Openbaring 13

Openbaring 13 – Pieter Verster

Johny vra:

Verwys die draak en die dier in Openbaring 13 na die Rooms Katolieke kerk en die Pous?

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Aanvanklik verwys die draak en die dier  na die Romeinse keiser wat die Christene  wreed vervolg het. Openbaring is geskryf om die Christene te versterk en te verseker van Jesus Christus se oorwinning. Luther was van mening dat die Rooms-Katolieke kerk in  sy tyd so verword het en die ware gelowiges ewe-eens vervolg dat die Pous  die Antichrist is en die Rooms-Katolieke kerk van sy tyd  die valse kerk was. Sake het baie verander en vandag is daar baie ander wat die ware gelowiges vervolg terwyl  die Pous  geloof in Jesus Christus bevorder. Die draak en die dier verset hulle radikaal teen Christus en sy kerk en is dus van toepassing op hulle wat die kerk redeloos vervolg.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Algemene openbaring en besondere openbaring

Die Groot Geloofswoordeboek: Algemene openbaring en besondere openbaring

Algemene openbaring en besondere openbaring is twee kante van die­selfde saak: hoe God Hom aan ons bekend gemaak het. Die algemene openbaring is God se openbaring in die natuur, die geskiedenis en die gewete van die mens. Die besondere openbaring is sy openbaring veral aan Israel en in Jesus van Nasaret, waar­van ‘n verslag in die Bybel opgeteken is. ‘n Mens sou die een ook sy onpersoonlike openbaring kon noem, en die ander een sy per­soonlike openbaring.

Algemene openbaring

Algemene openbaring omvat natuur, geskiedenis en gewete. Daar is in die Bybel getuienis dat iets van God sigbaar is in die natuur, ten minste sy krag en sy Goddelikheid (Rom 1:20). Mense aanvaar gewoonlik dat hulle ook iets van sy wonderlikheid in mooi dinge in die natuur kan sien, in ‘n mooi blom of ‘n stroompie water. Die probleem hiermee is natuurlik dat daar ook skrikwekkende dinge in die natuur is, soos ‘n leeu wat ‘n bok doodwurg of ‘n tsoenami. Op die ou end kies ons dus maar wat in die natuur vir ons iets van God vertel.

Dit beteken dadelik dat dit nie hier om ‘n duidelike saak gaan nie. Ons het gewoonlik reeds uit die Bybel (wat ons van die besondere openbaring vertel) ‘n idee van wie en hoe God is, en in die lig daarvan besluit ons dan wat ons in die natuur aan Hom herinner.

Die geskiedenis is nie minder problematies nie. Vir baie lank het baie wit mense geglo dat ons God se hand duidelik in die gebeure by Bloedri­vier kon sien. Allerlei dinge wat die nag voor die slag gebeur het, soos die digte mis, is gesien as die duidelike vingerwysings van God se werk. Maar almal is nie so seker soos dié wat daardeur bevoordeel is nie. Die Zoeloes, ook Christen-Zoeloes, was nie so oortuig daarvan nie. Op die ou end moet ‘n mens die geskiedenis interpreteer. Baie Duitse Christene het Hitler gesien as “God se man in daardie uur”(!).

Openbaar God Hom ook in die gewete van die mens? Nie dat ons gewetes direk die openbaring van God is nie, want ons gewete word bepaal deur ons opvoeding en waardesisteem. Maar daar is algemene waardes wat omtrent alle mense erken, soos eerlikheid, respek vir ouers – al pas almal dit natuurlik nie reg­tig toe nie. Is die algemene erkenning ‘n voorbeeld daarvan dat God basiese waardes in mense ingeplant het? Het alle mense ‘n basiese Godsbesef wat sommige maar net onderdruk? Sover dit bekend is, het alle volke en kulture in hulle vroeë geskiedenis gode gehad.

Teen dié tyd is dit al duidelik dat die gedagte van ‘n algeme­ne openbaring sy eie vrae oplewer. Maar dit neem die feit nie heeltemal weg dat daar op ‘n manier so iets moet wees nie. As ons glo dat God alles gemaak het, sal dit tog vreemd wees dat daar nêrens enige spore van sy werk is nie, niks wat aan Hom herinner nie. Dus kan ons eindig waar ons begin het: by Paulus se uitspraak dat ons uit die werke van God kan aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is (Rom 1:20), al sal ons ook verder met hom moet saamstem dat mense dit van nature onderdruk.

Die punt is nou dat hierdie openbaring nie eintlik effektief is nie. Dit bring nie mense sover om God te dien nie. Dit hoef nie aan die defektiwiteit van die openbaring toegeskryf te word nie, maar eerder aan ons sonde. Van nature skram ons weg van God af. Jy hoef nie kinders te leer om te jok of te baklei nie, jy moet hulle leer om die waarheid te praat en in vrede te leef.

 

Natuurteologie

Dit beteken dat ons nie uit hierdie openbaring kan leer wie en hoe God regtig is nie (dus geen natuurteologie nie). Ons kan ook nie uit die natuur allerlei afleidings maak oor wat dan die wil van God sou wees nie. In die tyd van apartheid was ondersteuners geneig om uit die natuur afleidings te maak, soos dat skape en bokke nie vermeng nie, en daarom is ondertrouery tussen wit en swart verbied. Maar ‘n mens sou daarteenoor kon sê dat swart en wit skape wel meng, maar dis nie die manier om na die wil van God te vra nie. Daarvoor het ons die besondere openbaring.

Die eintlike punt van kritiek op die natuurteologie is die feit dat die algemene openbaring nie positief waardeer word in die Bybel nie. Dit is duidelik dat God wel geken kan word uit die natuur, maar dit is ook duidelik dat die mense hierdie kennis onderdruk, en nie daardeur die ware God leer ken nie (Rom 1:20 ev).

Daar is wel die bekende uitspraak in Romeine 2:12-16 waar ons lees van heidene wat nie die wet het nie, maar tog vanself dinge doen wat die wet vereis. Paulus verklaar dan: “Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan.” Die gevolgtrekking is dat hierdie mense, wat nie die evangelie van Jesus gehoor het of van die God van Israel weet nie, gered word omdat hulle die wet hou.

Dis ‘n taamlik algemene opvatting dat dit hier gaan om heide­ne wat nie die Here ken nie, maar wat dan van nature die wet het en dit ook onderhou. Dit sou dan die manier wees waarop hulle gered word. Dit is egter ‘n baie vreemde gedagte. Elders is Paulus sterk en duidelik daaroor dat niemand gered kan word deur die wet te hou nie, maar net deur in Jesus te glo (Gal 2:15-16). Selfs Israel kan nie die wet hou nie, wat staan nog heidene wat glad nie eens die wet ken nie?

Daarom is dit goed om ‘n bietjie versigtiger na hierdie be­roem­de deel te kyk. Kan mense regtig gered word, al glo hulle nie in Jesus nie, net deur die wet te onderhou?  Die uitdrukking “dat die wet in hulle harte geskrywe staan” herinner natuurlik dadelik aan Jeremia 31:33 se beskrywing van die nuwe verbond. Onder die nuwe verbond sal Israel nie meer die wet net op klip­tafels hê nie, maar “op hulle harte geskryf”. Maar dit gaan dan om gelowiges, nie om heidene nie.

In Romeine 2:25-29 gaan dit om ‘n verwante saak. In 2:12-16 gaan dit om die wet, en in 2:25-29 om die besnydenis. Eers gaan dit oor Israel wat die wet het, maar dit nie hou nie, teenoor “heidene” wat die wet nie het nie, maar dit tog hou en dan op dié manier gered word. En dan gaan dit oor Israel wat letterlik besny is, maar nie die wet hou nie, terwyl daar “heidene” is wat nie letterlik besny is nie, maar tog die wet hou en dan só gered word. Die slotsom is dat hierdie “heidene” die Jode sal oordeel.

Waar kry ‘n mens sulke heidene? Is dit nie dalk heiden-Christene nie? Paulus noem die heiden-Christene dikwels “heidene” as hy hulle teenoor die Jode stel (Rom 11:13; 15:9; 16:4; Gal 2:12), almal plekke waar die Grieks letterlik “heidene” het terwyl moderne vertalings sommer vertaal met iets soos “gelowiges uit die hei­dennasies” of “nie-Joodse gelowiges”. Daar is geen enkele rede om dit nie ook in 2:14 te doen nie. Dan kan dit sin maak dat “heidene” wat nie die wet het nie, dit beteken nie met die wet groot­geword het soos die Jode nie, deur die krag van die Heilige Gees die wet hou. Hulle is immers bekeerde heidene, gelowiges.

Dit sou net verder bevestig dat daar nie ware kennis van God uit die algemene openbaring voortkom nie en dus nie ‘n suiwer natuurteologie kan wees nie.

 

Besondere openbaring

Besondere openbaring (of persoonlike openbaring) is die open­baring waarin God self na mense kom. Dit kan misverstand wek om sonder meer die Bybel die besondere openbaring te noem. God het Hom nie in byvoorbeeld die boek Eksodus aan Israel in Egipte geopenbaar nie. Daar was nog nie eens so ‘n boek nie. God het na Moses gekom en met hom gepraat. God het sy Seun nie in die Evangelies aan ons bekend gestel nie, maar in die Jood Jesus van Nasaret. God het Hom in gebeurtenisse, in die geskiedenis ge­openbaar. En opnuut moes mense keuses maak. Die dissipels het God se openbaring in Jesus herken en erken, maar die Fariseërs nie. Dus: selfs God se persoonlike openbaring moet erken en aanvaar word.

En die *Bybel?

‘n Mens kan die Bybel die betroubare getuienis oor die besondere openbaring noem, en in hierdie sin self ook openbaring. In die meeste gevalle vertel die Bybel van God se openbaring in die geskiedenis, soos Eksodus en die Evangelies. Maar dikwels is dit ook direk openbaring, byvoorbeeld die Psalms of Paulus se briewe.

Woorde gemerk met  ʼn * sal later verder bespreek word.

 

Outeur: Prof. Adrio König




Is die duiwel los?

“Is die duiwel los?” – Stephan Joubert

Enkele Nuwe-Testamentiese perspektiewe op die stryd tussen Christus en die Bose

There are two equal and opposite errors into which our race can fall about devils. One is to disbelieve in their existence. The other is to believe, and to feel an excessive and unhealthy interest in them. They themselves are equally pleased with both errors” – C. S. Lewis, The Screwtape Letters.

1. Die afwesigheid van die Bose

“Die Nuwe Testament vertoon ʼn mitologiese kosmologie. Vir die primitiewe mense van die Bybelse tyd funksioneer die Bose as verklaringsprinsipe vir vele onoplosbare probleme soos siekte en lyding.” So sou die konsensus onder vele teoloë en ander geleerdes rakende die Bose sedert die tyd van die “Aufklärung” opgesom kon word.

Binne Westerse denke word min ruimte gelaat vir metafisiese ingrype in die geskiedenis. Vir Nel (1987:13) vereis “die konflikterende getuienis oor die Bose in die Ou Testament en die voor-Christelike Judaïsme(s)” byvoorbeeld dat individue nie in die bestaan van Satan hoef te glo nie. Van Aarde (1987:34-35) veronderstel op sy beurt dat daar wel sprake is van boosheid in die wêreld, egter sonder dat dit ʼn persoonlike gestalte aanneem. Boosheid is volgens hom soos die gate in ʼn Switserse kaas. Dit is ondefinieerbaar; dit bestaan binne in die kaas as “nie-kaas.” Die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus, John Dominic Crossan (1994:85), wat eweneens die bestaan van demoniese wesens ontken, aanvaar “..that there is something real, as distinct from faked or simulated, behind events understood by participants as possession.” Hy is egter van oordeel dat moderne psigiatriese interpretasies van sogenaamde demoniese verskynsels die korrekte sleutel tot die verstaan hiervan inhou.


2.  ʼn Nuwe belangstelling in die bose

As dit aan die een kant waar is dat die duiwel binne intellektuele Westerse kringe min of meer van die toneel verwyder is, is dit aan die ander kant waar dat daar tans in kerklike kringe ʼn “nuwe belangstelling” in die Satan is. Hierdie belangstelling in die Bose is ʼn indirekte gevolg van die sogenaamde post-modernistiese tydsgees waarin ons tans verkeer wat onder andere as ʼn protes teen die outoritarisme en vaste sekerhede van die modernisme ontwikkel het (vgl Connor, 1995:228). ʼn Nuwe openheid vir die metafisiese, tesame met die soeke na nuwe antwoorde en verklarings vir die vele onopgeloste vrae waarmee individue gekonfronteer word, het ook binne baie godsdienstige kringe aanleiding gegee tot ʼn sogenaamde herontdekking van die realiteit van die Bose. Andersyds is hierdie belangstelling in die duiwel ʼn teenreaksie teen die twintigste eeuse stilswye oor hom binne intellektuele en kerklike kringe. In die woorde van Russell (1986:300): “Skeptics suggest that the idea of the Devil is socially destructive, that to believe in the Devil is to grant evil too much power. Certainly it is spiritually unhealthy to dwell upon the idea of the Devil in any way that lessens one’s attention to grace. But in the late twentieth century the Devil seems to be receiving too little attention than too much.

 

3.  Vertrekpunte

Christelike epistemologieë (= kennisleer) word hoofsaaklik gebou op die Bybel en op kerklike tradisies. Aangesien beide hierdie fasette die Bose as realiteit aanvaar, behoort enige Christelike teologie wat aangebied word as ʼn gelowige nadenke oor die “apostoliese tradisie” soos wat dit neerslag vind in die Nuwe Testament, rekening te hou met die kosmologiese wêreldbeeld wat ten grondslag aan hierdie dokumente lê. Uitgaande van pasgenoemde kenteoretiese vertrekpunt is dit die doel van hierdie bydrae om ʼn algemene oorsig oor Nuwe-Testamentiese sieninge van die stryd tussen Christus en die Bose aan te bied. Meer besonderlik: aan die hand van ʼn “deskriptiewe benadering” tot die tersaaklike Nuwe-Testamentiese tekste sal ʼn aantal belangrike teologiese riglyne in hierdie verband uitgelig word. Hierdie analise sal egter voorafgegaan deur ʼn kort bespreking van algemene Joodse opvattinge oor bose magte rondom die eerste eeu, aangesien die Joodse milieu die sosio-kulturele raamwerk gevorm het waarbinne die prediking van Jesus sy historiese beslag gekry het. Ten slotte word enkele beginsels ook aan die orde gestel wat betrekking het op die rol en verantwoordelikhede van gelowiges in hierdie stryd tussen Christus en die Bose.

 

4.  Vasgevang in ʼn greep van vrees: Bose magte in die Joodse  wêreld rondom die Nuwe-Testamentiese era

Die allerdaagse wêreld waarbinne die Jode hulleself rondom die eerste eeu bevind het, was gevul met die teenwoordigheid van bose magte. Hierdie wesens was woonagtig in plekke soos woestyne, in die lug, grond, en in water (vgl. ook Matteus 12:43; Efesiërs 2:2; Openbaring 13:1vv). Hulle kon in verskillende gestaltes verskyn, soos in die vorm van wolwe, honde, paddas, onrein voëls en slange (vgl. ook Openbaring 9:3-7; 12:3; 16:13).

Volgens Joodse opvattinge het demoniese magte hul slagoffers deur liggaamsopeninge binnegedring. Vanweë die gevare verbonde aan demoniese “besoedeling” is kontak met heidene, onrein persone, en siekes ontmoedig (Böcher, 1972:14). Die eet van kos wat nie aan Joodse reinheidsvoorskrifte voldoen nie was verbode; so ook ongeoorloofde seksuele gedrag, aangesien dit aanleiding tot demoniese besetting kon gee.

Wanneer demone mense beset het, het dit gelei tot onnatuurlike gedrag aan die kant van laasgenoemdes, soos emosionele onstabiliteit, stuiptrekkings, gewelddadige optrede, en dies meer. Demoniese magte kon mense ook siek maak, en uiteindelik hulle dood veroorsaak.

Demoniese magte is veral deur duiweluitdrywers of eksorsiste teengestaan. Hierdie persone het dikwels gebruik gemaak van “eksorsistiese formules” wat ingelei is met frases soos: “Ek beveel jou…”; gevolg deur die vermelding van die name van allerlei goddelike magte en ʼn bevel dat die demoniese magte hul slagoffers moet verlaat (Fergusson, 1984:9).

In die Joodse geskrif, Tobit, verneem ons van bepaalde rituele wat ingespan is om demone te verdryf. In Tobit 6 word naamlik vertel hoedat Tobias, die seun van Tobit, verlief raak op ʼn vrou met die naam Sara. ʼn Sterk demoon, genaamd Asmodeus, weier egter dat enige man naby aan haar kom. Die engel Rafael beveel dan vir Tobias om van die as van brandende wierook te vat en dit saam met die hart en lewer van ʼn vis te brand, dan sal die demoon padgee.

Saam met die gebruik van godsdienstige formules en rituele, het eksorsiste ook homeopatiese middels gebruik om duiwels te besweer. Aan die hand van die sogenaamde similia similibus beginsel is klein dosisse van dieselfde stowwe as dié waarin die duiwels hulle sou bevind, soos grond, water of plante, gebruik om hulle te verdryf. Amulette is soms ook aan persone gegee om te dra om hulle teen die Bose te beskerm. Eweneens is allerlei ornamente en simbole in woonhuise aangebring om bose magte af te skrik.

Wat die oorsprong van hierdie bose magte betref, verbind die apokaliptiese geskrif, 1 Henog, dit aan die optrede van bose engele wat onder aanvoering van Asasel met vroue op aarde seksuele gemeenskap gehad het. Die afgestorwe geeste van die reuse wat uit hierdie ongeoorloofde gemeenskap gebore is, is demoniese wesens wat mense nou oral tot boosheid verlei (1 Henog 69:4-6); gevalle sondaars aankla (1 Henog 40:7), en wat veroordeeldes in die onderwêreld pynig (1 Henog 98:4vv). Aan die einde van die tyd sal die uitverkore figuur of Messias op sy troon oor Asasel en al hierdie bose magte oordeel (1 Henog 55:4).

 

5. Die optrede van Jesus in die evangelies

5.1  Jesus se duiweluitdrywings

Jesus se aardse optrede vind plaas binne die Joodse milieu van die eerste eeu wat gekenmerk is deur ʼn voortdurende bewussyn van die vernietigende aktiwiteite van bose magte. Die stryd teen hierdie magte is egter nie die hoofdoel van Jesus se sending nie. Veel eerder staan sy optrede in die teken van die koms van die koninkryk van God (Markus 1:15). Jesus se verkondiging en wonders dien sodoende as sigbare manifestasies van God se nuwe eskatologiese heerskappy (Merklein 1995:55).

Jesus se koms en optrede lei die eskatologiese oordeel en triomf oor Satan in en vergestalt terselfdertyd ook hierdie oorwinning. Die Bose word nou, met die aanbreek van die Messiaanse era, soos ʼn weerligstraal uit die hemel gewerp (Luk. 10:18; Joh. 12:31 – vgl. ook Becker, 1996:132). Daar bestaan nooit enige twyfel oor die uitslag van die konflik tussen Jesus en die Bose nie. Wanneer Satan as “toetser” byvoorbeeld sy opwagting in die woestyn maak om Jesus van sy sending te laat afsien (Markus 1:12-13par), tree laasgenoemde as oorwinnaar uit hierdie “strydgesprek.” Satan se ware identiteit word terselfdertyd ontmasker. Hy is geen god nie, maar hoogstens net ʼn eskatologiese teenspeler in die stryd teen Jesus.

Verskeie konfrontasies tussen Jesus en bose magte vind deur die loop van sy openbare bediening plaas (Matteus 4:23vv; Markus 1:32; Lukas 6:17-18). Wanneer hierdie magte hul terrein oortree deur menslike liggame as hul woonplekke te beset (Markus 1:25-26; 5:1-20; 9:14-29), volg dramatiese reaksies gewoonlik wanneer hulle met Jesus in aanraking kom. Omdat die demone sy ware identiteit ken (“Jesus van Nasaret” [Markus 1:24], “Seun van die Allerhoogste [Markus 5:7], “die Heilige wat van God af kom” [Markus 1:24]), gaan hulle dikwels hard aan die skree; gooi hulle slagoffers op die grond neer; smeek Jesus om genade (Markus 1:23; 7:25); ensovoorts. By geleentheid probeer demoniese magte selfs om aan die hand van “afweer-rites” hulleself teen Jesus te beskerm. In Markus 5:7 verneem ons byvoorbeeld hoedat ʼn bose mag Jesus beveel om hom nie seer te maak nie. Ook die voorafgaande uitdrukking van hierdie demoniese mag: “wat is daar tussen my en jou?,” funksioneer as ʼn “verbale verdedigingsmeganisme” teen Jesus se mag (Twelftree, 1993:64).

In teenstelling met Joodse duiweluitdrywers met hul formules, amulette en rituele, maak Jesus slegs gebruik van “magswoorde” om demoniese magte te verdryf (Markus 9:25; Matteus 8:16). Geen gebede, of die vermelding van hemelse name gaan met sy eksorsismes gepaard nie. Jesus se kragbelaaide woorde is telkens voldoende om sy oorwinning oor die domein van die Bose sigbaar te vergestalt.

5.2  Jesus se woorde oor Satan

In die bekende Beëlsebul strydgesprek (Markus 3:22-27; Matteus 12:22-30; Lukas 11:14-23), word Jesus, in reaksie op sy uitdrywing van ʼn bose mag uit ʼn stom man, daarvan beskuldig dat hy dit doen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose magte. Die Joodse godsdienstige leiers veronderstel met ander woorde dat Jesus kop in een mus met sterk bose magte is wat Hom in staat stel om van swakker demone ontslae te raak. Hierteenoor benadruk Jesus dat die domein van die Bose ʼn eenheid is onder aanvoering van Satan. Sy stryd is sodoende nie teen individuele manifestasies van die Bose gerig nie, maar teen sy ganse ryk.

Deur die vinger van God (Lukas 11:20), of deur die krag van die Gees van God (Matteus 12:28), stroop Jesus die Satan van sy gewaande mag. Teenoor sy Joodse teenstanders, wat waarskynlik van mening was dat die krag van God se Gees afwesig was onder die Jode (Keener, 1999:363), maak Jesus se uitdrywing van demoniese magte dit duidelik dat God se koninkryk, sy nuwe wêreld, reeds aangebreek het. Meer besonderlik: aan die hand van ʼn oorlogsbeeld (vgl. Markus 3:27; Matteus 12:29; Lukas 11:21-22) interpreteer Jesus sy stryd met Satan as ʼn inname van laasgenoemde se versterkte vesting. Die Een wat sterker is as “die sterk man,” neem nou sy vesting oor en vat sy “besittings” (diegene in die greep van die Bose) vir Homself. God se eskatologiese heil realiseer dus sigbaar in Jesus se bevryding van menslike slagoffers uit die greep van vyandige magte.

6.   Paulus: Die kruis as triomf oor die teenmagte

Binne die Pauliniese literatuur is daar sprake van allerlei “kragte, magte en heerskappye” (vgl. Romeine 8:38-39; 1 Korintiërs 15:24; Kolossense 1:16; Efesiërs 1:20-21; 6:12). Sonder om in die debat rakende die identiteit van hierdie wesens verstrengel te raak (vgl. Die omvattende besprekings in hierdie verband in Wink, 1984; Page, 1995), kan ons saam met Dunn (1998:106) aanvaar dat wanneer hierdie magte wel by Paulus na bonatuurlike wesens verwys, hulle deurgaans as teenmagte funksioneer wat God se heilsplanne met sy skepping probeer dwarsboom. Meer konkreet: dat hierdie naamlose teenmagte in staat is om die kontak tussen mense en God te versper.

Supra-individualistiese kragte word in Paulus se geskrifte dikwels in verband gebring met die Bose as ʼn individuele entiteit, sodat ons dan te make het met wat Dunn (1998:109) noem: “an existentially real power cohered in a single focus – experienced as malevolent and therefore conceived of as personal.” Paulus ken Satan onder andere as “die god van hierdie sondige tydsgewrig” (2 Korintiërs 4:4) wat in staat is om ongelowiges te verblind sodat hulle nie die lig van die Evangelie sien nie. Satan is ook “die heerser oor die koninkryk van die lug” (Efesiërs 2:2); dit wil sê, die ruimte tussen hemel en aarde wat dikwels in die antieke tyd as die domein van bose magte beskou is (Luz, 1998:131).

Vir Paulus staan die oorwinning van Christus oor al hierdie magte bo alle twyfel vas. Christus bevry die ganse kosmos uit die greep van demoniese duisternis (vgl. Barnett, 1996:220). Veral in sy briewe aan die Efesiërs en die Kolossense, waar die kosmologiese implikasies van Christus se sterwe en opstanding duidelik uitgespel word, word sy algehele heerskappy oor al die magte benadruk (bv. Efesiërs 1:20-22; Kolossense 2:10). Hierdie triomf is reeds aan die kruis behaal. Daar is alle teenmagte eens en vir altyd in Christus se magtige triomftog verslaan. Hulle is kaal gestroop; hul heerskappy oor die wêreld het tot ʼn abrupte einde gekom (Kolossense 2:15). Na Christus se oorwinning aan die kruis het Hy volgens Efesiërs 4:10 die belangrikste posisie in die hemel ingeneem. Hy het selfs “krygsgevangenes” daarheen saamgeneem en geskenke aan sy volgelinge uitgedeel (aldus Efesiërs 4:8, as ʼn Christologiese interpretasie van  Psalm 68:19.) Tipies van  antieke “oorwinningsmetaforiek” moes enige oorwinnaar krygsgevangenes aan sy volgelinge vertoon as bewys van sy triomf en ook oorlogsbuit uitdeel, soos wat Christus volgens Paulus inderdaad ook na sy hemelvaart doen! As Skepper en Skeppingsmiddellaar (Kolossense 1:15-20), is Christus nou die Een wat beheer oor alles in die skepping uitoefen. Hy is daarom ook in staat om ʼn einde aan die vernietigingswerk van die magte in sy volgelinge se lewe bring (Gnilka, 1994:330).

Die kruisgebeure het volgens Paulus ingrypende implikasies vir alle teenmagte wat gelowiges se bestaan bedreig. Die dood as finale vyand (1 Korintiërs 15) is deur Christus se opstanding van sy krag en verskrikking gestroop. So ook die vlees, of te wel die menslike geneigdheid tot sonde. Aangesien gelowiges nou saam met Christus gekruisig is en sodoende dood is vir die sonde (Romeine 6), het laasgenoemde as ʼn vyandige mag nie meer die finale sê oor hulle lewens nie. Gelowiges staan nou onder die beheer van die Gees wat hulle permanent as God se eiendom beseël (2 Korintiërs 1:21-22; Efesiërs 1:13-14). Daarom kan niks hulle nou van God se liefde skei nie, selfs nie eens teenmagte of die dood nie (Romeine 8:31-39). Op grond van hierdie nuut toegerekende status as eskatologiese gawe aan die ganse kerk van Christus, roep Paulus gelowiges dikwels op tot “korrekte” etiese gedrag (bv. Galasiërs 5; Romeine 6). In die lig van die herskeppende teenwoordigheid van die Gees by gelowiges, is hulle, aldus Paulus, immers nou in staat om aan die Here se eise te voldoen en om ook weerstand teen sonde te bied (vgl. Witherington, 1998:278-286).

 

7.  Openbaring: Satan onder huisarres!

7.1  Die Sataniese magte is los!

In ʼn dramatiese narratief, wat ingebed is binne die simboliese wêreld en taal van die Ou Testament en die Joodse apokaliptiek (vgl. die uitgebreide besprekings in hierdie verband in Du Rand, 1991; Hahn, 1998), neem die skrywer/siener (of te wel, Johannes, soos wat hy homself in Openbaring 1 identifiseer) die lesers op ʼn visioenêre reis. Openbaring 4-20 speel af binne die raamwerk van Christus se hemelvaart en die wederkoms. Die tyd op aarde tussen hierdie twee gebeurtenisse word simbolies aangedui as twee en veertig maande; drie en ʼn half jaar, of drie en ʼn half dae (Openbaring 11-13). In sy visioene beskryf die siener die lyding wat die kerk gedurende hierdie tyd onder die aanhitsing van Sataniese magte moet verduur, sowel as God se straf wat gedurende hierdie ganse tydperk oor sondaars voltrek word (vgl. bv. die sewe seëls [Openbaring 6-8], die 7 trompette [Openbaring 8-9/11], die 7 oordeelsbakke [Openbaring 15-16]). Hierdie lydingstyd van twee en veertig maande wat tot en met die terugkeer van die Here duur, is ʼn tyd waartydens die draak (oftewel Satan – Openbaring 12) heerskappy oor die goddelose wêreld uitoefen deur bemiddeling van twee diere (Openbaring 13), en deur die bose vrou, Babilon (Openbaring 17). Laasgenoemde Sataniese magte se taak behels volgens Johannes die verleiding van die wêreld tot aanbidding van die draak, en die vernietiging van die kerk.

7.2  Drie perspektiewe op Christus se heerskappy

7.2.1  Openbaring 5

Die  hemelse toneel in Openbaring 4-5 vorm die sleutel tot die verstaan van Openbaring (Vögtle 1981:54). Uit hierdie hoofstukke blyk dit dat die hemelse troonsaal, oftewel, die beheersentrum van die kosmos, volledig onder die beheer van God, die Gees en Christus staan. Veral in hoofstuk 5, waar Christus na sy hemelvaart op die toneel verskyn, word benadruk hoedat Hy, as die geslagte Lam, terselfdertyd ook Heerser oor die sondige wêreld is. Christus is daarom in staat om God se raadsplan uit te voer deurdat Hy die verseëlde boek uit God se hand neem en die sewe seëls oopmaak (Openbaring 6-8; vgl. ook Aune, 1997: CDROM).

7.2.2  Openbaring 12

In Openbaring 12 tref ons ʼn tweede perspektief op Christus se “hemelse troonsbestyging” aan. In hierdie toneel verneem ons naamlik van die konflik tussen die draak en die vrou wat ʼn Kind (“Christus”) in die wêreld bring. Na die Kind se hemelvaart maak die draak sy opwagting in die hemel as ongenooide gas by eersgenoemde se troonsbestyging (Aune, 1998a: CDROM). Johannes beskryf voorts in sy visioen hoedat ʼn skermutseling tussen Satan en die Here se engele onder aanvoering van Migael, plaasvind. Na sy neerlaag teen die hemelse weermag word die draak en sy bose magte uit die beheersentrum van die kosmos gegooi. Hierna word Satan se magsgebied ruimtelik tot die aarde beperk. Terselfdertyd word daar ook ʼn temporele perk aan sy “bewind” oor die sondige mensdom gestel. Slegs vir ʼn beperkte tyd (“twee en veertig maande”) word hy en sy Sataniese helpers naamlik toegelaat om met hul vernietigingswerk voort te gaan.

7.2.3  Openbaring 20

Openbaring 20, met sy vermelding van die duisendjarige ryk van Christus, bied ʼn derde perspektief op Christus se troonsbestyging en heerskappy. Hierdie vrederyk breek met Christus se hemelvaart aan wanneer Hy beheer oorneem van die hemelse skares, asook van die verdere verloop van die geskiedenis.  Almal wat gedurende die twee en veertig maande van swaarkry op aarde (“die tyd tussen hemelvaart en wederkoms”) beswyk sonder om voor die dier die knie te buig, sluit volgens 20:7 triomfantlik by Christus in sy hemelse vrederyk aan (Aune, 1998b: CDROM). Daar heers hulle saam met Hom tot aan die einde van die duisendjarige ryk, oftewel, totdat die wederkoms aanbreek.

Ten tye van die duisendjarige ryk in die hemel, wat temporeel korrespondeer met die twee en veertig maande van swaarkry op aarde, is Satan volgens 20:1-3 in die onderwêreld gebind. Hierdie beeld dui op die inperking van die Bose se naakte mag op aarde. Hy kan gedurende hierdie tydperk van “huisarres” slegs deur bemiddeling van die twee diere (Openbaring 13), en later ook deur me. Babilon (Openbaring 17), heerskappy oor sy domein uitoefen. Satan self verdwyn egter na sy uitbanning uit die hemel en sy kortstondige geveg teen die kerk (Openbaring 12) van die toneel af. Behalwe vir ʼn kortstondige verskyning in Openbaring 16, is daar geen spoor van hom tot en met hoofstuk 20 te sien nie.

Wanneer Satan volgens die siener kort voor die wederkoms losgelaat word, is sy Sataniese helpers reeds deur Christus verslaan (Openbaring 19). Eweneens is die bose vrou Babilon ook vernietig (Openbaring 18). In ʼn laaste desperate poging versamel Satan al sy oorblywende ondersteuners (“Die Gog en Magog”) om teen die heiliges van die Here oorlog te maak. Maar hulle word verslaan en in die vuurpoel gegooi (Openbaring 20:7-10). Daarna eindig Openbaring in triomf as gelowiges in die nuwe Jerusalem by God hul woning maak.

 

8.   Die kerk: Deelnemers aan die stryd tussen Christus en die Bose

Die Nuwe Testament teken Satan as ʼn oorwonne vyand. Die kruisgebeure is die groot draaipunt in hierdie stryd. Deur Christus se sterwe en opstanding is Satan van sy gewaande mag oor die dood, die geskiedenis, en mense se lewe gestroop (Kolossense 2:12-13; Hebreërs 2:14-15; Openbaring 1:17-18). God stuur nou die wêreldgeskiedenis af op die groot dag wanneer Hy in heerlikheid terugkom ten einde sy kerk en die ganse skepping finaal van verganklikheid en lyding te bevry (Romeine 8:17-25; Openbaring 20:11-15).

Die kerk deel volgens die Nuwe-Testamentiese getuienis volledig in die vrugte van Christus se oorwinning oor die Bose. Gelowiges is sodoende nie woonplekke van Sataniese magte nie (2 Korintiërs 6:14-7:1), maar gesamentlik die tempel van die Gees (1 Korintiërs 3:16; 6:19). Christene se nuwe identiteit word deurslaggewend bepaal deur die sterwe en opstanding van Christus, asook deur die nuutmakende werk van die Heilige Gees.

Gelowiges ken volgens die Nuwe Testament egter ook nog stryd, want selfs as ʼn verslaande opponent is die Bose steeds gedug. Hy is ʼn brullende leeu (1 Petrus 5:8); ʼn meester van vermomming wat hom in ʼn engel van die lig kan verander deur sy verdraaiings van die Goeie Nuus (2 Korintiërs 11:14). Hy lyk so onskuldig soos ʼn lammetjie, maar sy stem klink egter soos dié van ʼn draak (Openbaring 13:11).

Efesiërs 6:10-19 is een van die sleuteltekste in die Nuwe Testament waar gelowiges opgeroep word tot stryd teen die Bose. Opvallend egter aan Paulus se inkleding van hierdie stryd (aan die hand van die beeld van ʼn wapenrusting), is dat die verskillende aspekte van die gelowige se gevegsdrag uitsluitlik op God se nuwe werklikheid gerig word, nooit op Satan as direkte objek van die stryd nie. Gelowiges moet met ander woorde die stryd van die geloof stry deur die geregtigheid wat God gee as borswapen aan te hê; deur die Goeie Boodskap met ander te deel as skoene aan hulle voete; ensovoorts. Geen pre-okkupasie met Satan en sy magte word hier veronderstel of aangemoedig nie. Die “korrekte” stryd van die kant van die gelowige teen boosheid in watter gestalte ook al, vereis eerder ʼn algehele lewensgerigtheid op God.

 

9.   Slotopmerkings

Die Bose is geen handige verklaringsprinsipe vir lyding, of vir al die onoplosbare eksistensiële vraagstukke waarmee Nuwe-Testamentiese gelowiges worstel nie. Die Nuwe Testament ken boosheid immers in verskillende persoonlike gestaltes. Tog word gelowiges se aandag nooit op hierdie teenmagte gefikseer nie. Die Sataniese magte is immers gestroop van die gewaande mag wat die Joodse wêreld aan hulle toegedig het. Die Nuwe Testament vertoon daarom geen beheptheid met praktyke soos duiweluitdrywings nie. Wanneer sodanige praktyke wel binne die Nuwe-Testamentiese kerk plaasvind (bv. Handelinge 16), word dit altyd op “buitestaanders” uitgevoer; dit wil sê, op mense wat nie deel van die kerk is nie. Geen rituele, amulette of towerspreuke word ooit deur die eerste gelowiges gebruik ter beskerming teen die Bose nie. Die opgestane Christus se krag, soos vergestalt in die teenwoordigheid van die Heilige Gees, is ten alle tye die wapenrusting van gelowiges.

Boosheid word volgens die Nuwe Testament somtyds ook vergestalt in verskillende supra-persoonlike gestaltes. Bepaalde sosiale en politieke stelsels kan op gegewe momente binne die geskiedenis hulleself as goddeloos, as flagrante skendings van Bybelse waardes, aandien. In hierdie verband sou die laat eerste eeuse Romeinse keiserryk, wat in die boek Openbaring vergestalt word in die dier uit die aarde (Openbaring 13) en die bose vrou Babilon (Openbaring 17), as voorbeeld uitgelig kon word. Sonde setel volgens Paulus egter ook as ʼn aktiewe teenmag in vele indiwidue se lewe (Romeine 7; Galasiërs 5). Die werking van hierdie, en ander teenmagte soos die vlees en die wet (vgl. Galasiërs 3-4), staan by die apostel lynreg teenoor die nuutmakende krag van Christus en die Gees.

In die lig van die voorafgaande bespreking blyk dit dat ʼn metafisiese wêreldbeeld noodsaaklik is vir enige Christelike tradisie wat met die Bybel as God se openbaringswoord rekening hou. Binne sodanige wêreldbeeld moet ruimte gelaat word vir God se handelinge binne die geskiedenis. Dit vereis ook ʼn bewussyn van die werking van boosheid in verskillende persoonlike en onpersoonlike gestaltes.

 

Outeur: Dr Stephan Joubert

 


 

BIBLIOGRAFIE

 

AUNE, D. 1997. Revelation 1-5. Waco : Word. (Logos Library System CDROM: Nelson Publishers)

AUNE, D. 1998a. Revelation 6-16. Waco : Word. (Logos Lybrary System CDROM: Nelson Publishers)

AUNE, D. 1998b. Revelation 17-22. Waco : Word. (Logos Lybrary System CDROM: Nelson Publishers)

BARNETT, P. 1997. The Second Epistle to the Corinthians. Grand Rapids : Eerdmans.

BECKER, J. 1996. Jesus von Nazaret. Berlin : Walter de Gruyter.

BÖCHER, O. 1972. Das Neue Testament und die dämonischen Mächte. Stuttgart : Katholisches Bibelwerk.

CONNOR, S. 1995. Postmodernist culture. An introduction to theories of the contemporary. Oxford : Blackwell.

CROSSAN, J.D. 1994. Jesus. A revolutionary biography. San Francisco : Harper.

DUNN, J.D.G. 1998. The theology of Paul the apostle. Grand Rapids : Eerdmans.

DU RAND, J.A. 1991. Johannine perspectives. Introduction to the Johannine Writings- Part 1. Halfweghuis : Orion.

FERGUSSON, E. 1984. Demonology of the early Christian world. Lewiston : Mellen.

GNILKA, J. 1994. Theologie des Neuen Testaments. Herder : Freiburg.

HAHN, F. 1998. Frühjüdische und urchristliche Apokalyptik. Neukirchen-Vluyn : Neukirchener Verlag.

JOUBERT, S.J.; VAN DER WATT, J.G. & DU PLESSIS, G. 2009. Bestaan die duiwel regtig? Vereeniging: C.U.M.

KEENER, C.S. 1999. A commentary on the Gospel of Matthew. Grand Rapids : Eerdmans.

LEWIS, C.S. 1961. The Screwtape Letters. New York: MacMillan.

LUZ, U. 1998. Der Brief an die Epheser. (IN Becker, J. & Luz, U. Die Briefe an die Galater, Epheser und Kolosser. Göttingen : Vandenhoeck. p. 107-182.)

MERKLEIN, H. 1995. Die Jesusgeschichte- synoptisch gelesen. Stuttgart : Katholisches Verlag.

NEL, P.J. 1987. The conception of evil and satan in Jewish traditions in the pre-Christian period. (IN de Villiers, P.G.R., red. Like a roaring lion. Essays on the Bible, the church and demonic powers. University of South Africa : C.B. Powell Bible Centre. p. 1-21.)

PAGE, S.T. 1995. Powers of evil. A Biblical study of Satan and demons. Grand Rapids : Baker.

RUSSELL, J. B. 1986. Mephistopheles. The Devil in the modern world. Ithaca: Cornell.

TWELFTREE, G.H. 1993. Jesus the exorcist. A contribution to the study of the historical Jesus. Tübingen : Mohr.

VAN AARDE, A.G. 1987. Demonology in New Testament times. (IN de Villiers, P.G.R., red. Like a roaring lion. Essays on the Bible, the church and demonic powers. University of South Africa:  C.B. Powell Bible Centre. p. 22-37.)

VÖGTLE, A. 1981. Das Buch mit den sieben Siegeln. Die Offenbarung des Johannes in Auswahl gedeutet. Freiburg : Herder.

WINK, W. 1984. The Powers I: Naming the Powers: The language of power in the New Testament. Philadelphia : Fortress.

WITHERINGTON III, B. 1998. The Paul quest. The renewed search for the Jew of Tarsus. Leicester : Intervarsity.




Die nommer 666

Die nommer 666 – Jan van der Watt

Christiaan vra:

The Number of the Beast is a concept from the Book of Revelation of the New Testament of the Christian Bible, relating somehow to the figure of “The Beast”. The number is 666 in most manuscripts of the New Testament, and in modern translations and critical editions of the Greek text. Although Irenaeus (second century) reported several scribal errors of the number, there is still doubt by some theologians about the original reading, as some recently discovered third century early manuscripts of Revelation read 616. This topic is a source of contention for many church groups and theologians.[1] Most scholars contend that the number 666 is a code for the Roman Emperor Nero.[2][3][4][5][6][7]

Is daar n moontlikheid dat die nommer van die “Beast” dalk 616 kan wees en nie 666 soos die Bybel ons leer  nie? En hoe kan ons seker wees wat dit is ?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons het geen oorspronklike tekste van die Nuwe Testament nie. Al die tekste wat ons het is kopieë van die tekste. Daar was nie drukperse in die eerste eeu nie – dit het eers 1500 jaar later gekom met die gevolg dat die tekste deur kopieerders vermeerder is. Hulle kopieë is goed gekontroleer deur ander, maar daar het soms foute deurgeglip. Daar is ‘n afdeling in die Nuwe-Testamentiese wetenskap wat alleen maar probeer om die foute agter te kom deur tekste te vergelyk, nuwe opgrawings te maak, ens. Dit staan bekend as tekskritiek en hulle het groot spanne wat aan die tekste werk in Munster (Duitsland) en New York. In die geval van 666 en 616 is daar oorgeskryfde tekste wat 616 sê en oorgeskryfde tekste wat 666 sê. Die verskil tussen een en ses (as dit soos syfers geskryf word) is maar een Griekse lettertjie wat anders geskryf is. As een en ses uitgeskryf word, is die verskil groter. As egter na die tekste gekyk word waar 666 staan is dit oorweldigend. Daar bestaan eintlik min twyfel dat die oorspronklike manuskrip 666 gelees het – daar is meer as sewe baie goeie (betroubare = met min foute) manuskripte wat 666 lees en maar een wat 616 lees. Irenaeus (laaste deel van die tweede eeu) noem dat die lesing 616 toe al bekend was, maar dat alle goeie en ou manuskripte wat hy ken 666 lees.

Waarom sou die 666 dan na 616 verander het as dit nie ‘n fout van die oorskrywer was nie? ‘n Sterk teorie is dat dit doelbewus van 666 na 616 verander is. In Grieks het hulle nie syfers soos ons gehad nie (bv 1, 2, 3). Wat hulle wel gehad het, was dat hulle die letters as syfers gebruik het, bv a=1 b=2 ens. As jy dus se jy het 3 skape het jy dit so geskryf: ‘Ek het ab skape”. Die leser het dan die ab bymekaar getel en geweet dit is drie. So kon jy name ook omskakel in syfers: Sê a=1 en n=50 en jy se: Ek het 51 lief”, sal die mense uitwerk dat dit a+n is en dan weet jy het An lief. Daar is sulke liefdesbriewe in van die ou stede wat opgegrawe is (Pompei). Keiser Nero se naam in Grieks was “Neron Keiser” en in Latyn “Nero Keiser” (as dit met Hebreeuse letters geskryf is). Die “n” het die 50 verskil van 666 na 616 gemaak. Daarom dink mense dat toe Latyn (die taal van die Romeine) belangriker as Grieks raak of toe die dokumente aan mense wat net Latyn kon praat gegee is, die getal so verander is.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt