Geloofsvrae: Ongeloof en Ongehoorsaamheid

Geloofsvrae: Ongeloof en Ongehoorsaamheid – Adrio König

Die wese van sonde

6. Ongeloof en ongehoorsaamheid

Tradisioneel is ongehoorsaamheid dikwels as die eintlike sonde en die bron van alle ander sondes beskou, en wel om duidelike redes. Adam en Eva is aan God ongehoorsaam, die enigste eienskap van God in die Apostoliese Geloofsbelydenis is sy almag, wat beteken die groot saak vir ons is om aan Hom gehoorsaam te wees, en die Tien Gebooie eis juis gehoorsaamheid van ons.

Verder word ongehoorsaamheid baie sterk aan ongeloof verbind, en ongeloof is ook een van die kernbegrippe vir sonde. In terme van die mensbeskouing wat hier veronderstel word, is dit belangrik om ook aan hierdie grondvorme van sonde aandag te gee. Terwyl liefdeloosheid die verwringing van een van ons analogiese eienskappe is (omdat ons die beeld van God is moet ons soos Hy liefhê), is ongehoorsaamheid en ongeloof die verwringing van twee van ons komplementêre eienskappe (ons is ook bondgenote van God wat sinvol op sy gesag met gehoorsaamheid moet reageer, en op sy trou met vertroue of geloof).

Ongeloof word dikwels in die Bybel uitgesonder as dié sonde. Jesus sê as die Gees kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde omdat hulle nie in Jesus glo nie (Joh 16:8-9). Hier word die totale verskeidenheid van sondes ongeloof genoem, wat ‘n mens veral by Johannes kon verwag omdat geloof in Jesus die groot rede is waarom hy sy evangelie skryf (Joh 20:31), en geloof volgens hom die sentrale eis van God aan alle mense is (Joh 6:28-29).

Ons lees nie in die Bybel soveel oor ongeloof nie – maar wel oor geloof. Daarom moet ‘n mens uitvind wat geloof is en dit dan omdraai om te weet wat ongeloof is. Trouens ons doen dit deurgaans. Liefdeloosheid is die teendeel van liefde, en ongehoorsaamheid van gehoorsaamheid. Dit is kenmerkend dat die positiewe duideliker na vore kom in die Bybel as die negatiewe.

Om te verstaan wat geloof is, moet ons begin by betroubaarheid of getrouheid in die OT. Dit word van God en mens gebruik, maar ons leer eintlik by God wat dit is. Dat God betroubaar is, beteken dat Hy sy verbond in stand hou en aanhou om ons lief te hê (Deut 7:9). Omdat Hy getrou en betroubaar is, word sy liefde `troue liefde’ genoem en staan sy verbond vas (Jes 55:3; Ps 89:29). Hy bewys sy liefde tot in die duisendste geslag (Eks 20:6).

Trouens as een ding uit die lang geskiedenis van God met Israel duidelik is, is dit die ongelooflike trou en geduld van God wat vir eeue lank aanhou ondanks Israel se ontrou en ongehoorsaamheid. En dit is nie ‘n dooie, passiewe geduld omdat dit nie eintlik vir Hom saak maak wat ons doen nie. Op ‘n positiewe manier hou Hy aan om Israel te aanvaar terwyl Hy telkens nuwe inisiatiewe neem om hulle na Hom te probeer terugbring. Dat Hy in toorn só ver gaan as om hulle in ballingskap te laat wegvoer, en só die totale geskiedenis wat Hy met hulle gemaak het, op die spel plaas, is ‘n skokkende getuienis van hoe skeef dinge tussen Hom en Israel kon loop, maar as Hy dan nogtans tydens die ballingskap met hulle voortgaan, sien ons ‘n onoortreflike bewys van die geduld en die trou van God.

Van Israel word dan twee dinge verwag: om aan Hom getrou (of gehoorsaam) te wees, en om Hom te vertrou (of in Hom te glo). Die een reaksie van Abraham op die inisiatiewe van God waarna die NT telkens terugverwys, is dat hy in God geglo het en dat dit die rede is waarom God hom aangeneem het (Gen 15:6). Ook Israel word opgeroep om op die Here te vertrou wat beteken om sy beloftes te glo en sy gebooie te gehoorsaam (Num 14:11; Deut 1:32; Ps 106:12; 119:66).

Israel se geloof en gehoorsaamheid moet `eksklusief’ én `inklusief’ wees. Dit moet `eksklusief’ wees omdat hulle net op Hom mag vertrou. Trouens die woord vir hulle geloof en vertroue in God word nooit vir die houding teenoor die afgode gebruik nie. Net op die Here kan ‘n mens werklik vertrou. Maar Israel moet Hom `inklusief’ vertrou, dit beteken met hul hele hart, nie met ‘n verdeelde hart nie. ‘n Verdeelde hart is ‘n mens wat deels op ‘n ander God gerig is, en dit word ‘n vals hart genoem (Hos 10:2). Die Here aanvaar nie so ‘n hart nie. Dit kom ook na vore in die ou uitdrukking wat nog in die OAV gebruik is, dat Hy ‘n jaloerse God is, wat beteken dat Hy omgee of ons Hom liefhet. Dit is van die uiterste belang want as Hy nie omgegee het of ons Hom liefhet en vertrou nie, het dit eenvoudig beteken dat ons nie regtig vir Hom saak gemaak het nie. En dit sou ons einde gewees het.

Ook in die NT kom hierdie saak sterk na vore. Vir ons is daar net één Here, skryf Paulus (1 Kor 8:6). Dit beteken die keiser is nie `Here’ nie – en ons weet dit het vir heelwat Christene ernstige probleme en selfs vervolging beteken as hulle nie by die openbare feeste die keiser `Here’ wou noem nie. Ons vertroue en gehoorsaamheid moet dus volkome op Hom gerig wees. Dit is ook wat sy opsomming van die wet beteken: Om die Here lief te hê met jou hele hart, en met jou hele siel, en met jou hele verstand, en met al jou kragte. Dit het niks te doen met afsonderlike dele van die mens nie, maar dit wil benadruk dat ons Hom moet liefhê en vertrou met alles wat ons is en het. As dit nie so plat geklink het nie, sou ‘n goeie vertaling gewees het: ons moet Hom pens en pootjies liefhê.

Ongeloof loop uit op eensaamheid en selfverheerliking. Geloof het nie besondere waarde in sigself asof dit so ‘n besondere daad is nie. Die waarde van geloof lê nie in die geloof nie maar in die Een in wie ons glo. Geloof is vertroue op Hom en daarom gehoorsaamheid aan Hom. Dit beteken dat ons verbind is aan Iemand wat ‘n verskil in ons lewe maak. Ons kan reken op Hom en op die vervulling van sy beloftes. Om te glo, beteken dus om nie alleen en eensaam te wees nie, om verbonde te wees aan Iemand wat kan help, wat alreeds oorwin het, én wat omgee.

Die teendeel is net so waar: om nie op Hom te vertrou en na Hom te luister nie, beteken om alleen en eensaam te wees. Omdat ‘n mens wesenlik ‘n verhoudingswese is, isoleer eensaamheid jou. As surrogaat moet jy dan probeer om jouself te handhaaf, om jouself so op te blaas dat jy jouself kan oortuig dat jy in staat is om alleen reg te kom. Só lei ongeloof en ongehoorsaamheid tot selfverheerliking.

Ons is wesenlik op God gerig. As ons hierdie verhouding verbreek, moet ons vir onsself ‘n God maak: ons eie belang, ons gesin, ‘n held, die volk. Dit is alles om die wesenlike behoefte aan verbondenheid aan God te probeer opvul. Uiteindelik kan dit op angs uitloop, want sonder God het ons geen uitsig op sy groot toekoms van die nuwe aarde, of op ons eie klein toekoms nie. Hy is die God van die beloftes en die toekoms.

Om uit ons eensaamheid te probeer kom, raak ons by oormatig betrokke by duisend `goeie’ dinge (sosiale, kulturele, of politieke bedrywighede, by die werk of die kerk) – óf by slegte dinge! Maar ons hart bly onrustig in ons totdat dit rus vind in Hom – Augustinus.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Oriëntasie, Disoriëntasie en Reoriëntasie: Waarheen as ongeloof my moeg maak?

Oriëntasie, Disoriëntasie en Reoriëntasie: Waarheen as ongeloof my moeg maak? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek het met godsdiens grootgeword, is gedoop en het belydenis afgelê. Dit is my gevoel dat dit alles net goeie leerstellings is en dat God nie werklik bestaan nie en dan so ook enige ander opperwesens. Dit sluit ook satan in (net bang maak stories). Wanneer ek bid is dit niks anders as om met die muur te praat nie. Daar is eenvoudig geen reaksie, gevoel of wat ook al ek veronderstel is om te beleef nie. Ek is geleer dat geloof nie iets is wat ek kan uitwerk (uitdink, uitredeneer) nie. As jy glo dan glo jy. Ek glo nie meer nie. Waar begin ek? Wat doen ek? Ek het altyd (of so het ek gedink) vertroosting gekry deur op my “Vader” se skoot te sit. Nou reken ek dit was maar altyd net propaganda en ek het dit geglo omdat ek dit gehoor het vandat my oë oopgegaan het as ‘n baba. As ek enige iets anders so aanmekaar gehoor het sou ek dit ook geglo het. En ek is seker dit geld vir alle ander mense ook. Sal julle insette baie waardeer?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Dankie vir jou eerlike navraag wat ek baie waardeer. Myns insiens kan baie mense met jou situasie identifiseer. Iemand het eenmaal gesê dat jy nog nie waarlik glo as jy nie al waarlik getwyfel het nie. Dit werk ook so in verhoudings: mens gaan dikwels deur ‘n tyd van ontnugtering en disoriëntasie, iets wat elke paartjie van kan getuig. Maar dan is dit juis in die onseker tye van ontnugtering waar jy aansienlik groei en verdiep en jou verhouding ‘n verdere dimensie inbeweeg, óf jy totaal in die gravitasie-kring van disoriëntasie en vernietiging afbeweeg. Die antwoord lê dikwels in die wet van die kompas. Indien ek van die begin af sê ek wil noord uitkom, gaan ek soek en veg en oorleef totdat ek uiteindelik weer noordwaarts gaan. Net so in ‘n verhouding. Indien ek van die begin af sê: “Ons gaan dit laat werk” –  sal ons alles moontlik doen om dit reg te kry. Indien ons egter van die begin af sê: “Ja-nee kyk, my ma was reg, die verhouding was ‘n fout” – sal ek oral foute raaksien.

Net so met ons verhouding met God. Dit wat jy wíl sien, dit sál jy sien. Indien mens vas oortuig daarvan is dat daar nie ‘n God is nie, sal jy selfs net op ‘n biologies-neurologiese vlak in die patrone van jou denkprosesse bepaalde neurologiese bane versterk waarbinne jy God ontken en jouself soos ‘n rekenaar programmeer om dit nie raak te sien nie, selfs al is Sy teenwoordigheid reg voor jou. Deur middel van rasionalisering verklaar jy die Goddelikheid sommer vinnig weg. Aan die ander kant, indien jy glo in God en na Hom soek, sal jy Hom sien, dikwels op die mees onvoorspelbare plekke en tye. Dit beteken nie geloof is net in my kop nie. Dit is soos wanneer ek my oë en neus toedruk en nie die roos ruik wat voor my is nie. Dit beteken nie die roos is nie daar nie. My neus is net toe daarvoor. Net so werk dit met ons koppe. Baie mense sê ons hoef net ons hart vir die Here te gee. Myns insiens is dit nie so eenvoudig nie. Ons moet ook ons koppe en ons rasionaliteit vir hom gee. Dit is immers in die konteks van die kritiese wetenskaplike beoefening van die teologie dat ek die wonderlikste dinge oor God en die Bybel ontdek het.

Ek het al self in my lewe iets beleef van die proses van ontnugtering en die twyfel wat daaruit voortspruit. In jou geval het jou naïewe geloof, waar jy onkrities was en jy op die Vader se skoot gesit het, gelei tot die disoriëntasie waar jy nou is. Die feit dat jy nog jou vraag rig aan ons, wys mos dat jy eintlik nog soek na antwoorde, dat jy steeds ware noord soek en miskien wil jy weer na ‘n punt van reoriëntasie beweeg. Dit is dikwels die pad wat baie loop: van oriëntasie (onkritiese geloof), ontnugtering, disoriëntasie en dan gaan hulle deur die lang verdiepingsfase wat uiteindelik lei tot ‘n proses van reoriëntasie. Dit is waar jy uiteindelik moet uitkom. Jy moet egter vir jouself van die begin af sê: Ek wil graag weer “sien” en in daardie sin geestelike genesing ontvang. Dit is nogal vir my ‘n mooi manier om daaroor te dink. Ongeloof word in die Bybel gekoppel aan geestelike gebrokenheid omdat ons verhouding met God in daardie sin nie heel is nie. Geloof gaan oor ‘n heroriëntasie jeens God en in daardie sin ontvang ons genesing en restourasie. In Johannes 9:41 lees ons dat die wat nie glo nie, blind is, wat by implikasie beteken dat die wat glo, diegene is wie se sig herstel is en wie se geestelike gebrokenheid gerestoureer is. Twyfel en ongeloof is iets wat die Bybelskrywers ook ken. Vat maar net Psalm 77 waar die Psalmdigter in die eerste elf verse kla dat hy roep en roep, en sy hande uitgestrek bly, maar hy geen antwoord kry nie en dit vir hom voel of God skoon weg is en of daar ‘n einde gekom het aan God se troue liefde vir hom. Mens moet lank by die eerste elf verse van Psalm 77 staan en jouself ten diepste assosieer met die emosies wat deur die digter se pen na jou toe kom. Emosies soos twyfel, onsekerheid, wantroue, moedeloosheid, teleurstelling, vrees en nog wat spoel vinnig oor jou as jy daaroor mediteer en jouself in sy woorde laat swem. Maar dan swaai die gedig op ‘n baie interessante wyse in Psalm 77:12. Die digter verander skielik sy woorde. Nou word sy woorde woorde wat hom laat herinner – woorde wat weer geloofsmoontlikhede oopsluit en vars ontdekkings moontlik maak. En dit is die geheim. As jy weer wil sien, moet jy kies om weer te wíl sien en woorde kry wat jou weer laat sien. Dit kom nie maklik nie, omdat jou ontnugtering en teleurstelling iets is wat diep lê. Tog met tyd, sal jy weer begin om in verwondering na ‘n God en ‘n Goddelike werklikheid in hierdie werklikheid te kyk en besef dat daar iets meer is as dit wat jou sintuie kan ervaar. Eers as jy die geloofswaarhede van die Christendom jou eie maak en dit so deel is van jou dat dit jou identiteit bepaal, sal jy weet dat dit waar is en hoekom jy glo wat jy glo. Want dan is dit deel van jou wese, deel van jou menswees. Selfs al gaan jy weer daarna deur ‘n tyd van disoriëntasie, sal die heroriëntasie weer volg. Die vraag is net, waarheen wys jou kompas… Mag jy weer die rigting vind wat jou by die gans andere God sal uitbring.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok