Misbruik van kerk deur lidmate – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:
Ons bly in ‘n klein plattelandse dorpie. Ons kerk is maar klein en ons gemeenskap nie welaf nie.

Ons sit met ‘n groot probleem, met mense wat sê hulle is lidmate van die kerk, maar slegs kerk toe kom wanneer hulle in ernstige nood is, of hulp soek. Ons pastoor het al sommige maande self nie eens salaris gekry nie, a g v tiendes wat nie inkom nie.

Hoe hanteer ons sulke gevalle? Ek weet ons moet mekaar liefhê, ek verstaan dit, maar hoe regverdig mens sulke gevalle in die kerk? Ek wil nie selfsugtig klink nie, ook nie oordeel nie, maar hoe kan ‘n mens die mense oortuig om getrou te wees en nie net hulp en gebed te soek wanneer ellende hulle tref nie?

Ek sal waardeer as iemand net my raad kan gee, want ek sukkel hiermee.

Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Daar lê eintlik twee kwessies opgesluit in die vraagsteller se skrywe: 1. Lidmate se verantwoordelikheid teenoor die kerk, en 2. Mense wat die kerk net ken wanneer hulle in die knyp is. Dit lyk my dis eintlik die tweede kwessie wat die vraagsteller kwel, maar ek begin by die eerste saak.

Ons “tiende”, of geldelike bydrae vir die kerk, is ten diepste ‘n hartsaak. Dis deel van ons geestelike lewe. Dis ‘n manier waarop ek die Here dien. Dis nie sommer net ‘n pligpleging wat afgehandel word sonder om daaroor te dink nie. ‘n Mens moet dus eers jou hart, jouself, vir die Here gee voordat jy oor geldelike bydraes vir die kerk begin praat. Die belangrike punt is dat jou “tiende” uitdrukking is van jou dankbaarheid oor wat die Here vir jou gedoen het. Dis ‘n teken daarvan dat alles wat ek het, eintlik aan die Hom behoort.

As mens kyk hoe Paulus in 2 Korintiërs 8-9 praat oor die Korintiërs se hulp aan die Jerusalem-gemeente, is daar ‘n paar belangrike beginsels hier oor ons geldelike bydraes wat ek net kortliks gaan noem.

Wat is die motief agter ons bydraes aan die kerk? Ons moet uit liefde gee. In 2 Kor 8:4,8-9; 9:5 is dit baie duidelik dat die gelowiges in Korinte uit liefde gee vir die gelowiges in Jerusalem. As daar nie hierdie gesindheid van liefde en erbarming is teenoor hulle wat swaarkry nie, moet ons selfondersoek instel; dan gee ons dalk uit verkeerde motiewe.

Wat is die doel van ons bydraes? Uit 2 Kor 8-9 tree die nood van die Jerusalemse gemeente sterk na vore. Maar daar is ook ‘n ander aspek, naamlik instandhouding van die kerk en sy werkers. Hoewel dit nie in 2 Kor 8 en 9 staan nie, kom dit wel voor in gedeeltes soos 1 Tim 5:18 en Matt 10:10, naamlik dat die arbeider sy loon werd is, ook hulle wat in die Here se wingerd arbei. Om sulke voltydse arbeiders te hê, kos geld, want hulle moet ook leef. Juis so kan die Here se koninkryk op aarde gebou word.

Hoeveel gee ons? 2 Kor 8:12 dwing nie ‘n spesifieke persentasie af nie, maar sê: volgens vermoë. Die rykes sal meer gee, die ander minder. Elkeen gee soos wat hy/sy kan bekostig. Die Here verwag nie van ons om te gee wat ons nie het nie. Hy sien in elk geval die hart aan, en daarvolgens aanvaar Hy die gawe. Ons geldelike bydrae is dus ‘n saak wat ons met God moet uitmaak. En dan moet ons met ‘n blymoedige hart gee (2 Kor 9:7). Só ‘n bydrae, so ‘n offer, is vir God aanneemlik.

Wat is die vrug van ons geldelike bydraes? Wanneer mens gee soos hierbo beskryf, spruit ‘n heerlike vrug daaruit voort. Eerstens word daar bande gebou tussen gelowiges (2 Kor 9:13-14). Tweedens, ons bydraes leer ons een van die belangrikste lewenslesse: Deur te gee, ontvang ons. Anders is ons net selfsugtig op onsself gerig.

Om hierdie punt saam te vat: Ons “tiendes” is uitdrukking van ons verhouding met God. Die gemeente moet opgevoed word om hulle bydraes so te sien. Dit vat soms lank voordat gemeentelede hulle bydraes sien as deel van hulle geestelike lewe. Die spreekwoord lui nie verniet nie: Die laaste ding wat tot bekering kom, is ‘n mens se beursie. Maar as gemeentelede eers geleer het om van harte, uit dankbaarheid en met liefde te gee, sal minder gemeentes in geldelike verknorsing verkeer. Die pastoor sal ook nie by geleentheid sonder salaris hoef te sit nie.

Kom ons kyk na die tweede kwessie wat die vraagsteller aanroer: dat sommige lidmate die kerk misbruik, dat hulle die kerk net ken wanneer hulle in nood is.

Hierbo het ons gesê: Om geld te gee, is deel van ons geestelike lewe. Die omgekeerde is ook waar: Om geld, seën, voorregte, gunste en gawes reg te ontvang, is ook deel van ons geestelike lewe. Daarmee bedoel ek: Baie mense “dien” God net vir sy gawes, nie ter wille van Homself nie. Hulle gaan kerk toe en leef ‘n ordentlike lewe omdat hulle dink hulle kan so God se gawes “verdien”. Hulle redeneer: Ek bring my kant, nou moet God ook sy kant bring. Dis duidelik dat so ‘n houding ‘n belediging vir God is. Want hoe sal ‘n ouer voel as sy kind ‘n front van vriendelikheid, gedienstigheid en inskiklikheid voorhou net om seker te maak dat hy/sy darem nie uit die testament weggelaat word nie. Eintlik het sulke kinders nie veel erg aan hulle ouers nie; daar is nie veel liefde verlore nie; hulle doen dit net uit ordentlikheid, ter wille van wat hulle uit die ouers kan kry. Daar is mense wat so met God en die kerk omgaan. Dis duidelik dat hierdie soort diens bymotiewe het. Dit gaan nie oor ‘n egte verhouding van liefde met God nie, maar net oor wat hulle uit Hom kan kry.

Nou, meer spesifiek die mense waaroor ons vraagsteller bekommerd is – hulle wat ook iets van God/die kerk wil hê, maar nie eens die “ordentlikheid” het om voor te gee dat hulle Hom dien nie. Jy sien hulle net in die kerk wanneer hulle in ‘n hoek gedryf word. Dan onthou hulle skielik dat God daar is, of dat sy “verteenwoordiger op aarde”, die kerk, daar is om te help. Dit is duidelik dat ook hier bitter min van ‘n egte verhouding met God ter sprake is. Hulle gebruik God net as ‘n finansiële of materiële kruk. Die kerk is net ‘n gerieflike vangnet wat moet keer dat hulle hulle finansieel te pletter val.

Hoe nou gemaak wanneer die kerk met hierdie verskynsel te doen het? Twee dinge moet hier gesê word:

1. Die kerk mag nie as geestelike afperser optree nie. Ons mag nie aan sulke mense sê nie: Ons sal julle slegs op ‘n geestelike proefbasis help; bewys eers dat julle dit ernstig met God bedoel, dan sal ons julle help. Nee, die kerk tree uit liefde en barmhartigheid op, ongeag of die persoon wat om hulp vra dit waardig is of nie. Want dit is soos God met mense werk. Hy eis nie dat ons eers moet bewys dat ons sy liefde waardig is voordat Hy help nie. Hy gee onvoorwaardelik. In Matt 5:45 sê Jesus: “Die Vader in die hemel laat sy son opkom oor goeies én slegtes, en Hy laat reën oor dié wat reg doen én oor dié wat verkeerd doen.” Dis die rede waarom ons teenoor almal ons liefde moet betoon, selfs ons vyande, en nie net teenoor dié wat in ons oë ons liefde waardig is nie.

Daarom, selfs al weet die kerk dat daar mense is wat die kerk misbruik, wat God net “opsoek” in tye van nood, moet ons nogtans met liefde en erbarming optree. Net soos God gee sonder om te verwyt, moet sy kinders dit ook doen. Dis wie ons is, ons kan nie anders optree as wat God handel nie.

2. Dit beteken egter nie dat ons nie met sulke “misbruikers” van God se liefde ‘n pad moet loop nie. Wanneer ons vermoed dat mense God en die kerk misbruik, moet ons dadelik help én dan die moed hê om met hulle te praat. Want baie mense het so geestelik afgestomp geraak dat hulle nie eens weet dat hulle die kerk misbruik nie. Vir hulle is dit maar soos die verhouding met God/die kerk werk. En dit vat gesprek en bemoeienis oor ‘n lang tyd heen om mense van insig te laat verander, selfs te laat skaam kry oor hulle optrede. Neem Saggeus (Luk 19:1-10): Dis eers nadat Hy Jesus werklik ontmoet het, en Jesus saam met hom na sy huis gegaan het, dat hy tot die besef kom dat hy mense verontreg het. En toe eers was hy bereid om te vergoed vir sy verkeerde optredes.

Daar is dus nie ‘n eenvoudige antwoord vir die probleem van “kerklike misbruikers” nie. Enersyds het die kerk nie ‘n keuse nie as om te help waar nood is. Die liefde van Christus dring ons daartoe. Andersyds moet ons met diesulkes ‘n pad van volhardende en liefdevolle “opheffing” loop. En dalk gebeur daar ‘n wonderwerk. Egte geestelike werk is ‘n lewenslange roeping van bemoeienis met mense – eerlike soekers én kansvatters.
Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Gee God om vir mense in nood?

Gee God om vir mense in nood? – Francois Malan

Alma vra:

Gee God om vir mense in nood.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Gen 35:3 Jakob moet by Betel  ‘n altaar gaan bou vir die God wat sy gebed verhoor het toe hy in die moeilikheid was.

Eks 3:7 Daarna sê die Here vir Moses: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor hulle slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry…

Dawid sê in 1 Konings 1:29: So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het…

En baie Psalms roep uit nood tot God:

Ps 12:6 Maar die Here sê: Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan die wat daarna smag.

Ps 25:17 Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende.

Ps 34:7 Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, en uit al my benoudhede het Hy my gered.

Ps 34:18 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede (vgl. Neh.9:27).

Ps 37:5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Ps 37:39 die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood.

Ps 46:2 God was nog altyd bereid om te help in nood.

Ps 50:15 Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer (vgl Ps. 86:7).

Ps 54:9 U het my uit elke benoudheid gered.

Ps 55:18-19 Hy hoor my roep. Hy sal my lewe red.

Ps 69:14 Die Here slaan ag op die armes, Hy vergeet nie sy mense wat gevangenes is nie.

Ps 91:15 in sy nood sal Ek by hom wees.

Ps 103:6 Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word…v13 soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Ps 109:31 Hy staan by die arme en red hom van dié wat hom ter dood wil veroordeel.

Ps 113:6-7 die Here ons God wat hoog woon en hier onder alles sien. Die geringe help Hy op uit die stof…

Ps 118:5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry (vgl. Ps 120:1).

Jer.14:8 Hoop van Israel, Redder in tyd van nood.

Jer 16:19 Here, my Sterkte, my Beskermer, my Toevlug in tyd van nood.

Toe die dissipels in nood was dat hulle skuit sal vergaan, het hulle na Jesus gegaan en Hom wakker gemaak, en Hy het die storm laat bedaar (Luk 8:22-25).

Toe Petrus begin sink in die see het hy uitgeroep: Here, red my! En Jesus het sy hand uitgesteek en hom gegryp (Mat 14:30-31).

Toe Herodes vir Petrus in die tronk gegooi het om hom te mishandel en selfs dood te maak, het die Here hom die nag uit die tronk verlos (Hand. 12:1-11).

Toe Paulus en Silas in die tronk in voetboeie gesit het, het God hulle met ‘n aardbewing bevry (Hand.16:22-28).

In Romeine 8:31-39 verseker Paulus die gemeentes dat God vír ons is, en dat geen benoudheid ons kan skei van die liefde van Christus nie; dat geen dood…of bose magte…ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat is Coram Deo Pastorale Sentrum?

A. Wat is Coram Deo Pastorale Sentrum?

Baie navolgers van Christus weet die Here roep hulle om ander mense in nood te help. Coram Deo wil hierdie geroepenes bemagtig om dit te kan doen. En hoe doen ons dit?

Coram Deo lei mense op om uitstekende terapeute/beraders te wees wat mense help met:

  • hulle emosionele kruispaaie;
  • (liefdes-)verhoudinge;
  • geestelike vrae en groei.

By Coram Deo is ons verbind tot gehalte opleiding van pastorale terapeute

vir diens aan die gemeenskap. Coram Deo is ‘n Artikel 21 Maatskappy sonder winsoogmerk en is die barmhartigheidsarm van Oosterlig gemeente.

Verder is Coram Deo vir hierdie geroepenes ‘n gemeenskap, ‘n “community”. Ons is ook ‘n adres, ‘n sambreel en ook ‘n adminpunt. Hier kan jy jou roeping begin uitleef terwyl jyself groei en groei!

B. Wat is Coram Deo se missie?

Ons wil ʼn professionele Pastorale Sentrum wees wat vir alle mense in ons omgewing die geleentheid bied om nuwe weë en hoop te ontgin. Dit wil ons doen deur…

  • Respekvolle  pastorale gesprekke
  • Uitnemende opleiding; en
  • Puik organisasie.
C. Wat is Coram Deo se visie?
  • Coram Deo Pastorale Sentrum is ʼn handevat ervaring wat hoop bring.
  • Coram Deo Pastoral Centre is an embracing fellowship creating hope.
  • Coram Deo ke tshwarano ya segwera yeo e blolago tshepo.
D. Coram Deo kan jou help met:

1. Opleiding en persoonlike groei!

Ons bied die geleentheid om te groei: groei in jou menswees, jou verhoudinge en om jou te help om ʼn bekwame terapeut te word.

2. Berading vir individue

Ons help mense met depressie, wat ly onder seksuele misbruik, kapings, aanrandings of verkragting. Niemand hoef alleen te rou nie. Laat ons toe om jou by te staan in jou tyd van smart.

3. Berading vir jongmense en kinders

Ons bied vertroulike sessies vir tiener en jongmense wat ‘n ding wil uitsorteer – wat dit ookal is.

4.   Huwelik- en verhoudingsverryking

 

    • Huweliksverryking seminare
    • Verrykkingsvoorbereiding aan verloofdes en pare wat saam woon.
    • Omgeegroepe vir verloofdes – veral verloofde meisies.

 

5. MIV/VIGS

Coram Deo sorg terapeuties vir mense met MIV/VIGS, mobiliseer sorg aan mense met MIV/VIGS en inisieer bewusmakingsveldtogte. Ons help ook met verkragtings en ander risiko-insidente. Ons verskaf doelgemaakte opleiding aan potensiële beraders.

6. Herstel na egskeiding

Coram Deo bied seminare aan vir mense wat na ʼn egskeiding wil aangaan met hulle lewens. Jy is nie alleen in die storm nie.

7. Rousmartsorg

Die impak van rou word onderskat. Coram Deo wil ʼn verskil maak in die ervaring van rou. Die rousmartsorgspan hou oor maande en selfs jare tred met weduwees, wewenaars en ouers wat ʼn kind verloor het.

8. Groep vir ouers wie se kinders in die greep van dwelms is

Coram Deo het ‘n groep vir ouers wie se kinders in die greep van dwelms of ander verslawende middels is of was.

9. ‘n Omgeegroep vir mense wat met epilepsie moet saamleef.

10. ‘n Steungroep vir kinders met die “guts” om die reis deur ‘n egskeiding aan te pak.

11. ‘n Omgeegroep vir “cutters” – jongmense wat “cut”.

12. Barmhartigheidsbediening

Ons versprei kos en klere aan behoeftiges in en om Pretoria. Ons help letterlik met ʼn kombers daar waar dit koud is, met ʼn bord kos, met klere as ʼn dogtertjie te skraps vir die winter geklee is, ens. Hierdie barmhartigheidsdiens is ‘n uitgebreide diens wat daadwerklik hulp verleen.

13. Maatskaplike werk

Coram Deo CMR is ʼn geregistreerde Christelike Maatskaplike Raad wat statutêre dienste lewer waar gesinne dit nodig het. Ons help ook straatkinders.

E. Hoe maak ek kontak?

As jy jou gewig wil ingooi en deel word van die energieke span by Coram Deo, of as jy hulp nodig het, of as jy jou lewe en verhoudings wil verryk, skakel ons gerus.

 

Tel 012 – 998 8323

H/v Lea en Hugostr, Waterkloof Glen, Pretoria.