Onsterflikheid – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ek lei af dat alles wat God skape (minstens engele en mense) onsterflike wesens is, anders kon God bloot die gevalle engele doodgemaak het en net so sou Hy ook mense wat Hom nie kies nie, kon verdelg sonder die nodigheid vir ‘n hel. Is dit waar? Die gedagte dat mense en engele vir ewig en altyd moet bly betaal vir sondes en verkeerde keuses is moeilik om te verwerk in die lig van God wat liefde is. Boonop is daar dan ‘n hel wat vir ewig bewaak moet word. Waarom nie totaal en al net wegdoen met alles wat kwaad is nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Laat ons begin by die gedagte van onsterflikheid. Die Bybel praat nêrens van die mens (of engele) wat onsterflik is nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Van die mens word presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat hy stof en sterflik is (Gen 3:19; Pred 3:20). (Let wel: al die teksverwysings is volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling.) Die gedagte wat soms die ronde doen dat die mens uit drie dele bestaan – liggaam, siel en gees – waar die liggaam dan sterflik is en tot niet gaan maar die siel darem onsterflik is en vir ewig voortbestaan, is nie ‘n Bybelse gedagte nie.

Daar is baie begrippe wat vir die mens in die Bybel gebruik word, soos siel, liggaam, vlees, gees, hart, ensovoorts, maar dit beteken nie dat hulle die verskillende “onderdele” is waaruit die mens bestaan nie. Dis eerder so dat elkeen van hierdie terme die totale mens beskryf, maar dan ‘n bepaalde aspek van menslike lewe op die oog het. So kan “liggaam” en “vlees” in bepaalde kontekste die konkrete bestaan, broosheid, weerloosheid, sondigheid of sterflikheid van die mens uitdruk (vgl Matt 26:41; Rom 6:12; 7:18; 8:8). “Siel,” “hart” en “gees” kan weer die innerlike lewe of diepste oortuigings van die mens, of die mens in sy verhouding tot God weergee (vgl Ps 42:2-3; Luk 1:46-47).

Wat in die Bybel voorkom in terme van mensbeeld, is dus die gedagte dat die mens ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Hierdie gedagtegang stem ooreen met wat vandag in die mediese wetenskap algemeen aanvaar word dat die mens ‘n psigo-somatiese eenheid is (= eenheid van siel/gees en liggaam). Dit het natuurlik ook die implikasie dat as die mens sterf, daar nie iets “oorbly” wat darem “onsterflik” is nie. Die mens leef as eenheid van siel, gees en liggaam, en sterf as eenheid van siel, gees en liggaam.

Die punt is: die mens, of “iets” van die mens, beskik nie oor inherente onsterflikheid nie. Net God beskik oor hierdie eienskap. Maar wat wel waar is, is dat die Bybel duidelik sê dat die mens ná sy dood die ewige lewe beërwe of ewig in die hel deurbring. Hierdie lewe ná die dood is nie iets vanselfsprekend of noodwendig weens die inherente kwaliteit van die mens as onsterflike wese nie, maar is so omdat dit deur God aan die mens geskenk of toegedeel word. Ons het egter geen idee hoe hierdie lewe van die mens na die dood lyk nie. Al wat ons weet, is dat die mens (let wel, nie “iets” van die mens nie) ná sy dood óf in gemeenskap met God voortleef óf vir ewig in die hel bestaan. So sê Paulus: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Wie/wat is die “ek” van wie Paulus praat? Ons weet nie. Al wat ons weet, is dat daar een of ander kontinuïteit is tussen die totale mens vóór die dood en die totale mens ná die dood. Maar hoe dit presies daar uitsien, weet ons nie aan die duskant van die graf nie.

Hoe dit ook al sy, dit is veral die gedagte aan die mens wat vir ewig in die hel deurbring wat ons as mense wat glo in ‘n liefdevolle en regverdige God teen die bors stuit. Hoe bring ons ‘n ewige hel en straf, wat gepaardgaan met onbeskryflike pyn en ellende (vgl Mark 9:43-44; Luk 16:24-28; Open 20:10), in verband met die God van die Bybel wat sê dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg 33:11), of dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het en hulle hulle misdade nie toereken nie (2 Kor 5:19)? Kortom, dit is moeilik om die evangelie van liefde, genade en vergiffenis in verband te bring met ‘n God wat bereid is om mense vir ewig in ‘n plek van pyniging gevange te hou. Getuig dit nie van opperste wreedheid om mense vir ewig in die lewe te hou met die uitsluitlike doel om hulle te pynig en te straf nie?

Dit is nie maklik om ‘n goeie antwoord op hierdie vrae te gee nie. Want enersyds kan ons nie ontken dat die Bybel baie duidelik is oor die hel en die ewige straf nie. Maar andersyds moet ons erken dat ons hier met oënskynlik innerlike teenstrydighede in die wese en karakter van God te doen het waarmee ons vanuit ons huidige begrip van die evangelie worstel en waarmee ons nie heeltemal vrede het nie. Daarom is dit geen wonder nie dat baie teoloë vandag heeltemal afsien van die gedagte van die hel. Hulle maak die hel af as elemente in die Bybel wat eerder iets weergee van die antieke lewensgevoel en siening van die lewe as dat dit iets sê van hoe God werklik is.

Ons moet onthou dat die Bybel ook ‘n menslike kant het. Daarmee word bedoel dat die openbaring in die Bybel oor wie God en die mens is, ook deur die kanaal van menslike oorlewering geskied het. Die konteks waarin die Bybel ontstaan het, het sy afdruk gelaat op die kennis oor God en sy wil wat ons in die Bybel het. Daarom is daar ook progressie in die Bybel oor bepaalde sake. Neem byvoorbeeld die gedagte van die opstanding. Mens soek tevergeefs in die Ou Testament na iets soos ‘n algemene opstanding uit die dood. Dis ‘n konsep wat eers werklik in die tussen-testamentêre tydvak ontwikkel het, en dan veral in die Nuwe Testament nuwe betekenis kry na die opstanding van Jesus uit die dood. Laasgenoemde gee dan ook nuwe betekenis aan die idee van “lewe na die dood”. So is daar baie ander sake (soos God as Drie-enige God, of die heilige oorlog-gedagte in die Ou Testament wat God die aanhitser tot wreedhede maak, om nie meer te noem nie) wat mens sou kon noem om te sê dat die Godsopenbaring in die Bybel oor tyd heen bepaalde ontwikkelinge en selfs veranderinge ondergaan het.

Dieselfde kan ons ook sê oor ons verstaan van die Bybel die afgelope 1700-2000 jaar sedert die afsluiting van die kanon. Ons denke oor God vanuit ons studie van die Bybel bly nie staties nie. Daar is uiteraard kontinuïteit met die sentrale boodskap van die Bybel, maar daar is ook insigte en gedagtekomplekse oor God wat vandag anders lyk as dié van ons voorgeslagte. Een hiervan is juis die gedagte van hoe liefde en regverdigheid mekaar balanseer in die wese van God. Die antieke mens het makliker vrede daarmee gehad dat uiterste liefde (soos geopenbaar in die handelinge van God in Jesus Christus) en uiterste “wreedheid” wanneer oor die straf van die goddeloses gedink word, mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Maar ons moderne lewensgevoel het nie heeltemal vrede hiermee nie. Ons het tot by ‘n punt in ons denke oor God gegroei wat dit moeilik maak om met hierdie – vir ons –teenstrydighede in ons Godsbeeld saam te leef.

Tog bly ons met die probleem van die kwaad en die bose in ons midde worstel. Want dat daar dinge gebeur wat ten hemele skrei en roep om vergelding, kan niemand oor stry nie. Gaan God dit maar net oorsien, of gaan Hy dit op een of ander manier “wreek”? Want dat God geen vrede het met sonde en boosheid nie, staan soos ‘n paal bo water. Dit het nie ‘n plek in sy koninkryk nie. Die Bybel leer immers – en dit kan ons as evangelie aanvaar – dat God met sy skepping op pad is na ‘n eindbestemming waar net liefde en geregtigheid sal heers (2 Pet 3:13).

Die vraag is net wat van al die mense wat oor die millennia van die mens se bestaan die wil van God verkrag en onnoembare leed aan ander veroorsaak het. Wat word van hulle? Ons is hieroor verleë, gewoon omdat ons nie werklik weet wat ná die dood gebeur nie. Ons kan eintlik maar net (verantwoordelik) hieroor spekuleer. Dalk wórd die bose eenvoudig vernietig. Dalk word daar ‘n nuwe proses van straf, groei, smeek om en gee van vergiffenis aan die gang gesit waarvan ons nou nog geen begrip het nie. Al wat ons eintlik maar net weet – en dis wat die gedagte van “ewige hel” in die Bybel wil oordra – is dat volhardende en verhardende sonde en boosheid ernstige implikasies vir die doener daarvan inhou. God het nie vrede daarmee nie. Maar hoe Hy presies daarmee “vir ewig” gaan handel, sodat dit ook op een lyn gebring kan word met die hart van God as een van liefde en regverdigheid, kan ons nie nou deurgrond nie. Al wat ons kan doen, is om hier en nou aan mense – en onsself – die liefde en vergiffenis van God in Jesus Christus maar ook sy regverdige oordeel oor mense – ook oor ons – te verkondig en die erns van ons keuses hier op aarde te onderstreep.

Hieraan kan ons vashou: God sal uiteindelik regverdig oordeel en handel, op ‘n manier wat in ooreenstemming is met sy wese as liefde

Skrywer:  Prof Hermi van Zyl

 




Om nooit weer dood te gaan nie (Onsterflikheid)

Om nooit weer dood te gaan nie (Onsterflikheid)

G’n mens is onsterflik nie, al wil party dit so graag wees. Deur die eeue het baie mense probeer om onsterflik te wees – party het groot grafkelders met reuse grafstene gebou met die hoop dat mense hulle nooit sal vergeet nie, maar tog is hulle gou vergeet; ander het hulleself weer gode laat verklaar met die hoop dat dit hulle sal help om vir altyd daar te wees. Ook dit het nie veel gehelp nie. Dan is daar dié wat  jou wil vertel dat al gaan hulle dood, hulle nog by jou gaan kom spook, want hulle gaan aanhou leef… Dit kan nie wees nie, want ons is nie onsterflik hier op aarde nie.

God het nie mense onsterflik gemaak nie. Ons is almal maar sterflik! MAAR God kan en gaan ons eendag onsterflik maak as ons uit die dood uit opstaan as Jesus weer kom. Dan gaan ons die ewige lewe hê; en ewige lewe beteken presies wat dit sê: jy gaan vir ewig lewe. Daarom praat die Bybel van wedergeboorte. Jy word weer gebore en die keer met ʼn lewe wat nooit gaan ophou nie. En om alles te kroon, gaan dit vir die gelowiges ʼn lewe saam met God wees. Dit kom nie uit jouself nie; God gee dit vir jou.

Dit is egter nie net alles goeie nuus nie. Mense wat niks van die Here wou weet nie, gaan ook so uit die liggaamlike dood opstaan, maar nie om saam met God te wees nie. Nee, hulle gaan die onsterflikheid in sonder God. En dit gaan hel wees, glo vir my… terloops, die duiwel self gaan hulle gasheer wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy