Die Openbaring aan Johannes – God en die Lam word geprys (5:11-14) – Francois Malan

5:11-12 Die tweede lied van die engelekoor:

Wat Johannes sien word geïnterpreteer deur wat hy hoor. Die sirkels om die troon brei uit tot tienduisende maal tienduisende en duisende maal duisende; ontelbaar baie, soos in Daniël 7:10. Met harde stemme roep hulle uit dat Hy, as die Lam wat geslag is, waardig is om sewe lofprysings te ontvang (die volle getal): vier loof Hom, drie aanbid Hom. Hy word geloof vir:

a sy krag waarmee Hy die mag van die Bose verbreek het deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Dit is die krag van sy liefde, liefdesmag. Daarom het God aan Hom al die seggenskap gegee in die hemel en op die aarde (Mat. 28:18).

b sy rykdom – in Joh..12:32 het Jesus al van sy kruisiging gesê: as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek – met sy liefdesoffer trek Hy mense na Hom toe (vgl. ook Op. 3:18 wat verwys na die ware rykdom van geloof en vertroue op God). Sy nederige liefdesoffer staan teenoor die prag en praal van die sedelose vrou, die groot stad Babilon, waarmee sy die volke verlei het (17:4; 18:16).

c sy wysheid, die wysheid van God, wat, deur die dwaasheid van die kruis, die ‘wysheid’ van die wêreld aan die kaak gestel het (1Kor. 1:24,30) – God se wyse plan – ‘n gekruisigde God – is dwaasheid in die oë van die wêreld.

d sy sterkte verwys na die dinamiek in sy sterwe, om daardeur die dood en die Bose vir eens en vir altyd te oorwin, deur die sondelas van die wêreld te dra, en die mag van sonde en dood te verbreek.

Die laaste drie lofprysings aanbid sy verhoogde status, die Lam wat staan aan die regterhand van God.

e eer – die eer vir die uitvoering van God se plan kom alleen die Lam toe vir sy oordeel oor die wêreld, en redding van die geroepenes. Die eer en die heerlikheid wat aan God gebring word (4:11) kom ook die Lam toe. Dit getuig van die eenhied tussen die Seun en die Vader.

f heerlikheid – die glans van sy liefdesoffer aan die kruis verduidelik: God is liefde (1 Joh. 4:8,10). Sy heerlikheid is die glans van sy liefde, die glans van God se liefde vir die wêreld, wat sy Seun gegee het, en die glans van die Seun se liefde wat Homself gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kry (Joh. 3:16,36).

g lof – wat met dankbaarheid gesing word vir sy aanvaarding van sy leierstaak uit God se regterhand, en lof omdat Hy alleen daartoe waardig is, bekwaam daarvoor en vertroubaar daarmee.

5:13-14 Die derde lied, die hele skepping sing: eer aan God en die Lam.

Die skepping se vier afdelings word genoem: die hemel, die aarde, onder die aarde, die see – alles daarvan en daarin hef die pryslied aan – op die oomblik is die bose geeste in die lug, onder op die aarde, in die see, en is mense op die aarde nog in opstand teen God, maar die geskiedenis loop aan totdat alles en almal God en die Lam prys (vgl. 1 Kor. 15:23-28). Die inhoud van die lied herhaal van die elemente van al die liedere in hoofstukke 4-5 en word afgesluit met die bevestiging deur die vier verteenwoordigers van die hele skepping se ‘Amen’ en die 24 verteenwoordigers van die Ou en Nuwe Testament se gelowiges wat neerval in aanbidding

In hoofstuk 4 is God aanbid; in hoofstuk 5:11-12 is die Lam geprys, en hier in 5:13-14 word God en die Lam aanbid deur die hele skepping. Daarteen staan hoofstuk 18 met die weeklagte van konings, handelaars en matrose oor die verlore glorie van Babilon. Hoofstukke 4-5 openbaar hoe die kruisgebeurtenis in die verlede die huidige en toekomstige verloop van die geskiedenis bepaal. Van Bo af gesien word mag en sukses beskryf in terme van die beeld van die Lam wat geslag is en nou aan God se regterhand staan. Van onder af gesien word mag en sukses gesien deur Babilon se oorheersing, onderdrukking en selfverheerlikking.

As gelowiges het ons deel aan Christus se oorwinning wat Hy oor die Satan aan die kruis behaal het. Deur ons getuienis met woord, daad en lewenswyse verkondig ons sy oorwinning op elke lewensterrein. Ons is deel van ‘n verbete stryd in die samelewing en in ons eie lewe, maar sing nou reeds oor die uitslag daarvan (vgl. Ef 6:10-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Lam (5:6-10) – Francois Malan

5:6 Johannes hoor van die leeu, maar hy sien ‘n Lam, soos een wat geslag is, staan (!). Tussen die troon en die vier lewende wesens en die ouderlinge staan die opgestane Lam. Openbaring gebruik ‘die Lam’ 28 maal (4×7) as metafoor vir Jesus se persoon en werk (in 7:17 word die Lam voorgestel as herder van die gereddes; in 17:14 oorwin die leeu uit die herder-koning Dawid se nageslag. Die leeu oorwin egter as die Lam saam met sy geroepenes in hulle stryd teen die dier en sy tien konings; vgl. 12:10-11). Deur die bloed van die paaslam aan die kosyne is Israel gered uit die Egiptiese slawerny (Eks. 12:21-23,31). God oorwin deur die liefdesoffer van Jesus, deur sy sterwe en opstaan uit die dood word ons verlos uit ons sondeslawerny (28 simboliseer sy volmaakte wêreldwye oorwinning: 4=aarde x 7=volmaakte getal ). God se offerlam verteenwoordig die manier waarop God se krag en wysheid in die wêreld vertoon word.

Die horing is ‘n beeld vir krag, en sewe horings sê: die Lam het volmaakte krag. Die sewe oë sien en ken alles as die alwetende God (vgl. Sag. 4:10: die sewe oë van die Here kyk oor die hele aarde). Die sewe oë is die volheid van die Gees wat dwarsoor die wêreld aan die werk is om mense met die Lam se liefdesoffer na God en die Lam toe te lei. Die alsiende, alwetende, alomteenwoordige Lam beliggaam die volheid van God se Gees.

5:7 Op plegtige dramatiese wyse beskrywe Johannes: die Lam ‘het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.’ Daarmee aanvaar Hy, wat ten volle daarvoor bekwaam is, die taak om God se plan met die wêreld uit te voer.

5:8-10 Die betekenis van sy aanvaarding van die taak word gesien in die reaksie van die skepping daarop: die lewende wesens en die ouderlinge val voor Hom neer in ootmoedige aanbidding; die ouderlinge met (i) liere (10snarige harpe) vir begeleiding van hulle lied (soos in 14:2 en 15:3; vgl. Dawid se lier wat die bose verdryf, in 1 Sam. 16:23) (ii) met goue bakke wat gevul is met wierook, wat die gebede van die heiliges verteenwoordig. God luister na die gebede van die gelowiges, en dit het ‘n invloed op die verloop van die geskiedenis (in 8:3-5 laat dit God se trompetoordele losbreek).

Die lewende wesens en die ouderlinge sing saam ‘n nuwe lied (soos in Ps. 33:3 om die planne van die Skepper te loof; Ps. 40:4 gesing deur die verlosde; Ps. 96:1 vir die Here se reddingsdade; Ps. 98:1 vir sy oorwinning; Ps. 149:1 vir sy goedheid; Jes. 42:10 vir sy verlossing uit die ballingskap). Hier besing hulle die kruisdood en opstanding van Christus wat die hele wêreldgeskiedenis in ‘n nuwe rigting stuur. Die lied word in drie dele verdeel:

  1. die Lam word geloof – Hy is waardig om die geskiedenis te lei deur elkeen van die seëls (sfragidas wat opgedruk word) oop te maak. Elke mens kan Jesus, wat uit liefde vir die wêreld gesterf het, vertrou met sy/haar lewe, met elkeen se toekoms en geskiedenis en met die geskiedenis van die wêreld.
  2. want Hy is geslag (esfages dodelik wond) soos Jes. 53:7 se dienaar van die Here wat soos ‘n lam na die slagplek gelei word. Sy oorwinning word nie op die slagveld behaal nie, maar by die slagpek Golgota. Met sy bloed het Hy mense vir God gekoop, soos op die slawemark, om deel van God se gesin te word; uit die vier windstreke van die aarde word mense deur God teruggekoop: ‘uit elke stam, taal, volk, nasie,’ om lid van God se familie te word (die omvattende uitdrukking kom 7x in Openbaring voor: 5:9; 7:9 se groot menigte voor die troon; 10:11 aan wie die boodskap verkondig moet word; 11:9 die aardbewoners wat hulle oor die lyke van die gelowiges sal verheug; 13:7 wat aan die gesag van die dier oorgegee is; 14:6 aan wie die engel God se oordeel aankondig; 17:15 die mense wat by die sedelose vrou bly). Hier beklemtoon die uitdrukking die wêreldomvattende betekenis van Jesus se kruisdood, maar ook dat dit mense is vanuit al die groepe, en nie alle mense voor die voet nie (Joh 3:16 sê ‘dié wat in Hom glo;’ Joh. 6:37: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; 6:65).

c. Die Lam het hulle ‘n koninkryk en priesters van God gemaak, wat oor die aarde sal regeer – ‘n beeld uit Eksodus 19:6-7: op Sinaiberg sê die Here vir Moses: ‘As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees,’n koninkryk wat My as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Die nuwe eksodus verlos ons van ons sonde (Op. 1:5 Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader), ook verlos van die verdrukking van die nuwe farao (Op. 12-13). Op grond van Christus se kruisdood deel gelowiges in sy liefdesheerskappy oor sy skepping en herskepping, wat as priesters saam met Hom ly en vir ander intree in by God.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Nie as die Leeu nie, maar as die Lam, is Hy waardig (5:1-14) – Francois Malan

Die visioen in hoofstuk 4 juig God toe as die Skepper en Alleenheerser van die wêreld. In hoofstuk 5 word God toegejuig as die Verlosser en Redder van die skepping. Drie maal sê Johannes: ‘Ek het gesien: 5:1,6,11 om ‘n nuwe afdeling in te lei. Hy sien:

5:1-5 ‘n boekrol verseël met sewe seëls in God se regterhand;

5:6-10 die Lam wat geslag is; Hy staan, het sewe horings en sewe oë, en neem die boekrol, die vier lewende wesens en 24 ouderlinge val voor Hom neer en sing ‘n nuwe lied;

5:11-14 die engele en die hele skepping sluit by hulle aan om God en die Lam te prys.

Die verseëlde boekrol (1-5)

5:1 Die regterhand is simbolies vir God se mag om te red en regverdig te oordeel; Moses en die Israeliete sing van sy reddende en straffende regterhand, in Eks. 15:6; Ps. 20:7 sing van die kragtige verlossingsdade van sy regterhand; Ps. 48:11 U regterhand is vol geregtigheid; Jes. 41:10 letterlik: Ek ondersteun jou/hou jou vas, met my regterhand van geregtigheid. Die boekrol in God se regterhand het te doen met sy plan van verlossing en geregtigheid, sy regverdiging van gelowiges en sy regverdige oordeel oor ongelowiges. Dit bevat God se beplanning vir die verloop van die geskiedenis wat voorlê. Soos ‘n kontrak, bevat die buitekant die opsommende inhoudsopgawe van die binnekant. Op Eseg. 2:10 se boekrol, aan albei kante volgeskryf, was klaagliedere, treurliedere en smart-roepe geskryf. Die sewe seëls beklemtoon die volledige geslotenheid van die inhoud.

5:2 Die toekoms moet oopgesluit word – volgens Eseg. 2:10 maak God self die boekrol oop. Hier tree ‘n sterk engel na vore en roep met ‘n harde stem, sodat almal in die heelal dit kan hoor: ‘Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?’ Met die oopmaak van elke seël vanaf hoofstuk 6 ontvou God se verlossing en oordeel. Waardig? – wie het die gesag en bekwaamheid om God se verlossingsplan en sy oordeel deur te voer, en aan wie kan die toekoms van elke mens en die hele wêreld toevertrou word? Die sterk engel tree drie maal op: 5:1 by die ontvouing van die toekomsgeskiedenis; 10:1-2 by die oopmaak van die boekrol wat Johannes moet opeet, as verduideliking van sy rol as verkondiger; 18:21 by die aankondiging van Babilon se vernietiging.

5:3 Die uitnodiging word gerig aan enigiemand in die hemel, op die aarde, of onder die aarde – dit sluit aan by die tipiese Joodse drielaagheelal: hemel vir die bonatuurlike wesens, aarde of mensewêreld, en die onderaardse waar die geeste sou woon. Selfs in die hemel is daar niemand nie, want God se plan vir sy huishouding is afhanklik van iemand met die volle gesag en wat ten volle met die mensdom identifiseer.

5:4 In 4:1 is reeds gesê Johannes sal sien wat hierna gaan gebeur. Maar alles het nou tot stilstand gekom en dit lyk asof God se alleenheerskappy op aarde nie gaan bereik word nie. Daarom huil Johannes oor die hopeloosheid van die situasie en oor die vrye voortgang van die bose op aarde.

5:5 Maar een van die ouderlinge troos en bemoedig hom, want daar is een wat waardig is: ‘Kyk! (let fyn op) die Leeu uit die stam van Dawid, die wortel/afstammeling van Dawid het oorwin om die boek met sy sewe seëls oop te maak. ‘Het oorwin’ – Jesus het die magte van die bose oorwin met sy dood en opstanding. Hierdie ongewone soort oorwinning deur lyding en skynbare neerlaag is die hooftema van Openbaring en ‘n voorbeeld vir getroue gelowiges om na te volg. So anders as die wêreld wat op mag vertrou om te wen.

In Genesis 49:9 voorspel Jakob, voor hy sterf, vir Juda, wat met sy nageslag sal gebeur: jy is ‘n leeu…soos ‘n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie. Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer. Jesaja 11:1-10 sê vir die ballinge in Babilon: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp (riza) van Isai, ‘n loot uit sy wortels (riza) sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus…Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel…Hy sal regverdig en betroubaar regeer…wolwe en skape sal saam wei…niemand sal kwaad aanrig nie…die nasies sal na hom vra.’ Hieruit het die Jode verwag dat die Messias sou oorwin deur militere welslae, en kon nie glo dat die man aan die kruis hulle beloofde koning is wat met sy liefde kom oorwin het nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – GOD SE TROONSAAL (vervolg, 4:4-11) – Francois Malan

4:4-11 Die kringe om die troon word in ‘n a-b-b-a patroon aangebied:

a          4:4-6a   ouderlinge

b          4:6b-8a lewende wesens

b          4:8b-9   lof van die lewende wesens

a          4:10-11 lof van die ouderlinge

Hoewel Johannes die ouderlinge eerste sien, vorm die vier lewende wesens die eerste kring om die troon en sing die eerste lofsang aan God, en die ouderlinge vorm die konsentriese sirkel om die vier lewende wesens, en hulle aanbidding en lofsang val in by die aanbidding en lofsang van die lewende wesens.

4:4 Rondom, in ‘n volle sirkel, om die troon van God, staan 24 trone waarop 24 ouderlinge sit. Hulle is beklee met wit klere as simbole van heiligheid/toewyding aan God en oorwinning oor morele en geestelike onreinheid, soos die ontelbare skare voor die troon en die Lam, wat geweier het om kompromië met die wêreld en sy afgode te maak, en hulle klere wit gewas het in die bloed van die Lam (7:14). Hulle trone en goue krone merk hulle as regeerders saam met God (vgl. Jesus se belofte in Mat. 19:28; 2 Tim. 2:12). Verskillende verklarings is vir die 24 gegee. Hulle kan waarskynlik geassosieer word met die 12 stamme van Israel en die 12 apostels van Jesus, as verteenwoordigers van die hele gemeenskap van gelowiges van die ou en nuwe bedelings. Daar word 12 maal in Openbaring na die ouderlinge verwys, in 8 daarvan word hulle spesifiek ouderlinge genoem.

4:5-6a Die weerligstrale, gedreun en donderslae wat uit die troon van God gekom het, is simbole van God se heiligheid wat waarsku dat Hy sy oordeel gaan voltrek, soos ook in 8:5; 11:19; 16:18. Die agtergrond is waarskynlik die verskyning van God by Sinai (Eks. 19:16-19; 20:18-21) en die magtige verskyning van die Here aan Esegiël tydens die ballingskap (Eseg. 1:3-28). Die sewe vuurfakkels voor die troon, die sewe Geeste van God, is die benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking, soos in 1:4; 3:1 en 5:6.

Genesis 1:6-8 praat van die skeiding tussen die waters onder die gewelf en die waters bokant die gewelf, lg. wat God ‘hemel’ genoem het. In Eseg. 1:22 se gesig is die gewelf blink en skrikwekkend soos ‘n ysberg; In Dan. 12:3 skitter die glans van die hemel. Johannes sien die troon op iets soos ‘n see van glas, helder soos kristal. So word God se heerlikheid, glansrykheid en heiligheid sy andersheid, sy almag en ewige natuur, wat van die edelmetale se glans en kleure afstraal, weerspieël deur ‘n woeste see wat onder God se beheer spieëlglad tot rus kom . In Openb 13:1 kom die dier uit die onstuimige see onder die gewelf om chaos te saai en te vernietig. In 21:1 bestaan die see nie meer nie, as teken van die uitwerping van die bose uit die nuwe skepping.

4:6b-8a In die binneste kring om die troon is daar vier geheimsinnige wesens, wat die hele skepping verteenwoordig: die kalf die mak diere, die leeu die wilde diere, die arend die voëls, en een met ‘n menslike gesig die mensdom. Hulle is rondom en binne vol oë waarmee hulle ten volle aanskou: die heerlikheid, almag en ewige natuur van die Een op die troon (vgl. Eseg. 1:6 se vier wesens met vier gesigte: van ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bul, ‘n arend, in 10:14 het die vier gerubs die gesig van ‘n engel, ‘n mens, ‘n leeu en ‘n arend), en het ses vlerke (soos Jes. 6:2 se serafs; maar in Eseg. 1:6 net vier wesens). Die vier wesens is embleme van al die skepsels wat in harmonie met die Skepper leef, soos wat God die wêrld bedoel het. Hulle doen ook diens as die opmerksame oë van God, wat met alwetenheid oor sy skepping wag hou. Die vlerke getuig van ratsheid en spoed. Hulle sien alles raak en is oral teenwoordig.

4:8b Die liedere wat hulle sing prys God se kenmerke en sy werk, waarom Hy waardig is om aanbid te word. Hulle hoof werk is om Hom te aanbid. Dit word dubbel beklemtoon: dag en nag, sonder ophou. Onophoudelike aanbidding is die natuurlike houding van die skepping in ‘n van-aangesig-tot-aangesig ontmoeting met die Skepper. Die lofprysing het drie strofes met drie dele elk: heilig, heilig, heilig – Here, God, Almagtige – wat was, en wat is, en wat kom.

Drie maal heilig (toegewy), soos in Jes. 6:3, om te beklemtoon dat God verhewe is bo die skepping en bonatuurlik is. Die Vader, Seun en Heilige Gees is Een, in liefde aan mekaar toegewy; en toegewy aan die onderhouding van die skepping.

Here – wat regeer; God – die allerhoogste bonatuurlike skepper en onderhouer van die heelal, die bron en die sin van die lewe; Almagtige (9x in Openbaring) – sy mag waarmee Hy skep, onderhou, regeer en verlos.

Wat was en wat is en wat kom (1:4,8), is ‘n uitbreiding op Eks. 3:14: ‘Ek is wat Ek is,’ wat God se aktiewe teenwoordigheid uitdruk, Eks. 3:15: dit is God se naam in ewigheid – God beheer die verlede, hede en toekoms.

4:9-11 Johannes beskryf die wesens se lofsang met drie woorde: hulle bring heerlikheid-eer-dank aan Hom wat op die troon sit en vir ewig en ewig lewe. Die 24 ouderlinge se eerbetoon, wat hulle byvoeg by die lewende wesens se lof, word ook in drie sinsnedes verduidelik:

Hulle val neer voor Hom wat op die troon sit – erkenning van sy alleenheerskappy;

Hulle aanbid Hom wat lewe tot in ewigheid en ewigheid – beklemtoning van sy ewigheid;

Hulle sit hulle trone neer voor die troon – erkenning van sy alleenheerskappy; ook die mate van gesag en heerskappy oor God se eiendom; wat hulle het, het Hy aan hulle verleen, en alle eer kom Hom toe (Genesis 1:28; 2:15).

Hulle beklemtoon God se alleenheerskappy teenoor valse aansprake op alleenheerskappy op aarde (13:8,12). Die vier lewende wesens besing God se heiligheid en majesteit; die ouderlinge sy werk as die enigste Skepper:

U is waardig, ons Here en God om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang

(Domitianus, wat vir Johannes verban het, het beveel dat hyself dwarsdeur die Romeinde ryk as ‘ons here en god’ aangespreek word) omdat U alle dinge geskep het, deur u wil het alles ontstaan, en is dit geskep – alles en almal het in God se denke en beplanning ontstaan, is deur sy Woord en Gees geskep, en as Here en God onderhou en heers Hy oor ons en die hele skepping.

Anders as die lewende wesens, spreek die ouderlinge God persoonlik aan: U…ons Here en God – ons lewe in sy hand, onder sy leiding en sorg, in ons deurmekaar leefwêreld. God is groter as enige keiser of regeerder, omdat Hy die Skepper en Onderhouer van sy skepping is. Hoofstuk 4 gee ‘n kykie op die skepping in hamonie met sy Skepper, wanneer God in die sentrum van ons lewe is.

Skrywer:  Prof Francois Malan