinders word nie van probleme gevrywaar nie. Almal van ons sal op een of ander stadium probleme ondervind. Kom ons kyk na twee aspekte van hierdie vers.

 

  • ‘n Belofte

Ek is tot alles in staat.  Beteken dit dat ek selfversekerd op myself kan vertrou? Motiveringsprekers sê altyd sulke goed. Natuurlik kan jy met wilskrag en vasberadenheid baie regkry, maar dit is nie wat hierdie vers sê nie. As jy net op jou eie krag vertrou, gaan jy beslis nie tot alles in staat wees nie. Daarom die tweede gedeelte van die vers.

  • ‘n Kragbron

Deur Hom wat my krag gee. Hierdie kragbron is Jesus Christus; Hy is die rede dat ek tot alles in staat is. Kyk na Paulus se lewe – een van swaarkry en lyding en vervolging. Hoe kan hy so ‘n optimistiese perspektief hê?  Christus is Paulus se kragbron. Ek, soos Paulus, kan nie alles met my eie vermoëns en krag hanteer nie. Ons moet ophou probeer om net op ons te vertrou – vertrou op Christus en op sy krag. Daar is baie onderwerpe en sake waarvoor ons God se krag nodig het.

 

Krag vir ‘n Christelike leefwyse

Christus se krag is voldoende vir alle terreine van ons lewens – met alles waarmee ons sukkel. Maar dan moet ons toelaat dat God se krag in ons werk. Hoe kry ons dit reg?

  • Leef naby aan Christus. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5). As my band met Christus sterk is, sal sy krag my versterk en ek sal al die uitdagings kan hanteer.
  • Oefen jou geloof. Hoe word jy fisies sterk? Oefening. Dieselfde geld vir jou geestelike krag – oefen daagliks. Hoe?
  1. Vertrou God vir jou daaglikse behoeftes
  2. Bid en soek God se antwoord
  3. Vertrou op God se krag in jou swakheid
  4. Glo in God se beloftes veral as jy swaar kry.
  5. Leef as voortdurende getuie van wat jy glo
  6. Staan op vir jou geloof.
  • Ontwikkel ‘n positiewe gesindheid. Die regte gesindheid is noodsaaklik as jy ‘n doeltreffende leier wil wees. Jy is behulpsaam; jy soek vir oplossings; jy soek vir die goeie in almal. Jy kan mos ‘n positiewe gesindheid hê. Dink weer aan Filippense 4:13.
  • Wees aanspreeklik teenoor ander. Omring jou met ander gelowiges; kry ‘n geestelike mentor wat jou sal evalueer veral in die gebiede waar jy sukkel.

 

Volgende keer gaan ons na Nehemia as leier kyk.




NEHEMIA – ‘N LEIER NA GOD SE HART (1)

Let me never fall into the vulgar mistake of dreaming that I am persecuted whenever I am contradicted.” Ralph Waldo Emerson

 

Nehemia – ‘n leier na God se hart (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

Ons het min agtergrond oor Nehemia se lewe. Ons weet hy was ‘n Israeliet, maar daar is geen geslagsregister van hom nie – ons weet net sy pa se naam was Gakalja. Van hom weet ons ook niks nie.

Nehemia was koning Artasasta van Persië se skinker.  Die koning se paleis was in Susa, die vestingstad. Die koning het hom ten volle vertrou – hy moes nie alleen die wyn skink nie, maar ook proe om seker te maak dat daar geen gif in was nie. Hy was dus ‘n bevoorregte man: hy dien die koning en kom gereeld in sy geselskap. In werklikheid was hy ‘n soort persoonlike assistent van die koning. Hy kon met die koning praat – hy kon selfs vir hom raad gee. Hy kon sy invloed ten goede of ten kwade gebruik.

 

Maar een dag verander Nehemia se lewe radikaal.  Ganani kom uit Jerusalem by Nehemia aan. Hy vertel vir Nehemia hoe sleg dit in Jerusalem gaan. Nehemia was  geskok. Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand (1:3). God roep Nehemia, maar hoe gaan die koning reageer?

 

Nehemia was ‘n gewone man besig met sy gewone dagtake toe God hom roep om ‘n leier vir Hom te wees. Nehemia aanvaar die uitdaging. Christene wil graag hê dat God hulle moet gebruik, maar voel dikwels dat hulle nie aan God se standaarde sal voldoen nie. God se roeping word nie beperk tot die elite nie – mense met range en titels nie. Daar is baie omstandighede wat vereis dat elkeen van ons ‘n leierskapsrol moet speel; elke mens moet homself as ‘n leier sien. God roep al sy kinders om leiers te wees; Hy verwag dat ons leiers sal wees net daar waar ons is – by die huis, in ons familiekring, by die werk, ens. Hy wil jou as ‘n kragtige stem vir Hom gebruik.

 

As jy nuttig wil wees, moet jy jouself sien soos God jou sien – as ‘n leier of ‘n leier in wording. Aanvaar die uitdaging; God wil jou gebruik; Hy het ‘n plek vir jou. Hy gee vir jou ‘n model om na te volg – Nehemia. Maar Hy gee ook vir ons ‘n belofte. Volgende keer gaan ons na hierdie belofte kyk.